LitNet Akademies-resensie-essay: Koshuis en Hostel

  • 0

Titel: Koshuis
Redakteur: Erns Grundling
Uitgewer: NB-Uitgewers

Titel: Hostel 
Redakteur: Hein Willemse
Uitgewer: Abrile Doman Publishers

Georg Friedrich Wilhelm Hegel is nie die modegier van die dekade nie. Hy mag wel een van die pilare van die Westerse filosofie wees, maar elders is hy byna taboe, en dien hy as bewys vir die stelling dat Westerse kennis en die Verligting onherstelbaar rassisties is. Tog het hy my gehelp om insig te kry in ’n onderberigte en ondergewaardeerde reeks voorvalle in 1976, die oproer by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Hein Willemse

Selde die laaste tyd het ’n essay my geraak soos die opsommende een deur Enrico Pedro voor in die boek Hostel, saamgestel deur Hein Willemse en William Murray. Dit het ’n ongemaklike vraag geskep: In al die jare na die seminale Junie-opstande onder swart skoliere wat in Soweto begin het, het ek, en waarskynlik baie ander mense, die UWK se bydrae as ’n randverskynsel gesien. Waarom presies?

Soos Achille Mbembe sê, enige begrip van enige filosofie is onmoontlik sonder die invloedryke Hegel se werk, en omdat mense soos Hegel en Immanuel Kant, wat hom aan soortgelyke stellings skuldig gemaak het, mense van hul tyd was, moet ’n mens ’n leesstrategie ontwerp om wel hul filosofie in ’n nuwe tydvak ten volle te benut. So ’n strategie het ek meegemaak op min of meer dieselfde tyd as wat LitNet my gevra het om oor Hostel te skryf, en ook die bundel vertellinge Koshuis, saamgestel deur Erns Grundlingh.

Terry Pinkard, professor by Georgetown Universiteit in die VSA, skryf aan die hand van Hegel dat die spanninge binne ’n gemeenskap kan lei tot ineenstorting, waarna die mense wat in die kulturele rommel leef, die stukke wat nog werk gebruik om iets nuuts te bou. Die proses word herhaal, maar die spanninge wat sig telkens herhaal is tussen die “ek” en die “ons”. Dit is ’n groeiende proses van selfbewussyn tot die gewaarwording gevestig word dat ’n volle vryheid van individualiteit net in ’n gelykheidsorde waarin almal “ons” kan wees, moontlik is.

“Wanneer mense eers aangegryp word deur hierdie gedagte van vryheid en gelykheid, is die genie uit die bottel, en kan dit nie teruggeprop word nie.”

Kort voor sy dood het Hegel dit betreur dat die mededingende markstelsel kan lei tot ’n ultra-inidvidualisme waarin mededingende enkelinge en nie noodwendig ’n samewerkende gemeenskap nie die “ons” laat uiteenval in faksies wat regering onmoontlik maak omdat dit altyd die aangesig sal hê van een faksie wat tydelik regeer.

Binne so ’n leesstrategie, van die beweging van die ek na die ons na elke fase van verval en herbou, groei die idee van vryheid-in-gelykheid deur “ons” en proporsioneel al minder deur “ek” tot ’n telkens wyer toepassing in wat Hegel bedoel het met die historiese uitdrukking van “Geist”. Vandag sou Hegel beslis die verwerping van rassisme en koloniale verdrukking as deel van dieselfde proses gesien het.

Erns Grundling

In albei die boeke is daar tekens van hierdie ultra-individualisme aanwesig, hoewel meer in Koshuis. Studente kom aan as beurshouers, gereed om in soms erg uiteenlopende loopbaanrigtings te spesialiseer. Wedywering is aan die orde van die dag, natuurlik die grondslag van die meeste van die wêreld se opvoedingstelsels. By die Hostel-skrywers is daar ’n veel kleiner verskeidenheid, veral wanneer dit kom by die uiteindelike loopbane. Byna almal het met onderwysbeurse by UWK beland en in die onderwys geëindig.

