Liefdegroete, Grootseun: Kronieke van ’n dominee
Barend Vos
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485308836
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Daar is ’n klein tradisie wat elke maand afspeel in my woning. Elke maand koop ek ’n Christelike tydskrif met die naam LiG (jare gelede bekend as die Die Voorligter, wat die eerste keer in 1937 verskyn het). Die wonder van tydskrifte is vir my die blokraaisels wat daarin te vind is, veral Bybelblokraaisels soos wat LiG bevat, en wat ’n lekker afwisseling is op ander soorte blokraaisels. En een van die ander huisbewonders lees dan die maandelikse “Grootseun” briewe wat agterin dié tydskrif verskyn. Dit is fiktiewe briewe wat ’n dominee, bekend as “Grootseun”, elke maand aan sy ouers rig, om hulle op hoogte te bring van wat in hulle predikantseun se gemeente aan die gang is. Die briewe dek die die wel en weë van mense van die platteland en hulle bemoeienis met hulle gemeente en hulle predikantspaar en dié se twee dogters. En die hoofsaaklike doel van hierdie briewe is humor, maar behalwe vir die spot, is daar ook dikwels deernis en empatie wat deurskemer, en ook ’n goeie klomp selfspot.
Self lees ek nooit hierdie briewe in die tydskrif nie, maar uiteindelik word die briewe gebundel. Eers dan lees ek almal. “Liefdegroete Grootseun” is die nuutste versameling van briewe en is voorafgegaan deur verskeie ander bundels soos “Tannie Perskop se potjiekospenarie” (2003), “Gawie Grootwoord se groteske gebiddery” (2004), “Diaken Doors vat dywel” (2005) en “Juig, jongdominee, juig (2007). Die nuutste bundel volg dieselfde patroon as die voriges. Humor is maar ’n redelike subjektiewe saak, en dit is ongetwyfeld so dat hierdie briewe nie alle mense sal geval nie. Wat veral vir my waardevol is, is die feit dat Vos met hierdie briewe iets van die platteland, wat besig is om verby te gaan, dokumenteer ‒ die gemeenskap en ouer gemeentelede, en die sentrale rol wat die kerk in hulle lewens speel. Dit is ongetwyfeld so dat die kerk vir baie van veral die ouer lede van die gemeenskap, ’n besonder spesiale rol gespeel het of steeds speel. Hulle lewens is verweef met die kerk en met mekaar, soms ’n bietjie te veel, maar dit is waar Vos baie van sy humor vandaan kry.
Lesers wat reeds vertroud is met die vorige bundels, sal bly wees om weer te kan lees van al die ou bekende karakters soos Gawie Grootwoord en Oom Koosgoet. In die nuwe bundel besoek ’n Engelsman die gemeenskap, die buurdorp kry ’n nuwe (arrogante jong) dominee en die Buiteposgemeente raak betrokke by ’n motorfietswedren. Dit is net sommige van die gebeure waaroor Grootseun in die briewe verslag lewer aan sy ouers. Die briewe word soos altyd ook vergesel van illustrasies deur die kunstenaar Fred Mouton. Dit was lekker om weer al hierdie karakters te kon herbesoek.