LitNet Akademies-leesgoed: Chris Broodryk

  • 0

Chris Broodryk deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Quiet: the power of introverts in a world that can’t stop talking deur Susan Cain

In ’n wêreld wat dikwels deur luide ekstroverte geëis word, was dit verblydend om Susan Cain se Quiet: the power of introverts in a world that can’t stop talking te lees. Cain se vertrekpunt is dat introverte, diegene wat tyd neem om sake deeglik te deurdink voordat hulle besluite neem, gedwing word om tot ekstrovertiese standaarde te konformeer. In groot dele van die Weste het ekstroversie inderdaad ’n kulturele ideaal geword, maar ten koste van introversie en die voordele van ’n meer nadenkende benadering tot die lewe. Cain bied wyses vir introverte om in ’n ekstrovertiese wêreld te oorleef en ’n beduidende bydrae tot denke en die sakewêreld te lewer. Verder slaan sy ook sommer die mite van “multitasking” die nek in, en bespreek sy die gevaarlike idee dat groepsdenke dikwels (foutiewelik!) as meer geldig as die denke van die individu beskou word. In hierdie opsig kan die gewilde groepsaktiwiteit “brainstorming” ’n rampresep wees.

Quiet mag ongelukkig as ’n tipe selfhelp-bron voorkom, en plek-plek is dit so geskryf, maar soos Barbara Ehrenreich lewer Cain sterk en toeganklike kritiek op die onbesonne gelukskultuur wat die Westerse hoofstroombestaan kenmerk. Vir dié wat bekommerd is: ja, die terme introversie en ekstroversie is problematies, en Cain is bewus daarvan. Sy problematiseer die terme voordat sy hulle vir haar eie doeleindes herdefinieer.


In praise of love
deur Alain Badiou

“Liefde sonder risiko is soos oorlog sonder enige sterfgevalle,” skryf die Franse filosoof Alain Badiou; dus is liefde sonder risiko onmoontlik. Verder moet die liefde gevier word as ’n uitdagende lewensaktiwiteit waar risiko steeds ’n rol speel, veral in ’n Westerse samelewing, waar risiko dikwels negatief beleef word.

Die bondige boek In Praise of Love is in dialoogvorm geskryf, waar Badiou in gesprek tree met die joernalis Nicolas Truong. Op vloeiende wyse word die leser bekendgestel aan onder andere Badiou se idees rondom liefde as waarheidsprosedure (“die liefde is ’n ervaring waartydens ’n sekere tipe waarheid geskep word”, bl 38), die Christelike geloof as liefdesgodsdiens, en natuurlik die rol van liefde in politiek en as politiek. Badiou se kommunistiese agtergrond help om liefde te posisioneer as iets veel groter as ’n bloot romantiese vergestalting tussen individue sonder om die unieke karakter wat die liefde in en tussen individue kan aanneem, af te water. Dit is ook nodig om oor die liefde te dínk, nie net te vóél nie. Soos dit kragtig in die Engelse vertaling gestel word: “To love is to struggle, beyond solitude, with everything in the world that can animate existence” (104).


Abel se ontwaking
deur Chris Karsten

Ek lees nie dikwels misdaadfiksie nie (hoewel ’n vriend van my volhou dat ek so gou moontlik met Karen Brynard se boeke moet wegspring), en dit is dalk deel van die rede waarom Chris Karsten se Abel-trilogie my so aangenaam verras het. Met hierdie stelling neem ek niks weg van Karsten se skrywersvernuf nie; hy gee kleur aan karakters wat maklik as stereotiep en clichéagtig kon oorkom. Karsten ken die formule vir die tipe verhaal wat hy skryf, maar hy laat hom nie daardeur onderkry nie, al steun die eerste aflewering, Abel se Ontwaking, ’n bietjie sterk op ’n moederpsigose. Karsten speel twee hoofkarakters teen mekaar af: Abel Lotz, maskerversamelaar, sterrekenner en psigopaat, en Ella Neser, jong en gedrewe polisie-ondersoekbeampte. Uit die staanspoor weet die leser wie die booswig en wie die held is, en die spanning is daarin gesetel dat die leser Neser stap vir stap volg soos sy die kloutjie by die oor bring wanneer ’n reeks moordsake op haar lessenaar beland. Abel is intelligent, maar Ella is vasberade.  

Abel se Ontwaking neem sy tyd om karakterdimensie en -verhoudings te vestig voordat die riller-element van die verhaal werklik inskop. Inderdaad is Ontwaking effens stadiger en meer voorspelbaar as die tweede aflewering, Abel se Lot, waarin Neser en Lotz opnuut teen mekaar te staan kom, maar op onverwagse, verrassende wyse. Hier toon die skrywer opnuut sy beskrywingsvermoë en verleen hy ’n anderwêreldsheid, sowel as ’n ongenaakbaarheid, aan sleutelplekke in die buiteland. Johannesburg en omgewing bly deurlopend bekend, waar misdaad onderliggend aan die stadsbestaan is.

Abel se Lot berei die pad voor vir die derde en (voorlopig) laaste Abel-verhaal, Die Afreis van Abel Lotz, wat tans op my bedkassie lê.

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top