In die laaste dekade of wat het die Suid-Afrikaanse geskiedenis – veral wanneer die nalatenskap van kolonialisme, slawerny en apartheid ter sprake gekom het – heelwat belangstelling en polemiek ontlok. Wát is die waarheid? En wat ís waarheid? Of wié se waarheid is dit? Dit is vrae wat dikwels gevra word. En ook: Wie kan vertrou word om die waarheid te vertel? Daarom is die onderwerp primêre teenoor sekondêre navorsing, asook die bydraes wat romansiers lewer, teenoor dié van historici, gedurig op die disseksiestafel (of altaar) van kommentators uit verskeie gemeenskappe.
Aangesien nie net akademici hierby betrokke is nie (en dis ‘n goeie ding – daar is soveel stokou bagasie, insluitend verstommende wanopvattings, wat saamgesleep word en deel van die openbare diskoers behoort te word), en omdat daar met abstrakte begrippe omgegaan word, is dit nuttig om aan die hand van praktiese, verstaanbare voorbeelde na die verlede, geskiedenisnavorsing en sekere grys gebiede of oorvleuelende waardestelsels te kyk. Met laasgenoemde bedoel ek byvoorbeeld die kwessies van grondbesit, blaamverplasing, toe-eiening en ontkenning, alles wel deel van ons openbare diskoers, maar helaas ook meestal nie juis logies-beredeneerd aangepak nie.
Hoe kan romansiers (en ander skrywers) asook historici meer lig op hierdie emosiebelaaide onderwerpe gooi? Etlike groot skrywers – dink aan André P Brink, Dalene Matthee en Elsa Joubert – het hul bydraes gemaak om die publiek hieroor in te lig én daaroor te laat dink. Historici soos Hermann Giliomee, Albert Grundlingh, Fransjohan Pretorius en meer onlangs Lindie Koorts het eweneens groot indruk gemaak.
Karel Schoeman en Dan Sleigh betree egter beide terreine – hulle het die verlede vanuit die fiksie- én niefiksieplatforms “onthul”. Altans sover ‘n mens kan, want ons almal het ons eie kulturele en ander perspektiewe en voorkeure, indien nie subjektiewe veronderstellings nie. Die historikus, moet besef word, word juis opgelei om so objektief as menslik moontlik te werk te gaan – ewewigtige professionalisme behoort konstant die uitgangspunt te wees. Hierdie gesonde afstand en nugtere beskouing is ononderhandelbaar in die akademiese wêreld. Daarom moet die mees betroubare bronne gebruik word en moet daardie bronne deur middel van bronverwysings verklaar word.
Die fiksieskrywer, daarenteen, hoef geen bronne aan te dui nie en kan vir blote ontspanning skryf (dink byvoorbeeld aan Gerrie Radlof [soms ook Radloff gespel] se Oloff die Seerower- en Die Buiter-verhale van die vyftiger- en sestigerjare), maar kan ook sosiale kommentaar lewer deur lewenswaarhede te ondersoek – soos Dan Sleigh se Eilande (Tafelberg, 2002) en Karel Schoeman se Veldslag (1965). Terloops, Schoeman en Sleigh het elkeen ook talle niefiksieboeke geskryf – soos Schoeman se redelik onlangse Kolonie aan die Kaap-reeks, uitgegee deur Protea Boekhuis, en Sleigh se Jan Kompanjie: die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (1978).
Een van Schoeman se niefiksieboeke, Skepelinge (2017) (ná sy dood uitgegee), kan dien as ’n voorbeeld insake die kwessie van primêre teenoor sekondêre bronne. Dié boek (bemark as “’n aanloop tot ’n roman”, dus niefiksie) het onlangs heelwat aandag getrek en swaargewigte in die boekewêreld, soos Joan Hambidge en Willie Burger, het dit bespreek (Burger beweer selfs dat Skepelinge ’n omvattende historiese studie is). Die joernalis Jan-Jan Joubert het in sy resensie Schoeman selfs bo alle ander skrywers en historici in Suid-Afrika te verhef.
Genoemde kommentators is egter nie historici nie, en die boek val dalk tussen genres deur, maar dit bevat tog heelwat meningsuitinge oor die (Kaapse) geskiedenis. Dit is daarom meer gepas dat ’n historikus dit evalueer. Sover het een historikus, en wel ’n kenner van Kaapse geskiedenis, dit onomwonde gekritiseer, en na die aanwending van bronne verwys: Dan Sleigh tydens die 2018-Woordfees op Stellenbosch. Hieroor sal ek vervolgens uitbrei.
