LitNet Akademies: Lang Lang en die illusie van omstredenheid

  • 0

Die oorspronklike diskursiewe konteks van Wimsatt en Beardsley se intentional fallacy is literêr en het in hul argumente betrekking op poësie. “We argued,” verduidelik die outeurs, “that the design or intention of the author is neither available nor desirable as a standard for judging the success of a work of literary art, and it seems to us that this is a principle which goes deep into some differences in the history of critical attitudes.”1 Met die formulering van hierdie dwaalbegrip (fallacy) is bedoel om te demonstreer dat die outeur se ontwerp of plan van ’n werk nie ’n imprimatur vir kritiese evaluering van daardie werk moet wees nie. Aldus distansieer die outeurs hulle van kritiese beskouings oor poësie waarin digters se bedoelings en ervarings as orakel vir kritiese interpretasie aanskou word: die digter is uiteindelik nie die finale arbiter of outoriteit wanneer dit kom by die kritiese diskoers rondom sy gedigte nie.2

Gevolglik was ek verbaas om te lees dat Kleynhans en Van der Mescht die intentional fallacy inspan as deel van ’n argument waarin Lang Lang se uiteindelike interpretasies verskil met sy uitgesproke voorneme om musiek “verantwoordelik” te interpreteer. Wimsatt en Beardsley word musikologies gewoonlik anders toegepas: nie om te sê dat die interpreteerder van ’n werk se eie intensies te kort skiet nie, maar eerder om te sê dat dit onwenslik en onmoontlik is om ’n komponis se intensies na te streef en te realiseer wanneer ’n stuk musiek vertolk word. As voorbeeld van Wimsatt en Beardsley se toepassing op musikologie wil ek verwys na Richard Taruskin se skrywe. In die betrokke relaas haal Taruskin die twee outeurs aan wanneer hy daarop aandring dat onoorkombare epistemologiese struikelblokke dit onmoontlik maak vir uitvoerders en kritici om enigsens aanspraak te kan maak op komponiste se oorspronklike intensies.3

Kleynhans en Van der Mescht stel dit effens anders deur net die feilbaarheid van Lang Lang se intensies te opper en deur daarop te sinspeel dat dit tóg wenslik sou wees om getrou te bly aan die komponis se oorspronklike intensies: “Vir musici vir wie die gegewe op die bladsy van primêre belang is, is Lang Lang se siening dat hy sy eie stempel wil afdruk op die musiekwerke wat hy uitvoer, veral kommerwekkend.”4 Getrouheid tydens interpretasie aan “die gegewe op die bladsy” is juis die soort orakeltaal wat Taruskin (en Wimsatt en Beardsley) grief. In die diskoers van musikale uitvoerings is getroue interpretasie uit die aard van die saak ook ’n poging tot outentieke interpretasie, en vandaar die ontsteltenis “oor Lang Lang se minagting van die teks van die werke wat hy uitvoer”.5 Vir die konserwatiewe resensente wat die klassieke repertorium as ’n dogmatiese teksversameling beskou waartoe eksegese bygevoeg kan word, maar waarvan die sentrale tekste nooit mag verander nie, is dit natuurlik kommerwekkend wanneer Lang Lang die geringste kreatiewe waagmoed aan die dag lê. Daarom word daar gekla dat hy werke stilisties verkeerd interpreteer deur sy sentimentele “misbruik” van rubato, dat hy Balakirev se Islamey teen dubbel die gewone spoed speel, en dat hy selfs sou waag om note by te voeg (o, die onreg!) tot werke wat hy saam met ’n jazz-pianis speel.

Uitdagings tot aanvaarde interpretasies van klassieke musiek word byna deur die bank begroet met ’n moraliserende gebabbel waarin die werk en komponis teen “onverantwoordelike” uitvoerders verdedig word en waarin tradisie aangeroep word as ’n kwesbare vlam wat deur die eeue heen beskerm is. Deur iets minuskuul en banaal te doen, soos om note tot ’n werk by te voeg, kan interpreteerders soos Lang Lang dit inderdaad vermag om hulle die toorn van klassieke musiek se puriste en windmakers op die hals te haal. Klassieke musiek het nie cover versions nie, dit het vasgestelde tekste wat eindeloos aan herbeluistering onderwerp word. Die struktuur en inhoud van werke word dus verheerlik as ewigdurende skoonhede en daar word sodoende universele waarde aan die klassieke repertorium geheg.

