Lewe met jou hart so wyd oop soos die hemel: Mavis Vermaak gesels oor haar album Rumi

  • 0

Mavis Vermaak is ’n digter, musikant en visuele kunstenaar. Haar eerste vollengte-album, Rumi, is onlangs uitgereik en bestaan uit haar vertalings van die Sufi-digter Rumi se werk, voorgelees teen die agtergrond van die kenmerkende Mavis Vermaak-klanklandskap.

Deborah Steinmair sê oor Mavis: “Die enigmatiese Mavis Vermaak is ’n stem wat roep in die woestyn, sug in die woud. Haar weerlose stem raak aan die klein haartjies in jou nek. Sy praat, dreunsing, sing teen die agtergrond van klanke wat soms herinner aan die elemente, aan die wind wat teen ’n ruit tromslaan met ’n tak, aan die ruising van herfsblare en die gedonder van die gety. Maar eintlik klink dit soos die see binne jou: donker bloed wat ruis in jou ore, ’n onrustige hart wat teen jou sternum bons."

Bibi Slippers het by Mavis gaan hoor watter aanklank ’n 21ste-eeuse inwoner van Kaapstadslaapstad by ’n 13de-eeuse mystic vind. En ons praat nou nie hier van die mystic boer nie ...

Mavis, wat was jou eerste bekendstelling aan Rumi?

Ek het ’n aanhaling uit ’n Rumi-gedig gelees in ’n boek, The Eden Project, deur James Hollis, ’n Amerikaanse Jungiaanse sielkundige. Die gedig was “Sometimes I Forget Completely”. Ek was so aangegryp daardeur, ek het onmiddellik vir my The Essential Rumi van Coleman Barks aangeskaf.

Hoe het dit gebeur dat jy besluit het om juis hierdie gedigte te vertaal? En hoe kies jy watter van sy derduisende tekste om te vertaal?

die liggaam is ’n meet-apparaat
die sterrehoekmeter van die gees kyk daardeur
en raak oseanies

uit "Die brose houer"
Lees die gedig nou op LitNet.

Soos wat ek deur The Essential Rumi gelees het, het ek maar die gedigte wat my die meeste aangegryp het, so half outomaties begin vertaal, sommer in my dagboek. Ek het baie vry te werk gegaan met die gedigte wat getoonset is: party van die snitte is tot drie Rumi-gedigte wat ek saamgevoeg het. Toe ek by nommer tien gekom het, het ek gestop, en dit was toe nou maar die tien snitte op die album.

Ek vertaal tans aan nog Rumi-gedigte, maar met hulle hou ek baie strenger by die oorspronklike gedigte, of eerder, die Coleman Barks-vertalings, waarvanaf ek werk.

Wat reken jy het Rumi vandag te sê vir al die mystic boere daar buite?

Lewe met jou hart so wyd oop soos die hemel.

Het jy jou klank enigsins probeer aanpas om by die mistieke element van Rumi se werk aan te sluit?

Nie doelbewustelik nie. Maar ek dink Rumi se droomagtige beelde en mistieke sentimente het beslis plek gevind in die musiek. Ek het maar die gedigte in Afrikaans vir Juan Penguin (my vervaardiger) voorgelees, en dan vir hom die betekenis probeer uitlê. Van daar het ons dan die musiek begin skep. Maar eintlik het ons maar soos altyd probeer toelaat dat die “gevoel” van die materiaal ons lei, en daardie gevoelens dan in klanke probeer omskep.

hulle sê daar is geen toekoms vir ons nie

hulle is reg

en dit is doodreg met ons

uit "Wie praat met my mond?"
Lees die gedig nou op LitNet.

Het jy ’n gunsteling-snit op die album?

Ek sukkel om te kies tussen “Sonder jou lig” en “Noudat jy in my bors woon”. Ek dink dalk laasgenoemde.

Jou werk is ’n interessante wisselwerking van beelde, musiek en woorde. Jy illustreer terwyl jy vertaal, toonset woorde, skilder klanke ... Sien jy jouself eerstens as musikant, woordkunstenaar of beeldende kunstenaar? Is hierdie onderskeid enigsins belangrik of is dit deesdae moontlik om ’n jack of all trades en master of the mixed bag te wees?

