Lien Botha en Debbie Loots oor beeldende kunste, romanskryf en Thelma & Louise

  • 0
debbielien650

Debbie Loots en Lien Botha (foto's verskaf)

Debbie Loots en Lien Botha ruil gedagtes uit na aanleiding van Split en Wonderboom.

Beide skrywers se debuutromans het in 2015 verskyn nadat hulle die manuskripte ontwikkel het in die Universiteit van Kaapstad se MA Skeppende Skryfwerk-program, met in albei gevalle Etienne van Heerden as studieleier.

liendebbie21

Debbie en Lien se heimat is die noorde, beide skrywers het op onderskeie stadiums beeldende kunste aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad studeer, en albei voel ’n aangetrokkenheid tot Ridley Scott se 1991-rolprent Thelma & Louise.

Hulle gesels om die beurt oor die verhouding tussen beeldende kunste en romanskryf deur vir mekaar ’n aantal vrae te vra. Eerste aan die beurt is Debbie.

  1. Lien, waar begin ’n storie vir jou? Deur iets wat jy sien of voel, of lank oor gedink het?

Al drie.

  1. Dink jy ’n kunswerk of verhaal vra spesifiek vir die medium waarin hulle geskep is, of kan ’n storie op meer as een manier vertel word?

Method in one’s madness?

Uiteraard; kyk byvoorbeeld na Dis ek, Anna, die boek wat nou so vlymskerp deur film sny. Maar goed, ’n sterk teks behoort ’n sterk draaiboek te kan lewer. Hoe sou dié verhaal “lees” op doek of gekerf uit hout? Tracy Emin se Sad shower in New York kom by my op, of selfs die deurdringende bewing in Rothko se rooi. Uit hout ... wanneer die byl dit kloof/split.

debbielien1

Tracy Emin, Sad Shower in New York, 1995

  1. Op watter stadium gedurende die skryf aan Wonderboom het jy besef dat visuele elemente Magriet se reis gaan meemaak?

Daar waar vlinders aan die soom van haar verweerde tabberd verskyn het.

  1. Hoe het die fotocollages die teks verryk?

 Die collages is as’t ware nog ’n stem, waarvan daar vier in die roman is.

  1. Nes Magriet s’n is ook jou lewe deurtrek van reise na nuwe plekke en tuistes. Magriet mik noorde toe om vrede te vind. Hoekom het jy uiteindelik nesgeskop op Bettysbaai?

Ons het vir 15 jaar in Observatory, onder die harthospitaal, gewoon. Sat vir die crime en grime het die tyd aangebreek om na ’n meer landelike omgewing te verhuis en die erwe in Bettysbaai, sowat ’n uur uit die Kaapse middestad, was bekostigbaar. Dit was liefde met die eerste oogopslag toe ons duine toe loop tussen die reuk van blombos met fisante wat vooruit skater.

liendebbie2

  1. Is daar enige ander soort medium wat jy sou wou bemeester, en indien wel, watter een en hoekom?

Skermkuns. Ek vermoed dat dit mens aansienlik sou kon help om ’n meer gedissiplineerde skrywer te wees en om gouer tot die punt te kom, byvoorbeeld.

liendebbie3

  1. Is daar ander skrywers wat, soos jy, ook kunstenaars is en hulle eie kunswerke as visuele elemente in hulle boeke invoeg?

Breyten Breytenbach, en ek vermoed ook Marlise Joubert, Ingrid Winterbach en Carina Stander. Die wyse waarop WG Sebald fotografiese beelde gebruik het in Austerlitz het my voete onder my uitgeslaan.

liendebbie4

Ingrid Winterbach, Specimen, 2002

  1. As jy moes kies, noem jou gunstelingkunswerk, en deur wie dit geskep is. Wat is vir jou so uitsonderlik daarvan?

Terwyl ek studeer het: Kevin Atkinson (een van my dosente), asook Antoni Tapies en die Amerikaanse abstrakte ekspressionis Mark Rothko. Verder en deurlopend: Joseph Cornell, Mari Mahr, Sophie Calle, Eugene Richards, Nan Goldin, Irving Penn, Pierro della Francesca, Milton Avery en René Magritte. Elkeen uiteraard op hul unieke werkswyse; en mens ontdek nog heeltyd die werk van ander kunstenaars of kyk op ‘n gegewe dag weer anders na iemand se werk. Rothko vir die emotiewe murmurering van stil, skoon kleurvlakke, Cornell vir die wonderlike kwinkslae verborge tussen driedimensionele fabels, Sophie Calle vir haar veelvuldige gebruik van die lens as medium, Nan Goldin se volslae eerlikheid. Hier ter plaaste het ek groot bewondering vir die werk van die fotograaf/videokunstenaar Brent Meistre en Kate Gottgens se skilderwerk.

