LitNet-akademies onderhoud: Francis Galloway in gesprek met Annemie Stimie

  • 0

Francis Galloway stel ’n paar vrae aan Annemie Stimie rondom haar artikel “Die Europese musiektradisie en die ontwikkeling van ’n Afrikaneridentiteit. ’n Oorsig van Afrikaanse musiekjoernalistiek in Die Brandwag (1910-1921) en Die Nuwe Brandwag (1929-1933)”.

Waar kom jou belangstelling in die musiekjoernalistiek vandaan en wat het jou opleiding behels?

Ten einde die BMus-graad te verwerf (Universiteit van Pretoria, 2006), moes ek, soos alle finalejaarstudente, ’n miniverhandeling oor enige musiekverwante onderwerp indien. Hoewel daar nie van voorgraadse studente verwag word om oorspronklike navorsing te lewer nie, was ek reeds bewus van die soort leemtes wat in Suid-Afrikaanse musiekwetenskaplike diskoerse voorkom en het ek daarom die geleentheid gebruik om in onontginde gebiede te begin delf. Ek was geïnteresseerd in die Afrikaner se ideologiese perspektiewe oor musiek tydens die vroeë jare van Afrikanernasionalisme. Vanuit later gepubliseerde musiekmonograwe, soos JP Malan se Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie,was dit duidelik dat vroeë twintigste-eeuse musiekjoernalistiek ryk materiaal sou bied vir so ’n soort studie. Na my voorgraadse musiekstudies het ek die projek voortgesit en uitgebrei as kerndeel van ’n meestersgraad in musiekwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (2009-2010).

Hoekom het jy op Die Brandwag en Die Nuwe Brandwag gefokus?

Van al die koerante en tydskrifte wat ek aanvanklik vir die studie oorweeg het (Die Vaderland, Die Huisgenoot en andere), het Die Brandwag uitgestaan vanweë die presiese historiese snypunt tussen die tydskrif se eerste publikasie en die belangrike politieke moment van Uniewording, naamlik 31 Mei 1910. Die titel van Die Nuwe Brandwag het gelyk na ’n natuurlike voortsetting van Die Brandwag se narratief, maar dit het duidelik geword dat die “nuwe” tydskrif ook sy eie relevansie vir die studie gehad het, omdat Die Nuwe Brandwag die eerste akademiese tydskrif is wat in Afrikaans uitgegee is.

Vertel asseblief iets meer oor jou navorsingsterrein en -metode met verwysing na hierdie artikel en die groter projek waarby jy betrokke is.

Met my miniverhandeling oor Die Brandwag en Die Nuwe Brandwag as wegspringblok het ek die projek tussen 2007 en 2010 uitgebrei om die volgende publikasies van 1910 tot 1948 in te sluit: Die Burger, Die Huisgenoot, Die Brandwag (eerste uitgawe 1937) en Die Transvaler.

Hierdie publikasies word by verskillende institusionele punte gehuisves. Ek het toegang gekry tot Die Brandwag, Die Nuwe Brandwag en Die Huisgenoot by die Merensky-biblioteek van die Universiteit van Pretoria, terwyl Die Burger en Die Transvaler slegs beskikbaar is by respektiewelike die Nasionale Biblioteek in Kaapstad en Pretoria.

Die eerste stap tot hierdie projek was om vanuit bogenoemde publikasies ’n volledige lys saam te stel van artikels wat oor musiek handel. Hierdie bibliografie van musiekjoernalistiek is ingesluit in my tesis wat aan die einde van 2010 beskikbaar gestel sal word op die digitale akademiese platform van Stellenbosch Universiteit.

Vanuit hierdie navorsing het daar ook ’n databasisprojek ontwikkel wat tans as ’n samewerking tussen die Universiteite Pretoria en Stellenbosch bestuur word. Die tydskrifartikels word gedigitiseer en verwerk na ’n gepaste formaat vir webpublikasie, wat die materiaal dus universeel toeganklik sal maak. Die webpublikasie van die artikels, met volledige metadata (insluitende kort opsommings in Afrikaans en in Engels), sal ten volle soekbaar wees op die Universiteit van Pretoria se Institusionele Pakhuis, UPspace, onder die versamelnaam Suid-Afrikaanse Musiekliteratuurversameling.

Wie is jou leermeesters/mentors?

Ek het met hierdie projek begin onder leiding van prof Chris Walton, eens die hoof van die Universiteit van Pretoria se musiekdepartement en ook ’n internasionaal erkende musiekwetenskaplike. In 2009 emigreer prof Walton na Switserland en ek sit my studie voort by die Universiteit Stellenbosch onder die leiding van een van Suid-Afrika se voorste musikoloë, dr Stephanus Muller. In Stellenbosch het ek ook gereeld kontak met prof Christine Lucia, voorheen hoof van die musiekdepartement by die Universiteit van die Witwatersrand. Al drie hierdie persone is gesiene figure in plaaslike musiekwetenskaplike kringe en waardevolle leermeesters en mentors vir hul studente.

Hoe sien jy die toekoms van hierdie soort navorsing?

My visie, veral met betrekking tot die databasisprojek, is om die navorsing van musiek en kultuur in Suid-Afrika te bevorder nie net deur volledige bibliografieë van musiekverwante artikels uit algemene tydskrif- en koerantartikels op te stel nie, maar ook deur hierdie artikels te digitiseer en universeel toeganklik te maak deur middel van die internet. Op lang termyn sal die versameling op die databasis deurentyd uitgebrei word deur die tydsdekking te vergroot, en deur artikels uit koerante en tydskrifte in ander Suid-Afrikaanse tale by te voeg.

Omdat die digitisering van artikels en dokumente ’n wyer toeganklikheid aan primêre navorsingsmateriaal verleen, sal hierdie projek dit moontlik maak om hierdie inligting vir toekomstige navorsers beskikbaar te stel deurdat die inligting soekbaar sal wees deur middel van web-soektogte en deurdat gratis toegang daartoe bewerkstellig word.

Annemie, baie dankie vir hierdie gesellige gesprek. Ons by LitNet wens jou sterkte toe met jou navorsing en ons sal ons oë oophou vir die webweergawe van die musiekjoernalistiek-databasis!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top