Literêre kartering van plek: ’n geokritiese ondersoek na materiële verbeelding en ingeplaaste skryf in twee “Tuinverse”

  • 1

Literêre kartering van plek: ’n geokritiese ondersoek na materiële verbeelding en ingeplaaste skryf in twee “Tuinverse”

Susan Smith, Departement Afrikaans, Universiteit van Fort Hare

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die dinamiese verhouding tussen plek, ruimte en literatuur was nog altyd belangrik in literêreteksontleding, en ná die ruimtelike draai (spatial turn) in geestes- en sosiale wetenskappe gedurende die afgelope dekade, des te meer. ’n Transformasie van literêre en kartografiese praktyke van ondersoek bied nuwe perspektiewe op die wyse waarop die verteenwoordiging van plek in literêre tekste ondersoek kan word, in aanvulling tot bestaande ekokritiese praktyke.

Ruimte en plek is nie beperk tot werklikewêreldplek nie, maar sluit die verkenning van ander- en buitewêreldse plekke in, byvoorbeeld plekke van mite, fantasie, wetenskap, videospeletjies en die kuberruimte (Tally 2014a:1). Om die wêreld om ons as ’n multidimensionele sisteem van plekke te verstaan veronderstel beide kennis en verbeelding. Die term imaginative geography is vir die eerste keer in 1978 deur Said (1978:49) gebruik en word wyd erken en toegepas, juis ook deur na die fiktiewe of, in materiële terme, na die niebestaande te verwys.

In hierdie artikel word twee sentrale vrae gestel: Tot watter mate vind literêre kartografie in die twee gekose verse in die Byderhand Tuinverseprojek plaas, en op watter wyse word materiële verbeelding aangewend in die tot stand bring van die twee gedigte? By implikasie word daar ook aandag gegee aan die vraag na die plekspesifieke en ingeplaaste aard van die gedigte en hoe dit met ’n literêr-kartografiese werkwyse verband hou. Daar sal gepoog word om hierdie vrae te beantwoord teen die agtergrond van die teoretiese raamwerke van literêre kartografie en materiële verbeelding binne literêre ruimtestudies.

Die verskille en ooreenkomste tussen geokritiek en ekokritiek word nagegaan, terwyl literêre kartografie as geokritiese skryf- en ontledingstrategie van naderby bekyk word. Om te verstaan hoe die materiële verbeelding van plek onderskei word van werklikewêreldplek, word onderskeid getref tussen drie kategorieë van plek, naamlik werklikewêreldplek (as reële, konkrete plek), fiktiewe plek (as totale konstruksie van die verbeelding), en ’n derde ruimte, waarin die werklikewêreld- en die niewerklikewêreldplekke bymekaarkom en oorvleuel as ’n Ander, ’n “real-and-imagined” plek (Soja 1996). Hierdie derde ruimte is ’n plek “where everything comes together, […] subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined, the knowable and the unimaginable, the repetitive and the differential, structure and agency, mind and body, consciousness and the unconscious, the disciplined and the transdisciplinary, everyday life and unending history” (Soja 1996:67). Die studie van die derde ruimte het vir die geokritiek ten doel om as ’n interpretatiewe en analitiese metode aangewend te word wat die aandag fokus op die gelaagde fisiese en ruimtelike betekenis van plek in literêre tekste.

Tersaaklike inligting oor die Byderhand Tuinverseprojek word kortliks aangestip as agtergrond om die verband tussen die gedigte, plekspesifisiteit en literêre kartering aan te dui. Die ondersoekmetodiek is praktykgebaseerde navorsing wat veral gerig is op besinning oor die prosesse van kartering én oor die aanwending van materiële verbeelding in die gekose gedigte, en daar word ook kortliks na praktykgerigte besinning en kritiek as deel van die proses gekyk.

Die twee tekste wat ondersoek word, is die gedigte “Onder die soetdoring” van Hein Viljoen (Bylae A) en “By die soetdoring” deur die skrywer van hierdie artikel (Bylae B). Uit die gedigte, wat albei die soetdoring as onderwerp het en dieselfde plekspesifisiteit deel, is dit duidelik dat verskillende werkswyses met verskillende uitkomste deur die twee digters gevolg is om ingeplaaste skryf te bewerkstellig. Die aanwending van materiële verbeelding as karteringstrategie verskil eweneens, hoewel daar ook ooreenkomste aangetoon kan word. Die navorsing lei tot die gevolgtrekking dat die twee gedigte individueel uniek bydra tot die gelaagde, multifokale en veelstemmige literêre kartering van dieselfde geografiese plek. “By die soetdoring” maak meer van materiële verbeelding gebruik in die tot stand bring van die teks, asook om ’n groter oproep te doen op die leser se eie materiële verbeelding in die realisering van die gedig. Hierteenoor betrek “Onder die soetdoring” weer die ruimte van die werklikewêreldplek, en aktiveer dit tot ’n groter mate die leser se liggaamlike sensoriese ervaring as die ander gedig. Deur die literêre kartografie van die werklikewêreld-soetdoringplek kom ’n dialektiese verwantskap tussen die plek, die digters en die veelvuldige lesers tot stand wat alles multifokalies tot veelvuldige geleefde ondervindinge en persepsies van dieselfde plek bydra.

Trefwoorde: derderuimteplek; geokritiek; ingeplaaste skryf; kartering; literêre kartografie; materiële verbeelding; niewerklikewêreldplek; plekspesifisiteit; ruimtestudies; werklikewêreldplek

 

Abstract

Literary cartography of place: a geocritical exploration of material imagination and emplaced writing in two garden poems

The dynamic relationship between place, space and literature has always been important in literary text analysis, and after the spatial turn in the humanities and social sciences over the past decade, even more so. A transformation of literary and cartographic practices of inquiry offers new perspectives on the way in which the representation of place in literary texts can be explored, in addition to existing ecocritical practices.

Space and place are not limited to real-world place, but include exploration of other- and outside-world places, e.g. places of myth, fantasy, science, video games and cyberspace (Tally 2014a:1). Understanding the world around us as a multidimensional system of places presupposes both knowledge and imagination.

In this research article two poems are selected from the Byderhand Tuinverseprojek (At hand Garden Poems Project) at the NWU (North-West University) Botanical Garden in Potchefstroom. Two central questions are asked: To what extent does literary cartography take place in the selected poems, and in what way is material imagination used in the creation of the two poems? By implication, attention is also given to the question of the place specificity and emplaced nature of the poems and how they relate to a literary cartographic approach. Attempts will be made to answer these questions against the background of the theoretical frameworks of literary cartography and material imagination within literary spatial studies.

The differences and similarities between geocriticism and ecocriticism are examined, while literary cartography is looked at more closely as a strategy of geocritical writing and analysis. To understand how material imagination of place and real-world place differ, a distinction is made between three categories of place, namely real-world place (as a real, concrete place), fictional place (as a total construction of the imagination), and a third space in which the real-world and the non-real-world places come together and overlap as Another, a “real-and-imagined” place, in the words of Soya (1996). This third space is a place “where everything comes together, […] subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined” (Soja 1996:67). The study of third space thus offers geocriticism the opportunity to be used as an interpretive and analytical method that focuses attention on the layered physical and spatial meaning of place in literary texts. By asking geographical questions to literary texts and literary questions to geographical representations, natural and human sciences are brought together in a creative way and emphasis is placed on the personal and phenomenological aspects of geography and science.

Literary cartography can be seen as a number of cartographic techniques applied to a text whereby the text is subjected to a critical revaluation so that the graphic potential receives greater focus, either through diagrams or other nonverbal material which activates new discourse on the specific location of the text. This means that cartographic practices aim to establish an objective, verifiable topicality as an anchor, while acknowledging the formative capacity of literary representation.

Cartographic practices in literary texts takes place in many ways. First, of course, it refers to the physical presence of maps, especially in prose texts, where maps are used to help the readers orient themselves and visualise a place in the text. These maps as meaning-bearing systems can take the form of physical maps, diagrams or any further non-verbal extra-textual information that contribute to the meaning-giving of the place in the text. When these maps and data correspond to verifiable real-world tangents or interfaces, the interfaces serve as anchors to ground the text and in Soja’s (1996:62) terms are referred to as firstspace. Where the map deviates from the real-world place or creates a fictional world in accordance with the text as a whole, we are dealing with the formative capacity of the text and such a fictional text space can be seen as a secondspace (Soja 1996:65). The overlap of real-world space with non-real-world space, and thus the creation of a thirdspace (Soja 1996:65–7) is brought about by elements of material imagination, including three closely related aspects, namely double vision, place of memory value and inherited value.

Material imagination does not necessarily refer only to fictitiousness, to something which in material terms is non-existent, but also to an idea that humans are simply unable to understand spatial layers and their connections to society and the environment without imagination. Double vision or “seeing double” Tsay (2014:57) presupposes a gaze that exposes the underlying places of memory and activates an imaginary and affective reality to both the poet and the reader. By means of a glance to the past, a double presence is activated in the same place, both past and present, and a double charge attaches emotional value to the place, which in turn contributes to place attachment.

Related to double vision is what Nora (1998:xv–xvi) calls “the place of memory”, where the fictional is layered over the real and the personal over the geographical. Nora uses the term le lieu de mémoire, especially in relation to monumental places, places of collective memory, landmarks and sites of memory that are meant to connect both the past and the present with meaning, where the “residual sense of continuity remains” (Tsay 2014:51), a practice that implies the reader’s role and the application of certain reader practices. When the word remember occurs or is implied in a text, it unlocks the residual value and residual continuity, because memory is often rooted in the concrete, in place, gestures, images and objects. The role of the reader and his referential knowledge and subjective, experienced memory is thus as much a part of the literary mapping as that of the author.

Imaginary environment or imaginary place and (with it) the tangibility of material imagination, which is created by mapping, are therefore also the places that are visited by the author or poet through a variety of access points. These access points can be through photographs, through video material, through digital sources, through research, through dreams, through visualisations; therefore through material imagination or imagined geography. Belonging to these access points are also the so-called “third nature” (Wark 1994:115) of media-produced virtual realities that give the viewer access to the virtual space.

Thus, although the imaginer has not necessarily physically been in a given place, it can happen, in some cases, that the intensity of the imagined place is hardly reduced by it, according to Buell (2005:73). The intensity of the imagined place is related to previous place experiences and place attachments whereby a sense of place acts as a series of place experiences or palimpsests in which not only similar but opposite places enter into conversation with each other through material imagination.

The two texts examined are the poems “Under the sweet thorn” by Hein Viljoen (Appendix A) and “By the sweet thorn” by Susan Smith (Appendix B). It is clear from the poems, which both have the sweet thorn tree as subject and which have the same place specificity, that different methodologies with different outcomes were followed by the two poets to bring about emplaced writing. The use of material imagination as a mapping strategy also differs, although similarities can be shown. The research leads to the conclusion that the two poems individually contribute uniquely to the layered, multifocal and multi-voiced literary mapping of the same geographical location. Through the literary cartography of the real-world place of the sweet thorn tree, a dialectical relationship is established between the place, the authors and the multiple readers, all of which contribute multifocally to multiple lived, relived and inherited experiences and perceptions of the same place.