liendebbie5

Kevin Atkinson, I am a Verb, 1973

liendebbie6

Nan Goldin, The Hug, 1980

liendebbie7

Joseph Cornell, The Hotel Eden, 1945

liendebbie8

Milton Avery, Speedboat’s wake, 1959

liendebbie9

Brent Meistre, Abandoned house, Namibia, 2008

  1. Verduidelik hoekom dit voordelig kan wees om beide skrywer en kunstenaar te wees.

Die kans bestaan dat wanneer jy van die sweefstok tuimel, daar ’n net sal wees wat die val gaan breek.

  1. Jy is lief vir opgestopte wesens, diere in jou kunswerke en nou mense in jou boek. Waar gaan dit eindig, Lien?

Nugter alleen weet.

liendebbie10

Yonder: Wollie Wolmarans’ lioness, Kleinmond, Suid-Afrika, 2012

  1. Speel jy viool?

Nee.

  1. Het jy van die begin af geweet jou omslag moet bestaan uit een van jou Parrot Jungle-kunswerke, die vorm wat dit sou aanneem?

Ja.

liendebbie11

Lien Botha: Parrot Jungle, Suid-Afrikaanse Museum, Kaapstad, 2009

  1. Wat beteken ’n omslag vir ’n boek?

Daai eerste indruk. Gaan die leser die inhoud begeer?

  1. As ek na sekere van jou werke kyk, kry ek ’n gevoel wat ek gaan probeer vasvang in ’n aantal woorde: vaalgeel, afgeleef, verlate, heimwee: ’n gevoel wat my terugvat na die jare sewentig. Soos hierdie werk van jou uit Yonder; my gunsteling: die sementswaan (alhoewel hy hom hier in die Kalahari bevind) is vir my simbolies van ’n spesifieke soort voorstedelike smaak uit die sewentigs, ’n spesifieke tyd en sy visuele kenmerke (objects) waaruit dit vir my voel jy inspirasie put. Is ek reg, en hoe is dit dat die landskap van jou postapokaliptiese Wonderboom my dieselfde gevoel gee?

Dankie Debbie. Ja, ja dit is absoluut so. Dit is onvermydelik, want die een ontstaan tog deur en as gevolg van die ander – is hulle nie onherroeplik verbind nie? Die lens wat skryf en die lens wat beeld. Hierdie goed swerf mos al jare met mens saam as jou kollektief, argief.

lienbotha12

Lien Botha, Yonder, Witdraai, Kalahari, Suid-Afrika, 2012

  1. Het jy al ’n wilde voël geëet?

Ja, tarentaal.

  1. Dink jy visuele elemente sal altyd deel vorm van jou toekomstige romans?

Die kans is goed.

  1. As jy dit in ’n sin kan sê: Wat beteken Wonderboom/Wonderboom vir jou?

Dit is die Chobi-tapyt waarop ek kon wegsweef.

liendebbie13

Lien Botha, Yonder: Wonderboom, Pretoria, Suid-Afrika, Januarie 2013

  1. Debbie, sien jy jou karakters duidelik in jou geestesoog as “nuutskeppings”, of was hulle altyd daar – deel van jou familie?

 Van die karakters waaroor ek skryf, is geïnspireer deur mense wat ek ken, of van weet, maar ontwikkel hulle eie persoonlikhede soos ‘n verhaal aangaan en word uiteindelik hulleself. Maar ander karakters is bloot kennisse wat ek op ’n keer ontmoet het, en wie se lewens ek my maklik kan verbeel of voorstel. Karakters waaroor ek skryf is nie te ver weg van dit wat vir my bekend is nie.

  1. Hoe verskil die skryfproses vir jou van jou visuele ontplooiing?

Hulle verskil nie regtig vir my nie. Dis bloot verskillende vorme of mediums van storievertel. Beide begin by ’n prent of ’n toneel, gewoonlik iets wat my op ’n sekere manier roer, iets wat ek in jou geestesoog sien, en dan wil oorvertel, wil deel, deur te skryf of te verf of iets te bou.

  1. Wie is jou gunsteling-kunstenaars tans – beide plaaslik en internasionaal – en waarom – wat omtrent hulle werk staan vir jou uit?

