Phil van Schalkwyk deel sy top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
Mens lees baie in ’n jaar, veral as jy letterkundige en dosent is. Mens lees ook uiteenlopende soorte tekste. Ek sou dus tientalle onthoubare tekste kon uitsonder. Dalk gaan dit vreemd klink, maar in al die modules wat ek in 2013 aangebied het, was daar studenteskryfwerk wat ’n besonder positiewe indruk op my gemaak het. Een van die beste tekste wat ek in 2013 onder oë gehad het, is trouens die navorsingsvoorstel van my PhD-student, Joanette van der Merwe.
Koffer in Berlyn deur Hennie Aucamp As dit egter om gepubliseerde tekste gaan, kan ek sonder veel huiwering sê dat my gunstelingboek van 2013 Hennie Aucamp se versameling essays oor die kabaret, Koffer in Berlyn, is. ’n Leeftyd se kennis, betrokkenheid en passie word hierin byeengebring. (Suid-) Afrikaanse lesers is bevoorreg om nog in ons midde iemand te hê van Aucamp se kaliber en met eerstehandse ervaring van en “toegang” tot die ontstaansgeskiedenis van die kabaret hier te lande en internasionaal. Koffer in Berlyn betrek ook die gemarginaliseerde maar essensieel-belangrike wêrelde wat met die kabaret skakel, bv. dié van die dekadensie, “camp”, “Entartete Kunst”, die Duitse Weimar-periode. Die lees van hierdie boek was vir my ’n enorm verrykende ervaring. |
|
Kom in, dit vries daarbuite deur Alfred Schaffer Ek is verlede jaar gevra om ’n resensie-essay vir LitNet te skryf oor Kom in, dit vries daarbuite, die keur uit die Nederlandse digter Alfred Schaffer se werk, deur Daniel Hugo vertaal. Die verbete poging om hierdie aanvanklik ontwykende poësie te verstaan het my ryklik beloon en vir my wêrelde laat oopgaan, nie net wat betref persoonlike artistieke belewing nie, maar ook in dié sin dat hierdie werk my gelei het na ’n verkenning van ’n uitgebreide kultuurhistoriese tradisie waarby Schaffer se digkuns na my gevoel aansluit. Hierdie versameling het my gebring by ’n lees, met nuwe oë, van Schaffer se hele oeuvre. Sy werk is ekspansief, in meer as een opsig, en onderstreep opnuut die waarde en trou van die immer-ontwikkelende, gevarieerde en “vreemde” ding wat ons poësie noem. |
|
The Philosophy Book: Big Ideas Simply Explained deur verskeie bydraers Daar was ’n vuisslanery in my kop oor watter teks die derde en laaste posisie mag inneem. Ofskoon dit nie ’n boek of iets dergeliks is nie, wil ek hier graag die Nederlandse digter en akteur Ramsey Nasr se persoonlike keur van 350 gedigte uit agt eeue se Nederlandse poësie, wat hy self voorlees, vermeld. Dit is uitgegee as CD-boks onder die titel Hier komt de poëzie!, en inderdaad word hier nuwe siele vir die (Nederlandse) poësie gewen en die geloof van reeds-bekeerdes, soos ek, versterk. Maar as dit dan om ’n boek moet gaan, gaan die derde plek aan die treffend geïllustreerde The Philosophy Book: Big Ideas Simply Explained (verskeie skrywers). Sake word hier allermins aangebied asof vir “dummies” – die intelligente manier waarop ingewikkelde idees bespreek en in allerlei verstaanbare verbande geplaas word, laat die vonkie van intelligensie en begrip hups en aansteeklik spring. Mens kry die indruk by die lees van hierdie oorsig van filosofiese denkrigtings dat alles asof vir die eerste keer bekyk word, en die aanbiedingswyse is eenvormig van styl en toon. Wat hier uit die verf kom, is ’n beeld van die filosofie as iets wat behoort tot die kern van die mens (elke mens) se bestaan, nie as iets vergesog, oorbodig of aansitterig nie – die filosofie is “slegs vir almal” (om Aucamp hier by te haal). |
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter