Francis Galloway 2

Francis Galloway behaal haar voor- en nagraadse kwalifikasies, insluitend 'n DLitt, aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar loopbaan begin as dosent in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van die Noorde (Limpopo). Hierna is sy as navorser verbonde aan die Sentrum vir Letterkundenavorsing van die RGN. Sy doen ondervinding op as akademiese uitgewer by Van Schaik Uitgewers voordat sy aan die Universiteit van Pretoria aangestel word as senior dosent in en koördineerder van die Uitgewersweseprogram.

Haar navorsingsveld is Boekstudie/Boekgeskiedenis, met spesifieke fokus op uitgewery-ondersoek. Sy loods 'n innoverende navorsingsprogram, wat ook internasionaal hoog aangeskryf word, om kontemporêre boekbedryfstatistiek te genereer en te verpak. Twee uitvloeisels van hierdie program is 'n jaarlikse diepte-opname van en verslag oor die aard en omvang van die plaaslike boekbedryf en die instandhouding van 'n sentrale databasis wat ingespan word om veranderende patrone in die bedryf te moniteer.

Galloway het al verskeie navorsingstoekennings ontvang, insluitend 'n toekenning van die Navorsingsontwikkelingsprogram van die Universiteit van Pretoria, twee maal toekennings van die Fokusarea-program van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en ook 'n toekenning van die Amerikaanse Delmas Foundation. Tans is sy een van die drie navorsingsleiers van die transnasionale boekgeskiedenis-ondersoek “Educating the Empire”, wat fokus op die uitgee en verspreiding van skoolboeke in en tussen die Verenigde Koninkryk, Suid-Afrika en Indië in die negentiende eeu.

Sy dien op die direksie van die Society for the History of Authorship, Reading and Publishing (SHARP). Sy is lid van die redaksionele raad van SHARP se vakjoernaal, Book History, en lid van die redaksie van LOGOS: Forum of the World Book Community. Sy dien op die beoordelaarspaneel van SHARP se George A and Jean S DeLong Book History Book Prize. Sy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe). Sy tree op as eksterne eksaminator en moderator vir uitgewersweseverwante kursusse aan die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Fort Hare en die National University of Science and Technology in Zimbabwe. Sy onderneem kontraknavorsing vir die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) en skakel met die Boekhandelaarsvereniging van Suid-Afrika (SABA) en die South African Book Development Council (SABCD).

Sedert 2000 het sy aan agtien internasionale en vyftien plaaslike kongresse en forums deelgeneem, met referate en bydraes wat op empiriese navorsing gebaseer is. Sy is die skrywer of medeskrywer van twaalf bedryfsverwante publikasies (wat op PASA se webwerf as Surveys of the South African Book Publishing Industry beskikbaar is) en sewentien navorsingsgebaseerde artikels in binne‑ en buitelandse vaktydskrifte. Sy lewer bydraes tot boekpublikasies (insluitend die Oxford Companion to the Book), was die samesteller van die jaaroorsigreeks SA Literature/Literatuur) en is die outeur van die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur. Tans is sy buitengewone dosent en navorser aan die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Pretoria.

 

Opgedateer/Updated: 2009-11-05

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

LitNet-akademies onderhoud: Francis Galloway in gesprek met Annemie Stimie

Francis Galloway 2, Annemie Stimie 2010-09-22 Francis Galloway stel ’n paar vrae aan Annemie Stimie rondom haar artikel “Die Europese musiektradisie en die ontwikkeling van ’n Afrikaneridentiteit. ’n Oorsig van Afrikaanse musiekjoernalistiek in Die Brandwag (1910-1921) ...
Top