Aangaande Sleigh is die volgende hier van belang: as romansier het hy verskeie pryse en toekennings verwerf, en onder meer NB Uitgewers se Groot Roman-kompetisie meermale gewen, terwyl hy selfs nog hoër as historikus geag word: hy is ‘n kenner van die VOC-tydperk (1652–1795) in die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis en sy insig en ervaring op daardie gebied is weergaloos. Hy is deur verskeie instansie juis hiervoor vereer – plaaslik, soos deur die FAK in 2017, en internasionaal, soos deur die Nederlandse regering (Ridder in die Orde van Oranje Nassau, 2012), en daarom dra sy mening insake ‘n boek soos Skepelinge besondere gewig.
DJ Kotzé, die promotor vir Dan Sleigh se doktorsgraad (1987), het gesê dat Sleigh se Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652–1795 (HAUM, 1993 en Protea Boekhuis, 2004), wat grotendeels op sy proefskrif gebaseer is, gaan nog die "nuttigste boek" wees wat onder die vaandel van die Departement Geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch ontstaan het – dus as’t ware dié handleiding vir navorsers oor dié onderwerp. Sleigh se bona fides as VOC-kenner kan dus as bo verdenking aanvaar word.
En daarom kan sy opmerking by die vermelde Woordfees, naamlik dat Skepelinge ’n “konkoksie” is, en as’t ware onder ’n valse vaandel vaar, ernstig opgeneem word. Hy het hierdie bewering – wat uiteraard ’n golf van verontwaardiging deur die Boeketent laat spoel het – op 8 Maart gemaak tydens ’n bespreking getiteld “Karel Schoeman se laaste stemme” (met Sleigh, Tim Huisamen en Cas Wepener, en Louise Viljoen as fasiliteerder) oor Schoeman se werke. Sleigh het voorts, soos van ’n historikus verwag word, sy redes verskaf en genoem dat hy ’n lys van feitefoute in Skepelinge opgestel het, en hy het ook genoem dat Schoeman sekere vooroordele in die boek uitgespreek het (byvoorbeeld jeens die Afrikaners as kultuurgroep) waarmee hy verskil, en waarom hy daarmee verskil. Sleigh se ongelukkigheid met Skepelinge begin reeds by uitsprake wat in Joubert se genoemde resensie gemaak is, asook op die flapteks van die boek.
Ek wil dit duidelik stel dat my skrywe nie as ’n aanval op wyle Karel Schoeman as skrywer of persoon bedoel word nie en dat ek self in verskillende artikels en resensies my waardering vir sy bydae tot ons kennis van die ou Kaap uitgespreek het – soos oor Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662 (2010) in die Rapport Weekliks van Julie 2013, Portrait of a slave society: The Cape of Good Hope, 1717–1795 (2012) in Bolander van 26 Junie 2013, en ander. Dit gaan hier bloot oor die navorsing en gebruik van bronne, en Schoeman se optrede is ook nie uniek nie.
Daarom gebruik ek ook ’n ander sprekende voorbeeld van hoe sekondêre navorsing kan skeefloop, gepubliseer in die geakkrediteerde blad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek, The Quarterly Bulletin (2002). Dit het so gekom, en Dan Sleigh was toevallig ook betrokke, hoewel indirek.
Ek was toe staatsargivaris in Kaapstad (sedert 1991) en het die artikel geskryf nadat die redakteur my gevra het om ’n voorbeeld te verskaf wat die gevaar van sekondêre bronne, naamlik die oorskryf van ander skrywers se foute, bewys. Aangesien Dan Sleigh op daardie dag in die argiefbewaarplek in Roelandstaat kom navorsing doen het, het ek hom gevra of hy van ’n toepaslike voorbeeld weet. Hy verwys my toe na die geval van die slaaf wat glo tereggestel was omdat hy ’n viool gesteel het. Ek het met hom saamgestem dat die geval as ’n nuttige voorbeeld dien om bogenoemde gevaar uit te wys.
Ek het na die argiefbewaarplek se interne naslaanbiblioteek gegaan en die artikel waarna Sleigh verwys het, opgespoor. Ek het na die skrywer, Isobel Edwards in Towards emancipation (1942) se voetnoot gekyk en ook die boek waaruit sy haar “feite” bekom het (dus ‘n sekondêre bron), opgespoor, naamlik Eric Walker se A history of South Africa (eerste uitgawe 1928). Daarna het ek gaan kyk waar hy aan sy inligting gekom het deur na sy voetnote te kyk, en die argiefstukke (primêre bronne) in die brandkamer daar gaan raadpleeg.
