LitNet Akademies-leesgoed: Johann Rossouw

  • 0

Johann Rossouw deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Stoner deur John Williams

Die eerste van vier indrukwekkende tekste wat ek die afgelope twaalf maande gelees het, is John Williams se roman, Stoner. Dit is ’n vergete klassiek wat oorspronklik in 1965 die lig gesien het. Dit beskryf die lewe van William Stoner, ’n akademikus wat spesialiseer in laat-Middeleeuse Engelse letterkunde – ’n onwaarskynlike wending gegewe sy afkoms as die enigste kind van ’n semigeletterde boer wat hom op ’n landbouvoorligter se aanbeveling stuur om landbou te gaan studeer. Stoner raak egter verlief op die Engelse letterkunde wat hy as byvak neem. Die roman is geskryf in afgemete, ingehoue prosa wat die oënskynlik saai lewe van hierdie Jan Alleman eggo. Maar onder die prosa, onder die lewe, skuil veel meer. Algaande ontdek die leser die lewe van ’n man wat vanuit sy geheime begeertes leef. Dít is wat hom deur ’n ongelukkige huwelik dra, maar veral deur die immer intellektueel enger omgewing van die eietydse universiteit. Veral laasgenoemde tema word aangrypend ontgin – ’n goeie halfeeu voor die sirkus wat die eietydse universiteit met sy akademiese politiek, niksseggende mededinging en boontjietellery geword het. Waarom het die boek juis in 2013 ’n topverkoper geword? Wie weet? Dalk omdat, om Voltaire te parafraseer, niks so kragtig is soos ’n roman waarvan die tyd gekom het.

 

Koop dit by Kalahari.com!

The Joke deur Milan Kundera

Die tweede teks is Milan Kundera se debuutroman, The Joke (1967). As ek reg onthou, het ek dit bykans ’n kwarteeu gelede die eerste maal gedurende my eerste jaar op universiteit gelees. Hierdie keer het ek dit veral gelees met die oog op wat ek van die tegniek van romanskryf kan leer van die romansier wat my naas Orhan Pamuk die meeste beïnvloed het. En die hoop het nie beskaam nie. Terwyl Kundera ’n pakkende verhaal uit die oogpunt van vier eerstepersoonsvertellers vertel, slaag hy daarin om oënskynlik met die grootste gemak tegelyk ’n ideeroman te skryf wat ’n verwoestende kritiek op die absurditeit van ’n totalitêre stelsel lewer – in hierdie geval die kommunistiese stelsel waaronder Tsjeggo-Slowakye ná die Tweede Wêreldoorlog gebuk gegaan het. Afgesien van die klug sentraal tot die intrige wat hy meesterlik vertel, gebruik hy die Christendom en die ou volkstradisies van die Boheemse gemeenskap as bronne van verset en hoop teen die stelsel. Dit was vir my verrassend, gegewe hoe nihilisties die latere Kundera sou word.

 

Koop dit by Kalahari.com!

The Unintended Reformation deur Brad S Gregory

Die derde teks is Brad S Gregory se verbysterende ideegeskiedenis van die Protestantse Hervorming, The Unintended Reformation: How a Religious Revolution Secularized Society (2012). Gregory se tese is dat die Hervorming ’n primêre fasiliteerder van die sekulêre moderniteit is, en hy beredeneer dit met groot vernuf op terreine soos die wetenskap, kultuur en politiek. Dit is die soort boek wat die bloedarmoedige godsdiensdebatte wat in Afrikaanse briewekolomme in koerante en op die internet heers, in ’n totaal ander lig stel: sowel die eietydse (Protestantse) Christelike fundamentalisme as sy teenhanger, die sekulêre ateïstiese fundamentalisme, kan regstreeks na die ideebedding van die Hervorming herlei word. Verpligte leesstof vir elkeen wat intelligent oor die Christendom en die sekulêre samelewing wil nadink.

 

Koop dit by Kalahari.com!

Bad Religion deur Ross Douthat

En die laaste, maar nie die minste nie, was Ross Douthat se Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics (2012). Douthat, die jongste vaste rubriekskrywer ooit van The New York Times, probeer die vraag beantwoord waarom die eietydse VSA vanaf die laat 1960’s in ’n Kulturkampf verval het. In plaas van om te kies vir die twee antwoorde wat gewoonlik gegee word – dat die VSA te gesekulariseerd geraak het, of dat die Amerikaanse Christendom te fundamentalisties geraak het – voer Douthat ’n werklik oorspronklike alternatief aan: die Amerikaanse Christendom het vanaf die laat jare sestig van die vorige eeu oeroue dwaalleringe opnuut ten prooi geval. Vanaf Rhonda Byrne se The Secret tot Eat, Pray, Love tot die obsessie met die historiese Jesus tot die sogenaamde opkomende kerke word almal deur Douthat ontmasker vir die tweederangse voortsetting van ou dwaalleringe wat hulle is – en wat al tussen die tweede en die agtste eeue deur die beste breine van die destydse klassieke wêreld weerlê is. ’n Boek wat ewe belangrik is vir almal wat so kwaad is vir die kerk, vir elke tweede Afrikaanse lekeprediker wat sy of haar eie “kerk” stig, as vir elke Afrikaanse predikant, pastoor en kerklidmaat.

 

Koop dit by Kalahari.com!

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top