LitNet Akademies-leesgoed: Lida Krüger

  • 0

Lida Krüger deel haar top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

 “A roadside resurrection” deur Larry Brown

’n Kortverhaal wat ek teëgekom het in The Paris Review book of heartbreak, madness, sex, love, betrayal, outsiders, intoxication, war, whimsy, horrors, God, death, dinner, baseball, travels, the art of writing, and everything else in the world since 1953 (2003) deur die redakteurs van The Paris Review. Brown het baie goed daarin geslaag om fantastiese (dog geloofwaardige) karakters te skep: mens hoor hulle stemme in jou verbeelding soos jy lees. Ek het baie gehou van die mengsel van die spirituele en banale, asook die grillerige atmosfeer.

Piece by Piece deur Tori Amos en Ann Powers

’n Outobiografie met ’n sterk fokus op Amos se musiek en haar kreatiewe proses. Ek luister graag na Amos se musiek en hierdie boek gee mens nogal interessante insigte daarin. Haar idees oor vroulikheid, gender en feminisme is veral interessant en sy brei uit oor die psigologiese onderdrukking en kompartementalisering van vroue in die samelewing, iets waaroor sy veral in haar liedjies “Raspberry Swirl”, “Leather” en “Dragon” sing. Wat my opgeval het, is dat haar idees nie slegs op vroue van toepassing is nie, maar op enigeen wat deur die samelewing aangemoedig voel om sy of haar donker kant te onderdruk.

Na die geliefde land deur Karel Schoeman

Hierdie boek het al jare op my rak gestaan, maar ek het dit eers in 2013 gelees. Ek hou baie van Schoeman se subtiele manier van skryf – hoe byna niks uitgespel word nie, maar eerder gesuggereer word. Dit was vir my een van die raakste beskrywings van die Afrikaner wat ek nog ooit gelees het. Ek sal nooit die onheilspellende atmosfeer wat deurentyd gehandhaaf word, kan vergeet nie.

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top