|
Jesus van Nasaret deur Sakkie Spangenberg
Niemand gaan hierdie boek lees en met alles saamstem nie. Asof die inhoud nie reeds aanvegbaar genoeg is nie, openbaar die skrywer boonop 'n prikkelbare houding, waardeur op byna elke bladsy skoorgesoek word.
Dit sorg egter vir boeiende leesstof. Die hoofpunt is dat Jesus 'n intens komplekse persoon was, op wie die Bybel 'n groot aantal verskillende perspektiewe gee. Spangenberg beskou latere pogings om hulle tot een samehangende geheel te voeg as ongeldig, en is veral smalend oor wat hy die meesterverhaal van die Westerse Christendom noem, waarby ook die Ou Testament betrek word.
Die boek is vol sienings wat 'n mens laat dink, maar per slot van rekening afbrekend en uitsigloos. Selfs die leser wat met die hooftese saamstem, smag na 'n verdere hoofstuk waarin gewys word wat 'n mens in die lig van Jesus se werk en woorde tog durf glo as die meesterverhaal dan so danig verwerplik is.
Dalk is dit die doel van die boek dat elke leser daardie hoofstuk vir homself of haarself moet gaan skryf. In my geval het dit geslaag, en daarvoor moet ek die moedswillige skrywer bedank:
Ek glo in 'n Hemelse Vader, wie se naam heilig is.
Ek glo dat sy Koninkryk, die plek waar sy wil geskied, op die aarde sal kom, soos dit reeds in die hemel is.
Ek glo dat Hy elke dag vir my alles gee wat ek nodig het.
Ek glo dat Hy my oortredings vergewe en van my verwag om ook diegene wat teen my oortree, te vergewe.
Ek glo dat Hy my nie in die versoeking sal lei nie, maar my van die bose in my sal verlos.
Koop dit by Kalahari.com!
|