By hulle is daar ook telkens ’n verwysing na ’n keuringsproses, soms in ’n neutrale toon, soms met ’n terloopse beskeidenheid wat ’n bietjie spog insluit, en in byna alle gevalle ’n trotsheid met wat hulle in hul lewens bereik het aan die einde van hul bydraes in die beskrywings van hulself wat die redakteurs waarskynlik van elkeen aangevra het.

Dit is treffend hoe die bedrywighede onder albei groepe ooreenstem, van sport tot saamsing rondom die klavier. Die gewilde songs van die tyd is dieselfde, die ontgroeningspraktyke volg dieselfde patrone. In Hostel word telkens verwys na die opruiende preke van Allan Boesak, en watter unieke insette hulle in baie skrywers se opvoeding gemaak het, maar die verhouding tussen kerk en individu is dieselfde. Parallelle samelewings inderdaad.

Binne hierdie milieu het die nuus die studente by UWK in Junie 1976 bereik dat skoliere in Soweto en elders in opstand gekom het. Heelparty was reeds polities bewus en aktief. Maar die faktor wat die studente die meeste opgerui en tot gesamentlike politieke volwassewording geskok het, was die hardhandige optrede van die polisie. 

Dit het tot die een ontsaglike verskil tussen die hostel en die koshuis gelei: Waar albei moes dien as ’n tuiste weg van die huis, was die UWK se hostels ná die polisie-optrede nie meer veilig nie. ’n Plek om jou na te wend na die dag se vermoeienisse, is iets wat elkeen van ons se siele onderlê. Skade aan jou tuiste is skade aan jou siel.

Dit is natuurlik onhaalbaar en selfs onregverdig om Hostel en Koshuis te nougeset te wil vergelyk. Die motiverings vir die samestelling van die twee bundels is redelik ver verwyder van mekaar. Waar Koshuis nie op veel meer mik as nostalgiese entertainment nie, gerig op ’n baie spesifieke kommersiële nismark, is Hostel se doelwitte nie heeltemal duidelik nie, behalwe dat dit breedweg in ’n meer akademiese sfeer tuishoort.

Koshuis, met sy lekker buiteblad, en as ’n tipiese slapband uitgegee, is bruikbaar in die bed en op die strand. Hostel is letterlik ’n swaar boek en is lomp uitgegee met groot blaaie, iets om ’n polisieman mee te klap eerder as om te geniet. Dit het ’n foto op die buiteblad van die ontslape oudrektor van die UWK, Richard van der Ross, wat studente toespreek en wat ’n mens laat wonder: Is dit ’n huldeblyk? Kritiese ontleding? ’n Jaarblad?

Die subtitel is dié van ’n akademiese toom: Autobiographical narratives of the 1975–1980 University of the Western Cape Student Generation, maar dit is nie juis wat dit is nie. “Narratiewe grepe” sou ’n beter beskrywing gewees het. Waar Koshuis se insetsels byna almal goed afgewerk is en lyk of hulle sorgsaam geredigeer is deur óf die uitgewer óf die skrywers self, lyk die bydraes in Hostel of hulle net so geplaas is, met minimale ingryping, afgesien van die byvoegsels soos die voorwoord, Pedro se essay en Willemse se bydraes.

Slegs enkele bydraes sou ’n mens wou aanbeveel vir opname in bundels elders (soos Francis Sonn se vermaaklike skets). Dit beteken geensins dat Hostel minderwaardig is nie, bloot dat die nut van die meeste bydraes beperk sal bly tot die herroeping van die gemeenskapsgevoel wat daar onder bydraers in die 1970’s ontstaan het – en vir akademici.