Aangesien die argiefstuk ‘n hofsaak van 1732 was, in Oudnederlands en in Gotiese skrif, het ek nie my eie interpretasie van die geskrif vertrou nie, maar kenners gevra om my gevolgtrekkings te verifieer. Hierdie kenners was Leon Hattingh, Dan Sleigh en Helena Liebenberg. Hulle was tevrede dat ek my nie misgis het nie, en dat die betrokke slaaf, Hendrik van Nias, nie ’n viool gesteel het nie. Hy het ’n meisie, Susanna Kuun, verkrag nadat hy haar met ’n stuk hout geslaan en met ’n mes gedreig het. Dit word aangeneem dat ‘n misverstand kon ontstaan het uit die argivaris, HCV Leibbrandt, se beskrywing van die insident in Nederlands as die “violeringen van een jonge dochter”.
Ek kon dus in my artikel bewyse vir my stellings gee, al was daar ’n storm van protes vanuit die geledere van Walker se oudstudente. Die geval van die slaaf en die viool is ’n soliede “bewysstuk” in die saak teen die uitsluitlike gebruik van sekondêre bronne wanneer relevante primêre bronne (kriminele prosesstukke van die Raad van Justisie, Dagregisters van die Politieke Raad en ander) wel opgespoor kan word.
Hoewel Karel Schoeman, die skrywer wat hom dikwels op die terrein van geskiedskrywing gewaag het, en Dan Sleigh, die historikus wat hom meermale op die terrein van fiksie begeef het, albei op beide terreine uitstaande werk gelewer het, het Sleigh ’n voordeel bo Schoeman (wat ’n gekwalifiseerde bibliotekaris was, maar níé ’n opgeleide historikus nie): Sleigh is ’n ervare historikus wat 17de-eeuse Nederlandse tekste kan lees soos Jan Publiek die koerant lees, omdat hy dekades lank in argiefbewaarplekke navorsing gedoen het – ook vir skrywers soos Dalene Matthee vir haar boek Pieternella van die Kaap (Tafelberg, 2004). Voor die magistrale Eilande en 1795 (2016) het hy reeds jare lange kennis bekom en etlike historiese romans vir die skoolmark geskryf: die eerste was Die nege maande mars (1972) en die laaste ’n Kanon vir Barbier (1979).
Ek wil benadruk dat indien iemand bevoeg is om kritiek op die gevierde en bekroonde Karel Schoeman se niefiksiewerk oor die VOC-tydperk uit te spreek, is dit beslis Dan Sleigh. Hy verskaf in elk geval logies-beredeneerde redes, gegrond op bronverwysings, wat Schoeman nie altyd doen nie. Dat beide van hulle baie belangrike bydraes tot die geskiedenis van onder andere die Kaap gemaak het, erken ek ook deur hulle werke as bronne in my eie geskiedskrywings te gebruik, insluitend my fiksieboek Een teen Adamastor (Pearson, 2013) en niefiksiewerk Op soek na Jacobus Verster (ten tye van hierdie skrywe in die finale publiseringsfase). Maar volgens my eie opleiding as historikus aanvaar ek niemand se woord sonder om self eers elke relevante bron te raadpleeg nie. Veral primêre bronne.
Vervolgens wil ek dan enkele relevante punte van kritiek op Skepelinge opper, soos by die Woordfees reeds bespreek is.
Op die flapteks word die volgende stelling deur die redakteur gemaak: “Dit is geskiedskrywing soos geen Suid-Afrikaanse skrywer dit nog kon vermag nie.” Enige historikus se nekhare sal hieroor rys, nie omdat hy/sy iets teen Schoeman het nie – dis in elk geval nie sy woorde nie – maar gewoon omdat Schoeman nie ’n historikus was nie. Maar sou dit die geval wees, plaas dit die soeklig op Schoeman se werkswyse – eerstens op sy navorsingsmetodes en tweedens op gevolgtrekkings wat hy in Skepelinge maak. Wat eersgenoemde betref is dit dadelik opvallend dat Schoeman nie deeglike en deurlopende bronverwysings verskaf nie, terwyl hy van verouderde terminologie gebruik maak, soos dat die Kaap ’n “verversingspos” is, ‘n woord wat nie meer in die jongste geskiedkundige werke gebruik word nie – deesdae praat hulle van “maritieme aanvulling”, nie “verversings” soos by ’n skool se snoepie nie.
