Leuens, statistiek, en sommer bôls

  • 0

Ek kyk nou al vyftig jaar lank rugby. Toe ek gespeel het (so ’n stuk of tien van daai vyftig jaar) het ek ook die meeste van die tyd rugby gekyk. Sometimes I sits and thinks. Sometimes I just sits.

En wat ek dink is dié: In al daardie jare se kyk het ek nie een maal ’n span gesien wat ’n drie druk, en wat nie op daardie tydstip in besit van die bal is nie. Merkwaardige statistiek: In presies 100% van die gevalle waar ’n span ’n drie gedruk het, het een van sy spelers ook die bal gehad.

Dit laat my toe wonder of Toetie en die Springbokke dié juweel van ’n stukkie statistiek ken. Ek moet dink hy ken dit. Hy kyk ook al amper net so lank rugby soos ek. En ek stel my voor hoe hy nou daar in die kleedkamer spanpraatjie hou. Ek stel my voor ou Eben (hy wat die kaptein is) steek sy hand op en vra: “Coach Toetie, wat is die ghymplên nou weer?” En Toetie antwoord: “Dit is om meer drieë as ons teenstanders te druk, Eben.” (Wat my laat dink aan ou Jan Snyman van SAUK Sport-faam wat jare gelede dié kosbaarheid kwytgeraak het in ’n krieketwedstryd: “Die kaptein se beste strategie sal nou wees om te sorg dat sy span meer lopies as die teenkant aanteken ...”)

Terug na die hede. En Eben vra: “Maar hoe doen ons dit?””

En nou raak dit verwarrend. Want – te oordeel aan die wedstryd Saterdag 9 September teen Australië – moet ek aflei dat wat Toetie nou sê, iets is soos “Hoe ons dit doen, is ons skop die bal vir hulle.”

“O, die plan is dat die ander kant die drieë druk?”

“Nee, Eben, ons moet die drieë druk.”

“Maar hoe dan, Coach, as hulle die bal het wat ons vir hulle geskop het?”

“Nee, dan têkkel ons hulle, Eben. En vat die bal by hulle.”

“Maar hoekom moet ons eers vir hulle die bal gee, Coach? Is dit soos regstellende aksie? Transformasie? Oor hulle All Blacks is? Sodat hulle ook ’n kans kry om drieë te druk?”

“Nee, Eben, ek sê mos, dan vat ons die bal by hulle.”

“Maar wat van as hulle nou die bal vat en begin hardloop?”

“Goeie vraag, Eben. Kan ek terugkom na jou toe oor daai een?”

“En dit is moeilik om hulle elke keer te têkkel ... en mens word moeg.”

“Maar dis net daar wat julle karakter moet wys, Eben. Ek het mos oor die naweek gesê julle het so baie karakter gewys.”

“Maar Coach, kan ons nie bietjie minder karakter wys nie? En bietjie meer hakskene?”

Alle grappies op ’n stokkie. Ek wou hierdie raaisel oplos. So kom dit dat ek 2017 se Super Rugby-statistiek ontleed. Ek het altoos geglo, soos ek op skool geleer het, dat die span wat meestal die bal het, die beste kans staan om te wen. Maar is dit reg?

Hier is wat ek uitgevind het oor die 2017 Super Rugby-toernooi:

