
Prent: https://pixabay.com/photos/lens-camera-photography-3114729/
Ek het nog altyd heelwat ouer vriende gehad.
In my eerste jaar vang ek die Engelse-letterkunde-professor se oog. Ek, wat net so bitter graag wou insmelt en verdwyn in die massa. Hoe het ek uitgestyg? Ek het ’n assignment, ’n karakterskets van Jane Eyre, só afgesluit: “Jane Eyre is very intelligent for a woman.” Ja, dit was aspris, want hy was (kastig, but many a true word is spoken in jest) ’n vrouehater wat graag kammaneerhalend na vroue verwys het. Eintlik was hy sarkasties en neerhalend oor almal. ’n Grompot. Prinsloo. Beswaard en koddig.
In my tweede jaar roep hy my in. Die ander dosente sê hy moet my onder sy vlerk neem, en my “mind unscramble”, want ek is baie deurmekaar, glo. En ons sal mekaar verstaan, reken hulle. Ons het altyd Engels gepraat. Hy het goed gesê wat my, destyds ontdaan van enige selfvertroue, vir ewig bemoedig het. Onverwagte goed soos: “Once every ten years a truly bright student comes along. When that happens, we are willing to let such a student get away with murder.”
Ek het sy nasiener en assistent geword. Tussen periodes het ek by my eie lessenaar in sy kantoor gesit en werk. Saterdae, wanneer sy vrou tennis speel, het hy my by die koshuis kom oplaai en na sy huis gevat. Dan het ons vir ure gesit en musiek luister in sy studeerkamer. Sy versameling het al die mure beslaan (die boekrakke was elders). Sy klanksisteem was subliem. CD’s het al bestaan, maar hy het gereken die klankkwaliteit is nie aanvaarbaar nie. Ons het viniel geluister. Meestal klassieke musiek, opera en kore. Soms het sy vrou laatmiddag by die huis gekom en ons só aangetref, sy aan sy in trane oor die musiek.
Hy was in sy sestigs en het nooit met my gepraat soos die kind wat ek nog was nie. Hy het goed gesê wat grootmense nooit in daardie jare vir jou gesê het nie, soos dat alles ’n fokop is en ons maar net ons bes doen en die meeste van die tyd nie ’n idee het wat ons doen nie. Jy moet sublimeer, het hy altyd vir my gesê, en ek was nie so seker wat dit beteken nie. Seksualiteit? Ek het geskilder. Ek het tot bekering gekom en hy het matigheid in godsdiens bepleit. Ek het ingeval by Augusta Fleck se bidure en hy het droogweg gesê: “Ek ken Augusta van kindergarten af.” Haar reaksie: “Willie laat dit klink asof ons tydgenote is. Hy is ’n paar jaar ouer as ek.”
.............
Sy humorsin was kurkdroog. Hy het ’n mooi stem gehad. Soms het ons in die tuin gewerk, nog ’n hartstog van hom. Ek onthou die donker, klam grond van Potchefstroom en die reuk van chlorofil en viooltjies. Daar was nooit iets onbehoorlik tussen ons nie, hoewel dit ’n sonderlinge verhouding was.
...............
Sy humorsin was kurkdroog. Hy het ’n mooi stem gehad. Soms het ons in die tuin gewerk, nog ’n hartstog van hom. Ek onthou die donker, klam grond van Potchefstroom en die reuk van chlorofil en viooltjies. Daar was nooit iets onbehoorlik tussen ons nie, hoewel dit ’n sonderlinge verhouding was.
Of was daar? Sy ander groot liefde was fotografie. Hy wou graag naakstudies fotografeer, maar, nou ja, in Potchefstroom in daardie jare was modelle vir getroude akademici skaarser as hoendertande. Ek het eendag vir hom geposeer, in die veld tussen Potchefstroom en Klerksdorp (poedels, soos Johan Bakkes sê), sulke outydse, geïdealiseerde landelike nimffoto’s. Ek het nooit met iemand daaroor gepraat nie. Dit was nie vir my vreemd nie, want as kind van ’n kunstenaar moes ek van kleins af vir my pa en sy studente poseer. Ek het nooit die foto’s gesien nie en ek wonder of hy dit ontwikkel het. Dis nou nie juis iets wat ’n mens by die apteek kon gaan ingee nie.