Ek dink deesdae sien ek myself bloot as kunstenaar – alhoewel dit ook maar ’n lang proses was om by die aanvaarding daarvan uit te kom. Die onderskeid is nie vir my rêrig van belang nie, maar ek dink dit is moeiliker om jouself as kunstenaar te vestig as jy nie een spesifieke dissipline kies en daarby hou nie. Ek probeer om my fokus te verskerp, maar dit is vir my ’n voortdurende uitdaging. Nuwe idees verlei my gedurig, en ek is vreeslik aandag-afleibaar.

Buiten Rumi, watter ander digters spreek tot jou? En terwyl ons nou op die onderwerp is: Wat is jou musikale invloede en van watter beeldende kunstenaars se werk hou jy baie?

Suid-Afrikaanse digters van wie se werk ek baie hou, is Danie Marais, Ingrid Jonker, Deborah Steinmair, Ronelda Kamfer, Diana Ferrus en Gert Vlok Nel. Ek lees ook graag Rilke, en hou baie van die gedigte van Tony Hoagland. Ek het onlangs vir Walt Whitman en sy werk ontdek, en lees dit ook graag.

die water van Besef is die wyn wat ons bedoel
waar liefde die vloeistof, en jou liggaam die fles is

uit "Liefde en ek gesels"
Lees die gedig nou op LitNet.

Musikale invloede het ek nie rêrig nie, wel musikante en musiek wat my inspireer, en dit is baie wyd, van John Lennon en Joni Mitchell tot Fokofpolisiekar en The Buckfever Underground.

Wat beeldende kuns aanbetref, omdat ek nie enige opleiding gehad het in beeldende kuns nie, is dit ’n wêreld waarvan ek op die rand staan. Ek weet nie rêrig wie en wat daar buite is en hoe dit tot my spreek nie. My algemene kennis en my woordeskat met betrekking tot die beeldende kunste is maar beperk. Ek hou van Van Gogh se skilderye, en van Helen Martins se uilbeelde. Maar dit kan ook wees omdat hulle lewensverhale vir my so aangrypend is. Die kunstenaar Lori Anderson en haar werk is ook vir my baie inspirerend.

Jy neem later dié maand deel aan Wees betyds – Toast Coetzer en Jaco van Schalkwyk se jongste inisiatief. Kan jy ons meer hieroor vertel?

Dit is ’n maandelikse gebeurtenis by Roxy's in Kaapstad, waar ek, Toast en Jaco van ons nuwe werk voorlees vir ’n klein gehoor. Toast en Jaco lees kortverhale, ek lees Rumi-vertalings, en die gehoor gee dan vir ons onmiddellike terugvoer ná die voorlesings. Dis baie informeel, begin vroeg (18h45), en is maar net sowat ’n uur lank. Dis baie lekker om so interaktief te werk te gaan, en die direkte terugvoer is van groot praktiese waarde vir ons as skrywers.

Waar kan nuuskieriges jou musiek, digkuns en kunswerke in die hande kry?

Op my webwerf, www.mavisvermaak.com, kan mense na my musiek luister en van my gedigte en vertalings lees. Daar is ook voorbeelde van my visuele kuns te sien. My musiek en van my visuele kuns is ook te koop op die webwerf, en besoekers kan ook ’n gratis Rumi-snit aflaai op die webwerf by hierdie skakel: http://mavisvermaak.com/buy-music-art.

Wat is volgende vir Mavis Vermaak?

Ek is op die oomblik besig met ’n paar musikale samewerkings – een studio-musiekprojek saam met die kunstenaar Wessel Albertse, en dan is ek ook besig om te oefen aan ’n lewende optrede van splinternuwe materiaal in Engels en Afrikaans.

Ek het onlangs bygedra tot ’n Bittereinder-samewerking, en is betrokke by ’n paar ander projekte, onder andere die toonsetting van Ingrid Jonker-gedigte deur ’n aantal Suid-Afrikaanse vrouemusikante. Ek beplan om ook binnekort weer saam met Juan Penguin te begin werk aan ’n nuwe album van oorspronklike materiaal.

Lees

Lees meer oor Rumi by Poet Seers.

Kyk

Lees meer oor Mavis Vermaak op haar webwerf.

Luister

Klik hier om ’n gratis MP3 van "Orals" af te laai.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top