Dit is in sy potensialiteit ’n seminale werk. Die bundel begin met ’n nugtere beskrywing deur Willemse van die milieu en tydsgewrig waarin die UWK ontstaan het. Die droë styl bring die marginalisering en verminderwaardiging van bruin mense onder apartheid treffend na vore – Hegel se rommelhoop van pogings om te verdeel en te atomiseer inderdaad. Die kampus is langs plakkerskampe en spoorwegjaarte, en die tweedehandse parlement van die Verteenwoordigende Kleurlingraad binne die kortstondige stelsel van die regerende Nasionale Party se Driekamerparlement. Daar is min geriewe; die studente moet oral heen loop. En wanneer hulle in Bellville aankom, is die voorstad “pedestrian” in ’n letterlike opsig: Kos kan net by nieblanke venstertjies gekoop word, waarna die studente op Elizabethpark vergader om dit te eet.

Desondanks blyk dit uit al die narratiewe grepe dat die studente die kans om by UWK te gaan studeer met albei hande en met trots aangegryp het. Daar is etlike kere vermelding van prestasies op skool, en die gees van mededinging en persoonlike ontwikkeling is reeds goed ingeprent voor hulle klas begin loop. Etlike bydraers verklaar pront hulle was daar om te studeer en het nie veel erg aan politiek gehad nie. Baie van hulle het feitlik in die naam van die hele familie UWK toe gegaan en die swaarkry van ouers om studiegelde te betaal is duidelik.

Willemse wys op verskeie ironieë rondom die UWK, byvoorbeeld dat wat bedoel was om ’n aparte kultuurgees te laat ontwikkel, tot die teenoorgestelde gelei het: ’n plek “steeped in contrarian ideas against every facet of apartheid thought and practice”. Wat Willemse nie aanteken nie, is dat UWK waarskynlik die enigste ware nasionale universiteit was. Omdat bruin mense nêrens elders kon studeer nie, het hulle van heinde en verre gekom, die “Jospers” van die Rand, Natallers, jongelinge van Rehoboth in vandag se Namibië. Hierdie wortels vanuit die land het waarskynlik gehelp vir die studente om te besef dat die Soweto-opstand die begin was van ’n veel wyer verwerping dwarsdeur die land van dieselfde omstandighede as dié waaraan hulle self onderworpe was.

Pedro se bom van ’n essay oor 1976 bestaan uit uittreksels uit die narratiewe elders in die boek, aangevul deur sy eie ondervindinge, en gerugsteun deur enkele verwysings na geskiedkundige bronne. “The political significance of the 16 June events was not immediately clear to me,” skryf hy. Daar was verwarring by UWK: “Watse strydigheid is dié wat teen my moedertaal losbars?” in die woorde van Francis Sonn.

Dit was op die vooraand van die wintervakansie, en op die treine terug na hul moederhuise was die Soweto-opstand totaal op die agtergrond: “Rowdiness was customary on these journeys: some students drank, others romanced … we partied through the night.” Met hul terugkeer het dit ’n week gevat voor die studentemassa op ’n boikot besluit het. Pedro beskryf hoe nuut die proses was en hoe bang dit hom gemaak het.

Daarna volg ’n tydperk van vergaderings en lesings, onder andere deur Allan Boesak, wat aan ’n gehoor vra is daar enige kleurlinge daar die dag. Die doodse stilte word verbreek deur ’n stem: “Kom môre terug dan sal jy sien!” Black Consciousness het soos elders in die land ook hier voortgestu. Maar dinge was nog lighartig, selfs joviaal.

Polisie-optrede het alles verander. Pedro skryf hoe hy onmiddellik na die nuus van die eerste aanhouding van ’n student, Ben Louw, deur die veiligheidspolisie, weer begin rook het. Die studente het hul eerste Casspir-sirenes gehoor, eerste traangas, eerste “disuption squads” wat die boikotte afgedwing het, gepaardgaande met hewige debat. Nogtans was die grootskeepse aanhouding van studenteleiers ’n groot skok: “Any form of arrest was regarded as a big embarrassment to the family. We knew that this was a totally different ball game … the arrested students were our heroes. We were envious instead …”

Vir die polisie was alles aanvanklik ook nuut. “With long coats, steel helmets, guns and teargas canisters, they appeared like soldiers from a world war.” Op 12 Augustus 1976 het ’n nuwe fase aangebreek met die ongehoorde invalle van die polisie in die hostels self. “Until then, we felt safe inside the campus, because, previously, the police did not enter the campus at all … Mayhem prevailed everywhere as the students were running and the police were chasing … the teargas was eventually everywhere inside the dining room and the hallways. It was horrible … students became accustomed to police invading our campus and willy-nilly brutalising students and staff.” Die bevel aan die polisie, “vat hulle”, was die teken aan die studente om te hardloop, soms na die Unibel-plakkerskamp langsaan.

Granwell Smith vat die traumatiese skending van innerlike ruimte wat plaasgevind het, goed saam. Tydens een polisie-inval “we, hostelites, were forced to our rooms and ordered to keep our doors open for the riot squad to search our premises. The police were forcefully entering my private space, opening up my wardrobe, strewing my possessions, searching under our beds for ‘the ones that got away’. For me it was a humiliating experience. I could sense their evil intent.”

Die hostels was telkens die teiken, want dis waarheen die dagstudente ook gevlug het as nog ’n polisie-inval begin. “Our nerves were frayed as every time the Casspirs would come onto campus, everyone would run towards the hostels searching for hiding places.” Die woord “hostel” het intiem verweef geraak met die opstand. Philip Stalmeester onthou dit as die dag toe polisie blatant sy “huis weg van die huis” binnegeval het. Dit het permanente littekens tot vandag toe gelaat; baie studente het hul studies opgeskop.

Op hierdie punt kan ’n mens nie anders as om op te merk hoe ver verwyder die Afrikaanse studente van Koshuis van sulke optredes was nie. Dit herinner my ook aan my eie navorsing vir my boek Die Derde Oorlog teen Mapoch, waarin die outobiografiese vertellings van Mighty Mgidi, een van die “hoofkarakters”, opgeneem is: dieselfde trauma, dieselfde ontgogeling en dieselfde diepe woede wat gevolg het wanneer studente tot in hul kamers gejaag is en daar bloed op hul kussingslope was.

Bykans al die bydraers tot die bundel verwys na hierdie tye, hoewel nie almal in Brian Wilson se terme nie: “Our worlds were turned upside down.” Etlikes verwys na die aanranding op die redakteur self: Hein Willemse was waarskynlik die studenteleier wat die naaste aan die dood omgedraai het, maar die ergste is dat hy in die voorportaal van sy eie hostel aangerand is nadat hy sy studentekollegas gemaan het om nie by die skermutselings buite die kampus betrokke te raak nie.

Pedro se essay beskryf treffend hoe baie studente van onverskilligheid en ’n fokus op persoonlike doelwitte na gehele politieke betrokkenheid beweeg het. Willemse praat van ’n gemeenskap, maar dis asof hulle na ’n hoër vlak beweeg het. Cecil Morden se titel sê: “1976: ’n Tyd van groei na politieke volwassenheid”. Die grappige Sonn skryf: “Wraggies, maggies, daar lê Hein! Bril flenters, bewusteloos, bebloed gebliksem. Ek hoor toe agterna hy het ’n kommunis of ’n ateïs of so iets gedraai.”

Hegel se dialektiek tussen die “ek” van homself as die skrywer wat ’n akademiese stuk probeer skryf en die “ek” en “ons” van ’n lewensveranderende belewenis speel sigself uit in ’n voetnota by Pedro se essay: “I have incorporated the recollections of my fellow students with my own. I have not formally referenced my own recollections. These are identified through my use of pronouns such as ‘I’, ‘we’ and ‘my’.”