’n Plaaslike kunstenaar oor wie se werk ek gaande is, is Grace Cross. Sy is jonk, en die feit dat sy in verskeie lande in Afrika en in Amerika grootgeword het, gee haar skilderye ’n primitiewe dog kontemporêre aanslag. Die sorgvrye en uitbundige manier waarop sy met verf werk, die amper kinderlike vorme van mense, diere en plante is ryk aan simboliek en ’n misterieuse onaardsheid. 

liendebbie14

Grace Cross, Apparition Eden, 2015

Twee gunsteling internasionale kunstenaars is die Britse skilder Cecily Brown en die Franse beeldhouer Niki de saint Phalle.

liendebbie15

Cecily Brown, Puce Moment, 1997

  1. Wanneer het jy vir die eerste keer met Salvador Dali se werk kennis gemaak en hoe voel jy (vandag) oor sy werk?

Ek dink toe ek nog op skool was, in Randfontein se biblioteek. Ek onthou ek het probeer om sy horlosies wat so oor kaal boomtakke hang, probeer skets op ’n stadium. Ongeveer sewe jaar gelede was ek in Londen en kon ek ’n uitstalling bywoon van ’n groot versameling van sy werke wat oor jare gestrek het, so ver terug dat van sy “working sketches” ook deel daarvan uitgemaak het. Ek het toe ’n ander sy van hom ontdek. Hy is geniaal.

liendebbie16

Salvador Dali, The Persistence of Memory, 1931

  1. Jou verbeelding van die matras was vir my geweldig betekenisvol en het my onder andere laat dink aan werk wat Clive van den Berg destyds in 1996 by die Kasteel in Kaapstad gedoen het as deel van die Fault Lines-uitstalling. Is die matras-installasie ‘n werk wat jy inderdaad geskep het, die menslike afvalstof in die matras met al sy leed en tekens van bestaan daarin vasgevang?

Nee, hier is die boek se karakter, Lien, my een voor. Dit is uit en uit haar idee en werk. Ek wens dit was iets waaraan ek gedink het; ek sou dit graag wou probeer het! Dalk selfs ’n paar kapperjiesaadjies oorgestrooi het.

liendebbie17

Clive van den Berg, Men Loving, 1996

  1. Jy het onlangs genoem dat jy kunsklasse neem – dit ná die Michaelis. Het jy weer ‘n solo-uitstalling in gedagte?

Nee, is die kort antwoord oor ’n uitstalling in die nabye toekoms. Ek woon weeklikse klasse by Julia Teale se Spencer Street Studio by (sy is ’n ouddosent van Michaelis wat tans besig is met haar PhD in Nieu-Seeland) omdat dit my visuelekunsmaakproses inspireer en aan die gang hou. My uitgangspunt tans is om een of ander gevoel te probeer skep bloot deur kleur en merke, met suggesties van vorme, in plaas van herkenbare figure en elemente.

  1. Tydens jou Huisvlyt-uitstalling by die Alliance Française in Kaapstad 2011 het jy onder andere gesê dat die konsep van “huis” vir jou ‘n betwyfeling is van dié tradisionele ruimte van “veiligheid en heenkome”. So was dit vir my gewis deurlopend aanwesig in Split en ek glo jy het dit vlymskerp uitgeskryf in jou roman. Waar lê die konsep van huis/tuiste/hawe vir jou vandag? Het die Moederstad daaraan ’n nuwe gestalte gegee?

 Ja, Kaapstad is tog Moederstad, en daarin lê haar betekenis vir my. Dit is soos huis toe kom na ’n lang reis. Soos die verlore dogter.

liendebbie18

Debbie Loots, Maaltyd, 2011

Tog is die idee van huis, Moederstad of andersins, nie utopie nie; daar is altyd mense betrokke by die maak van ’n gesin en familie, ’n huis. Uit gebrokenheid en onvolmaaktheid skep die meeste mense hulle tuiste.

  1. Goed, die Michaelis. Wat was jou ervaring (highs en lows) van daardie seergewaardeerde inrigting? In my dae (laat 1980’s) het heelwat mense dit skaars oorleef – maar dit was ‘n heel ander tyd, bygesê.

Dit was wonderlik, en vrek moeilik. Ek was ’n “mature student” wat maar met die nerds moes uithang op kampus omdat die cool studente te cool was vir my. Maar dit was ook ’n deel wat ek baie geniet het. Dat hulle my soos een van hulle behandel het, as ’n gelyke. Daar was nie ’n ge-“tannie” nie. Hulle was kwaai, nors en baie keer onbeskof. Ek was in die sewende hemel as een my net iets wat soos ’n glimlag lyk, gegee het. Jongmense vandag is so anders, soveel slimmer en wyser as toe ek daardie ouderdom was. Partykeer het ek jonger as hulle gevoel. Ek het alles waardeer en het elke oomblik in die klas en biblioteek opgeslurp.

