LitNet Akademies (Regte): Corlia van Heerden in gesprek met Jannie Otto

  • 0

Is die afkoelreg in beginsel ’n effektiewe skuldvoorkomingsremedie?

Nee, ek dink nie so nie. Weinig mense gaan binne die eerste week nadat hulle skuld aangegaan het, en nog nie eens die eerste maand se paaiement betaal het nie, besef hulle kan dit nie bekostig nie. Maar daar sal natuurlik uitsonderings wees.

Die afkoelreg was aanvanklik gerig teen drumpelverkope, oftewel “deur-tot-deur”-verkope, maar deesdae is dit nie meer daartoe beperk nie. Wat is die ratio agter hierdie spesifieke uitbreiding van die afkoelreg?

Ek meen daar is twee redes. Ten eerste het deur-tot-deur-verkope (wat ek in my artikel drumpelverkope noem – ’n woord wat ek nie dink in ’n woordeboek voorkom nie) se gewildheid afgeneem. Mense maak nie meer so geredelik hulle deure oop vir vreemdelinge en nooi hulle in soos vanmelewe nie. Tweedens het hoëdruk-verkooptegnieke en ongewenste kontraksluiting deur naïewe verbruikers op baie ander terreine kop uitgesteek, byvoorbeeld by die verkoop van tyddeel, en is wetgewing in talle lande in hierdie verband aangeneem.

Die tydperk wat in verskeie stukke vir die uitoefening van ’n afkoelreg vergun word, is oor die algemeen relatief kort – wat is die rede daarvoor?

Daar is talle redes daarvoor. Ek noem twee: hoe langer ’n verbruiker die saak gaan gebruik, hoe moeiliker gaan dit wees vir die kredietgewer om sy skade (waardevermindering en so meer) te verhaal. Tweedens is die hele oogmerk met die besinningsreg om mense te beskerm wat dalk oorhaastig ’n kontrak gesluit het, en dit is iets wat ’n verbruiker gewoonlik spoedig besef.

Watter spesifieke afkoelreg in die Suid-Afrikaanse reg behoort dringend hersien te word?

Die afkoelreg in die Wet op Vervreemding van Grond (Wet 68 van 1981). Ek het nie die reg tot nadenke aldaar in my artikel in LitNet Akademies Regte bespreek nie. Dit verleen aan kopers van wooneenhede, onderhewig aan ’n hele paar uitsonderings, ’n afkoelreg mits die koopprys nie R250 000 oorskry nie. Hierdie bepaling (art 29A) is in 1998 in die wet ingevoeg. Die betrokke minister het die bevoegdheid om die bedrag van R250 000 aan te pas ten einde inflasie teen te werk (art 29A(5)(a)). Na my beste wete is dit egter nog nooit gedoen nie en dit is nou 14 jaar later. En daar is min wooneenhede van minder as R250 000 in Suid-Afrika beskikbaar.

In die Suid-Afrikaanse reg word daar vir verskeie soorte afkoelregte voorsiening gemaak, onder andere in die Wet op Vervreemding van Grond, die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming. Sou dit nie beter wees om eerder een standaardafkoelreg te hê wat algemene toepassing het nie?

Ek stem saam. In Duitsland is daar byvoorbeeld ’n algemene bepaling in hulle Bürgerlich Gesetzbuch wat die afkoelreg reël, met geringe aanpassings vir spesifieke gevalle. Dit lei tot ’n groot mate van eenvormigheid. Maar dan moet ek dadelik daarop wys dat soortgelyke eenvormigheid in verskeie Europese lande se wetgewing betreffende die afkoelreg grootliks ontbreek.

Die afkoelreg in artikel 121 van die Nasionale Kredietwet is beperk tot huurtransaksies en afbetalingstransaksies wat deur die Wet gereguleer word. Sou die tipe kredietooreenkomste waarop daardie afkoelreg van toepassing is, moontlik uitgebrei kon word?

Dit is moeilik om hierdie vraag te beantwoord. Dit is ’n sosio-ekonomiese kwessie. ’n Verbandversekerde lening kan as ’n voorbeeld dien. Daar gaan dikwels baie tyd, energie en geld in by die toestaan van so ’n lening. Dit is nie billik teenoor kredietgewers (of teenoor die verkoper wat byvoorbeeld ’n huis aan die verbruiker verkoop het en wat geduldig die toestaan van die lening moes afwag) dat die verbruiker in so ’n geval toegelaat word om binne ’n week of wat kop uit te trek nie.

Ingevolge artikel 16 van die Wet op Verbruikersbeskerming is die afkoelreg daarin vermeld beskikbaar aan ’n verbruiker wat ’n transaksie aangegaan het nadat direkte bemarking aan hom gedoen is. Die omskrywing van direkte bemarking in die betrokke wet is egter redelik wyd, aangesien dit nie net persoon-tot-persoon-bemarking nie, maar ook bemarking per pos of elektroniese kommunikasie insluit. Hoe behoort howe hierdie wye omskrywing van direkte bemarking te benader?

Dit is ’n moeilike vraag. Die howe behoort “direct marketing” (die wet het nie ’n Afrikaanse teks nie) te beperk tot gevalle waar daar ’n positiewe dadigheid aan die kant van die verskaffer was om die verbruiker tot kontraksluiting te lei. Immers, “direct marketing” vereis per definisie in die wet ’n “approach” deur die verskaffer teenoor die verbruiker. Daarom behoort iets soos ’n pamflet in ’n posbus nie tot ’n latere afkoelreg aanleiding te gee nie.

Vanuit ’n regsvergelykende oogpunt: By watter regsvergelykende stelsel kan Suid-Afrika die beste gaan kers opsteek oor die formulering en trefwydte van die afkoelreg?

Die Duitse reg. Maar daar is ook goeie bepalings in wetgewing elders, soos ek in my artikel in LitNet Akademies (Regte)uitgewys het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top