LitNet Akademies-leesgoed: Naòmi Morgan

  • 0

Naòmi Morgan deel haar top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Le silence des Chagos, deur Shenaz Patel

Tydens ‘n konferensie in Mauritius in 2013 het ek wonderlike nuwe tekste van plaaslike skrywers ontdek, soos Shenaz Patel se Le silence des Chagos.

Dit is ’n teks wat met die geskiedenis van Distrik Ses vergelyk kan word. Diego Garcia is een van die eilande in die Chagos-argipel. In die 1960’s het Mauritius die eiland (en sy inwoners) opgeoffer vir onafhanklikheid van Brittanje, wat dit op sy beurt beskikbaar gestel het aan die VSA om as militêre basis te gebruik. Die inwoners is onder valse voorwendsels per boot van die eiland af verwyder, en kon gewoon net nooit weer teruggaan na hul huise en lewens nie.

Frida Kahlo: Song of Herself, deur Salomon Grimberg

Daar was onlangs ’n dubbele uitstalling in Parys van die werke van Frida Kahlo en haar man, Diego Riviera. Ek kon dit nie bywoon nie, en lees toe Frida Kahlo’s song of herself, waarin die kindersielkundige Salomon Grimberg ’n onderhoud ontleed wat Kahlo kort voor haar dood met ’n ander sielkundige, Olga Campos, oor die kreatiewe proses gehad het.

In een van my gunsteling-films, Woody Allen se Midnight in Paris, figureer een van my gunsteling-plekke in Parys, die boekwinkel Shakespeare & Company. Die mitiese eienaar, George Whitman, is oorlede en sy dogter Sylvia is nou die eienares. Sy is besig om ’n biografie te skryf van haar pa, wat ek in 1980 as au pair ontmoet het. Ek kyk gereeld of die boek nog nie beskikbaar is nie: http://www.shakespeareandcompany.com.

Science in the Kitchen and the Art of Eating Well, deur Pellegrino Artusi

Ek berei voor vir ’n konferensie oor vertaling en kos (met die hulp van ’n koskenner, Dine van Zyl, en ’n digter, Bernard Odendaal), wat gelei het tot die ontdekking van Italië se bekendste skrywer oor kos en ’n gesonde lewenstyl in die 19de eeu, Pellegrino Artusi. Hy het vas geglo sy resep vir minestrone kan ’n mens van cholera genees.

Artusi se huis bestaan nog, en daar word steeds baie en wonderlik gekook.

 

Koop dit by Kalahari.com!

L'Amour Fou, deur Francoise Hardy

Ek is ’n groot aanhanger van Françoise Hardy, wat hierdie jaar 70 is. Sy het onlangs haar memoires gepubliseer, en in 2012 het haar eerste roman, L’amour fou, verskyn, met ’n CD waarna ’n mens moet luister terwyl jy lees.

 

Koop dit by Kalahari.com!

Verwoerdburg, deur Johan Rossouw

Ander skrywers het ook die idee van ’n klankbaan by hul teks – ’n plaaslike voorbeeld wat ek op die oomblik lees, is Johan Rossouw se Verwoerdburg

Hierdie roman verskyn in ’n simboliese jaar, 20 jaar na die eerste demokratiese verkiesings.

 

Koop dit by Kalahari.com!

La chambre des officiers deur Marc Dugain

Iets anders wat ek hierdie jaar uitgebreid sal herdenk, is die Eerste Wêreldoorlog. Ek het lank navorsing gedoen oor die historiese romans van hierdie oorlog, maar daar word steeds fassinerende tekste daaroor gepubliseer (soos La chambre des officiers deur Marc Dugain; dit is ook verfilm).

 

Koop dit by Kalahari.com!

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top