LitNet Akademies: Karin Cattell in gesprek met Gert van der Westhuizen oor die leerwaarde van klaskamergesprekke in hoër onderwys

  • 0

Karin Cattell gesels met Gert van der Westhuizen oor sy artikel “Leergesprekke in universiteitsklaskamers: ’n Herwaardering” in LitNet Akademies. 

U voer aan dat daar ’n behoefte is aan ’n herwaardering van die belang van ’n dialogiese verhouding tussen dosent en student vir leer in hoër onderwys. Waaruit het hierdie behoefte ontstaan?

Dis my persepsie dat die heersende praktyk in universiteitsklaskamers steeds een is van die dosent wat monologies werk. Die dosent is die gewer, die verskaffer, en in deesdae se verbruikersamelewing, die kennisverskaffer, die vermaker. My artikel probeer die saak uitmaak ten gunste van dialogiese leerverhoudings. In sulke verhoudings kan sowel die dosent as die student leerkwessies problematiseer, saam dink, en gespreksinteraksies gebruik om nuwe insigte na vore te bring. Dis ‘n praktyk wat verby die idee gaan van “ek verduidelik en jy moet jou bes doen om te verstaan wat ek bedoel”. Hopelik skep elektroniese media nuwe ruimtes vir studente om meer ingelig te wees en bemagtig genoeg te voel om met dosente in gesprek te tree.

Kennispolitiek is natuurlik deel van die probleem - dosente kommunikeer die boodskap: “Ek weet meer, het wyer gelees, en is verdiep in veral Westerse denkraamwerke - jou dikwels inheemse kennis kry in hierdie akademiese wêreld geen plek nie.”

Die artikel noem dat die herwaardering van klaskamergesprekke deel behoort uit te maak van pogings om kurrikula te transformeer. Binne hierdie konteks, wat sou u as ’n “uitnemende” kurrikulum beskou?

In Suid-Afrika is ons baie ver van ‘n dieper begrip van wat kurrikulumtransformasie regtig kan beteken. Tans neem ons dit as aanpassings aan kursusse en kwalifikasies sodat studente beter opgelei kan word vir werk, of as aanpassings soos vereis deur staatsdepartemente of beroepsrade. Die probleem met kurrikula is dat hulle meestal voortsettings is van Westerse kennissisteme en dat inheemse kennissisteme nie verreken word nie. Kurrikula behoort verder ook ‘n baie sterker ingesteldheid te hê op menslike ontwikkeling en die voorbereiding van studente om ‘n sinvolle lewe te maak en nie te wag vir aanstellings in poste nie.

Ek vermoed daar is ‘n wye behoefte om gesprek te voer oor wat uitnemendheid is wanneer dit by kurrikula kom. Dit gaan oor meer as net Amerikaanse definisies van “excellence” – ‘n uitnemende kurrikulum is een wat aktueel en reagerend is, een wat van pas is en bydra tot sosiale geregtigheid en ‘n ontwikklende Suid-Afrikaanse samelewing.

U argumenteer dat gespreksinteraksies in die tersiêre klaskamer ’n kultuur van demokratiese praktyk kan bevorder. Watter rol speel die etiese verantwoordelikhede van die “ek” en die “ander” (Levinas, na wie u ook verwys) in hierdie gesprekke in die ontwikkeling van sodanige demokratiese benadering tot onderrig en leer?

Landsburgers het almal die verantwoordelikheid om te bou aan ‘n kultuur van demokrasie. In universiteitsklaskamers beteken dit dat ons kennistradisies en -sisteme beskryf, problematiseer, en in dialoog met mekaar bring. ‘n Klas oor hoe kinders leer, kan byvoorbeeld handboekteorieë insluit, maar dit moet ook ruimte hê vir Afrika-gebaseerde beskouings en plaaslike interpretasies wat die “kringe van oudstes” vir dekades reeds oor geslagte heen as belangrik ag.

’n Demokratiese onderrigpraktyk sou ook bevorder kon word deur leergesprekke tussen studente onderling, in aansluiting by die interaksies tussen dosent en studente. Hoe sou eersgenoemde gesprekke by kurrikula ingesluit kon word?

Daar is mooi voorbeelde van navorsing wat die waarde van portuurgesprekke vir leer uitwys. Dit sluit in ondersoeke oor studiegroepe, klaskamergesprekke, samewerkende leer, wederkerige leer, en so meer. Die navorsing beklemtoon beginsels van interaksie, groepsprosesse en “saamdink”.

Op watter wyses kan wederkerige verstaanbaarheid en begrip in ’n gesprekspedagogiek ondersteun en ontwikkel word?

Gesprek is die sleutel – telkens wanneer een persoon ‘n beurt neem, dan is dit in reaksie op ‘n ander se vorige beurt. Hierdie reaksie wys die mate van begrip en so leer elke gespreksgenoot om duideliker te wees en ál sinvoller by te dra tot die doel van die interaksie. Deur “spraak-in-interaksie” hoor mens wat jy weet en hoe jy dit meet en pas by wat jou medeleerder weet.