Kyk ’n mens na Koshuis, kan ’n mens nie anders as om te wonder of die bydraers, op drie uitsonderings na almal wit, om hierdie rede nie dalk ’n minderwaardige opvoeding ondergaan het nie, en of wit studente ooit in staat sal wees om ’n bydrae tot die politieke groei van die land in terme van Hegel se “Geist” te maak nie. 

Soos vroeër gesê, is geleentheid vir regstreekse vergelyking beperk weens die uiteenlopende doelwitte van die bundels. Koshuis se bydraers skryf ook vanuit latere tydsgewrigte, meestal post-1994. Die boek is ’n reeks staaltjies met hier en daar ernstige besinning. As ’n mens dit moet kritiseer, sal dit binne ’n wyere diskoers van nostalgiese vermaak as ’n algemene verskynsel moet wees.

Heelparty paragrawe in Hostel val ook in hierdie kategorie, veral wanneer dit by ontgroening kom. Trouens, die verwysings na musieksterre, na die soorte sport, dansaande en onderonsies by kroeë, en die Sondagpreke van Allan Boesak wys hoe soortgelyk die kulturele wortels van bruin en wit was – wat die misdadigheid van apartheid en rassisme as uiteindelik verraad teen die eie (ook ’n insig afgelei van Hegel) net verder onderstreep.

In vandag se hoëdruk- kapitalistiese prestasiekultuur voldoen nostalgiese vermaak aan psigies-noodsaaklike behoeftes en kan ’n mens kwalik jou neus daarvoor optrek. Koshuis slaag inderdaad goed in sy doel, en daar is ’n handjievol werklik uitstekende bydraes (Yvonne Beyers, Andy Galloway en Dana Snyman se stukke). Waar dit misluk, is die mislukking van enige vermaak: dat dit lyk of dit geleentheid bied vir beter begrip van gebruikers se lewensomstandighede, maar dit dan trivialiseer.

Oor die algemeen fokus kritiek teen ontgroening op die skade wat aan individue gedoen word, en dan raak ’n mens geneig om mis te kyk watter rol dit veral in klandestiene vorm in die samelewing speel. Ek sou wou postuleer, weer eens, dat die degradering wat dit behels, nie net gemik is op die individu nie, maar in die spanning van Hegel se “ek” en “ons” staan. Dit wil aanvaar dat samehorigheid en kommunaliteit ’n waarde is, maar een wat telkens mee moet gee aan die kweek van individualistiese beroepsmense deur dit bespotlik of kinderlik en onaangenaam te maak. Of soos Wortel Strydom dit stel: “Studentepret met ’n bietjie breekskade.”

Die individu wat vies raak daaroor – en die baie staaltjies raak ’n bietjie afgesaag as ’n mens alles op een slag inkry – het een uitweg: ’n egosentriese verwerping van kommunale formasies, ’n terugtrekking in introspeksie – die toestand wat die perfekte teelaarde vir mededingende operateurs in die kapitalistiese bestel word.

Inderdaad, gemeenskap soos Willemse dit bedoel is ’n woord wat jy nie in Koshuis sal vind nie. Tog beteken dit nie dat daar geen samehorigheidsgevoel te bespeur is nie. Inteendeel, ’n mens kom onder die indruk van die rol wat die koshuislewe moes gespeel het om die identiteite van veral die wit Afrikaanssprekendes, wat sommiges die Afrikaner sal noem, te vorm. In die middelste dekades van die vorige eeu was ’n groot deel van sulke mense nog op die platteland en op plase. 

Van die interessantste en roerendste stukke speel in die Afrikaanse diaspora in die buiteland af, soos Beyers se “Poppie kry ’n gevoel in haar wat sy nie ken nie”, oor haar totale vervreemding tydens haar studie in Edinburgh, Skotland. Erkenning van mekaar se vervreemding skep ten minste ’n soort herkenning ? erkenning? van gemeenskaplikheid wanneer sy probeer geselsies aanknoop met ’n man by ’n winkel: “Hy slaan die kasregister, sy mond is ’n grimas: ‘We are all far away from home.’”