  1. Sien jy die moontlikheid om die twee dissiplines nader aan mekaar te skuif binne die konteks van ‘n boek of verkies jy om elkeen afsonderlik uit te beitel?

Dit voel reeds vir my asof my visuele sy so deel uitmaak van my teks. Mens skep tog prentjies, stel reuke, klanke en gevoelens voor deur woorde. As ek nie ’n skrywer en kunstenaar was nie, sou ek ’n filmmaker gewees het.

  1. Teken jy ook soms met spoeg soos wat Lien in Split doen? In watter (kuns)medium werk jy tans?

Nee, daardie is ’n tegniek eie aan Lien. Ek werk tans met olieverf op doek, maar sal graag ook besig wil wees met knope en spelde en materiaal van enige aard. Ek hou van handewerk.

liendebbie19

11.Waarom is ons so aangetrokke tot Thelma & Louise?

Jong, dalk herken ons so bietjie van onsself in die twee onwaarskynlike feministiese ikone!

liendebbie20

  1. Waar was jy in 1981?

In standerd 9 en verlief op Björn Borg en John Travolta.

  1. Hoe sien jy die Hoëveld nou? Wanneer jy daar besoek aflệ met al die jare se verloop oor die landskap?

Baie vaal en geel (nog steeds), ietwat mistroostig (nog steeds), maar dan moet ek byvoeg: die kuier was onlangs, en in die winter. Dis mooi en groen in die somer!

  1. Jou karakters word baie goed uitgebeeld – mens sien hulle glashelder terwyl jy lees. Waar, o waar het jy vir Poppie gevind? “Kaalkop” Poppie en “haar hond met die pienk dye”.

Lien, ou Willem moes sy moses teëkom, op die een of ander manier. Iemand soos Poppie met haar beehive-pruik, wit gesig en gedyede poedel onder die arm, het in die sewentigs gereeld mense skrik op die lyf gejaag, as sy onverwags om ’n hoek teen hulle vasloop.

  1. Glo jy in vlieënde pierings? Eenmaal het bure in Bettybsaai ons vertel dat hulle teen skemer ’n oranje VVV bokant Blesberg gesien het, maar ek dink dit was een van Mango se vliegtuie.

Ek het as kind; vandag is ek nie meer so seker nie. Maar ek vind die idee fassinerend.

  1. Dink jy ons skryf anders omdat ons die visuele woordeboek agter ons oë het?

Ja, ek dink ons skryf tonele wat in ons koppe broei, in woorde om.

  1. Dink jy daar is meer genade vir die skrywer of is dit maar min of meer dieselfde as vir die visuele kunstenaar?

Ek dink daar is oor die algemeen meer beweegruimte in die wêreld vir skrywers as vir kunstenaars. Meer mense verstaan die konsep van lees, van boek koop, weet dadelik waarvan hulle hou, en so aan. Kuns is ’n ander gedierte, dit is iets wat jou byt, en neem nie altyd die vorm aan van ’n mooi prentjie teen ’n muur nie. Nie almal waardeer daardie sy van kunsmaak nie.

  1. Jou reuksintuig ondersteun die teks doeltreffend. Ruik jy kuns of is die kwas se sintuig vir jou grotendeels visueel?

Oop buise olieverf maak my beslis lus om te skilder. Hoe hulle ruik en lyk.

  1. Hoe kardinaal is die woordverklarings wat elke hoofstuk aandui? Op watter stadium het dit deel van die manuskrip se ontwikkeling geword?

Baie belangrik, en gou. Ek het eers nie van die woord split gehou nie (die titel dui op die woord split se informele gebruik in Afrikaans en Engels, wat “om die pad te vat” beteken), maar soos die verhaal ontwikkel het, het ek besef daar is nie ’n meer geskikte titel nie. Ek het begin opmerk hoeveel verskillende soorte “splits” in die verhaal gebeur en deur navorsing baie geleer oor die woord se oorsprong en verskillende betekenisse.

  1. Bid jy? En indien wel, wat sien jy dan?

Net gedurende turbulensie wanneer ek vlieg. Ek sien dan niks: my oë is toe terwyl ek Psalm 23 opsê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top