LitNet Akademies: Lang Lang – Enkele opmerkings oor vertoonkuns, verhoogkuns en virtuositeit.

  • 0

Om ’n verhoogkunstenaar te wees, is om ’n vertoonkunstenaar te wees. As jong musiekstudent aan die Universiteit van Pretoria het ek daardie les vinnig geleer: “voordragklasse”, waar alles ingeoefen is, van loop op die verhoog tot buiging na afloop, was deel van my musiekopvoeding. Saam met vingerwerk en pedaaltegniek het ek ook geleer hoe om fisies te wys wat ek emosioneel aanvoel, want, is ek geleer, wanneer jy musiek op die verhoog aanbied, bied jy dit met jou uiterlike aan.

Kleynhans en Van Der Mescht het in hul artikel spesifiek gefokus op Lang Lang as “vertoonkunstenaar”, en hul navorsing toegespits op resensies en berigte wat geskryf is na aanleiding van sy lewendige uitvoerings voor gehore. Dié artikel, wat aanleiding gegee het tot hierdie aanlynseminaar, is getitel: “Die pianis as vertoonkunstenaar: Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se populêre sukses”. Vanuit hierdie artikel is twee pertinente vrae afgelei: “Lang Lang: Omstrede vertoonkunstenaar of gesiene virtuoos?” en “Ondermyn Lang Lang se omstrede interpretasies die samehangende struktuur van die werke wat hy uitvoer?”.

Hierdie vrae, wat ook Kleynhans en Van Der Mescht se artikel ingee, skep die idee van ’n óf-een-óf-die-ander-situasie: die pianis onder bespreking kan óf ’n omstrede verhoogkunstenaar wees, óf ’n gesiene virtuoos. Ek sou egter argumenteer dat beide moontlik is. Die welbekende pianis Vladimir Horowitz se reputasie as virtuoos word algemeen aanvaar, tog was hy ook bekend as omstrede verhoogkunstenaar wat dikwels persoonlike voorkeure bo die komponis se geskrewe teks gestel het. Virgil Thompson, die kritikus van die New York Herald Tribune, het byvoorbeeld na Horowitz verwys as “a master of distortion and exaggeration”, en Michael Steinberg se inskrywing in die 1980-uitgawe van The Grove Dictionary of Music and Musicians beskryf Horowitz as tegnies vaardig, maar met ’n gebrek aan musikale begrip (Plaskin 1983).

Die vraag is dus nie noodwendig of Lang Lang slegs ’n omstrede vertoonkunstenaar of dalk eerder ’n gesiene virtuoos is nie; dit sou moontlik wees om hom te sien as beide.

Wat is die definisie van virtuoos? Die woord se Latynse oorsprong lê in die terme vir “geleerd” en “ervare”, en albei hierdie konsepte kan enersyds op Lang Lang en andersyds op Horowitz van toepassing wees. Volgens Kleynhans en Van Der Mescht dra die visuele benadering van Lang Lang “net soveel by tot sy sukses as vertoonkunstenaar as sy tegniese vaardigheid”. Tog sou ek argumenteer vir ’n wyer interpretasie van die woord virtuoos as iemand wat, buiten tegniese vaardigheid en musikale kennis, ook artistieke vermoëns en insig aan die dag lê. Die definisie van virtuositeit moet dus sentraal staan in hierdie soort gesprek, want daar is ? groot verskil tussen tegniese vaardigheid en virtuositeit. Hier raak die vraag of Lang Lang se “omstrede interpretasies” die samehangende struktuur van die werke wat hy uitvoer, ondermyn, belangrik, want ware virtuositeit dui ook op insig in musikale struktuur en die interpretasie daarvan. Dit blyk uit Kleynhans en Van Der Mescht se diskoersanalise dat Lang Lang se “vaardigheid” wyd besing word deur kritici. Ek sou egter voorstel dat tegniese vaardigheid in die huidige uitvoeringsfeer deur die bank op ? hoër vlak as ooit tevore is, en dat tegniese behendigheid lank nie meer as die deurslaggewende faktor gesien kan word in terme van “virtuositeit” nie.