Wat die aanspraak op Schoeman as groot Suid-Afrikaanse skrywer betref wat historici in die skadu sou stel: Dit toon ’n naïewe en onvolledige siening van geskiedskrywing aangaande die VOC. Daar is wel vakkundiges, met Dan Sleigh heel vooraan, wat op die titel van “voorste VOC-kenner” kan aanspraak maak, maar beslis nie Schoeman nie, omdat hy nie, soos hulle, die akademiese opleiding gehad het of soos hulle die VOC as jare lange fokus van sy navorsing gehad het nie. Argivarisse soos Anna Böeseken en Con de Wet, om maar net twee te noem, het dekades lank primêre navorsing in die brandkamers van die Kaapse Argiefbewaarplek gedoen en belangrike akademiese artikels en boek daaroor gepubliseer. Op mense soos hulle het Schoeman en ander skrywers daarna húlle boeke gebaseer.
In sy resensie van Skepelinge (LitNet, 6 Desember 2017) haal André Wessels Schoeman uit die boek aan: “Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.” Wessels bevraagteken nie Schoeman se stellings oor wetenskaplike verantwoordbaarheid of subjektiwiteit nie, maar sê wel: “As historikus sou ek uiteraard datums verkies het, en sou meer volledige bronverwysings vir my ook nuttig te pas gekom het.”
Soos in die geval van ander historici wat Skepelinge al bespreek het, loof Wessels Schoeman vir sy bydrae tot ons geskiedskrywing en vir sy uitgebreide kennis van die ou Kaap. Daarmee kan geen fout gevind word nie. Dog Dan Sleigh het verder gegaan en Schoeman se teks uiters noukeurig ontleed, en geldige en inderdaad wetenskaplik verantwoordbare kritiek gelewer op verskeie leemtes in Schoeman se werkswyse. En ek wil dit duidelik stel dat hierdie leemtes ooglopend die gevolg van Schoeman se gebrek aan ’n akademiese opleiding in geskiedenis as vak is. Sy onverbloemde, onprofessionele subjektiwiteit getuig ook van hierdie leemte, maar die nydige opmerkinge teenoor Afrikaners is dalk ’n ander storie – hy het selfs gesê hy skryf in Afrikaans, want dis Afrikaners wat sy boek publiseer, maar huldig die mening dat Afrikaner-voorouers niks beter as die skuim van Europa was nie. Nogtans is sy bydraes, oor dekades, van groot waarde vir ons historiografie, veral wat ondersteunende bronne betref – want dit is presies wat sekondêre bronne is.
Was Schoeman ’n opgeleide historikus, sou hy geweet het dat hy self elke klip moes oplig, en dat die oudste klippe in argiefbewaarplekke soos in Roelandstraat, en voor dit in Queen Victoriastraat, Kaapstad, bewaar word. Let wel: argiewe (primêre bronne), word hoofsaaklik in argiefbewaarplekke bewaar, en boeke, tydskrifte en koerante (sekondêre bronne) hoofsaaklik in biblioteke, terwyl artefakte hoofsaaklik in museums gevind kan word. Schoeman se kennis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek se bronne, dus meestal sekondêre bronne, steek af by sy kennis van primêre bronne. Helaas, dit beteken dat selfs ’n skrywer van Karel Schoeman se statuur – ’n driemalige Hertzogprys-wenner met twee ere-doktorsgrade – se mooi woordmonumente op onvaste fondamente staan.
In dieselfde asem moet erken word dat opleiding nie ’n absolute waarborg teen foute, vooroordele of slordige navorsing is nie – daarom is daar vir Isobel Edwards en Eric Walker, albei opgeleide historici, geen verskoning vir hulle aandeel in die dalk onbedoelde miskenning vir die onreg teen Susanna Kuun nie. Dit is wel so dat historici mekaar se felste kritici is, omrede hulle as’t ware hul eie geloofwaardigheid in ere moet herstel wanneer kollegas fouteer. Akademici sonder geloofwaardigheid is immers van beide waardigheid en nut gestroop.
Om af te sluit: In Mei 2014 het ek ’n lesing by die Stellenbosse Heemkring gelewer, en by daardie geleentheid het ’n plaaslike geskiedenisdosent my genader met ’n versoek om ’n artikel te skryf or die voordele van primêre navorsing, aangesien geskiedenisstudente hulle deesdae eerder tot Google as tot argiewe wend. Dit is ’n situasie wat enige historikus of geskiedenisonderwyser met afgryse behoort te vervul. Nietemin, dit is my wens dat hierdie skrywe ’n stuiwer in daardie armbeurs kan wees.
