Liefde in die lug | Wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

“Jy bedoel hierdie is Mars en nie Venus nie? Maar ek wou op Venus gaan woon!”

Erika se hart wil gaan staan. Sy het van al haar aardse besittings ontslae geraak en vir haar ’n pragtige silwer ruimtepak by die Goue Vroue gaan koop, kompleet met temperatuur-, lugdruk- en suurstofreguleerder, kommunikasie-apparaat, GPS, ’n wapen vir selfverdediging en les-bes – ’n verdwyn-verskynknoppie. Haar toekoms is veronderstel om op Venus te wees – die planeet van die vroue, van die liefde en die skoonheid.

“Jammer, dame, Venus is uit. Daar is ’n swaelsuurstorm aan die gang en dis onuithoudbaar warm daar. Mars is veel beter. Totsiens!” Musk se ruimtevaarder trek sy skouers op en skuif die ruimtetuig se luik toe. Die volgende oomblik styg die tuig loodreg op en verdwyn soos blits in die verte. ’n Rooi stofwolk warrel om haar.

Erika staan verwese rondom haar en rondkyk na die klipperige, stowwerige terrein. Mars!

Na ’n rukkie kom sy tot verhaal en besluit om aan te stap na iets wat soos ’n gebou lyk, ’n hele entjie van haar af. Haar pragtige goue stewels en haar silwer ruimtepak word vuil en pienk van die stof. Nes mans is, dink sy wrewelrig: vuil en stowwerig.

By die opening van die gebou staan sy skuins en loer ongemerk na binne. Sy sien net mans: bruin, gespierde manne met die minimum klere aan en elkeen swaar gewapen met knuppels en messe wat aan die steentydperk herinner. Sou dit Marsmanne wees?

In die hoek is daar manne voor rekenaars. Hulle lyk nogal baie na gewone mans – die juiste gewone mans waarvan sy so graag wou wegkom toe sy besluit het om Venus toe te trek.

Erika begin bewe. Wat soek sy hier? Hoe gaan sy hier wegkom? Sy besluit om vir veiligheid die verdwyn-verskynknoppie te druk. Die knoppie kan haar net vyf minute lank onsigbaar maak, maar hopelik kry sy iets uitgerig in daardie tyd.

Sy beweeg vinnig deur die groot vertrek en in ’n ver hoek sien sy wat sy soek: ’n winkeltjie met mansklere! Sy beweeg geruisloos deur die rakke en kry ’n los, bruin broek, ’n vaal T-hemp en nogal ’n redelik gewone manshoed, soortgelyk aan dié wat die gewone mans dra. Toe die winkelassistent afkyk na sy rekenaar, glip Erika uit na die publieke badkamer – en net betyds! Die deur is skaars toe, toe verskyn sy weer.

“Adapt or die!” dink sy en trek die mansklere bo-oor haar ruimtepak aan. Haar kopstuk haal sy af en sit dit in haar klein reistas. Sy druk haar hare onder die hoed in en kyk krities na haar beeld in die klein spieëltjie teen die muur. Sy was haar grimering af, haal haar grimeerstelletjie uit en maak haar wenkbroue dikker en ruier. Sy smeer liggies so ’n bietjie bruin bokant haar bolip en op haar ken om ’n suggestie van baard te skep. Sy trek ook liggies ’n paar plooie oor haar voorkop en tussen die wenkbroue. Sal sy kan deurgaan as ’n man? Sy hoop so. Sy besluit om dit te toets.

Erika stap terug na die winkel. Sy praat met ’n lae stem in haar kommunikasie-apparaatjie en hy vertaal dit sowaar in… Mars?

“U was besig op u rekenaar, toe het ek maar hierdie klere geneem om aan te pas. Ek wil dit graag koop. Hoeveel skuld ek?” Die klerk kyk onbelangstellend op en noem die bedrag. Erika tik dit in en ’n blitsige bankoorplasing vind plaas. Gelukkig het sy geen tekort aan geld nie.

Met nuwe selfvertroue stap sy deur die lokaal, luister hier en kyk daar. ’n Groot groep manne is besig om oor sport te praat. Stoei, balsport, en ja, selfs rugby op die aarde! Hulle spog ongemerk oor hulle eie prestasies. Sy sug moeg.

Dan is daar ’n groot groep wat daar rondsit en praat oor… vroue! Hulle sal hulle nooit verstaan nie; hulle wens hier was vroue; hulle wens hulle kon die meisies van Venus gaan besoek; hulle smag na vroue! Erika wip haar sommer en stap weg.

Van die gewone ouens voor die rekenaars lyk vreeslik besig. Die een groep is net besig met syfers en somme. Nes Jacques, dink sy en ril.

Die ander groep is besig om goed te ontwerp. Een kyk op toe sy verbystap en sy skrik haar yskoud. Danie!

Van skok druk sy dadelik die verdwyn-verskynknoppie en beweeg so gou moontlik weg. Sy het jare lank gewonder hoe dit sal wees om hom weer te sien, hierdie jeugliefde van haar. Sy het haar verbeel dat sy oor hom is. Maar sy het haar misgis. Die innerlike bewing is veel erger as wat sy verwag het.

“Hoeveel skokke moet ek nog op een dag beleef?” prewel sy.

Sy besluit om verblyf te soek. Sy sien nie kans vir enige man nie – nie eers vir Danie nie! By die besprekingskiosk trek ’n advertensie van ’n hotel vir aardbewoners haar aandag. Gou is die reëlings getref en Erika bevind haar in ’n netjiese hotelkamer. Sy val uitgeput op die bed neer. Sy is nou regtig in ’n gemors en verlang na haar ma wat twee jaar gelede al hemel toe is.