  • Die span met die meeste ligapunte, en die span wat waarskynlik die finaal op Ellispark sou gewen het, was dit nie vir ’n ongelukkige rooi kaart nie (die Lions), het verreweg die meeste besit in die kompetisie gehad.
  • Wat ook duidelik is, is dat die topspanne oor die algemeen uitblink deurdat hulle die meeste breekslae uitvoer, dus deur die verdedigingslyn breek. Weereens is die Lions die kampioen, met 120 breekslae. Die een wat die naaste daaraan kom, is die Crusaders (wat uiteindelik die Lions in die finaal geklop het), met 105.
  • Nog ’n kenmerk van die Lions se spel is dat hulle verreweg die meeste die bal met sukses uitgegee het, ten minste onder die topspanne.
  • Maar dis nie so eenvoudig nie: Die goeie Nieu-Seelandse spanne het maar gemiddelde besit gehad – so om en by 50% of selfs minder gemiddeld dwarsdeur die toernooi – en baie minder balverspreiding. En dit sluit die Crusaders, die Hurricanes, die Chiefs en die Highlanders in.
  • Als goed en wel. Dit lyk dus of besit nie so belangrik is nie. Of ten minste, dit is moontlik om te wen sonder om besit te oorheers. En daarmee saam hoef ’n span nie noodwendig die mees oorvloedige balverspreiding te hê nie.
  • Maar wat verduidelik dan die verskil? Hoe is dit dat party van die Nieu-Seelandse spanne met middelmatige besitstatistiek en balverspreiding nog steeds baie breekslae maak?
  • Daarvoor moes ek na ander statistiek soek. En hier blyk dit dat twee ander stelle syfers belangrik is: skoppe, en daarmee saam omgekeerde besit deur middel van verdediging – dit is aggressiewe duikslae wat die bal terugwen.
  • En nou begin die prentjie sin maak. Die Hurricanes – wat derde op die punteleer was, en dus byna net so suksesvol soos die Lions en die Crusaders – het minder as 50% besit gehad, en verreweg die meeste van die topspanne geskop: 342 teenoor die Lions se 280 en die Crusaders se 265. Maar terselfdertyd het hulle baie meer besit in duikslae omgekeer: 74 teenoor 59 en 55 van die Lions en Crusaders. Daarteenoor het hulle baie minder breekslae gehad, naamlik 93.

Die gevolgtrekking is dan dat spanne inderdaad, soos ou Eben hierbo vermoed, beter af is as hulle die bal in die hand het. Maar as jy besit afgee deur te skop, dan moet jy baie seker wees jy keer dit weer om deur die water uit die teenstander wat die bal uit die lug vat, te têkkel. Dit het die Hurricanes oënskynlik reggekry.

Dit los toe vir my ook ’n ander raaisel op. Op die bal-in-die-hand tesis geskoei, moes die Waratahs naby aan die beste span in die kompetisie gewees het. Dié span het 105 breekslae uitgevoer, minder as die Lions geskop (276 maal) en ’n merkwaardige 2 168 maal met sukses uitgegee (die meeste van almal). Hoekom het hulle dan nie die toernooi gewen nie, maar derdelaaste geëindig?

Die antwoord lê in die statistiek vir omgekeerde besit deur duikslae: net 44, teenoor die 74, 63 en 63 van die Hurricanes, Chiefs en Highlanders byvoorbeeld. Ook die Lions doen beter met 59.

Wat my terugbring by Toetie en die Bokke. Saterdag teen Australië het Elton Jantjies die bal baie geskop – meer as gewoonlik. Maar belangriker, die bal is nie genoeg daarna teruggewen nie. Net so belangrik, die vleuels wat die skoppe moes jaag, Raymond Rhule en Courtnal Skosan, is albei korter as hulle eweknieë, en, moet mens bylas, minder vaardig onder die hoë bal as die teenkant se vleuels, en veral sy heelagter, Folau. Eers in die laaste 20 minute het die Bokke oorheers deur die bal in die hand te hou en fisiek voorlangs te oorheers, los balle te wen.

Is die wedstrydplan van skop op die agterste drie dus die weergawe waarop ons moet steun? Ek glo van nee. Om terug te keer na die syfers. In die Super Rugby-kompetisie, wie was die span met die meeste omgekeerde besit in totaal – raai? – die Lions – maar met ’n myl: 81 teenoor die naaste span, die houtlepel-houers, die Rebels met 71. Dis nou omgekeerde besit in die los, eerder as in duikslae en ná skoppe. Die Crusaders en die Chiefs het maar 49 en 48 omkeerbesit onderskeidelik bewerkstellig.

Toetie kom terug in die vertrek. “Eben, ek is terug.”

“Ja, Coach?”

“Jy gaan nie hiervan hou nie, Eben.”

“Hoe meen Coach?”

“Ek reken ons moet Lions-rugby speel, Eben”

“Coach ...?””

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top