Dat ’n Chinese pianis wêreldberoemd geword het as gevolg van sy uitvoerings van werke uit hierdie (hoofsaaklik Europese) repertorium kan interpreteer word as bevestiging van die universele kulturele waarde van klassieke musiek. Nietemin wil ek argumenteer dat enige musiektradisie wat vernuwing wil ondergaan, uiteindelik een of ander vorm van cover versions gaan benodig wanneer die meerderheid van komponiste in daardie tradisie reeds dood is. Die klassieke-musiek-tradisie het ’n kritieke gebrek aan nuwe musiek en ook aan nuwe weergawes van ou musiek wat honderde jare reeds deel van die kanon uitmaak. Ek wil uitvoerders soos Lang Lang aanmoedig om soveel vryhede as moontlik te neem met die struktuur en inhoud van die musiek wat hulle vertolk. Deur die vorm en selfs die note van die klassieke repertorium te ondermyn en die waagmoed te hê om sodoende die werke se essensiële versteende identiteit te verander, sal daar uiteraard pluralistiese vernuwing in die tradisie plaasvind. Ek wil weer eens vir Taruskin hier aanhaal waar hy argumenteer vir ’n betekenisvolle soort omstredenheid – vir ’n etos van interpretatiewe losbandigheid waarin die vertolkers van klassieke musiek doelbewus, en met vrye teuels, ontrou kan wees aan meesterwerke en aan die sogenaamde “intensies” van hul oorspronklike skeppers: “I have been devoting my entire career as a critic to combatting the fetishizing of texts. There is no point at which I would invoke the authority of the score as limiting the liberties available to the performer.”6

Dit is waansinnig dat Lang Lang hom eens in die posisie bevind waar onbenullighede soos té hard of té sag speel as omstredenheid beskryf word. Sy eie gevolgtrekking, dat omstredenheid verkoop, is waarksynlik deels ’n doelbewuste poging tot die illusie van omstredenheid, juis om die verkope van sy handelsware aan te moedig. In daardie geval is sy kommersiële sukses baie eerder toe te skryf aan die meganika van die Adorniaanse massakultuurbedryf as aan werklike omstredenheid. Billie Holiday is omstrede. Zim Ngqawana is omstrede. Die Sex Pistols is omstrede. Maar Lang Lang is nié. Dit wek kommer wanneer die indruk so maklik geskep kan word dat hy wel is, en hierdie sogenaamde omstredenheid is seer sekerlik ‘n teken van die verkalking en verskrompeling van die klassieke-musiek-tradisie.

Die oppervlakkige besprekings wat Lang Lang se garderobe van klassieke-musiek-resensente verwek, dui op ’n konserwatiewe anachronisme wat alledaags in hierdie verskralende musiektradisie geopper word: dit behoort nie saak te maak dat ’n musikant in die 21ste eeu nié in ’n manelpak of soortgelyke konsertdrag op die verhoog verskyn nie. Dit is in elk geval vervelige besonderhede wanneer dit vergelyk word met Lady Gaga se gewaad. En tog is klassieke-musiek-liefhebbers klaarblyklik gefassineer deur die feit dat iemand nie ’n das dra nie. Is Lang Lang miskien nie ook besig om die samehangende konserwatiewe struktuur van die klassieke-musiek-tradisie te ondermyn nie? Dit is ’n belangrike taak en kan juis op die mees suksesvolle en betekenisvolle manier gedoen word deur die samehangende struktuur van werke te ondermyn. Doe zo voort! Maar doen ook nog meer. Doen vir ’n slag iets wat wérklik omstrede is.

Bibliografie

1 Wimsatt, WK jr en MC Beardsley. 1946. The Intentional Fallacy. The Sewanee Review, 54(3):468.

2 Wimsatt, WK jr en MC Beardsley. 1946. The Intentional Fallacy. The Sewanee Review, 54(3):471, 487.

3 Taruskin, R. 1982. On Letting the Music Speak for Itself: Some Reflections on Musicology and Performance. The Journal of Musicology, 1(3):340-1. Enkele voorbeelde van sulke epistemologiese struikelblokke: die komponiste is dood en daarom kan ons hulle nie vra wat hul intensies was nie; die partiture waarin werke voortbestaan, kom gewoonlik voor in veelvuldige uitgawes wat mekaar weerspreek; en die klassieke repertorium se kanon van werke is in die meeste gevalle nooit self opgeneem deur komponiste nie, omdat opnametegnologie nog nie in hul leeftye bestaan het nie.

4 Kleynhans, C en H van der Mescht. Die pianis as vertoonkunstenaar: Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se populêre sukses. LitNet Akademies, 9(1):224.

5 Ibid 222.

6 R Taruksin. 2009. Setting Limits. The Danger of Music and other anti-utopian essays. Berkeley: University of California Press, 450.

Terug na indeksblad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top