
Nolufefe Ntshuntshe, Craig Leo, Carlo Daniels, Roshina Ratnam en Andrew Buckland (Foto: Fiona McPherson)
Einde Februarie vanjaar sit ons onder die sterre by die Fleur du Cap Teatertoekennings by die Oude Libertas-amfiteater buite Stellenbosch. Ons teug aan Stellenbosch wyne en vier die kunste. Die span van Life & Times of Michael K is verskeie male op die verhoog: Vir beste produksie en beste poppespel-ontwerp. Dit het ook vyf nominasies ontvang vir beste beligtingsontwerp, beste kostuumontwerp, beste uitvoering deur ’n ensemble, beste klankontwerp, oorspronklike musiek, klanklandskap of lewendige uitvoering (vir oorspronklike musiek en klankontwerp).
Ek wens ek het die stuk gesien, want almal praat net met waardering van dié reuseprojek waar ’n marionet die hoofrol vertolk.

Craig Leo en Carlo Daniels (Foto: Fiona McPherson)
Dit keer toe ses maande later terug na die Baxter vir ’n kort speelvak, voor die produksie later vandeesmaand op sy internasionale toer na die Galway-fees in Ierland en die gesogte Edinburgh-fees in Skotland, in Augustus, vertrek.
Die verhaal volg Michael K, ’n eenvoudige tuinwerker wat ’n reis uit die Kaap deur die Wes-Kaap onderneem om sy ma terug te neem na die plaas buite Prins Albert waar sy gebore is. Die land is in ’n burgeroorlog vasgevang en Kaapstad is ’n rommelhoop met gewapende soldate en permitte is die enigste manier om uit die stad te kan reis.
Die toneelstuk is ’n verwerking van die JM Coetzee-roman met dieselfde titel wat in 1983 verskyn het en die Booker-prys ingepalm het.

Craig Leo, Carlo Daniels en Nolufefe Ntshuntshe (Foto: Fiona MacPherson)
Lara Foot het die teks geskryf en geregisseer en dis die Baxter se grootste en omvangrykste projek van die afgelope dekade. Die wêreldpremière is weens die pandemie regstreeks van die Baxter na Düsseldorf gestroom en in November 2021 en 2022 het die geselskap na Duitsland gereis om vir die eerste keer lewendig voor gehore op te tree. Die stuk ryg lof in sover dit gaan.
Die kreatiewe span bestaan uit Lara Foot (verwerker, skrywer, regisseur), Handspring Puppet Company (aanpassers, poppekasregisseurs, -ontwerp en -makers), Patrick Curtis (stelontwerp), Kyle Shepherd (oorspronklike musiekkomposisie), Joshua Cutts (beligting), Fiona McPherson en Barrett de Kock (regisseurs van fotografie en film), Yoav Dagan (video en redigering), Kirsti Cumming (projeksie-ontwerp), Phyllis Midlane (kostuums) en Simon Kohler (klankontwerp).
In die rolverdeling is van ons voorste name: Sandra Prinsloo, Andrew Buckland, Faniswa Yisa, Carlo Daniels, Billy Langa en Nolufefe Ntshuntshe.
Die bemarkingsbestuurder van die teater, Fahiem Stellenboom, sê voor die vertoning dat ons ons drankies moet koop en draaitjies moet loop, want “ons bied die show vanaand aan soos by die Galway-fees en die Edinburgh-fees – sonder pouse”.
Toe ons in die sagte sitplekke insink, verbeel ek my dis in Edinburgh waar ek sit. Buite is die historiese stad met mis wat in die straatjies hang en swaar aksente op die ore.
Die distopiese Kaapstad waarvan die stuk vertel, word vir twee uur regtig 13 800 km ver. Jy word ’n inkyker: Ook op die Suid-Afrika van die sewentigs en tagtigs – toe ek ’n naïewe plattelandse kind was – waarin Coetzee sy boek laat afspeel.
Michael se ma aanvaar hom nooit, omdat hy met ’n haaslip gebore is. Sy sit hom in ’n kinderhuis en druk net op sy knoppie toe sy siek word en hy as volwassene moet kom help. Tog gehoorsaam hy haar wense onvoorwaardelik.
Hy wonder sy hele lewe hoekom hy gebore is, net om te besef dis om na sy ma te kyk.
Wanneer sy sterf, mis hy haar ook nie – net soos hy haar nie gemis het as kind toe sy hom verwerp het nie. Maar die feit dat sy ma hom nooit aanvaar het nie én die samelewing neergesien het op sy haaslip, het natuurlik ’n blywende indruk op Michael gemaak. Die stellings dat die “onnoselheid hom weer omvou soos mis” en “sy storie was een met ’n gat daarin” is só ’n raak beskrywing van hoe hy hom as man sien.
Hy word in ’n werkerskamp opgesluit en saam met die werkers daar blameer vir ’n aanval op die dorp, waarby hulle nie betrokke is nie.
Sy enigste oomblikke van geluk is op die verlate plaas, waar hy sy verbintenis met die aarde en die gewasse wat hy plant en sien groei, opnuut besef.
’n Mens sit in die teater in verwondering: Soms kyk jy na die groot marionet wat Michael K voorstel, hoe sy lyf aanmekaargesit is; hoe sy haaslip uitgekerf is. Soms verloor ek my in Carlo Daniels se toneelspel, waar ten spyte daarvan dat sy hande die pop help lewe gee, sy stem en gesigsuitdrukkings die asem is. Sy amper kinderlike meelewing wat jou hart vir Michael nog sagter maak.
Of jy verwonder jou aan die spel en effe heesstem van Faniswa Yisa wat onder meer aan Michael se ma, Anna K, lewe gee. Ek voel glad nie dieselfde toegeneentheid jeens Anna nie, hoewel die spel en poppemeestery van dieselfde uitstaande gehalte is.
Die toneelstuk se einde wyk heelwat van die boek af. Aanvanklik het ek gevoel dat dit stomp eindig en dat ’n mens so half dwalende gelaat word, maar die uur op pad huis toe en geselsies in die motor bring ander insigte. In die toneelstuk word Michael deur die groep waarvan sommige wapens dra, uit ’n kombers opgetel sodat sy storie op die verhoog kan ontvou. Aan die einde van die verhaal gaan hy terug kombers toe. Dit kan wees dat sy storie – wat natuurlik sy hele lewe is en oorheers – verdwyn in die groter prentjie van die oorlog en die wye wêreld. Elke dag veg mense hul eie stryd, maar die wêreld hou aan draai.
Dit kan ook soos ’n boek wees wat op die oog af net ’n hopie bladsye is, maar as dit oopgeslaan word, ’n wêreld vol stories openbaar. As dit toegeklap word, weer net papiere. Metaforiese Michael in verskeie opsigte: As lewelose pop is hy die toegeklapte boek, maar kyk jy dieper, word daar ’n ander wêreld ontsluit.
Of – soos my geliefde in die donker verklaar lank nadat ons al nag gesê het – “soms is ’n storie net ’n storie”.
Die toneelstuk is veel meer as net akteurs en poppe en ’n stel. Die videografie en fotografie wat teen die stel geprojekteer word, verleen ’n addisionele dimensie aan die storie. Dit bring ’n versugting van die langpad, van treinreise, van die Klein Karoo, van vryheid en blou lug, wat bedrieglik eenvoudig lyk teen die verwoesting van die burgeroorlog waarin Michael probeer oorleef.

