
Titel: Liefdesdroom
Skrywer: Bets Smith
ISBN: 9781779871572
Uitgewer: Romanza
Bets Smith skryf al vir die afgelope 30 jaar vir verskillende drukname van Lapa Uitgewers. Haar boeke sluit liefdesverhale, inspirerende leesstof en rillers in. Haar historiese verhaal met ’n geestelike strekking Pompeii het vanjaar by Luca verskyn. Die afgelope drie jaar het die volgende Romanzas ook uit haar pen verskyn, naamlik Djin in ’n koffiekan (2023), Frieke se beskermengel (2023), Die willewragtig langsaan (2024), Onwillige held (2025) en Droomwewer (2025). Ek het pas haar jongste Romanza Liefdesdroom gelees en dit sommer baie geniet.
Bets, ’n vaardige en veelsydige skrywer, glo dat daar genesende krag in liefde skuil en dis waarom haar stories deurspek is daarvan. As liefdesverhaalskrywer is gelukkige eindes vir haar baie belangrik. Al hierdie elemente word suksesvol in Liefdesdroom ingespan. Die manlike hoofkarakter Reinhard Muller is ’n suksesvolle finansiële konsultant wat as kind masels opgedoen het en weens komplikasies blind gelaat is. Die vroulike hoofkarakter Ané de Jongh het weer te doen met seksuele teistering deur ’n sekspos in haar werksplek.
Beide hoofkarakters moet dapperheid aan die dag lê en hul moeilike uitdagings die hoof bied. Hulle doen dit op wyses wat respek by die leser afdwing. Bets slaag meesterlik daarin om kwessies soos gesigsgestremdheid, sowel as seksueel onvanpaste gedrag te ontgin en soomloos deel van haar romanse te laat word.
Die leser besef dat Reinhard nie kan sien nie, maar sy blindheid is onlosmaaklik deel van die storie sonder dat dit enige beperking op hom, sy bewegings of die storielyn plaas. Hy word beslis nie as ’n bejammerenswaardige figuur of slagoffer voorgestel nie. Trouens, hy lewe so ’n normale en onafhanklike lewe moontlik – met subtiele aanpassings, natuurlik – as wat ’n mens van enige ander karakter sal verwag. Hy bestuur sy eie maatskappy, gaan gimnasium toe, ry fiets en dans graag. Sy persoonlike assistent sê dan ook vir Ané: “Jy sal baie gou vergeet dat hy blind is, so moenie daaroor stres nie. Wees net versigtig om nie die meubels onnodig rond te skuif of iets in sy pad neer te sit nie” (44).
Ané se kantoorbestuurder teister haar seksueel by die werk, totdat sy die moed bymekaarskraap om haar teen te sit. Die stappe wat sy deur die loop van die storie volg om hom te verkla en ’n interdik teen hom te kry, is leersaam, informatief en goed nagevors. Haar weiering om ’n slagoffer te wees, inspireer ander dames om na vore te kom en te vertel hoe die skarminkel hulle ook onder sy onwelkome attensies laat deurloop het. Hoewel seksuele teistering ’n gewigtige tema is wat geen skrywer sommer goedsmoeds of ligtelik aanpak nie, span die skrywer dit op ’n sensitiewe dog onmelodramatiese wyse in om die leser ’n kykie in Ané se karakter te gee. Sy is ’n hardwerkende jong vrou met waardes en verdien respek.
Reinhard en Ané ontmoet toe sy hom per ongeluk aansien as ’n kollega se neef met wie sy ’n toeoogafspraak het. Hy bied haar ’n navorsingspos aan wat uit die aard van die saak vereis dat sy baie tyd saam met hom moet deurbring. Dit skep die ideale ruimte waarin hulle mekaar beter kan leer ken. Ané leer byvoorbeeld hoe om by sy unieke leefwêreld as blinde persoon aan en in te pas en sy spesiale behoeftes in ag te neem. Reinhard besef weer dat sy gesigsgestremdheid nie noodwendig ’n struikelblok in ’n moontlike ernstige verhouding hoef te wees nie.
Beide Reinhard en Ané is geloofwaardige, aangename en toeganklike karakters waarmee die leser graag identifiseer. Dit is verfrissend dat die held en heldin vanuit die staanspoor goed oor die weg kom en nie die (teen nou al holruggeryde) ou-en-meisie-baklei-soos-kat-en-hond-totdat-hulle-mekaar-uiteindelik-gryp-scenario volg nie. Die verhaal speel teen ’n aanvaarbare pas af en daar is nie vervelige oomblikke nie. Daar is ook heerlike humor. Ané is geneig om te praat voordat sy dink en haar innerlike dialoog is soms skreeusnaaks. Reinhard het volkome vrede gemaak met sy blindheid en kan tong in die kies draaksteek daaroor. Toe Ané teenstribbel wanneer hy voorstel dat sy gaan bad, sê hy: “Ek gaan jou beslis nie kom afloer nie. Ek kan trouens by jou kom sit en jou geselskap hou sonder dat jy jou hoef te bekommer” (131).
Ek het lanklaas die uitdrukkings “hoog in haar noppies” (58), “[sy] doppie is geklap” (59) en “hy lag hom ’n boggeltjie ...” (130) raakgelees. Die taalgebruik in die boek is mooi. Hier en daar is Engelse woorde wel ingespan, soos onder meer: “Moenie ’n chicken wees nie [...]” (110), “anti-vaxxer” (55) en “yummy” (11). Op bladsy 111 word die werkinge van ’n tandemfiets dus eintlik in té formele Afrikaans uitgedruk, byvoorbeeld: “Die voorste vellingrem se hefboompie op jou stuurhandvatsel.” Ek erken ek moes vellingrem naslaan om te sien dit beteken “rim brake”. Woorde soos “heldersiende” en “brokkelbrein” verloor egter hul trefkrag, omdat hulle een keer te veel gebruik word.
Krimiskrywers én -lesers gaan hierdie mooi Romanza geniet. Lees die boek om te sien waarom ek so sê. Die storie draal steeds in my kop en ek wonder nog soms hoe dit met Reinhard en Ané gaan. Vir my is dit tekenend van ’n goed geskryfde verhaal.