Material imagination and the embrace of digital practices are ultimately part of a diverse range of agencies that contribute to the story of the sweet thorn tree. Practice-based research makes it possible to reflect on the various nuances of the mapping of place and to gain access to the co-creation of material imagination and of the agency of place itself. Literary mappings of place, not only in the chosen two texts but in all the texts in the project that have the same place-specific space as subject, contribute to an understanding of place that is more than the cartographic real-world place. It explores the boundaries of place; it finds possibilities in the folds of reality and imagination. The texts do not reproduce place, but realize it through new virtualities, interact with place in conversation and, through its performative nature, create the possibility of bringing about change in perceptions of place. Through material imagination, unlocked by double vision, inherited value of place and memory, and through place attachment and insertion, a layered, poly-sensory and multifocal perspective of place is created. The story of the matter of the sweet thorns continues. It does not depend on the story of one person; the vibrant survival and retelling of matter’s narratives presupposes an entanglement of agencies; the human body is the privileged subject for place imagination, place experience and place projection.

Keywords: emplaced writing; geocriticism; literary cartography; mapping; material non-real world space; imagination; place specificity; real-world space; spatial studies; thirdspace place

 

1. Inleiding

In die ondersoek na die verteenwoordiging van plek in literêre tekste, die verhouding tussen literatuur, geografie en kartografiese praktyke, en die rol van plek en ruimte in kritiese teorie, is dit duidelik dat inter- en transdissiplinêre benaderings produktiewe verbintenisse met verskeie dissiplines tot gevolg het. Om geografiese vrae aan literêre tekste te stel, en literêre vrae aan geografiese representasie te stel, bring mee dat geokritiek die natuur- en menswetenskappe by mekaar uitbring. In hul voorwoord tot Ecocriticism and geocriticism wys Tally en Battista (2016:ix) op die groot rol wat ruimte- en plekgeoriënteerde literêre studies (uitgevoer onder die vaandels van literêre geografie, literêre kartografie, geofilosofie, geopoësie, geokritiek, ekokritiek of ruimtelike menswetenskappe in die algemeen) gespeel het om eietydse literêre kritiek te transformeer deur die aandag op die dinamiese verhoudings tussen plek, ruimte en literatuur te vestig.

Literêre ruimtestudies in ’n era van globalisering is dus beslis nie toevallig nie; globalisering, multi- en transnasionalisme, die groeiende belangstelling in literatuur van die Globale Suide (voorheen die Derde Wêreld) en ander vorme van kultuurgrensoorgang plaas geokritiek in ’n uitstekende posisie om hierdie verskynsels aan te spreek, en deur ruimte, plek en kartering word mobiliteit en buigbaarheid betrek. Globalisering het die wyse waarop uiteenlopende en selfs teenstrydige plekke krities interkonnektief bestaan, met ander aan mekaar verbind is (hoewel die interkonneksies nie altyd noodwendig sigbaar is nie), na vore gebring. Die transformerende effek van tegnologie, wat meer doen as om net ons sin vir ruimte en plek uit te brei, verruim ook op reële wyse hoe plek neerslag vind in die letterkunde.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Tally toenemend klem op ruimtelikheid en veral literêre kartografie plaas. Vir Tally (in Darici 2015:29) is ons voortdurend omring deur “profound spatiality” op die gebiede van postmoderne kuns, argitektuur, letterkunde en filosofie, en hy bestempel kartering van plek as die enkele belangrikste aksie tans in ruimtestudies, wat onvermybaar is in enige eietydse studie van literatuur.

Een van die raakpunte tussen plek- en ruimtegeoriënteerde literêre studies soos geopoësie, geokritiek, ekokritiek en ekopoësie is die belangstelling in literêre kartografie as ’n wyse om na plek te kyk, waar die fokus nie net op fiksionele en werklikewêreldplekke val nie, maar ook op aanwending van materiële verbeelding in die tot stand bring van verbeelde plekke. Veral van belang is Tally en Battista (2016:ix) se stelling dat ruimtekritiek, anders as wat sommige veralgemenings dit het, nie beperk is tot werklikewêreldplekke nie, maar veral verbeelde plekke insluit, en dit is hierin waar die kern van geokritiek en literêre kartografie lê. Die opstel van ’n fisiese kaart van ’n niewerklike (verbeelde) of werklikewêreldplek van ’n teks is maar een van talle kartografiese praktyke. Volgens Tally (2016a:118) moet literêre kartografie nie noodwendig gesien word as ’n letterlike vorm van kartering nie; dit veronderstel eerder die wyse waarop ’n gegewe literêre teks funksioneer as ’n figuurlike kaart wat gebruik word vir betekenisgewing van plek in die teks. Ter verheldering van Tally se stelling sou mens kon aanvoer dat literêre kartografie sigself besig hou met die kartering, hetsy letterlik of figuurlik, van die spesifisiteite van sowel werklikewêreld- as niewerklikewêreldplek (verbeelde plek), die onderlinge samehang van hierdie spesifisiteite en die wyse waarop die elemente van plek bydra tot die betekenisgewing van plek in die teks.

Ruimtes in literêre tekste is nie die enigste wyse waarop plekke verbeel kan word nie, en letterkunde leen sigself op ’n baie spesifieke wyse tot bespiegelende, kreatiewe denke en dit wat Tally in sy onderhoud met Darici “empowered imagination” (Darici 2015:30) noem. Die rol van verbeelding en die verhouding tussen plek, teks en verbeelding word in besonder deur Lawrence Buell ondersoek in The future of environmental criticism: Environmental crisis and literary imagination (2005). Hy wys daarop dat alle pogings om landskap en plek te vertekstualiseer aan beperkinge onderworpe is, veral die sintuiglike ervaring en ook persoonlike, sosiokulturele en ideologiese aspekte van plek (2005:33). Daar is geen een-tot-een-ooreenkoms tussen teks en wêreld nie; taal kan nie die reële ekstratekstuele landskap herhaal nie, net soos die teks ook nie van mimesis en referensialiteit as lense vir die verstaan van plek kan ontsnap nie (2005:36).

Om beter onderskeid te tref tussen die verskillende ruimtes of plekke wat in ’n teks tot stand gebring word, word daar gebruik gemaak van Soja (1996) se onderskeid van eersteruimteplek (reële werklikewêreldplek), tweederuimteplek (fiktiewe plek) en die sogenaamde derderuimteplek. Kortliks kom dit op die volgende neer: Eersteruimteplek is sigbaar, meetbaar en objektief bepaalbaar en kom meestal ooreen met Lefebvre (1991) se “perceived space”. Tweederuimteplek word geassosieer met Lefebvre (1991) se “conceived space”. Tweederuimteplek het te make met menslike emosie in kombinasie met ’n spesifieke eersteruimteplek, dus ’n normatiewe en subjektiewe blik op plek. Waar daar in eersteruimteplek ’n ontleding van die plek gegee word, poog tweederuimteplek om emosionele waarde aan daardie ontleding toe te voeg. Dit is ook ’n ruimte van beplanning en verbeelding, ’n fiktiewe ruimte as konseptualisering. Soja se derderuimteteorie word veral toegepas in literêre kartografie en geokritiek, waarin werklikewêreld- en niewerklikewêreldplek oorvleuel as werklike-en-verbeelde plek. Soja se derderuimteteorie word van toepassing gemaak op ’n verskeidenheid van dissiplines, maar dit is veral in die veld van literêre kartografie waarin die derderuimteplek vir literêre kritici van belang is.

 

2. Geokritiek en literêre kartografie

Geokritiek as literêre teorie vestig die aandag daarop dat kartografie nie langer gesien word as die uitsluitlike terrein van amptelike kartograwe nie, maar ook as ’n aksie van ’n wye verskeidenheid van instansies en individue wat op ’n gegewe tydstip vir die voorstelling van ’n bepaalde geografiese ruimte verantwoordelik is. Die geograaf is ook ’n skrywer, sê die Franse teoretikus Bertrand Westphal (2011:x) en voorstellingstegnieke wat in wetenskappe soos geografie gebruik word, het analogiese waarde ten opsigte van verbeeldingskrywing. In navolging van die werk van onder andere Foucault, Lefebvre en Soja oor ruimte en plek erken ’n geokritiese benadering dat die voorstelling van ruimte en plek ’n proses is waarin grense oorskry word en nuwe verhoudings tussen plekke en mense en dinge tot stand kom.

Die behoefte om deel te wees van ’n plek, en die teenpool daarvan, om “verlore” te wees, is universeel-menslik. Die ondervinding van “verlore wees” is direk verwant aan ons behoefte as mense om onsself op ’n bepaalde plek vas te pen of te herken – ’n herkenning van onsself as vaste punt tussen ander vaste, herkenbare punte. Tally (2013:43) assosieer kartering met ’n toestand van konstante disoriëntasie waardeur ons, hoe meer ons ’n kaart gebruik, paradoksaal juis al hoe meer verlore voel. Kartering is ’n reaksie op “verlore wees”, en die kaart is, ten beste, slegs ’n voorwaardelike en tydelike oplossing – kartering en herkartering gaan altyd voort.

Westphal se teorie van geokritiek beklemtoon, in pragmatiese en literêre terme, die koppelvlak tussen fiksionele voorstelling van werklikewêreldplekke en die werklikewêreldplekke self. Die fokus val nie net op geografiese verwysings nie, maar op multifokalisering wat van die gevaar van perspektiefbeperkinge ontsnap. Die doel is om ’n polifoniese en dialogiese begrip (Prieto 2012:4) van die gegewe plek tot stand te bring deur na soveel moontlik tekste te kyk en daardeur ’n jukstaposisie van tekste uit verskillende perspektiewe aan te bied.

Vervolgens word daar na die definiëring van geokritiek gekyk, terwyl literêre kartografie en materiële verbeelding as geokritiese praktyke ook toegelig word.

2.1 Geokritiek

Westphal betrek die term géocritique in verskeie van sy werke, waaronder veral Geocriticism: Real and fictional spaces (vertaal deur Tally 2011). Westphal se primêre belang lê by die literêre verteenwoordiging van plek, terwyl omgewingspolitiek en “nature writing”, wat dikwels ook met ekokritiek geassosieer word, sekondêre belange is (Prieto 2012:1; Westphal 2011:x). Hoewel ekokritiek en geokritiek breë vlakke van ooreenkoms toon en aanvullend tot mekaar is, is dit vir die kritikus lonend om die verskille tussen die twee te bekyk in ’n poging om tot ’n helder definisie van geokritiek te kom.

Die onderskeid tussen geokritiek en ekokritiek kan ten beste verduidelik word deur te wys op die verskil in die onderskeie fokusse: Terwyl ekokritiek daarop fokus om deur middel van merkers soos plek ’n beter begrip van die teks te kry, fokus geokritiek daarop om ’n beter begrip van plek te kry deur tekstueel ’n multifokale blik op plek te werp.