In “Die OVC” deur Sureta Strydom von Holtzhausen is daar ’n soort Hegeliaanse sprong van die individualistiese universiteitsagtergrond van ’n groep werkers in Londen wat by die Overseas Visitors Club bly, hoewel dit onvermydelik terugval in atomisering omdat hulle almal bestem is om terug te keer na hul loopbaantrajekte tuis: “Ons het verwonderd geluister na mekaar se lewens, wat soms wêrelde verwyder van ons eie verwysingsraamwerk was … in Suid-Afrika sou ’n landboukundige van Bapsfontein en ’n prokureur van Johannesburg mekaar moeilik raakkuier en ’n haarkapper van Pretoria en ’n rekenmeester van Kaapstad mekaar maklik mis. Die OVC was ’n gelykmaker waar jong mense van verskeie agtergronde … net Afrikaans kon wees.”

Die studente-opstande van 2015 tot 2017 is ’n seminale reeks gebeure in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis, maar die verwysings daarna in albei die bundels is óf terloops óf op ’n baie kleiner skaal. Weer eens val dit buite die onmiddellike doelwitte van die bundels, maar die bykans gelyktydige verskyning van die bundels skep ’n ruimte waarin daar nogtans ’n groot oop kol is en waarskynlik sal bly: Koshuise aan historiese wit universiteite het ’n groot rol gespeel in byvoorbeeld die demonisering van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (via veral die film Luister). UWK was een van die universiteite wat die meeste geweld ondergaan het en die boek Hostel laat vrae ontstaan oor die bande tussen toe en nou.

In hierdie verband is daar ’n verdere stel teenstrydighede in die Hostel-projek te bespeur. Enrico Pedro se opstel, so kragtig en roerend as wat dit is, is in ’n Engels geskryf wat ’n mens in herkenning laat glimlag: dit bevat die tipiese foute van die tweedetaalgebruiker – ’n verdere bron van identifikasie oor die kleurgrens heen.

Die kwessie van Afrikaans is belangrik genoeg vir Pedro om al in die eerste paragrawe aan te spreek. “These events stirred in me a feeling of conflict … Afrikaans was my mother tongue and it was therefore not correct to blindly call it ‘the language of the oppressor’. I could understand the students’ resistance to the enforced usage of the language, but not the oppressor part of their statement.”

Willemse skryf: “In one of the most glaring contradictions of the 1976 uprising the three-month-long UWC student protest was primarily conducted in Afrikaans.” Hy erken ook: “The Afrikaans-speaking theologians of this generation played a fundamental role in the formulation of anti-apartheid theological positions in South Africa and the world”, veral in die persoon van Allan Boesak, ook natuurlik een van die pilare van die United Democratic Front.

“Glaring contradictions” klink egter soos Amerikaanse journalese, wanneer sogenaamde waarnemers nie lus voel om van hul ideologiese aannames afstand te doen nie, en Willemse bied niks aan om die glans van die frase af te haal nie. Hy maak gewag daarvan dat die UWK-revolusie behels het dat dit van ’n apartheidsuniversiteit in ’n “nasionale” universiteit omskep is. Ná die geweld deur die polisie en die groter misdaad van die Groepsgebiedewet teenoor bruin mense sou enige ander resultaat ’n psigologiese onmoontlikheid wees. Ook dat Engels die voertaal sou word.

Maar kan ’n mens sê dat na ’n stuk of 30 jaar hiervan die rol van UWK in plaaslike verband ’n vrugtiger een is? Daar is akademici van wêreldgehalte by UWK, en die universiteit staan nie terug by beter-befondste instansies nie. Maar wanneer dit kom by opvoedingsindikators soos geletterdheid in sy onmiddellike voergebied, is die Kaapse Vlaktes en plattelandse townships dikwels heel onder aan die lys. Wat die vraag laat ontstaan: Sou dit ’n verskil gemaak het as UWK deur die een of ander politieke uitsonderlikheid Afrikaans gebly het?

