heeldag dink ek daaraan, en saans sal ek dit sê
waar kom ek vandaan, en wat is ek veronderstel om te doen?
ek het geen idee nie
my siel is van elders, net daarvan is ek seker
en dis daar waar ek wil opeindig
hierdie dronkheid het begin in ’n ander drinkplek
met my terugkeer sal ek nugter wees
tot dan is ek ’n voël van ’n ander vasteland wat sit in hierdie hok
my wegvliegdag kom nader
maar wie’s dit nou hier in my oor wat my stem so hoor?
wie praat so met my mond?
wie kyk uit met my oë?
wat is ’n siel?
ek kan nie ophou vra nie
as ek net een teugie van ’n antwoord kon proe,
kon ek wegbreek uit hierdie tronk vir dronkaards
ek het nie gekom uit eie wil nie
en ek kan ook nie so weggaan nie
wie ook al my hierheen gebring het
sal my moet huis toe neem
hierdie gedigte
ek weet nooit wat ek gaan sê nie
ek beplan dit nie
wanneer ek buite die sê daarvan staan
raak ek baie stil, en praat skaars
**
ons het ’n groot vat wyn, maar geen bekers nie
dis doodreg met ons
soggens straal ons, en saans straal ons weer
hulle sê daar is geen toekoms vir ons nie
hulle is reg
en dit is doodreg met ons
Vertaling van oorspronklike gedig deur Rumi.