Oor die onderskeid tussen literêre kartografie en geokritiek skryf Tally in sy “Introduction on geocriticism” soos volg: “Using literary cartography, a writer maps the social spaces of his or her world; a geocritic would read these maps, drawing particular attention to the spatial practices involved in literature” (Tally 2011:1).

Tally gee ’n uitgebreide definisie van geokritiek waarin vier hoofpunte aangebied word oor die aard van geokritiek, naamlik die geogesentreerde aard van geokritiek, die aanvaarding van hibriede, multifokale perspektiewe eerder as een enkele perspektief, die sintuiglikheid van waarnemings oor plek, hetsy konkrete of gerealiseerde plek, en laastens die realisering van beide geometriese en filosofiese koördinate van plek (Tally 2011:xiv). Hoewel daar verskille tussen Tally en Westphal se sieninge oor geokritiek bestaan, sluit Westphal (2011:xi) by bogenoemde aan deur self te wys op vier voorwaardes van geokritiek, naamlik geosentrisme, multifokalisasie, polisintuiglikheid en stratigrafiese perspektief.

’n Bondige definisie van geokritiek is dus dat geokritiek ’n geogesentreerde literêr-teoretiese raamwerk is waarin plek sentraal staan en waarin literêreteksontleding aangewend word om ’n breë, multifokale blik op plek te verkry. Geokritiek bevorder ’n polisintuiglike benadering tot plek waarin plek gesien word as ’n koppelvlak tussen die fiktiewe verteenwoordiging van werklike wêreld en die reële geografiese en historiese werklikewêreldplekke self, dus ’n gelaagde, tyddefiniërende perspektief op plek.

Westphal (2011:xi) se insette laat die leser toe om te sien op watter wyse verskeie tekste ’n gekose lokaliteit verteenwoordig, deur ’n studie van hierdie onderskeie perspektiewe. Hoewel onvolledig, kan geokritici ’n relatief onbevooroordeelde en gelaagde beeld van ’n plek ontwikkel. Westphal onderskei voorts drie teoretiese begrippe, naamlik ruimtetemporaliteit, transgressiwiteit en referensialiteit. Geokritiek, as interdissiplinêre metode van literêre ontleding, fokus nie net op die temporale data soos die verhouding tussen die lewe en tyd van die skrywer, die geskiedenis van die teks of die narratologie van die teks nie, maar ook op die ruimtelike en tyddata van die plek.

Volgens Westphal (2011:xi) word referensialiteit gekarakteriseer deur konstante ossillasie waardeur die referent nie altyd werklik vasgepen kan word nie. Referensialiteit verwys dus na die verhoudings tussen werklikheid en fiksie, tussen die ruimtes van die werklike wêreld en die ruimtes van die teks (Westphal 2011:6). Persepsie van plek en voorstelling van plek is nie dieselfde ding nie en daar is geen vaste begrip of onveranderbare plekkriteria en geen statiese lesing van topologiese data nie. Westphal se teorie van geokritiek is ’n ondersoekende kritiese praktyk of stel praktyke waardeur lesers, navorsers en kritici deur geleefde ervaring en verbeelde projeksies betrokke raak by die ruimtes en plekke wat die lewe betekenisvol maak.

Geokritiek is dus inherent multifokaal en ondersoek op dieselfde tydstip ’n verskeidenheid van onderwerpe verwant aan ’n gegewe plek, dikwels dan een plek, soos in die geval van die Tuinverseprojek en die gekose gedigte. Dit onderskei sigself dus van praktyke waarin daar vanuit ’n enkele perspektief gekyk word, wat hierdie teoretiese benadering ook binne die kader van die postmodernisme posisioneer. Die onderliggende spanning tussen vertelling en beskrywing, soos tussen teks en beeld of selfs tussen tyd en ruimte, verlewendig die vertelling – ’n verstrengelende en oorvleuelende kreatiewe aksie van verkenning en aanbieding (Tally 2014a:2). ’n Produktiewe en kreatiewe dubbelsinnigheid word deur literêre kartografie tot stand gebring – gevorm deur interpretasie en interpretatiewe raamwerke wat kartering selfs voorafgaan. Die literêre teks is iets wat tegelyk karteer en gekarteer moet word. Literêre kartografie werp dus lig op dit wat gesien kan word, maar ook dit wat nié gesien word nie – ’n spanning tussen narratief en beskrywing in literêre kartografie, wat Tally die “absent present” (Darici 2015:32) noem. Wesenlik vra ons: Wat sien jy wanneer jy nie sien nie? En ook: Wat sien jy wat nié op die kaart is nie?

2.2 Literêre kartografie

Wat is literêre kartografie? In die VSA is dit veral Tally wat geokritiek sien as ’n kritiese praktyk wat geskik is vir wat hy “literary cartography” noem. Wat is ’n definisie van literêre kartering; hoe lyk die praktyke en op watter wyse kan dit toegepas word op ’n literêre teks?

Oor literêre kartografie sê Schilling (2014:215) die volgende:

The cartographic élan on display in the new literary geography responds to the twofold wish to formulate “objective”, verifiable knowledge by anchoring the coordinates of fiction to the geohistorical world of reference, variously known as the “zero-world”, “geospace,” or “actuality”, and to acknowledge the formative capacity of literary representations to augment, correct or supplant that world.

Literêre kartografie kan per definisie gesien word as ’n aantal kartografiese tegnieke wat toegepas word op ’n teks waardeur die teks onderwerp word aan ’n kritiese herwaardering sodat die grafiese potensiaal groter fokus ontvang, hetsy deur diagramme of ander nieverbale materiaal wat nuwe diskoers oor die spesifieke plek van die teks tot gevolg het. Hierdie praktyk is veral waar van prosatekste, maar gedigte behoort nie hiervan uitgesluit te word nie. Dit kom dus daarop neer dat kartografiese praktyke dit ten doel het om ’n objektiewe, verifieerbare aktualiteit as anker daar te stel, terwyl dit die formatiewe kapasiteit van die literêre voorstelling erken.

Elke kaart maak gebruik van ’n betekenisdraende sisteem om die posisie van iets of iemand in verhouding met iets anders op te spoor of vas te lê. ’n Kaart impliseer ook afstand tussen die objek van die kaart en die kyker. In aansluiting hierby wys Turchi (2007) daarop dat ons inligting organiseer met die doel om ons kennis op ’n nuwe manier te sien. Die gevolg hiervan is dat kaarte verduidelikings suggereer; en hoewel verduidelikings ons gerusstel, inspireer hulle ons ook om meer vrae te vra en ander moontlikhede te ondersoek (Turchi 2007:11). Hoewel Trauvitch (2014:199) praat van ’n kaart as ’n replika en ’n verteenwoordigende kopie van plek, en Pyke (2014:141) kaarte voorhou as “habits of seeing”, stem ek eerder saam met Hones (2011:686) wat daarop wys dat die teks nie gesien moet word as ’n direkte voorstelling van geografie nie, maar as ’n geografiese gebeurtenis in sigself. Elke keer as die teks “gebeur”, word die ruimtelike instellings hersitueer en gebeurlikheidsplanne word uitgeoefen in 'n web van ruimtelik-temporale interaksies tussen skrywers, lesers, objekte en plekke.

Dit bring ons by die hóé van kartering. Kartering in literêre tekste geskied op etlike wyses. Eerstens verwys dit natuurlik na die fisiese teenwoordigheid van kaarte in veral prosatekste waarop skrywers hulle beroep om lesers te help om hulself te oriënteer en ’n plek in die teks te visualiseer, hetsy werklikewêreld- of niewerklikewêreldplekke. Hierdie kaarte as betekenisdraende sisteme kan die vorm aanneem van fisiese kaarte, diagramme of enige verdere nieverbale buitetekstuele gegewe wat bydra tot die betekenisgewing van die plek in die teks. Wanneer hierdie kaarte en gegewe ooreenstem met verifieerbare werklikewêreld-raakpunte of -koppelvlakke, dien die koppelvlakke as ankers om die teks te begrond en word daar in Soja (1996:62) se terme van ’n eersteruimteplek gepraat. Waar die kaart afwyk van die werklikewêreldplek of in geheel ’n fiktiewe wêreld daarstel in ooreenstemming met die teks, het ons te make met die formatiewe kapasiteit van die teks, en so ’n fiktiewe teks kan gesien word as ’n tweederuimteplek (Soja 1996:65). Die oorvleueling van werklikewêreldplek met niewerklikewêreldplek, en dus die tot stand bring van ’n derderuimteplek (Soja 1996:65–7) van reële-en-verbeelde plek, word bewerkstellig deur elemente van materiële verbeelding, waaronder dubbelvisie, plek van onthou of geheueplek en nagelate waarde, wat hier onder breedvoeriger aandag sal kry. Soja (1996:67) verklaar dat derderuimteplek die plek is “in which everything comes together … subjectivity and objectivity, the abstract and the concrete, the real and the imagined, the knowable and the unimaginable, the repetitive and the differential, structure and agency, mind and body, consciousness and the unconscious, the disciplined and the transdisciplinary, everyday life and unending history”.

Koppelvlakke tussen fiktiewe voorstelling en werklikewêreldplekke is uiteenlopend. Dit sluit ’n breë spektrum van plek in vanaf homotopiese verteenwoordigings van plek, waarin die plek versoenbaar is met wat ons van die plek weet, tot heterotopiese verteenwoordigings, wat eksplisiete afwykings van die feite toon en erkenning gee aan die belangrikheid van suiwer fiksioneel-geskepte plekke (Prieto 2012). Die verifieerbare kennis van plek anker die teks aan die geohistoriese verwysings van ’n bepaalde plek. Die literêre voorstelling versterk die verwysings, voeg inligting by of verdring selfs in sommige gevalle die inligting en is die vormgewende vermoë van die teks.

Literêre kartering behels dus veel meer as net fisiese kaarte in tekste. Kartering in/van ’n teks kan ook bestempel word as daardie taal- en narratiewe elemente in die teks wat ruimtelike en plekspesifieke aanwysings verskaf en wat omgewing in die geestesoog van die leser skep. Pike (2014:141) maak die stelling dat taal ’n kartering en kartering taal is, wat dui op die wisselwerking tussen die twee. In die projek en gekose gedigte onder bespreking gaan dit nie oor een enkele teks wat plek beskryf nie, maar oor meer as een teks wat dieselfde plek beskryf waardeur die multifokale, gelaagde visie van die plek bewerkstellig word, wat bydra tot die grensloosheid van veelvuldige geleefde ondervindinge van daardie plek. Kartering is dus nie beperk tot eersteruimte- of tweederuimteplek nie, maar dra veral betekenis en funksioneer binne die konteks van die derderuimteplek, wat meer is as die verteenwoordigende kennis en die akkuraatheid en objektiwiteit van die kartografie.

 

3. Materiële verbeelding as karteringstrategie

Om die wêreld as ’n multidimensionele sisteem van streke en plekke te verstaan, vra om verbeelding. Ridanpää (2017:187) maak die volgende stelling:

Imagination does not refer to fictitiousness, to something which in material terms is non-existent, but instead to an idea that humans are simply unable to understand spatial layers and their connections to society and the environment without imagination.