Sandra Prinsloo, Faniswa Yisa, Craig Leo en Roshina Ratnam (Foto: Fiona McPherson)
Dis die derde maal dat ek deur die skepsels van Handspring Puppet Company meegesleur word. Dis egter die eerste maal dat daar klein komiese insetsels is waar die akteurs en poppemeester “reageer” teenoor die pop, asof hulle ook deel van die storie is. In een toneel kry Michael ’n hoenderpastei by ’n man. Hy “neem” die pastei in sy hande danksy die drie poppemeesters/akteurs wat hom beheer, maar dis hulle drie wat die pastei mag eet. Dis wonderlik om die amper erkenning van hul rolle om die stuk doeltreffend te maak, gade te slaan.
Ek is uitgeboul deur die stuk. Dis beter as wat ek in Februarie onder die sterre kon voorstel en dis iets wat ek weer en weer sou wou kyk, omdat daar soveel nuanses is wat met elke vertoning sal verskil, maar ook wat jy in een kyk nie sien nie, omdat jy nie oral gelyk kan fokus nie.
Bravo vir die span, bravo vir die uitmuntende spel van Carlo Daniels, wat ook in Droomkraan Kronieke by die KKNK vanjaar uitgeblink het as interpreteerder, mimiekkunstenaar, skaduweedanser, wat selfs net met skoene aan sy hande ’n karakter kan lewe gee.
- Life & Times of Michael K
- Met: Sandra Prinsloo, Andrew Buckland, Faniswa Yisa, Carlo Daniels, Billy Langa, Nolufefe Ntshuntshe
- Popperegie: Adrian Kohler en Basil Jones
- Poppemeester: Craig Leo
- Poppespelers: Roshina Ratnam, Marty Kintu
- Komponis: Kyle Shephard
- Kostuums: Phyllis Midlane
- Die Pam Golding-teater by die Baxter
- 5–15 Julie 2023 om 19:00. Middagvertonings Saterdae om 12:00.
- Kaartjies deur Webtickets by www.webtickets.co.za of by Pick n Pay-takke.

