Alettie van den Heever deel haar top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
|
Uses of Literature deur Rita Felski
Felski beskryf haar besinning oor die letterkunde as ’n “un-manifesto” (13) en ’n “defective or delinquent manifesto” (135). Sy distansieer haar van die hermeneutiek van agterdog (ter wille van agterdog) en onderskei haar argument as volg:
Rather than pitting literary theory against common knowledge, I hope to build better bridges between them. This is not because I endorse every opinion expressed in the name of common sense – quite the contrary – but because theoretical reflection is powered by, and indebted to, many of the same motives and structures that shape everyday thinking, so that any disavowal of such thinking must reek of bad faith. (13)
Felski is bewus van die slaggate van so ’n poging en erken die beperkinge van haar eie kategorieë en argumente in die inleiding en slot van haar betoog. In die vier hoofstukke – onderskeidelik “Recognition”, “Enchantment”, “Knowledge” en “Shock” getiteld – word ’n potensieel verlammende selfbewustheid egter op die agtergrond geskuif, sodat sy “ondogmaties” na hierdie spesifieke spektrum van literêre reaksies kan kyk.
Felski maak die opmerking dat ons taal van kritiek meer gesofistikeerd en wesentlik as ons taal van regverdiging is (22). Met hierdie boek lewer sy ’n verfrissende bydrae tot laasgenoemde.
|
|
The Hacker Ethic and the Spirit of the Information Age deur Pekka Himanen
In hierdie boek word die “hacker’s ethic” opgestel teenoor die Protestantse werksetiek, soos uiteengesit in Max Weber se The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism. Die “hacker” in die titel is nie ’n kuberkraker nie, maar ’n rekenaarentoesias wat byvoorbeeld sagteware ontwikkel en oopstel aan ander “hackers” sodat die beste produk aan die (niebetalende) verbruiker beskikbaar gestel kan word. Himanen gee ’n geskiedkundige blik op ons beheptheid met werk (ter wille van werk) en die geheimhouding van kennis. Hierteenoor staan die “hacker’s ethic” wat gekenmerk word deur werk ter wille van die plesier daarvan, werksbevrediging en die vrye beskikbaarheid van inligting. Die teorie word saam met interessante voorbeelde uit die letterkunde, sosiologie en geskiedenis verpak. Himanen laat die leser met die vooruitsig dat die wiel sal draai en dat die idee van onmenslike werksure en -druk as statussimbool ook weer veld sal verloor.
.
|
|
Food for Thought deur Martin Versfeld
Enige boek oor “spiritual food” (Versfeld gebruik self die term) loop die gevaar om pretensieus en prekerig te raak. Versfeld se besinning oor kos en die mens as “cooking animal” is egter aards en van enige aanstellerigheid gestroop. Met essay-titels soos “That the universe is the soup of God” en foto-onderskrifte soos “Distrust the family whose pots are small” kan die leser nie anders as om gevoed te voel nie.
Versfeld se kritiek is fel, maar subtiel. Hy kom byvoorbeeld die man op straat as volg by: “If you haven’t time for cooking you must be poor indeed” (8). En nadat hy daarop gewys het dat “simple remedies” soms slegs ter wille van finansiële gewin deur chemiese formules vervang word, tik hy die opportunistiese kapitalis oor die vingers: “No doubt I am being one-sided, though the accusation will be most loudly made by those who would rather have you live in their blocks of flats than in your own garden” (11). Die kritiek is egter bysaak. Versfeld wil die leser dwing om saam met hom sloerkos te maak. In “Cooking the marvellous” skryf hy: “If your cooking is play and not work, it will smell of Paradise” (154–5). En net ’n paar reëls verder: “Nothing hits heaven which does not hit the earth” (155).
|
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Kommentaar
Maar lees tog liewer Versfeld in Afrikaans! Dis soveel treffender...