Dubbelvisie veronderstel in die woorde van Tsay (2014:57) ’n blik wat die onderliggende plekke van geheue blootlê en vir beide die digter en die leser aktiveer, ’n verbeelde en affektiewe realiteit. Deur middel van ’n verlede-blik, ’n dubbele teenwoordigheid op dieselfde plek, word beide verlede en hede geaktiveer en ’n dubbele lading emotiewe waarde aan die plek geheg, wat op sy beurt weer bydra tot plekgehegtheid. Die beliggaming van en ingeplaastheid binne die plek is werklik; die kartering oorspan verteenwoordigende kennis.

Verwant aan dubbelvisie is wat Nora (1998:xv–xvi) “the place of memory” noem, die geheueplek waar die fiksionele bo-oor die reële en die persoonlike bo-oor die geografiese gestel word. Nora praat van “le lieu de mémoire veral met betrekking tot monumentale plekke, plekke van kollektiewe geheue, landmerke en terreine van geheue wat bedoel is om die verlede en die hede met mekaar te verbind, waar die “residual sense of continuity remains” (Tsay 2014:51), ’n praktyk wat die leser se rol en die toepassing van bepaalde leserspraktyke impliseer. Wanneer die woord onthou in ’n teks voorkom of geïmpliseer word, ontsluit dit die nagelate waarde of reswaarde (“residual value”) en nagelate kontinuïteit (“residual continuity”), want geheue is dikwels gewortel in die konkrete, in plek, gebare, beelde en objekte. Selfs individue kan terreine van geheue wees. Die rol van die leser en sy referensiële kennis en subjektiewe, ervaarde geheue is dus net soveel deel van die literêre kartering as dié van die skrywer, wat al hierdie aspekte in sy kartering van plek aktiveer. Bepaalde leespraktyke kan deur die skrywer geaktiveer of ondermyn word, na gelang van die bedoelde plek van geheue wat die skrywer wil skep – in sommige gevalle nie ’n onderdompeling van die leser in die geskepte wêreld nie, maar ’n versterking van die een waarin die leser self reeds is.

Plekbeskrywing in literêre tekste kan dus gesien word nie net as afleidings van werklikewêreldplekke nie, maar as performatiewe aksies deur die skrywer. Hierdie plekbeskrywings beskik oor die vermoë om verandering in die ervaring van die leser se plekpersepsie mee te bring. Verandering kan ook destabilisering beteken, waardeur ’n dialektiese verwantskap tussen tekste en die werklikewêreldplekke wat hulle verteenwoordig, tot stand kom as gevolg van die voortdurend veranderende betekenis van plek en die vlakke van onstabiliteit wat daarmee gepaard gaan – ’n eienskap wat wesenlik postmodern van aard is (Tally 2016:20 en Goddard 2014:32).

Verbeelde omgewing of verbeelde plek, en daarmee saam die tasbaarheid van materiële verbeelding, wat deur kartering tot stand gebring word, is dus eweneens die plekke wat deur die skrywer of digter besoek word en kan deur middel van ’n verskeidenheid toegangspunte geskied. Hierdie toegangspunte kan wees deur middel van foto’s, deur videomateriaal, deur digitale bronne, deur navorsing, deur drome, deur visualiserings, dus, deur materiële verbeelding of verbeelde geografie. Behorende tot hierdie toegangspunte is ook die sogenaamde derde natuur (Wark 1994:115) van mediageproduseerde virtuele werklikhede wat die kyker/verbruiker toegang tot die virtuele ruimte gee.

Hoewel die verbeler dus nie noodwendig fisies op ’n gegewe plek was nie, kan dit in sommige gevalle gebeur dat die intensiteit van die verbeelde plek kwalik daardeur verminder word, aldus Buell (2005:73). Die intensiteit van die verbeelde plek hang saam met vorige plekervaringe en plekgehegthede waardeur ’n sin van plek as ’n reeks plekervaringe of palimpseste optree waarin nie net soortgelyke nie, maar teenstellende plekke in gesprek met mekaar tree deur materiële verbeelding.

Buell maak ’n belangrike uitspraak oor die geldigheid van materiële verbeelding wat deur plekgehegtheid en ’n sin van plek tot stand kom, maar meer insluit as fisiese teenwoordigheid in die plek. Hy sê: “[O]ne also becomes attached to places by the power of imaging alone […] [T]he places that haunt one’s dreams and to some extent define one’s character can range from versions of actual places to the utterly fictitious” (2005:72, 73).

Die gebruik van materiële verbeelding is nie net tot die skrywer van die teks beperk nie, maar sluit ook die leser in as deel van die realiseringsproses van die teks. Buell (2005:62) wys op hoe verbeelde plek en omgewingsverbeelding die onafwendbare prosesse van selfbewuste en voortdurend verskuiwende verhoudings tussen wees en fisiese konteks registreer, beoordeel en bewerkstellig.

Materiële verbeelding kan eweneens nie losgemaak word van ingeplaastheid en die sin van plek nie. Wat is die verbintenis tussen plekbewussyn, plekgeheue en plekgehegtheid? Wat is die kenmerke en gevolge van plekgehegtheid? Word plekgehegtheid tot stand gebring uitsluitlik deur liggaamlike kontak en oor ’n lang tyd, of sou dit ook kon spruit uit belangstelling, korter besoeke aan bepaalde plekke en nagevorste, intellektuele betrokkenheid by ’n spesifieke plek?

 

4. Ingeplaastheid, plekgehegtheid en die sin van plek

Een van die sentrale raamwerke waarbinne die Tuinverseprojek funksioneer, is dié van ingeplaastheid en die plekspesifieke ervaring. Vir die doel van hierdie artikel word daar dus op ingeplaaste skryf gefokus, terwyl in gedagte gehou moet word dat die ingeplaastheid van die leser en die leesprosesse onlosmaaklik verweef is met die ingeplaastheid van die teks. In ’n vorige artikel (Smith 2012:902) word ingeplaastheid gedefinieer binne die raamwerk van die fisiese materialiteit van plek wat ’n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn van die digter verg, ’n sogenaamde binne-die-liggaam ervaring. Dit vra uitdruklik vir ’n bepaalde plekverbondenheid en plekgehegtheid van die digter.

Eweneens is dit ook van waarde om aandag te skenk aan die kategorie van behoort wat ter sprake kom en hiermee gepaardgaande dan ook aspekte van bioregionaliteit: Wie het die natuurlike reg (Williams en Smith 1983:509) op ’n plek; hoe en deur wie word bepaal wie tuis hoort al dan nie? Voortdurend verskuiwende fisiese kontak met ’n omgewing of plek of biostreek is ’n werklikheid van die hedendaagse mens se bestaan – ons is immers as mense nomadies van aard, algaande al hoe meer. Ons is voortdurend in fisiese kontak met verskillende materiële omgewings of plekke van uitkringende grootte en wisselende gehegthede, met ons vaste woonplek as sentrum. Die eerste, of meestal permanente plek leer ons in besonderheid ken en vorm ’n verbintenis daarmee wat op talle vlakke funksioneer. Dit kan variërende aspekte insluit soos ’n intieme kennis van die plek (histories, geografies, sosiaal, kultureel, biologies en geologies), ’n bewussyn van veiligheid of onveiligheid, ’n bewussyn van skoonheid of die gebrek aan skoonheid, betrokkenheid of onbetrokkenheid by die plek en die impak van die plek op die gesondheid en lewenskwaliteit van die self.

Op ’n tweede vlak is ons ook verbonde aan uitkringende biostreke en materiële omgewings waarheen ons van tyd tot tyd terugkeer en waar ons ’n bepaalde hoeveelheid tyd deurbring. So ’n bestemming kan die vorm aanneem van ’n reis- of vakansiebestemming, ’n ruimte waarin ons ons kinderjare deurgebring het, of waar ons vir ’n lang tyd gewoon het. Hierdie ruimtes bevat ’n gelade emotiewe waarde, hetsy positief of negatief, afhangende van die ervarings wat ons binne daardie ruimte beleef het. Ons herhaalde besoeke bevestig ons verbintenis met die plek.

Benewens ons persoonlike verbintenis met werklikewêreldplekke en die emotiewe geladenheid daarvan as fisiese bestemmings, moet ons egter ook in gedagte hou dat plekke self met verloop van tyd verander. Plek is dikwels ook onderhewig aan ’n proses. Veranderinge vind plaas, hetsy ten goede of kwade, en ’n begrip van plek veronderstel ook kennis van die geskiedenis van ’n bepaalde plek. Daar moet ook aan plek gedink word as ’n terrein van sosiale produksie, en so ’n siening laat toe dat ons plek nie net gewoon as naamwoord sien nie, maar as naamwoord wat in dié geval aksie uitdruk. Dit bring ons netjies terug by die oorspronklike betekenis van ekopoësie as die Griekse oikos (huis of blyplek) en die werkwoord poeisis (om te maak), in Skinner (2001:5) se woorde, “a house making”. Die implikasie is dat ekologiese én kulturele verbintenisse in die skepping van plek meewerk – ’n selfbewuste, wyer wordende kring van terreine wat ’n gelaagde dubbelbewussyn van plek tot gevolg het.

Uit bostaande is dit duidelik dat ingeplaastheid en plekgehegtheid dus ’n baie spesifieke sin van plek veronderstel. Die begrip sin van plek is van Romeinse oorsprong, naamlik genius loci (“spirit of place”), wat dui op die beskermgod of gees van ’n bepaalde plek. Dit het dus ’n spirituele assosiasie tot gevolg as plek van ontmoeting met die goddelikheid of die bomenslike. Dit is belangrik om daarop te wys dat die dubbelbetekenis van sin beide persepsie en konsepsie, beide liggaamlike en kognitiewe betrokkenheid by plek veronderstel, wat eweneens sintuiglike waarneming insluit. Alexander (2017:39) sê byvoorbeeld dat sensoriese persepsies fundamenteel is tot enige geografiese bewussyn. Sin van plek impliseer dus beide fisies-sensoriese nabyheid en verstandelike afstand en beide onderdompeling en loslating. Die rol van al vyf sintuie in die skepping van ’n sin van plek vra om akute aandag en aktiewe deelname, en is verwant aan hoe onlangse navorsing in kultuurgeografie die agentskap van materie ondersoek (Alexander 2017:43). Dit is meer waarskynlik dat eietydse kultuurgeograwe multisensoriese ontmoetings op die voorgrond sal stel as wat die geval is met humanistiese geograwe wat die fokus steeds slegs op die agentskap van die menslike subjek plaas wat plek as ’n voorafbestaande objek sien. In die mees onlangse navorsing word die onderskeid tussen persoon en plek, en tussen self en landskap opgehef vir ’n vloeibaarheid van bewegings, verhoudings en wordings. Die klem is egter nie soseer op gevoel en sensasie nie, maar eerder op affek en waarnemingsinhoud.

