Na aanleiding van Heinrich van der Mescht en Cara Kleynhans se LitNet Akademies-artikel "Die pianis as vertoonkunstenaar: Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se populêre sukses" reageer drie kenners op die vraag of Lang Lang se omstrede interpretasies die samehangende struktuur van die werke wat hy uitvoer ondermyn. |
|
|
Martina Viljoen: Verskuif Lang Lang die interpretatiewe grense van die kunsmusiek-teks – of bevestig hy dit? "Lang Lang se kommersiële beeld kan moontlik vanuit die perspektief van die sogenaamde “ster-narratief” wat in populêre musiekstudies na vore gebring is, oordink word." |
Mareli Stolp: Lang Lang – Enkele opmerkings oor vertoonkuns, verhoogkuns en virtuositeit "Die vraag is dus nie noodwendig of Lang Lang slegs ‘n omstrede vertoonkunstenaar of dalk eerder ‘n gesiene virtuoos is nie; dit sou moontlik wees om hom te sien as beide." |
|
|
Etienne Viviers: Lang Lang en die illusie van omstredenheid "Dit is waansinnig dat Lang Lang hom eens in die posisie bevind waar onbenullighede soos té hard of té sag speel as omstredenheid beskryf word." |
Kommentaar
As 'n voortsetting van die pertinente kommentaar van Martina Viljoen, Mareli Stolp en (veral) Etienne Viviers op die artikel oor die pianis Lang-Lang wil ek net byvoeg: die werklike omstrede kenmerk van Lang-Lang se spel, sowel as dié van die tipiese hedendaagse konsertsolis wat in die laat 18-eeuse en 19-eeuse repertorium spesialiseer, is presies dat hulle nie afwyk van die gedrukte partituur nie, vandaar die algemene neutraliteit van die vele andersins bekwame of selfs tegnies skitterende uitvoerings.
Dit was nie altyd die geval nie. Na meer as 'n eeu van musiekopnames kan ons nou hoor dat tot in die 1920s Westerse kunsmusiek oor die algemeen voorgedra is in 'n ‘romantiese’ styl. Rubato, wisselende tempo, frasering in relatief klein eenhede, sowel as die selektiewe en subtiele gebruik van vibrato en portamento (strykers en vokaal) – kortliks, uitvoerings met persoonlikheid – was die norm. Pleks daarvan, wat ons vandag vind (soos Taruskin dit stel in volume 4 van sy Oxford History of Western Music, 2010, p. 475) is ‘n onbuigsame, hiërargiese bevelsreeks van komponis na redakteur na voordraer, met ‘n dirigent dikwels ook bygevoeg, “wat al die inisiatief wegneem van die persoon wat werklik die klanke voortbring”. Of in die woorde van die klawesimbel voordraer Skip Sempé, “risiko moet vermy word ten gunste van ‘n nie-vertolkende onderwerping aan die gedrukte bladsy – effektiewelik word die musiek prysgegee deur die voordraer” (Essays on Music and Performance, http://www.stravagante.com/essays.html). Alle lof dus aan Lang Lang omdat hy probeer om individualiteit in sy uitvoerings te verkry. Dit staan die luisteraar vry om toe te juig of om weg te loop, maar nie om om daardie rede beswaar aan te teken nie, wat nog te sê te probeer om dit vakkundig af te keur.