Abel se ontwaking grillerig, gedetailleerd en pragtig geskryf

  • 0

Abel se ontwaking
Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151306
Prys: R148.75
 

Klik hier en koop Abel se ontwaking nou van Kalahari.net!

Met sy eerste misdaadroman, Seisoen van sonde, het oudjoernalis Chris Karstens bewys dat hy ’n boeiende, slim, gedetailleerde en grillerige spanningsverhaal kán skryf.  Resensente het tóé reeds voorspel dat hy naas Deon Meyer die groot speurromanskrywer gaan word – soos ’n mens op die agterflap van Karstens se jongste boek lees. Abel se ontwaking stel nie teleur nie; dit is weer een van dáárdie boeke wat jou tot laat in die nag laat lees. En wat veroorsaak dat jy nie eers jou man groet wanneer hy van die werk af by die huis kom nie. Want jy het nog net twee hoofstukke om te lees. “Sal jou nou-nou hallo sê, Liefie. Ek lees net gou hier klaar …”

Ontmoet vir Abel Lotz, ’n karakter wat losweg gebaseer is op Ed Grein, die Amerikaanse moordenaar en “oorspronklike” inspirasie vir die fliek Psycho. Abel het ’n vreemde, ingewikkelde verhouding met sy ma. Hy luister slegs na die vioolmusiek van Paganini (van Paganini se eerste komposisie vir viool en klavier het hy 14 weergawes!) en stel intens belang in sterre en astrologie. Hy is ook die eienaar van ’n galery wat tradisionele maskers van regoor die wêreld verkoop. Maar sy fassinasie met maskers strek veel verder as die blote Afrika-masker. Hy eksperimenteer immers al lank met die velle van katte, dassies en hase. Dit word presies afgeslag, skoongemaak, bewerk en gebrei totdat dit “sag soos fluweel onder sy vel se vingers” is (93). Hierdie huide is van so ’n uitsonderlike gehalte dat hy dit vir sy maskers kan ruil. Maar Abel wil vir sy vyftigste verjaarsdag vir homself ’n nuwe gesig gee, ’n vlekkelose vel wat sag en syig sal wees. En daarvoor sal dierehuide nie geskik wees nie.

Intussen het hy ook sy reeks joernale, Kosmiese Reise, waarvoor hy besonderse omslae benodig. Wanneer die eerste moord gepleeg word en Abel ’n tatoe van ’n jong meisie se rug oes, weet die leser dat dit maar net die begin is.

En hier kom adjudant Ella Nesser in die prentjie. Sy is die bloedhond wat op Abel se spoor is. Sy is een van die min vroue in Moord en Roof en hierdie is haar eerste groot saak. Sy is sistematies, lees FBI-handleidings vir ontspanning saans en wíl hierdie moordenaar vastrek. Maar Ella het skaars nog die verslag opgestel of die tweede jong meisie se lyk word gevind.

Abel se ontwaking val beslis nie binne die tradisionele spanningsverhaal nie. Soos die titel al voorspel, is die fokus hier op Abel en nie op die speurder Ella nie. Die leser weet lank voor Ella wat die motief is, waar en hoe die moorde gepleeg word en wat Abel se volgende stap is. Om die moordenaar jou hoofkarakter te maak sit beslis nie in elke skrywer se broek nie. Dit is veel makliker om eerder die speurder jou protagonis te maak, om die leser se aandag te hou deur hom/haar die hele tyd te laat raai wat die moordenaar nog in die mou voer. Maar Karstens dop die verhaal om, soos hy ook in Seisoen van sonde gedoen het.

En dit werk. Sy verhale het nie die tradisionele ontknoping nie. En tog hou dit die leser se aandag tot aan die einde. Daar is genoeg kontras tussen lig en donker, goed en kwaad, reg en verkeerd. Dit is grieselrig sonder om ooit blatant grusaam te word. Want wanneer dit by die daad kom, sien die leser deur Ella en die polisie hoe Abel se slagoffers lyk nadat hy met hulle klaar is. En die verhaal het soveel detail in dat dit voel asof die leser langs Abel staan wanner hy met sy huide besig is, of saam met Ella na die outopsie kyk. Dit word byna ’n sielkundige studie, ’n spel met nie net die polisie nie, maar ook die leser.

Soos met Seisoen van sonde is daar weer eens wonderlike inligting oor interessante stokperdjies. Of hierdie besonderhede altyd funksioneel tot die verhaallyn is, maak nie soveel saak nie. Want dit skep diepte in die verhaal. En dit sorg vir boeiende, interessante karakters. In Seisoen van sonde het Wim die leser mooi ingelig oor skoenlappers en motte. In Abel se ontwaking leer die leser onder andere dat die violis Ricci ’n “helder metronomiese aanslag op die snare” het terwyl Michael Rabin se weergawes van Paganini “so intens (is) asof die afsonderlike note in die lug tasbaar is” (66). Daar is wonderlike brokkies oor maskers en sterrekonstellasies.

Boonop gebruik Karstens taal op ’n vernuftige manier om spanning te skep. Teenoor die skerp, ernstige en energieke taalgebruik staan daar beskrywende dele wat byna poëties is. En daar is dele wat jou skoon begogel, soos wanneer Abel van die ster Betelgeuse vertel: “Kyk na daardie groot rooie, Betelgeuse. Sien jy hom? Daar aan die skouer van Orion? Die lig van die maan bereik die aarde binne een komma drie sekondes, die son se lig vat agt minute en twee en dertig sekondes. Weet jy hoe lank vat dit Betelgeuse se lig om die aarde te bereik? […] Vyf en twintig duisend jaar, dis hoe lank dit vat. […] Wat jy nou daar sien, is hoe hy in die jaar drie en twintig duisend voor Christus lyk. Jy kyk vyf en twintig duisend jaar in die verlede terug toe die aarde nog woes en leeg was, die begin van die eerste mense” (247).

Abel se ontwaking is uiters leesbaar, grillerig, spanningsvol, gedetailleerd en pragtig geskryf. Lees dit. Maar maak jou reg: jou Liefie sal bly wees as jy uiteindelik die boek toeslaan sodat jy weer ’n slag aandag aan jou huis en sy mense kan gee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top