Thus, an affect denotes the shifting mood, tenor, colour or intensity of places and situations, whilst a percept is a style of visibility, of being-visible, a configuration of light and matter that exceeds, enters into, and ranges over the perceptions of a subject who sees. (Wylie 2005:236)

Alexander (2017:43) meen dat binne laasgenoemde werkwyse, ’n sin van plek nóg subjektief, nóg die eiendom van ’n objek is, maar iets wat tussen die twee sirkuleer en ’n sleutelrol in die skepping van selwe en plekke speel.

Die wyse waarop hierdie geografiese multisintuiglikheid, oorgeneem van die dissipline van kultuurgeografie, toepasbaar is in die ondersoek na ’n sin van plek, is van waarde vir literêre kartografie en ekokritiek. Dit bring alternatiewe leesstrategieë vir literêre ontleding tot stand wat volgens Prieto (2017:61) ook deur onlangse ontwikkeling in die digitale menswetenskappe ondersteun word. Dit hou ook verband met die fokusverandering vanaf ruimte na plek. Waar eersgenoemde geassosieer is met neutraliteit, objektiwiteit en universaliteit, word plek geassosieer met intimiteit, onmiddellikheid en selfs die feilbaarheid van subjektiewe ondervinding. Die onderskeid tussen ruimte en plek is reeds in ’n vorige artikel ondersoek (Smith 2012:896–7): “Ruimte […] is ’n abstraksie wat uitgedruk kan word as behoefte of konsep, terwyl plek ’n spesifieke materiële ruimtelike lokaliteit is. Jy kan daar arriveer of terugkeer daarheen en jy kan dit fotografies en selfs klankmatig vaslê.” Plek is gegrond op reële tyd, en anders as ruimte, gerig op subjektiewe ondervinding wat uitwaarts gerig is na die tasbare wêreld, maar ook inwaarts na die persepsies wat deur interaksie tot stand kom. In die inleiding tot Geocriticism: Real and fictional spaces skryf Westphal (2011:x) die volgende oor hierdie ervaringsaspek: “Our understanding of a particular place is determined by our personal experiences with it, but also by our reading about others’ experiences, by our point of view, including our biases and our wishful thinking.”

Dit gaan dus nie net oor ons eie ervaring nie, maar ook ons ervaring van iemand anders se ervaring, vooroordele en wense.

Teen die voorgaande agtergrond van geokritiek en die literêre kartering van plek is die Tuinverseprojek ’n uitstaande voorbeeld in die Afrikaanse literêre landskap van multifokalisering op ’n spesifieke plek en die materiële dinge in hierdie plek. Die tekste is terreinspesifieke gedigte waarin verskeie digters op dieselfde terrein fokus en die gedigte as polifoniese kartering van die plek dien. Daardeur word ook die materiële en referensiële geheue van die lesers geaktiveer. Die keuse van twee gedigte vir hierdie navorsing dien as ’n vertrekpunt vir literatuur-kartografiese ondersoek wat hopelik vorentoe wyer getrek sal word om meer gedigte in te sluit.

 

5. Tuinverseprojek by die NWU Botaniese Tuin, Potchefstroom as geokritiese plekspesifieke projek

Die Byderhand Tuinverseprojek (2015) vorm deel van ’n groter projek wat deur die Vakgroep: Skryfkuns by Noordwes-Universiteit onder leiding van Franci Greyling geïnisieer is. Benewens die hoofnavorsingspan en inisieerders is navorsers van buite die Skryfkunsvakgroep wat belang het by plekgesentreerde en ingeplaaste skryf ook genader om tot navorsingsuitsette by te dra.

Die Byderhandprojek is sedertdien ook met groot sukses uitgevoer of aangebied op verskeie ander plekke in Suid-Afrika, waaronder die Tuin van Digters in Wellington, die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester en die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester. Op internasionale vlak is die projek aangebied by die Bath Spa University College for Liberal Arts in Brittanje, die University of Victoria in Kanada en die Fernando Pessoa University in Porto, Portugal. Die projek 

skep ’n eksperimentele ruimte vir skep, skryf en lees in nuwe kontekste. Die doelstellings van dié eksperimentele ruimte is om digitale literatuur deur middel van praktykgebaseerde navorsing en vanuit verskeie invalshoeke te ondersoek. Die projekfokus val tans op plekspesifieke digitale literatuur. (Byderhand Tuinverseprojek 2015)

Figuur 1 verteenwoordig die terrein van die Tuinverseprojek is die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom. Vyftien digters het deelgeneem deur gedigte te skryf wat plekspesifiek en plekgesentreerd was. Lesers word meelewend betrek deur digitale toegang tot die gedigte via hul selfone en die QR-kodes wat op die verskillende gedigplekke aangebring is. Lesers/wandelaars word van ’n fisiese kaart voorsien waarop die gedigplekke aangedui is.

Figuur1. Kaart van gedigplekke by die Botaniese Tuin (Bron: Byderhand Tuinverseprojek 2015)

Die gebruik van QR-kodes kan vervolgens ook gesien word as ’n vorm van digitale kartering van plek en van die tekste waardeur digitale media soos selfone, oudio- en videotekste en digitale toepassings aangewend word om die “kaart” van die gedig, en dus van die plek te lees. Die multisensoriese aard van die inligting wat deur die QR-kodes geaktiveer word, dra by tot ’n gedifferensieerde ervaring deur die leser. Die geaktiveerde inligting, wat buitetekstueel is, sluit klankbane in van die digters wat hul gedigte voorlees, vertalings en voorlesings in verskeie tale, waaronder Afrika- en Europese tale, musikale verwerkings deur verskeie kunstenaars en musiekinstrumente, visuele rekenaarmanipulasie en grafika, en kunswerke van die plek(ke) van die onderskeie gedigte.

Daarbenewens dra die landkuns van Strijdom van der Merwe, die totempale wat uniek tot elke gedig is, ook by tot die multisensoriese interaksie. Omgewingsbewustheid word in die leser wat deur die tuin loop en fisies van plek tot plek beweeg, bewerkstellig deur die persoonlike ervaring van plek. Uiteindelik vind plaas wat Prieto (2012:5) die performatiewe potensiaal van literêre verteenwoordiging van plek noem – die vermoë van (eko- en geokritiese) poësie om die sosiale produksie van plek te moduleer/verbuig (“inflect”) wat die wyse waarop ons die wêreld bewoon en beleef, vorm.

Dit bring ons by die twee tersaaklike gedigte. (Verkry toegang tot die QR-kodes en gedigte deur af te rol tot ná die Bibliografie.)

5.1 Materiële verbeelding in die gekose gedigte

“By die soetdoring” is vir hierdie navorsing gekies op grond van my betrokkenheid by die skeppingsproses daarvan, terwyl “Onder die soetdoring” van Hein Viljoen gekies is op grond van die ooreenstemming in die titels en onderwerpfokus, en dan natuurlik weens die ooreenstemming in geografiese plek, naamlik die NWU Botaniese Tuin. Ek wou as digter-navorser uitvind hoe die uitkomste van die twee gedigte beïnvloed is deur ingeplaastheid, plekgehegtheid en materiële verbeelding. Daar moet ook gemeld word dat die digters nie bewus was van mekaar se gelyknamige gedig tydens die skryfproses nie en dat al die gedigte vir die eerste keer tydens die Aardklopfees (2015) onthul is. Daar kan aanvaar word dat die referensiële kennis van die plek verskil as gevolg van faktore soos die tyd wat die digters daar deurgebring het, gedurende watter historiese tydlyn in die geskiedenis van die plek hulle daar was, die eerstehandse belewenis van mylpale in die historiese tydlyn van die plek en talle persoonlike en plekspesifieke variante en verbintenisse.

Wat is die gemene delers tussen die twee gedigte? Wat kan afgelei word uit die onderskeie werkwyses en kreatiewe prosesse wat deur die digters gevolg is? Hoe geslaagd is die gedigte, gemeet aan ingeplaastheid en plekspesifisiteit? Tot watter mate speel materiële verbeelding ’n rol in die gedigte? En hoe dra die twee tekste by tot die literêre kartografie van die spesifieke plek? In die geval van Viljoen is die digter ten tye van die skryf van die gedig woonagtig in Potchefstroom, waardeur jarelange fisiese verbintenisse met die omgewing in breë konteks en die Botaniese Tuin as spesifieke plek veronderstel word. Ek, daarenteen, woon elders in die land en het nie ten tye van die kreatiewe fase van die projek geredelik of deurlopend toegang tot die omgewing gehad nie.

Die voorgaande geïdentifiseerde eienskappe van materiële verbeelding, naamlik dubbelvisie, die aktivering van geheueplek en nagelate waarde, kom ter sprake by die vraag oor die aanwending en uitdrukking van materiële verbeelding in die gekose gedigte. Daar is as uitgangspunt die vraag gevra oor die rol van materiële verbeelding in die kartering van die derde ruimte – dus, die ruimte waarin beide die werklikewêreldplek en die fiktiewe plek op ’n gelaagde wyse by mekaar uitkom. Soos reeds aangedui, blyk die prosesse van kartering wat in die twee gedigte aangewend word, uiteenlopend te wees. “Onder die soetdoring” bly grootliks getrou aan die materiële werklikewêreldplek van die gedig en gebruik ’n groot aantal ankers wat die gedig op die reële plek anker, en die teks dus grootliks ’n eersteruimteplek maak. Daar is egter wel subtiele voorbeelde van hoe die digter gebruik maak van dubbelvisie en van plek van geheue, deurdat sy hede-blik ’n verlede-blik in die teks word, wat dui op ’n nagelate geheue wat in die hede van die leser geaktiveer word, byvoorbeeld, “blom die enkele strelitzia nog?”. ’n Dubbelvisie word tot stand gebring, naamlik wat deur die digter gesien word, wat hy deur verbeelding sien of sien verdwyn, en wat die materiële ervaring van die leser op die hedemoment van lees is. Die digter voorsien deur middel van materiële verbeelding ’n veranderde plek. Daarbenewens moet in gedagte gehou word dat ons van veelvuldige lesers praat waardeur veelvuldige hedemomente tot stand kom wat ook weer geringe (of groter) materiële verskille veronderstel. Hierdie wegbreek van die hedemoment na die verlede bevestig ook die gelaagde blik op plek.

Die wyse waarop plekkartering in “By die soetdoring” plaasvind, verskil, soos reeds aangedui, grootliks van Viljoen se gedig “Onder die soetdoring” veral omdat die verbeelding reeds intree as voorwaarde by die skepping van die gedig. Binne die konteks van die praktykgerigte aard van die projek, het ek, die navorser-digter, voor ’n aantal vraagstukke te staan gekom:

  1. Op watter wyse kan ingeplaastheid bewerkstellig word as die digter nie ten tye van die skryf op die werklikewêreldplek teenwoordig is nie?
  2. Wat is die verhouding, indien enige, tussen die ingeplaastheid/skryf en materiële verbeelding en hoe gaan die digter te werk om dit te benut?
  3. Hoe word materiële verbeelding geaktiveer?
  4. Wat is die verhouding tussen die plek van materiële verbeelding en die werklikewêreldplek?
  5. Watter rol kan digitale hulpmiddele speel om die ervaring van ingeplaastheid uit die perspektief van die digter nie net in die eindproduk nie, maar ook ten tye van die skeppingsproses te bewerkstellig?

