Lincoln een van die boeiendste uitbeeldings van ’n politikus

  • 0

Lincoln

Regisseur: Steven Spielberg

Rolverdeling: Daniel Day-Lewis, Sally Field, Tommy Lee Jones, David Strathairn, Joseph Gordon-Levitt, James Spader

Ek het reeds my gunsteling as beste akteur vir vanjaar se Oscars gekies: Daniel Day-Lewis in hierdie historiese film oor Abraham Lincoln (met Joaquin Phoenix van The Master ’n kortkop agter).

Met Lincoln wat die meeste Oscar-benoemings ontvang het, ook vir beste rolprent en beste regisseur, verg dit wel nie geniale intelligensie nie, maar Day-Lewis sal waaragtig daai goue beeldjie verdien. Ook Tommy Lee Jones se vertolking staan uit.

Die film open met gebeure in Januarie 1865, toe Lincoln pas vir die tweede keer as Amerikaanse president verkies is. Die burgeroorlog tussen die noordelike en suidelike state is in sy vierde jaar. Voor Lincoln lê twee belangrike kwessies: om die dertiende amendement deur die kabinet goedgekeur te kry ten einde slawerny af te skaf, en die beëindiging van die oorlog, wat uiteindelik meer as 620 000 lewens geëis het.

Die fliek beeld ’n belangrike stuk geskiedenis uit, maar die aanslag is onteenseglik en onbeskaamd Amerikaans. ’n Mens kry die indruk dat Spielberg ’n oormaat materiaal tot sy beskikking gehad het en dat hy vasberade was om soveel moontlik daarvan te wys. Gevolglik het jy ’n fliek van twee en ’n half uur waarvan goed die eerste helfte soos ’n droë geskiedenisles voel. Desnieteenstaande is hierdie een van die boeiendste uitbeeldings van ’n politikus en staatsman wat ’n mens seker ooit te sien sal kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top