Bronnelys
Primêre bronne
Daghregister van de Politieke Raad, C 1970.
De Raad van Justisie, Crimineele Processtukken, CJ 336
De Raad van Justisie, Sententien, CJ 785.
Sekondêre bronne
Burger, W. “Skepelinge deur Karel Schoeman” in Vrouekeur, 5/1/2018.
Crito. “Slordig” in LitNet Blogs, 15/11/2017.
Edwards, IE. Towards emancipation, University of Wales Press, Cardiff, 1942.
Hambidge, J. “Karel Schoeman – Skepelinge, aanloop tot ’n roman (2017)” in die blog Woorde wat weeg, 5/11/2017.
Heese, HF. Reg en onreg: Kaapse Regspraak in die agtiende eeu, Instituut vir Historiese Navorsing, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, 1994.
Joubert, J. “Magistrale inventaris deur ’n meester op sy kruin” in Rapport, 12/11/2017.
Leibbrandt, HCV. Precis of the archives of the Cape of Good Hope, Journal, 1699-1732, WA Richards, 1896.
Matthee, D. Pieternella van die Kaap, Tafelberg, 2004.
Schoeman, K. Veldslag, Human & Rousseau, 1965.
—. Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662, Protea Boekhuis, 2010.
—. Portrait of a slave society: The Cape of Good Hope, 1717–1795, Protea Boekhuis, 2012.
—. Skepelinge: aanloop tot ’n roman, Human & Rousseau, 2018.
Sleigh, D. Die nege maande mars, Tafelberg, 1972.
—. Jan Kompanjie: die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, Tafelberg, 1978.
—. Vryburger Tas, Tafelberg, 1979.
—. Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795, HAUM, 1993.
—. Eilande, Tafelberg, 2002.
—. 1795, Tafelberg, 2016.
Verster, FP. “Professor Walker se viool: ’n pleidooi vir wetenskaplike navorsing” in Quarterly Bulletin of the National Library of South Africa, Junie 2002.
—. “Die slaaf en die viool: ’n moderne mite uit die Ou Kaap” in Bolander, 13/10/2008.
—. “Die nodigheid van brille en balans”, in Bolander, 26/6/2013.
—. Een teen Adamastor, Maskew Miller Longman, 2013
—. “Om Schoeman te lees, of Oom Karel vertel”, LitNet, 2012/08/09.
—. “Karel Schoeman: Historiese romans en die historiese raamwerk”, LitNet, 2017/05/02.
Walker, Eric. A history of South Africa, Longmans, Londen, 1947 (vyfde uitgawe).
Wessels, A. “Skepelinge: Aanloop tot ’n roman deur Karel Schoeman: ’n resensie” in LitNet, 6/12/2017.
Kommentaar
'n Briljante stuiwer in die armbeurs.
Daar is 'n koda agterin die boek:
"Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap. Die resultaat is ’n hibriede skepping, êrens in die middel tussen fiksie en niefiksie, en sou as “historiese improvisasie” beskryf kon word; of hoogstens, soos sy uiteindelike ondertitel lui, “aanloop tot ’n roman”. (bl 535)"
https://www.litnet.co.za/skepelinge-aanloop-tot-n-roman-deur-karel-schoeman-n-resensie/
Miskien sou die kwalifikasies nog meer gewees het, het Schoeman gelewe by die uitgee van die boek.
'n Mens kan ook verwys na die voorwoord by sy boek Early Slavery (1652-1717) waar hy meld dat hy hom nie opgewasse voel om op sekere materiaal kommentaar te lewer nie en dat hy deels sekondêre bronne gebruik.
Hy sou waarskynlik die eerste gewees het om te erken dat die boek nie die alfa en omega op die betrokke gebied is nie.
Kla-kous, die foute in die boek, en die aanvallende opmerkings daarin, asook die oningeligte kommentare agterna, soos dat Schoeman onteenseglik die grootse skrywer in Afrikaans was, asook die beste navorser oor die VOC-tydperk, kan nie onbeantwoord gelaat word nie - dis eenvoudig absurd. Maar my artikel was steeds eintlik oor deeglike geskiedkundige navorsing, wat nie kan gebeur sonder die gebruik van die oudste bronne nie: argivale bronne dus. By watter soort genre die boek inpas skeel my min. Sleigh het 'n volledige akademiese artikel or skepelinge se mankemente geskryf en ek laat dit aan hom oor om die res te doen.