Die volgende maatreëls is getref en/of hulpmiddele is ingespan in die skeppingsproses om groter ingeplaastheid te bewerkstellig en uiteindelik materiële verbeelding te aktiveer. Dit stem ooreen met wat deur Gladwin (2016:38) beskryf word as “overlapping themes of human experience, memory, […] photography, assemblages, video and in situ […] walks”. Hierdie metodes kan dus gesien word as middele om materiële verbeelding aan te wend in die tot stand bring van die gedig. Die hulpmiddele kan bestempel word as snellers waardeur betrokke verbeelde inligting bekom word. Die term sneller kom uit die sielkunde en oudiotegnologie. In traumasielkunde word ’n sneller gesien as ’n terugflits wat ’n bepaalde sensasie veroorsaak waar herroepte tonele werklik en asof ervaar voorkom (Piatti 2017:182). Stimuli in die vorm van klanke, smaaksensasies en visuele indrukke kan as snellers optree. Snellers is dus ook grootliks afgestem op sensoriese persepsies, wat aansluiting vind by Tally (2011:xiv) en Westphal (2011:xiv) se polisensoriese kerneienskappe van ’n geokritiese benadering.

Die snellers in die “By die soetdoring” was:

  1. Bestudering van foto’s
  2. ’n Video met klankbaan wat aangevra is van die staproete na die soetdoringsitplek, spesifiek met nabyskote van die grond, lug, die stam en die omringende plantegroei en omgewing
  3. Navorsing oor die plant- en voëlspesies van die NWU Botaniese Tuin
  4. Navorsing oor die soetdoring (Acacia Karroo), die struktuur van die blare (dubbelgeveer) en bloeiwyse en algemene kenmerke
  5. Materiële geheue. ’n Konneksie is gemaak met die fisiese materialiteit van ander soetdoringbome waarmee ek goed vertroud is (en foto’s wat ek daarvan geneem het as verwysing); die geheue as bron is ontgin ten opsigte van kinderjare se verblyf op die hoëveld.

Materiële verbeelding word dus geaktiveer – ’n kombinasie van bogenoemde elemente waardeur ek as digter “toegang” tot ’n visuele en materiële beeld van die plek verkry en wat as snellers vir die aktivering van die derderuimteplek dien. Deur gebruik te maak van materiële geheue en materiële verbeelding, word projeksies van ’n plek gemaak, wat dus ook ’n geprojekteerde plek genoem kan word. Geprojekteerde plek kom grootliks ooreen met derderuimteplek as gelaagde plek wat werklikewêreld- en fiktiewewêreldplek insluit, dus beide eersteruimte- en tweederuimteplek. Piatti (2017:184) lewer ’n belangrike bydrae tot die onderwerp van geprojekteerde plek deur haar “theory of projected spaces”. Sy stel ses vrae vir hierdie teorie. Ter uitbreiding van die kartering van ruimte deur materiële verbeelding, is dit van waarde om kortliks ook na Piatti se begrip geprojekteerde plek te kyk. Die vrae wat Piatti stel wat hier van toepassing kan wees, is:

  1. Wat dien as snellers vir die geprojekteerde plek (bv. ’n kaart, ’n foto, ’n objek, ’n ander plek, ’n persoon, ’n woord, ’n teks, ens.)?
  1. Is die geprojekteerde plek toeganklik of is dit suiwer verbeelding, ’n ongelokaliseerde plek?

Verdere vrae wat Piatti (2017:184) stel, wat nie noodwendig hier van toepassing is nie, maar wat van waarde kan wees vir verbeelde, geprojekteerde plekke, is:

  1. Hoe is die geprojekteerde plek agtergelaat, wat ontbind dit (die teenoorgestelde van die snellermoment)?
  2. Is die oorgang van die werklikewêreldplek na die geprojekteerde plek ’n doelbewuste proses of ’n onbewuste een?
  3. Modus- en funksieverandering: Word die geprojekteerde plek ’n tekstuele ruimte of was dit reeds tevore een?
  4. Is daar enige geldige reëls van die geprojekteerde plek: Geld dieselfde reëls as in ’n tekstuele ruimte of funksioneer dit deur middel van ander reëls (d.w.s. is die algemene reëls van ons fisiese wêreld steeds geldig, of kan karakters byvoorbeeld deur mure en dakke beweeg)? (Piatti 2017:184)

“By die soetdoring” vertoon tekens van materiële geheue deurdat dit uit die staanspoor die geheue betrek. Eerstens word dubbelvisie bewerkstellig deurdat meer as een plek (soetdoringboom) van geheue blootgelê word wat gekoppel word aan die plekspesifieke soetdoringboom. Deur gebruik te maak van die snellers soos foto’s, video’s en navorsing word die geheue van soortgelyke plekke (soetdoringruimtes) geaktiveer, wat ’n gelaagde, multifokale blik tot stand bring waarin nagelate of resgeheue ’n groot rol speel, byvoorbeeld die voorkoms van die stam:

haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand.

Die aanwesigheid van blomme en blare hou direk verband met die seisoene:

en lente reis sy weer met sonpomponne in ’n soet geknoopte wentelbaan
óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant

Later in die gedig word die seisoene se kom en gaan verder betrek:

in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering
tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer.

Net soos die verwysing na die teenwoordigheid of afwesigheid van ’n “enkele strelitzia” in “Onder die soetdoring” is die verwysings na seisoene in hierdie gedig tydruimtelik van aard, wat dui op die nagelate of reswaarde van dit wat tevore deur die digter ervaar is, wat materieel deel was van die plek en van ooreenstemmende geheueplekke. Die beskrywing van die blare en blomme, of die afwesigheid daarvan, berus op geheue, wat in die teks geprojekteer word. Daar vind dus ’n nagelate kontinuïteit plaas deur middel van reste van beelde en objekte van nie net die een plek nie, maar van veelvuldige soortgelyke plekke wat ’n materiële verbintenis met die eerste reële plek vorm, en onderliggend voortduur.

In beide gedigte skep die geheueperspektief ’n dubbelvisie op die gedig, wat meer bydra tot die waarnemingsinhoud (Wylie 2005:236) van die plek as wat met die eerste fisiese blik gesien word. Die rol van die leser se referensiële kennis van die plek self, of van soortgelyke plekke, bring ’n leespraktyk mee waardeur die ervaarde geheue van die leser of veelvuldige lesers geaktiveer word. Die aktiewe benutting van snellers vir die tot stand bring van materiële geheue in veral “By die soetdoring” is dus direk betrokke by die skep van sin van plek, ingeplaastheid en plekgehegtheid, terwyl ingeplaastheid en sin van plek by “Onder die soetdoring” voortspruit uit fisiese teenwoordigheid. Dit is dus duidelik dat die dubbelvisie op die gedig nie net op voorstelling van plek dui nie, maar ook op persepsie van plek, in die woorde van Westphal (2011:6). Die soetdoringboom as plek binne die reële ruimte van die botaniese tuin word ’n gelaagde, hibriede, multisensoriese plek waar die twee (en meer) tekste wat daar is, ’n ruimtelike argief van die gegewe plek word.

5.2 Ingeplaastheid en plekgehegtheid in die gekose gedigte

Ingeplaastheid, plekgehegtheid en sin van plek is aspekte van ’n literêrekarteringsondersoek wat in ’n komplekse, verweefde geheel in die tekste voorkom en derhalwe moeilik van mekaar losgewikkel word. Net soos materiële verbeelding is ingeplaastheid en plekgehegtheid onlosmaaklik deel van die sin van plek. In die bespreking wat volg, is daar besluit om nie elke gedig afsonderlik te behandel nie, en ook nie elke individuele aspek van literêre kartering te isoleer nie, juis vanweë die verweefde aard van plek en plekeienskappe.

Viljoen se gedig “Onder die soetdoring” vertoon die kenmerke van ’n baie intense blik op die fisiese, onmiddellike ruimte rondom die tuinbankie onder ’n soetdoringboom in die Botaniese Tuin in Potchefstroom. Nabye materiële elemente, soos die plakkieplant, die klip, die katstert links van die bankie, die groot kanferboom en olienhout, en selfs die bye en muskiete word regstreeks in die teks betrek, waardeur ’n onmiddellikheid bewerkstellig word. Hierdeur word nie net die effek of werkwyse van ingeplaaste skryf betrek nie, maar veral ook die ingeplaaste lees en die ingeplaaste leser – begrippe wat alreeds tevore kortliks in navorsingsartikels aangeraak is (bv. Smith 2012:887). Die gedig is sterk afgestem op die ideale leser met die veronderstelling dat die leser aan bepaalde voorwaardes sal voldoen, hoofsaaklik deur sy of haar fisiese teenwoordigheid en ingeplaastheid in dieselfde ruimte as die een waaroor die digter dig. Daar word ’n spel met die leser aangeknoop om hom of haar aan te por tot deelname, wat dus ’n performatiewe aksie is deur middel van gedeelde ervaring en ingeplaaste lees.

Deur middel van onder andere “oop” moontlikhede vir die leser, byvoorbeeld om man of vrou te wees (gepaardgaande met alternatiewe tekste), tree die digter op ’n baie direkte wyse in gesprek met die leser oor die fisiese, materiële dinge, byvoorbeeld die harde bankie (die effek daarvan op die lyf, dalk van digter én leser), die son en die hitte. Hierdie spel-element verhoog die gevoel van meelewing, gemoedelikheid en assosiasie tussen die digter en die leser. Die fokus op fisiese materialiteit dwing die leser tot sintuiglike waarnemings van “voel” en “hoor” en “kyk”. Die gedig is deurspek met opdragwoorde waardeur die perlokutiewe modaliteit aangewend word en die leser tot perlokutiewe aandag en veral tot aksie aangespoor word. Daar word herhaaldelik in hierdie gedig gevra of opdrag gegee: “hoor jy”, “voel jy”, “laat jou oog gly”, “let op”, “sit doodstil”, “wag”, “luister mooi”. ’n Beklemtoning van sintuiglike waarnemings word, soos reeds aangedui, deur Alexander (2017:39) gesien as fundamenteel tot die geografiese bewussyn en dus uiteindelik tot die sin van plek. Die sensoriese fokus sluit daarbenewens by sowel Tally (2011:xiv) se “sintuiglikheid van waarnemings” as Westphal (2011:xi) se “polisensoriteit” as geokritiese merkers aan.

Die feite in die gedig van Viljoen is verifieerbaar en objektief – die bankie se tekstuur, die plakkieplant, die water, die salie. Daar vind dus duidelik referensiële en representatiewe kartering plaas wat as ankers dien en die koppelvlakke tussen die werklikewêreldplek en die teks is. Die geleefde ervaring van sowel die digter as die lesende leefervaring van die leser skep veelvuldige geleefde ondervindinge van die spesifieke plek, ervaringe wat ooreenstem met mekaar, maar wat ook kan verskil. Hoe meer lesers die leeservaring op die plek deel, hoe groter die multifokaliteit op die plek.

