LitNet Akademies-leesgoed: Helize van Vuuren

  • 0

Helize van Vuuren deel haar top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Boeke wat ek onlangs gelees het, gaan oor “moeilikhede”: die onopgewassenheid van ons as lesers vir die begrip van ondeurdringbaar-gewaande postmoderne poësie, en ons benarde posisie as aardbewoners wat immer versnellende klimaatsverandering in die gesig staar.

 

Theory intro poetry: New approaches to the lyric deur Eva Müller-Zettelman en Margarete Rubik (reds.)

Onmisbare leesstof oor hoe om moeilike postmodernistiese gedigte soos dié van JH Prynne, John Ashberry en Marlene van Niekerk (in Kaar) te lees, is Theory into poetry (2005)en Nandini Sankar se Poetics of difficulty in post-modern poetry (2012). As leser stuit mens voor baie van die verse van Prynne, Ashberry en Van Niekerk op ’n skynbare ondeurdringbaarheid waardeur jy nie met bekende leesstrategieë kan kom nie. Fnuikende verse kan mens sulke postmoderne poësie noem. Dit het my bewus gemaak dat die toerusting waarmee ek as leser na die tekste kom, skromelik te kort skiet, en dus het ek op soek gegaan en gevind …

Die bydraers tot Theory into poetry bevestig dat die teoretiese raamwerke vir die lees van poësie ver te kort skiet by die teoretiese begronding wat reeds vir prosa en drama ontwikkel is. Hul teks bied raad en hulp in die vorm van nuwe leesmetodes – veral Eva Müller-Zettelman se “‘A frenzied oscillation’: auto-reflexivity in the lyric” en “Under erasure” van Brian McHale beskryf die aard van onlangse postmoderne poësie in besonderhede, en hieruit kom beter begrip van tegnieke, truuks, style en konteks waaruit duidelik alternatiewe leesmetodes aan’t ontstaan is (iets soos die herkenning van die Higgs-deeltjie vir die geesteswetenskappe!).


Poetics of difficulty in postmodern poetry deur Nandini Ramesh Sankar

Sankar se briljante Cornell-tesis bied leesverslae van hoe sy jare lank met die ondeurdringbaarheid van Prynne en Ashberry se verse gestoei het en presies waarin die probleme van fnuikende verse geleë is: ’n veranderende wêreld, snel-vermeerderende kennis en die eksperimentele aard van die postmodernistiese gedig. Soos Theory into poetry laat haar tesis ’n mens die skromelike tekort aan teoretiese apparatuur en insiggewende tydgenootlike literêre kritiek oor uitdagende Afrikaanse poësie ook veel beter begryp. Agtergeblewe, en onondersoekte aannames oor die aard van wat poësie sou wees, is onbruikbaar by leespogings van eksperimentele nuwe digkuns wat geheel anders van aard, inhoud, toon en register is as enigiets wat ons tevore geken het.

 

The sixth extinction: An unnatural history deur Elizabeth Kolbert

Oor ons fragiele plek as homo sapiens op die planeet laat David Kramer die aarde sing (“Hierdie aarde” op die CD Hemel en aarde): “Welkom, jammer maar die rit is so kort, welkom hier aan die einde – my lyfie bloei terwyl die aarde groei, verder weg begin ’n ou haan kraai, die ape het te slim geword.” Elizabeth Kolbert neem as onderwerp van haar Sixth extinction die benarde posisie van alle spesies in die aangesig van erg versnelde klimaatsverandering, oorbevolking en versnelde mobiliteit in die globale dorp. (’n Mens hoef maar net te dink aan die dreigende vernietiging van flora en fauna, van die ganske Karoovlaktes soos ons dit ken en lief het, deur aardgas-boordery. Alreeds word daar “net eksploratief geboor”, soos die tyd verby tik … Elke minuut nader aan ’n suurwater-, omgedolwe maanlandskap waar eens Karookoppies gepryk, dassies op klippe gesit, die rivierhaas nog geskuil het.) Sy beskryf die stand van sake op toeganklike en kommerwekkende wyse.

Dié twee onderwerpe word saamgetrek in die magtige Kaar-gedig “Teorie en praktyk van die digkuns in ’n era van aardgas” (digkuns is “eksploitasie” van die taal en die lewe, soos wat boring vir aardgas katastrofale gevolge vir die natuur en die mens het), sodat hul glad nie so ver van mekaar af staan as wat dit met die eerste oogopslag lyk nie.

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top