Lewe in die tyd van korona

  • 5

Bettina Wyngaard

Skares by elke venue. Mense wat in groot blydskap mekaar soengroet en omhels en hand skud. Groot groepe wat in klein spasies probeer inpas, sodat mens nie anders kan as om verby vreemdelinge te skuur nie. Volgepakte restaurante en kroeë. Rye mense wat toustaan om skrywers se handtekeninge te kry. Ongeërgde oopmaak van deure, raak aan gesigte, vryf oor hare, sit in sitplekke pas deur iemand anders leeggemaak.

Dis tonele wat ek hierdie afgelope week by die Woordfees gesien het. Voor dit was die idee van ’n virus wat soos ’n veldbrand versprei, eintlik maar akademies vir my. In dieselfde week het ek twee ander byeenkomste bygewoon waar redelik groot groepe bymekaar was. Die een was die Wêreldbiddag vir Vroue, waar ongeveer 150 vroue bymekaar gekom het. Die ander was ’n aansienlik kleiner boekbyeenkoms. By elkeen het ek die volgende opgelet: Suid-Afrikaners is touchers. Ons raak aan mekaar se skouers, vat ’n voorarm vas om ’n gesprekspunt te versterk, en het bitter min probleem met persoonlike spasie.

Social distancing, soos wat nodig is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp, sal vir die meeste van ons moeilik wees. Daarom is dit nodig dat byeenkomste beperk word. KKNK het onder geweldige kritiek gekom omdat hulle gekanselleer het. Ek glo hulle het die regte besluit gemaak. In elk geval, na die maatreëls wat president Ramaphosa gisteraand aangekondig het, sou die fees moes kanselleer. Kudos vir hulle dat hulle nie gewag het tot dit van bo geforseer word nie.

Dit gaan interessant wees om te sien hoe geloofsgroepe die verbod op byeenkomste van meer as 100 mense gaan hanteer. Van die Anglikaanse kerke wat ek al bygewoon het, maak voorsiening vir ongeveer 500 mense per diens. Ten tye van die skryf van hierdie rubriek moet die South African Council of Churches nog byeenkom om te besluit hoe hulle dit gaan hanteer.

Intussen koop mense paniekbevange die winkelrakke leeg. Almal is bang vir drie goed: siek raak, doodgaan en tekorte ervaar. Hoe egter gemaak met die oorgrote deel van ons bevolking wat nie die middele het om op groot maat te koop en te bêre nie? In Italië, en sedert die naweek ook in Parys, word mense tot hul woonhuise beperk. Hulle moet toestemmingsbriewe hê om uit te gaan winkels toe. In Suid-Afrika, waar herinneringe van dompasse nog vars in die geheue lê, sal sulke briewe waarskynlik nie sommer so aanvaar word nie.

Ons konteks is anders as die Europese konteks. Ek stem heeltemal saam dat die maatreëls wat getref is, nodig was. Ek wonder net of daar dalk maniere was om ons spesifieke konteks in ag te neem. Dit word so goed saamgevat in ’n Twitter-pos wat ek raakgelees het. “How do you self-quarantine in an informal settlement? Or in a household full of people? How do you ‘stock-up’ when you live from hand to mouth? What will business closure mean for daily/hourly waged workers?”

Inderdaad. Die meeste van die maatreëls veronderstel sekere maatskaplike omstandighede. Maar tensy die Covid-19-toets gratis by elke kliniek en daghospitaal beskikbaar gestel word, gaan baie mense hulle eenvoudig nie laat toets voor hulle nie ernstig siek is nie. Hulle gaan nie van die werk wegbly as hulle die sniffels het nie, want elke sent is nodig om liggaam en siel bymekaar te hou. Tensy werkgewers hulle daartoe verbind om lone te betaal selfs wanneer werkers wegbly, gaan mense siek kom werk, en die risiko vir verspreiding gaan bly voortbestaan.

Dan is daar die mense wat reken hulle kan die kans waag, want hulle is jonk en gesond en sal nie so siek word nie. Inderdaad. Maar wat van die oumense en kinders met wie jy in aanraking kom? Of met wie jou kontakte in aanraking kom? Anders as die meeste Europese lande, het ons ’n groot deel van die bevolking wat alreeds gekompromitteerde immuunstelsels het deur MIV/Vigs of tuberkulose. Of wanvoeding weens armoede. Of kankerpasiënte wat chemoterapie kry. Dan is daar ’n disfunksionele gesondheidstelsel, wat ten spyte van al die afgekondigde maatreëls steeds mense gaan forseer om in oorvol wagkamers te wag om gehelp te word.

Ons omstandighede is anders as in die meeste Europese lande. Tog dink ek hier is ’n unieke geleentheid om weer eens te bewys hoe besonders ons Suid-Afrikaners is. Ons het as ’n nasie al soveel oorkom. Korona, glo ek, is net nog een van daai uitdagings wat ons sal oorkom. Maar dan moet ons saamwerk, en leer om mekaar te vertrou. Ons sal moet leer om te deel. Ons sal moet leer om mekaar die voordeel van die twyfel te gee. En ons sal moet leer om gierigheid in bedwang te kry.

Vasbyt, ons kom hier deur.

  • 5

Kommentaar

  • Ja ons kom hierdeur met lof, want ons volk is n volk wat ken van kniedruppels en vasbyt asook met baie min klaar kom! Ek verklaar dit in Jesus se naam!

  • Ons moet tog asseblief nie sosiaal distansieer nie, maar fisies. Juis in hierdie tye kan en moet ons nog steeds sosiaal vir mekaar daar wees.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Bettina Wyngaard, is sosiale afstand nie nou "rassisme" uit apartheid se tyd nie?
    Wonder of koronavirus nie politieke korrektheid se nemesis is nie?

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie Bettina. Weereens in die kol! Ek hou van dié posetiewe bydrae. Ek hoop mense luister en vat die skrywe kop toe!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top