Weens die oorweldigende sin van plek wat deur die digter geskep word, en die intieme kennis van die digter wat daaruit blyk, vind daar ’n materiële vervlegting van sintuie van die leser met die fisiese element van die plek plaas. Die leser betwyfel vir geen oomblik die ingeplaastheid van die digter nie en ’n kameraderie word tot stand gebring. Sodoende word nie net samehorigheid met die leser bewerkstellig nie, maar die gedeelde liggaamlike en sensoriese materialiteit van die menslike liggame word deel van die “site of narrativity” of “storied matter”, in die woorde van Iovino en Oppermann (2012:83). Ook die referensiële “waarheid” word deur die leser aanvaar.

Toespelings op die omgewing in die gedig van Viljoen deur die ervaring van die manlike leser as minnaar bring ’n nuwe dimensie wanneer die beminde plant word en niemenslike eienskappe van die plant aan die mens toegeken word. Hierdeur ontstaan nuwe verbintenisse en narratiewe tussen die skrywende of lesende self en die objek:

ek druk my neus in die wilde salie van jou nek
hoor jy my hart klop bo die duif se roekoe-koer
streel al met die boom se koelte langs oor jou dy.

Die natuur word dus die metafoor vir menslike ervaring, ’n werkwyse wat eeue reeds deur digters ingespan word.

In my gedig word ingeplaastheid bewerkstellig deur ’n ander posisionering in die plek. Verwantskappe, ooreenkomste en verskille in hierdie posisionering tussen die twee gedigte word alreeds uit die titels van die gedigte waargeneem. In die geval van die plek in die tuin waar Viljoen se gedig is, staan daar ’n bankie onder die boom; in my gedig is daar ’n klip waarop gesit kan word. Die digter wat nie op die plek self is nie, en wat op beeldmateriaal en digitale data vir die skeppingsproses en sneller steun, vra haar af: Is die sitplek onder die boom, langs die boom, naby die boom? En waar presies gaan die leser/luisteraar hom of haar bevind? En voortspruitend word ’n breër omvattende voorsetsel, “by”, gekies in die titel van die gedig. Ook in hierdie gedig dwing die fisiese lokaliteit wat in die gedig geïmpliseer word, die leser om na die grond te kyk, wat dan as aanvangsperspektief van die gedig dien: “ek staan met my voete waar haar voete staan.” Hierdie posisionering van die digter, en by implikasie die leser, skep materiële deelname aan die plek, ’n gedeelde ervaring van plek, nie net tussen leser en digter nie, maar ook tussen leser en objek (boom), dieselfde materiële deelname wat deur die digter met die objek ervaar word. Soos in die geval van Viljoen se gedig word die gedeelde ervaring vermenigvuldig tot ’n multifokale blik soos wat die aantal ervarende lesers meer word. Ingesluit in hierdie ervaring van verbeelding is nie net die verbeelding van die digter wat op daardie tydstip nie daar is nie, maar ook van die leser wat die digter op die plek verbeel. Hierdie gelaagde verbeeldingservaring van die materiële en van die digterteenwoordigheid kom ook in Viljoen se gedig voor wanneer die digter die leser tot mede-ervaring uitnooi. Oorkoepelend gesien, in die konteks van die breër plekspesifisiteit van soetdoringboom-in-die-tuin, dra teenstellings en verskille in invalshoek en perspektief by die verskillende tekste juis by tot die hibriede (Tally:2011:xiv) en multifokale (Westphal 2011:xi) gelaagdheid van plek.

In ’n verdere teenstelling tussen die twee gedigte spreek die digter in Viljoen se gedig die leser, manlik of vroulik, aan, en smee daarmee ’n speels intieme verbintenis met die leser (“die bankie teen jou boud” en “as jou man jou vasdruk”), waardeur die uitnodiging gerig word om saam na die omgewing en veral na die boom te kyk. Die kykende menslike subjekte neem, deur die oë van die digter, die natuur as niemenslike objek waar en die leser word voortdurend bewus gemaak van die fynste besonderhede. Hierteenoor is die fokus in my gedig op die boom as ’n handelende vroulike subjek en word die leser slegs by implikasie betrek, deur in die stem van die digter met die boom in gesprek te tree. Die betrokkenheid by die handelende subjek word die wyse waarop daar gepoog word om ’n persoonlike verbintenis met die niemenslike boom en omgewing tot stand te bring en ’n fokus op die materialiteit van die omgewing te bewerkstellig, in die woorde van Haraway (2008:174), “a conversation with those who are not ‘us’”. In beide gedigte word uiteindelik betekenisse weergegee wat deur die materiële vorme op die spesifieke lokaliteit, wat die mens se eie bestaan voorafgaan, gegenereer word; die betekenisse word verryk, en sodoende word uitgebreide en selfs uiteenlopende narratiewe tot stand gebring.

Terwyl die sprekende ek-digter in die gedig van Viljoen poog om gesamentlike ingeplaastheid in die plek te bewerkstellig met die klem op die digter-leser-verhouding, ’n ingeplaaste leessituasie en lesergesentreerde ervaring, poog die ek-digter in die ander gedig om ingeplaastheid te bewerkstellig deur die verbintenis van die ek-digter met die boom, dus ’n digter-boom-verhouding en boomgesentreerde ervaring. In laasgenoemde gedig se geval wil die digter daardeur wys op die interafhanklike aard van die verhouding tussen die menslike en die niemenslike. Antropomorfiese patrone (die voete van die boom, die bruin romp van die boomstam, serpe lug en sang) word as narratiewe tegnieke ingespan om die verwantskap tussen die menslike en die niemenslike wêreld te bewerkstellig.

In teenstelling met antropomorfiese (mensvorm en kenmerke wat aan die boom toegeken word) aanwendings in my gedig word ’n omgekeerde ekomorfiese aanwending in die gedig van Viljoen in die frase “die wilde salie van jou nek” bespeur: Plantvorme en -kenmerke (geur) word aan die mens toegeken. In die lig van Iovino en Oppermann (2012:82) se siening dat antropomorfiserende narratiewe tegnieke nie as ’n teken van antroposentriese narsisme of hiërargiese visie nie, maar as “narrative expedient intended to stress the agentic power of matter and the horizontality of its elements” beskou kan word, word beide antropomorfisme en ekomorfisme in hierdie gedigte gesien as elemente wat agentskap in die hand werk. Ook Bennett (2010:99) wys op die voordeel van antropomorfiese elemente in persepsie wat resonansies en ooreenkomste, wat sy isomorfismes noem, kan blootlê wat andersins verborge kon gebly het. Die selfdoenende en aktiewe agentskap van die nielewende wêreld word daardeur beklemtoon. Die onderskeie invalshoeke van die twee gedigte, antropomorfisme en ekomorfisme, dra dus by tot die polifoniese aard van die kartering van plek: dieselfde plek wat deur meer as een teks beskryf word en gelaagde betekenisvlakke tot gevolg het.

 

6. Kritiek en selfondersoek

Binne die teoretiese raamwerk van die toetrede van die navorser-as-digter (Borgdorff 2011 en 2012) is een van die onderliggende kriteria die aanwending van selfrefleksie en kritiese selfondersoek. Die kritiek wat op laasgenoemde werkwyse van materiële verbeelding en geprojekteerde plek gelewer kan word, is velerlei en daarvan is ek as digter-navorser maar alte bewus. Vrae kan gevra word oor die “outentisiteit” van die ervaring en die belewing van ingeplaastheid wat moontlik hier ontbreek. Is gebondenheid aan ’n spesifieke plek hier ’n voorvereiste vir plekbewussyn en pleksensitiwiteit?

Ondersoek na plekgebondenheid werp lig op die ambivalente aard van plekondervinding. Volgens Berry (1972:69) word ’n plekbewuste en pleksensitiewe ingesteldheid nie deur plekgebondenheid gedikteer nie. Daarom kan, volgens Buell (2005:71), “the desire for place” bestaan ver buite die begrensing (en verhouding met ’n bepaalde plek) van die digter se onmiddellike woonplek en die plekke wat hy/sy gereeld besoek. Dit word ’n opstapeling van begeerde en verbeelde plek, waar, in Buell (2005:73) se woorde, ’n sin vir plek “a palimpsest of serial place-experiences” word.

Wat veral ter sprake is by die gedig wat deur meer prosesse as onmiddellike toegang tot werklikewêreldplek ingegee is, is dus die palimpsestiese en gelaagde aard van die ervaring van die digter en die aanbieding daarin. Daar word gesteun op sowel vorige ervaringe wat raakvlakke met die plek toon as op emosionele ooreenkomste in die belewing van ander plekke. Hierdie gelaagdheid word eweneens geëggo deur die herhalende aard van die pantoendigvorm, ’n bewustelike keuse van die digter. Die soetdoringsitplek word ’n gelaagde plek vir verskillende ervaringe, vir herhalende seisoene en reekse gehegthede aan plek en vir gelaagde geprojekteerde plek. Daardeur verkry die gedig uiteindelik ’n abstrakter of meer universele karakter.

My gedig vertoon uiteindelik nie dieselfde onmiddellikheid as Viljoen se gedig nie en boet ’n sekere mate van ingeplaastheid in deur die meer universele toonaard, iets wat juis téén plekmatigheid kan werk. Aan die ander kant maak my gedig weer aanspraak op die interaksie en uitruiling tussen die mens en die boom, en bied dit ’n natuurgesentreerde ervaring via die boom. ’n Gelaagde dubbelvisie kom tot stand waardeur onderliggende plek- en materiegeheues ingespan word. Viljoen se gedig slaag uitstekend daarin om die begrip ingeplaastheid, van digter én leser, oor te dra. Die keusetekste bied ’n verdere polifoniese toonaard aan die gedig en aktiveer daarmee die materiële verbeelding van die leser.

Die 15 gedigte, as kartering van dieselfde plek, en dus geokrities van aard, asook die digitale digtheid van verwysings, dra uiteindelik by tot ’n gelaagde, verdigte kartering van die plek. Multifokale en selfs postreferensiële kartering kom tot stand deur al 15 die Tuinverse wat oor dieselfde plek gaan. Die twee soetdoring-gedigte bied eweneens ’n gelaagde, verdigte literêre kartering van dieselfde materiële onderwerp op dieselfde plek, terwyl beide referensiële werklikewêreldplek en geprojekteerde plek tot stand gebring word.

Wat is die waarde van literêre kartografie? Wat is dit wat kartering bewerkstellig?

Volgens Trauvitch (in Tally 2014:199) word die volgende gedoen:

Mapping situates: charting an entity places it in a specific location with relation to other entities. Mapping fixes: charting an entity serves the function of anchoring it among other anchored entities. Mapping duplicates: charting an entity creates a representational copy thereof.

Benewens die situering, vaslegging en duplisering, wat almal hoofsaaklik op presisie berus, wil ek aanvoer dat die kartering van die materialiteit van plek ook die kartering van die grensloosheid van die geleefde ervaring en van geheue en verbeelding op of binne daardie plek en soortgelyke plekke is – ’n multifokale ervaring wat die digter én die leser beleef, maar wat individueel oneindige variasies inhou.