Wanneer is ’n interpretasie dus “omstrede”? Word ? “omstrede interpretasie” noodwendig gekoppel aan verhoogpersoonlikheid en/of “vertoon”? Ek vra my af of dit Lang Lang se verhoogpersoonlikheid is wat hier gesien word as omstrede, of sy interpretasies van spesifieke werke. Die “ekstreme choreografie” waarna Kleynhans en Van Der Mescht verwys, is miskien omstrede (alhoewel nie ongewoon of selfs sonder presedent in hedendaagse konsertpraktyk nie), maar die vraag moet steeds gevra word of Lang Lang se interpretasies van werke as “omstrede” beskou moet word.

Ek self vind Lang Lang se spel generies, voorspelbaar en onoorspronklik. Ek is geneig om saam te stem met die kritici wat opmerk dat hy selde sy tegniese vaardighede op ’n artistieke manier in sy spel aanwend. Sy interpretasies is nie omstrede nie – dis presies die teenoorgestelde. Sy sogenaamde “omstredenheid” lê in sy populêre sukses en sy toegewydheid tot vertoon en vermaak. Of die samehangende struktuur van die werke wat hy uitvoer, ondermyn word, kan miskien slegs as ? subjektiewe opinie geartikuleer word. Arturo Benedetti Michelangeli se 1962-uitvoering van Chopin se G mineur Ballade (opus 23) klink miskien vir moderne gehore “omstrede” vanweë die uiters individuele benadering in terme van tempo, pedaalgebruik, agogiek, balans ensovoorts. Na my mening is dit ? geweldig sterk uitvoering, geweldig omstrede (selfs vir Michelangeli se tydgenote) in terme van interpretasie, alhoewel Michelangeli self uiters konserwatief en beheerst op die verhoog voorkom.

Kleynhans en Van Der Mescht beweer dat Lang Lang “lankal die skeidingslyn tussen die pianis as tussenganger en die pianis as vertoonkunstenaar oorgesteek het”. Hieruit wil dit voorkom asof hulle nie die moontlikheid aanvaar dat dit moontlik is om beide tussenganger en vertoonkunstenaar te wees nie. Dit sou wel moontlik wees om te argumenteer dat Lang Lang in sommige gevalle juis deur middel van vertoon sy rol as “tussenganger” wil vervul. Hoe suksesvol dit telkens is, bly weer eens ? geval van subjektiewe opinie. Die rol van “tussenganger” sluit nie individualiteit uit nie; inteendeel: die goeie interpreteerder, tussenganger en uitvoerder is suksesvol juis omdat sy/haar individualiteit bydra tot die manier waarop die musiek kommunikeer. Tog, in die Zeitgeist waarin ons ons vandag bevind, word daar op bykans alle vlakke gefokus op die uiterlike en op oppervlakkige vertoon eerder as op substantiewe inhoud. Lang Lang is nie omstrede nie, maar weliswaar ’n verteenwoordiger van die nuwe generasie kunstenaars wat weet hoe om die mark te “speel”. Hy kom weg met oppervlakkige interpretasies en nodelose vertoon omdat die gehore van vandag oor die algemeen meer geïnteresseerd is in vertoonkuns as in kuns.

Johann Wolfgang von Goethe skryf: “If a man or woman is born ten years sooner or later, their whole aspect and performance shall be different.” Terwyl Goethe uiteraard nie hier verwys na uitvoering in die sin waarin pianis Lang Lang dit pleeg nie, kan die aanhaling van toepassing wees: Lang Lang is ’n produk van sy tyd, en sy sukses is aanduidend van die samelewing wat hom tot supersterstatus verhef het. Wat behoort gesien te word as “omstrede”, is miskien nie Lang Lang se spel of selfs sy vertoonkuns nie, maar die openbaring wat sy sukses maak in terme van ons hedendaagse samelewing en kunsmusiekpraktyk, en dit wat deur hierdie praktyk as waardevol beoordeel word.

Bibliografie

Plaskin, Glenn. 1983. Biography of Vladimir Horowitz. Londen: Macdonald.

Diskografie: Michelangeli plays Chopin; Opus Arte 0940

Terug na indeksblad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top