Die bydraers is waarskynlik toegelaat om hul bydraes in die taal van hul keuse te maak. Is die feit dat die oorgrote meerderheid in Afrikaans geskryf het, ’n soort stelling op sy eie? Willemse skryf dat dit geen verrassing is nie, want hulle “formative experiences” was in Afrikaans – die aanname is dat dit ’n verrassing behoort te wees en die suggestie is dat dit bloot ’n fase in hul lewens was. ’n Mens sou ’n argument wou sien dat Afrikaans as hibridiese taal, as ’n gedekoloniseerde Hollands, inherent teen apartheid behoort te spreek. Aan die ander kant: Die boek het ’n ander doelwit as linguistiese studie.

Willemse en Pedro sou kon argumenteer dat hulle na Engels oorgeslaan het om dit meer toeganklik vir Engelssprekendes te maak. Dit is waar dat dit buitelandse navorsers baie moeite sal bespaar omdat hulle die opstel nie nou hoef te skandeer en deur Google Translate te jaag nie. Maar waarom dan die gebrekkige verwysing na FeesMustFall indien die motivering is om uit te reik na groter “relevansie”? Willemse verwys bloot na bydraers “who participated in shaping or inventing traditions that would remain for years to come”.

Indien groter toeganklikheid die argument is, beteken dit binne die konteks van die boek se produksie dat Willemse en Pedro terugval na die waarderaamwerk van die hiperindividualisme wat die globale universitêre stelsel kenmerk. Die dryfveer van hierdie stelsel is dié van die maksimum aantal sitasies in ’n prestasietrajek waarvan akademici se status en besoldiging afhang – ’n diepgesetelde kapitalisme dus. Binne hierdie raamwerk sal die verlenging van die Soweto-opstand na die UWK altyd ’n voetnota bly, iets om maklik mis te kyk vir Afrikaanssprekendes.

Dit mag so wees dat die gehalte van die twee essays en hul aard as geleefde ervaring ’n groter impak sal hê as die gewone akademiese geprut – ’n mens hoop so – maar dit bly nogtans ’n hele paar fases verwyder van Hegel se “ons” en politieke volwassewording.

Soos reeds gesê, het byna al die Hostel-bydraers met onderwysbeurse by UWK gestudeer en daarna die onderwys betree. ’n Mens kan aanneem dat die oordrag van hul nuwe politieke kennis aan nuwe generasies gehelp het om die laaste spykers in die apartheidsdoodskis te slaan. Die vraag ontstaan, miskien as hipotese vir ’n denkeksperiment: Watter bydrae sou beurse om by ’n Afrikaanstalige instelling te studeer lewer om die benarde opvoedingsituasie in die Wes-Kaap te verlig?

Met Hostel het Willemse dalk die kans laat verbygaan om ’n steen te lê in die fondament van ’n Afrikaanse “ons” in die Hegeliaanse (antinasionalistiese) sin, iets waarvandaan ons nog baie ver is, in die lig van hierdie twee publikasies. Aan die ander kant kan Pedro se essay natuurlik vertaal word en elders in Afrikaans verskyn, en sal dit dan die werk kan doen wat dit bedoel is om te doen.

 

Bibliografie 

Grundling, Erns (red). 2018. Koshuis. Kaapstad: Queillerie.

Pienaar, Hans. 1992. Die Derde Oorlog teen Mapoch. Kaapstad: Idasa.

Pinkard, Terry. https://aeon.co/essays/what-is-history-nobody-gave-a-deeper-answer-than-hegel (1 Augustus 2019 geraadpleeg).

Willemse, Hein en William Murray (reds). 2018. Hostel: Autobiographical narratives of the 1975–1980 University of the Western Cape Student Generation. Wilderness: Abrile Domain.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top