Sy vee ergerlik ’n paar trane af. Dit help nou nie om te huil nie, sussa! Sy het al baie swaarder as dit gehad! Danie het saam met sy ouers weggetrek uit haar lewe uit toe hy in graad 12 was en hulle kontak verloor het. Daarna was daar ’n hele paar mansvriende wat op die ou einde maar net agter haar lyf aan was. Sy dink aan haar lewe saam met Jacques, haar ryk sakeman-eggenoot. Hy het hard gewerk en hard gespeel en was hard met haar – fisies, emosioneel en geldgewys. Jacques het haar liefde vertrap met sy ongenaakbaarheid en ontrouheid. Die kinderloosheid het ook nie gehelp nie. Net toe Erika voel dat sy nie langer die pas kan volhou nie, sterf Jacques aan ’n hartaanval en sy word oornag ’n ryk weduwee. ’n Verbitterde ryk weduwee. Want Erika het haar smaak vir mans verloor.

 Die volgende oggend voel sy baie beter. Sy trek haar nuwe uitrusting aan, versorg haar grimering sorgvuldig en stap vol selfvertroue die saal binne. Sy glo sy sal die manne kan flous.

By die besprekingskiosk vind sy uit dat alle vlugte na Venus voorlopig afgelas is. Daar is regtig ’n swaelsuurstorm en buitendien is daar oorlog op Venus.

 “Maar is dit dan nie die planeet van die vroue en van liefde nie?” vra sy.

“Het jy al ’n spul vroue bymekaar gesien? Almal het mos PMS, óf hulle is jaloers op mekaar óf die een voel dat sy deur die ander te na gekom is. Soveel hang-ups en kwessies! En dan huil hulle mos ook oor alles! Dankie tog, ons is nie so nie!” Die besprekingsbeampte knipoog gemeensaam vir Erika. Hy belowe dat hy haar onmiddellik sal laat weet as daar wel so ’n vlug is.

Erika stap na ’n groep Marsmanne toe wat begin stoei het. Sy kan nie help om hulle gebulte spiere te bewonder nie. Hulle is regtig mooi gebou. Die toeskouers lag en moedig aan en slaan nou en dan met hulle vuiste in hulle handpalms. “So moet ’n Marssoldaat mos veg! Mooi manne!”

Met sulke ouens aan jou sy hoef jy sekerlik geen aanvaller te vrees nie, droom Erika. Sy skud dadelik die gedagte uit haar kop uit. Sy is klaar met mans!

Die rondsitters gesels oor die ongelooflike aantreklike vroue van Venus. “Was julle al daar?” vra sy onskuldig.

“Ja…” kom dit traag.

“Nou hoekom het jy nie vir jou ’n oulike meisie daar uitgesoek nie?”

“Ek het, maar…”

“Gaan vertel haar hoe jy voel en vat vir haar blomme. ’n Vrou wil hoor en seker wees van jou gevoelens. Glo my!” Erika stap verder. Hoe onnosel kan mans tog wees? En tog – is vroue nie ook maar onnodig onseker en sensitief nie?

By die manne voor die rekenaars druk sy weer haar verdwyn-verskynknoppie. Danie moet haar tog net nie sien nie. Net nou herken hy haar.

Sy buk oor die skouer van die ou wat stofsuiers en strykysters ontwerp. “Maak dit koordloos of maak die koord langer. Dis te kort vir ’n gewone huis,” fluister sy in sy oor. “Of dink aan vloere wat self skoonmaak!” Hy sit skewekop ’n rukkie doodstil voor hy met hernude ywer begin werk op sy rekenaar.

Vir die man wat deure ontwerp – motordeure, stoofdeure, yskasdeure – fluister sy: “Maak alles met ronde hoeke. Skerp hoeke maak seer!” Sy sien met genoegdoening hoe hy sy ontwerpe begin verander.

Danie is besig om ’n motor se binnekant te ontwerp. “Sit die sleutelgat hoër sodat die sleutelhouer nie ’n vrouebestuurder se knie krap nie, of laat die motor net met stemboodskappe werk, nie sleutels nie.”

Daardie stem… Danie staan op en kyk om. Net toe is die vyf minute verby en Erika verskyn. Haar wange begin gloei en sy draai vinnig om, maar dis te laat.

“Ken ek jou?” vra Danie. “Jy lyk regtig baie soos… iemand – ’n meisie wat ek lank gelede geken het.”

“Wie was sy?” val Erika vir die versoeking. Sy vergeet byna om asem te haal.

“Iemand wat ek baie liefgehad het – steeds baie liefhet. Maar sy het verdwyn. Of… is dit jy, Erika?” Danie se stem is skor.

Erika voel hoe al haar weerstand verkrummel. Sy gee ’n tree vorentoe. Hy trek haar in sy arms in.

“Erika! Ek het jou uiteindelik gevind! Dankie, Vader!” Danie hou haar knus vas en sy leun met haar kop teen sy bors. “Met jou wil ek in die Stickney-krater gaan dans. Met jou wil ek in die Melkweg toer! Daar is ’n heelal vir ons om te ontgin, my liewe Liefste. Sien jy kans om dit saam met my doen?”

Ek het uiteindelik tuisgekom! dink Erika. Ek is tuis hier op Mars.

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top