Waar onderrig en leer in ’n dubbelmediumkonteks gesitueer is, kan beide verstaanbaarheid en begrip gekompromitteer word. Hoe kan ’n dosent in hierdie posisie leergesprekke fasiliteer?

Ek het nie die ervaring van dubbelmedium in een klas soos die gebruik op Stellenbosch en elders is nie. Ek is wel ‘n voorstander van die ooreenkoms wat dosente met hulle groepe kan sluit dat, soos hier by UJ, Engels die voertaal is, maar dat dit studente vry staan om enige taal te gebruik, mits iemand kan vertaal en ons mekaar verstaan. Ek moedig die gebruik van eie tale aan, aangesien dit dieper betekenisse uitbring, verby die eng moontlikhede van die addisionele Engelsvoertaal.

In ’n interkulturele gespreksomgewing kan die deelnemers van verskillende, dalk teenstellende, spraakhandelinge en gespreksvaardighede gebruik maak. Hoe kan die dosent verstaanbaarheid en begrip bevorder en terselfdertyd studente in die handhawing van hul kulturele identiteit ondersteun?

Goeie punt, dankie. Ek mag maar “jy” sê? Jy praat hier van die uitdaging van onderwys aan groepe veeltalige studente – ek sien ons verantwoordelikhede as dosente om interaksie- en gespreksreëls te leer. My eie pogings fokus op groetrituele, groepprosesse en die wyses waarop studente versoeke hanteer. Akademiese praktyke is egter so sterk geïnstitusionaliseer dat mens wegkom met die standaard-maniere van doen, en almal aanvaar dit so in stilte.

Met verwysing na Appel (2010) voer u aan dat deelname aan ’n gespreksinteraksie nie noodwendig lei tot leer nie. Is die omgekeerde ook van toepassing? Met ander woorde, indien ’n student nie aan ’n leergesprek sou deelneem nie, sou leer wel nog kon plaasvind?

Verskeie teoretici praat van die belangrikheid van “interne dialoog”, aangemoedig deur aktiewe deelname, maar ook deur waarneming. Leer is dan ‘n funksie van beide – interpsigologiese en intrapsigologiese prosesse, aldus Vygotsky.

Die bevordering van kritiese denke is ’n noodsaaklike aspek van ’n gesprekspedagogiek. Studente (veral eerstejaars) moet egter ondersteun word om byvoorbeeld ’n ondersoekende ingesteldheid te ontwikkel. Hoe kan ’n gesprekspedagogiek hiervoor voorsiening maak?

Tegnieke van gesprekspedagogiek het ek en Meahabo Magano en Pieter Mostert in ons boekie getitel Learning conversations opgeskryf (beskikbaar by Van Schaiks, as ek hierdie advertensie toegelaat kan word). Ondersoekende gesprekke is baie stimulerend en bevredigend, en studente leer deur deel te neem en voorbeelde na te volg. Belangrik is die vermoë om vrae te vra en gesprekke te gebruik om by nuwe antwoorde uit te kom. Dikwels hoor mens jouself in sulke gesprekke uitsprake maak wat jy nie geweet het jy kan nie!

Die buigsaamheid van leergespreksinteraksies staan in teenstelling met die meer rigiede monologiese “amptelike” klaskamerdiskoers, volgens die artikel. Op watter maniere sou dosente wat steeds laasgenoemde benadering gebruik, ondersteun kon word om ’n dialogiese verhouding met hul studente op te bou?

Die beste is om metodes van dialogiese onderrig te gebruik en daaruit te leer, al doen mens dit aanvanklik “resepmatig”. Dit was my ervaring met die Sokratiese metode wat ek slaafs geïmplementeer het met ‘n groep van 200 honneursstudente. Baie geleer!

Watter terugvoer is van studente ontvang oor die leergeleenthede wat ’n gesprekspedagogiek bied?

“Ek hoor myself dinge sê wat ek nie geweet het ek kan nie.”
“Kom ons praat nog.”
“Ek moet leer om vrae te vra.”
“Ek voel ek kan in my eie taal (idioom) sê wat ek dink.”

Beoog u om hierdie navorsing verder te voer? ’n Vergelykende ondersoek van die gebruik en resultate van ’n gesprekspedagogiek in kurrikula aan verskillende Suid-Afrikaanse universiteite sou interessante en bruikbare resultate kon oplewer.

Ja. Ek het pas navorsing voltooi oor leesgesprekke op skool en hoe dit bydra tot leesbegrip. Publikasie van resultate word deur ‘n Suid-Afrikaanse tydskrif oorweeg. Dan is ek en kollegas by UJ besig met navorsing oor mentorgesprekke in situasies van professionele leer – met die medewerking van Harm Tillema van Leiden Universiteit. Voorts het ons nagraadse studente wat navorsing doen oor leer- en beradingsgesprekke.

Baie dankie vir ’n leersame leeservaring en vir u verrykende kommentaar.

Dankie vir die vrae – hierdie gesprek was waardevol vir my.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top