Ek het vir hom briewe geskryf, seker weekliks, oor alles wat ek beleef en alles wat vir my absurd was en nie sin gemaak het nie. In Engels. Ek wens ek het daardie briewe vandag gehad. Dit was soos die dagboek van ’n buiteruimtelike wese wat op hierdie planeet probeer aanpas. Hy het vir my geskryf wanneer hy oorsee gereis het. Droog en gevat, woord-ekonomies. Die briewe (handgeskrewe soos in daardie tyd, in sy netjiese kursief), het altyd ’n opskrif gehad: Reporting to headquarters. Ek onthou hy het geskryf oor ’n toneelstuk wat hy in Londen gesien het waarin ’n Japannese diplomaat vir Maggie sê: “Mrs Thatcher, you will always be an enema to me.”
Ons het oor letterkunde gepraat. As Engels-professor het hy meestal wêreldletterkunde gelees en my bekendgestel aan skrywers soos Saul Bellow en Isaac Bashevis Singer. Natuurlik het hy mense soos Brink en Cloete persoonlik geken, en hy was nooit juis komplimenterend oor een van hulle nie.
Almal het geweet ek is sy regterhand en skaduwee en niemand het ’n wenkbrou daaroor gelig nie. Ek was te wêreldvreemd om as prikkelpop te kwalifiseer. Sy vrou kon my nooit kleinkry nie; sy het net haar kop geskud. Sy was fyn en mooi soos ’n pop.
Toe hy eendag afwesig was, word daar in die klas aangekondig dat sy ma oorlede is en die volgende middag begrawe word. Ek het met my fiets begraafplaas toe gery. Ek het die kerkdeel misgeloop en aangekom toe die uitgebreide familie droogoog om die graf staan. Ek het die oorledene nooit geken nie, maar het soos ’n gehuurde weeklaer begin huil, darem geluidloos. Alles kon my nog altyd laat huil. Seker tot die irritasie van die naasbestaandes wat gewonder het wie is hierdie hartgebroke vreemdeling.
Toe hy dood is, het ek in Johannesburg gewoon, karloos. My vriendin Marisa wou my kom haal vir die begrafnis, maar ek het nie kans gesien nie. Ek het hom nooit gegroet nie. Dit sou te moeilik gewees het. In die jare wat volg, het ek hom dikwels raakgeloop in romans: die selfafmakende, depressiewe ouer akademikus wat eintlik skrywer wou wees. En in die woorde van Joan Baez: “All romantics meet the same fate some day / Drunk and cynical and boring someone in some dark cafe.” Hy het my nooit verveel nie.
...............
Prinsloo het my wêreld help vorm met sy sinisme en sy klein hart. Wanneer ek huis toe gaan en my ma hoopvol uitvis of ek al ’n kêrel het, het ek gesê: “Ek kuier maar saam met my professor.”
.............
Prinsloo het my wêreld help vorm met sy sinisme en sy klein hart. Wanneer ek huis toe gaan en my ma hoopvol uitvis of ek al ’n kêrel het, het ek gesê: “Ek kuier maar saam met my professor.” Op ’n dinee het my pa eenkeer twee glase wyn gedrink in die ewigheid voor die kos bedien is en vir die rektor, wat langs hom aan tafel sit, gesê: “Deborah is so lief vir haar professor Prinsloo.” Ek het dit gehoor, en die hunkering in my pa se stem. Die dinamika in ons gesin was nie sodanig dat ek ooit baie na aan my pa kon wees nie, al het ek hom bewonder.
Êrens kom iemand dalk eendag af op ’n rolletjie naaknegatiewe en ’n stapel briewe van ’n koddige student aan ’n koddige, knorrige professor. Stuur dit asseblief na hierdie adres, want al wat ek het, is geheueprente.


Kommentaar
Oi, The Last time I Saw Richard, lirieke deur Joni Mitchell. Het al vergeet van daai classic.
Ek hou hiervan.
Mooi so! Dis die lewe, plesier en tirades.
Ek het myself so ingedink in dié relaas dat ‘n tafereel in my geestesoog, denkpatrone en menswees kon vestig en my laat swaai-speel met die visioen van die hartseer gedaante langs ‘n bekende ongekende graf … En self ‘n traan kon stort.