 

7. Ten slotte

Tally (2013:4) sê: “To draw a map is to tell a story […] and vice versa.” Wat is die storie van die soetdoringboom? Hoe klink die “verhaalde materie” (Smith 2014:757; Iovino 2012:83, 137) van hierdie twee gedigte? En op watter wyse dra die gedigte by tot die kartering van dieselfde plek en sy storie?

Die nuwe verwantskappe en interaksies tussen menslike liggaam (digter, leser) en niemenslike liggaam (boom, bankie, klip, tuin) word tot stand gebring deur ’n veelvuldige en gedifferensieerde wordingsproses waardeur werklikheid voortdurend geskep word, nie net deur die digter nie, maar ook deur die leesprosesse. Die transliggaamlikhede waarvan Alaimo (2010:21) praat, oftewel vloeibare “movement across bodies”, is ’n model van dinamiese en plooibare konneksie tussen materiële substansies (mens en boom) en diskursiewe praktyke van velerlei aard. Materiële verbeelding, en daarmee saam die omarming van digitale praktyke is uiteindelik deel van ’n veelvuldige reeks van agentskappe wat meewerk tot die storie van die soetdoring. Praktykgebaseerde navorsing maak dit moontlik om oor die onderskeie nuanseringe van die kartering van plek te besin en toegang te verkry tot die medeskepping van materiële verbeelding en van die agentskap van plek self. Literêre karterings van plek, nie net in die gekose twee tekste nie, maar in al die tekste wat dieselfde plekspesifieke ruimte as onderwerp het, dra by tot ’n begrip van plek wat meer is as die kartografiese werklikewêreldplek. Dit ondersoek die grense van plek; dit vind moontlikhede in die voue van die werklikheid. Die tekste reproduseer nie plek nie, maar realiseer dit deur nuwe virtualiteite, tree interaktief met plek in gesprek; en deur die performatiewe aard daarvan bring dit die moontlikheid tot stand om verandering in persepsies van plek mee te bring. Deur middel van materiële verbeelding, wat ontsluit word deur dubbelvisie, deur nagelate waarde van plek en geheue, en deur plekgehegtheid en ingeplaastheid, word ’n gelaagde, polisensoriese en multifokale perspektief van plek tot stand gebring.

Die verhaal van die materie van die soetdoring gaan voort; dit is nie afhanklik van die verhaal van een persoon nie; die vibrerende voortleef en voortvertel van materie se narratiewe veronderstel ’n verstrengeling van agentskappe; die liggaam van die mens is die bevoorregte subjek vir plekverbeelding, plekbelewing en plekprojeksie.

 

Bibliografie

Alaimo, S. 2010. Bodily natures. Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.

Alaimo, S. en S. Hekman (reds.). 2008. Material feminism. Bloomington en Indianapolis: Indiana U.P.

Alexander, N. 2017. Senses of place. In Tally (red.) 2017:39–49.

Bennett, J. 2010. Vibrant matter. A political ecology of things. Durham en Londen: Duke University Press.

Berry, W. 1972. A continuous harmony: Essays cultural and agricultural. San Diego, Kalifornië: Harcourt.

Biggs, M. en H. Karlsson (reds.). 2011. The Routledge companion to research in the arts. Londen en New York: Routledge. http://clab.iat.sfu.ca/804/uploads/Main/RoutledgeCompanion.pdf (21 April 2021 geraadpleeg).

Borgdorff, H. 2011. The production of knowledge in artistic research. In Biggs en Karlsson (reds.) 2011:44–64.

—. 2012. The conflict of the faculties: Perspectives on artistic research and academia. Leiden: Leiden University Press.

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism. Environmental crisis and literary imagination. Malden, MA: Blackwell Publishing.

Byderhand Tuinverseprojek. 2015. https://byderhand.wordpress.com/category/tuinverse/ (21 April 2021 geraadpleeg).

Crang, M. 2009. Commentary on Hones, S., “Text as it happens: Literary geography”. Compass Interdisciplinary Virtual Conference, 19–30 Oktober. https://www.researchgate.net/publication/229579464_Text_as_It_Happens_Literary_Geography (21 April 2021 geraadpleeg).

Darici, K. 2015. “To draw a map is to tell a story”. Interview with Dr Robert T. Tally Jr. on geocriticism. Revista Forma, 11:27–36. https://core.ac.uk/download/pdf/217549369.pdf (22 Julie 2021 geraadpleeg).

Foucault, M. en J. Miskowiec. 1986. Of other spaces. Diacritics, 16(1):22–7. https://www.jstor.org/stable/464648?seq=1#metadata_info_tab_contents (21 Oktober 2019 geraadpleeg).

Gladwin, D. 2016. Ecocritical and geocritical conjunction in North-Atlantic environmental multimedia and place-based poetry. In Tally en Battista (reds.) 2016.

Goddard, J. 2014. Plotting one’s position in Don Quijote: Literature and the process of cognitive mapping. In Tally (red.) 2014.

Greyling, F. 2015. Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank. LitNet Akademies, 12(3):308–57. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/12/LitNet_Akademies_12-3_FranciGreyling_308-357.pdf

—. 2017. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2):147–89. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/10/LitNet_Akademies_14-2_Greyling_147-189.pdf

Haraway, D. 2008. Otherworldly conversations, terrain topics, local terms. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008:157–87.

Hones, S. 2008. Text as it happens: Literary geography. Geography Compass, 2(5):1301–17.

—. 2011. Literary geography: Setting and narrative space. Social and Cultural Geography, 12(7):685–99.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “new materialisms” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

Iovino, S. en S. Oppermann. 2008. Material ecocriticism: Materiality, agency and models of narrativity. Ecozon@, 3(1):75–91.

Kneale, J. 2009. Commentary on Hones S, “Text as it happens: Literary geography”. Compass Interdisciplinary Virtual Conference, 19–30 Oktober. http://compassconference.wordpress.com/2009/10/27/conference-paper-text-as-it-happens-literarygeography (12 Maart 2021 geraadpleeg).

Lefebvre, H. 1991. The production of space. Blackwell: Oxford.

Nora, P. 1998. Preface to the English-language edition From Lieux de memoire to realms of memory. http://faculty.smu.edu/bwheeler/Joan_of_Arc/OLR/03_PierreNora_LieuxdeMemoire.pdf (21 April 2021 geraadpleeg).

Piatti, B. 2017. Dreams, memories, longings. In Tally (red.) 2017:179–86.

Prieto, E. 2012. Geocriticism meets ecocriticism: Bertrand Westphal and environmental thinking. Épistémocritique, 9. https://link.springer.com/chapter/10.1057/9781137542625_2 (21 April 2021 geraadpleeg).

—. 2017. Phenomenology, place and the spatial turn. In Tally (red.) 2017.

Pyke, J. 2014. To the south England, to the west eternity: Mapping boundlessness in modern Scottish fiction. In Tally (red.) 2014.

Ridanpää, J. 2017. Imaginative regions. In Tally (red.) 2017.

Said, E. 1978. Orientalism: Western conception of the Orient. Londen: Routledge.

Schilling, D. 2014. On and off the map: Literary narrative as critique of cartographic reason. In Tally (red.) 2014.

Schön, D. 1983. The reflective practitioner: How professionals think in action. New York: Basic Books.

Skinner, J. 2001. Editor’s statement. Ecopoetics, 1:5–8.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928. https://www.litnet.co.za/assets/pdf/Smith_9_3_GW17.pdf

—. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):749–74. https://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf

—. 2015. “By die soetdoring”. Tuinverse. Bylae A. [Die gedig se beskikbaarheid is plekspesifiek en kan per QR-kode by die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom gelees word.]

Soja, E. 1996. Thirdspace: Journeys to Los Angeles and other real-and-imagined places. Oxford: Basil Blackwell.

Tally, R.T. jr. 2011. Introduction on geocriticism. In Tally (red.) 2011.

—. 2013. Spatiality. New York: Routledge.

—. 2014a. Series Editor’s Preface. In Tally (red.) 2014.

—. 2014b. Mapping narratives. In Tally (red.) 2014.

—. 2016a. Meditations. Literary Journal of the Marxist Literary Group, 29(2):113–23.

—. 2016b. Introduction: ecocritical geographies, geocritical ecologies, and the spaces of modernity. In Tally en Battista (reds.) 2016.

Tally, R.T. jr. (red.). 2011. Geocritical explorations: Space, place and mapping in literary and cultural studies. New York: Palgrave Macmillan. https://link.springer.com/book/10.1057/9780230337930 (17 Maart 2021 geraadpleeg).

—. 2014. Literary cartographies: spatiality, representation, and narrative. New York: Palgrave Macmillan.

—. 2017. The Routledge handbook of literature and space. Londen en New York: Routledge.

Tally, R.T. jr. en C. Battista (reds.). 2016. Ecocriticism and geocriticism. Overlapping territories in environmental and spatial studies. New York: Palgrave Macmillan.

Trauvitch, R. 2014. Charting the extraordinary: sentient and transontological spaces. In Tally (red.) 2014.

Tsay, A. 2014. “Eyes that have dwelt on the past”: reading the landscape of memory in The mill on the Floss. In Tally (red.) 2014.

Turchi, P. 2007. Maps of the imagination: the writer as cartographer. San Antonio: Trinity University Press.

Viljoen, H. “Onder die soetdoring”. Tuinverse. Bylae B. [Die gedig se beskikbaarheid is plekspesifiek en kan per QR-kode by die NWU Botaniese Tuin in Potchefstroom gelees word.]

Wark, M. 1994. Third nature. Cultural Studies, 8(1):115–32. https://www.tandfonline.com/doi/pdf/10.1080/09502389400490071?needAccess=true (19 April 2021 geraadpleeg).

Westphal, B. 2011. Geocriticism: real and fictional spaces. Vertaal deur R. Tally jr. New York: Palgrave Macmillan.

Williams, C. en A.D. Smith. 1983. The national construction of social space. Human Geography, 7:502–18.

Winkler, K., K. Seifert en H. Detering. 2012. Literary studies and the spatial turn. Journal of Literary Theory, 6(1):253–69.

Wylie, J. 2005. A single day’s walking; narrating self and landscape on the South West Coast path. Transactions of the Institute of British Geographers, 30(2):234–47.

 

Toestemming

Toestemming vir die gebruik van die QR-kodes van die Tuinverse in hierdie artikel is verkry van Franci Greyling en Bernard Odendaal, projekleiers van die Byderhand Tuinverseprojek verbonde aan die vakgroep Skryfkuns by Noordwes-Universiteit (Potchefstroom).

 

Bylae A

Toegang tot die verse en meegaande sensoriese inligting kan verkry word deur ’n QR-leser op jou selfoon af te laai. Gaan dus na PlayStation en soek na ’n QR-leser. Skandeer die onderstaande QR-kode met jou leser en volg die skakel.

Onder die soetdoringHein Viljoen Interaktiewe QR-kode

Bylae B

 
By die soetdoringSusan Smith Interaktiewe QR-kode

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top