Lethe

  • 0

Lethe

“Wie’s jou bobbejaan?” Dreadlocks hang soos spinnekopbene oor Xolani se gesig. Versteek sy een oog. Uitgesteek in die tronk, bendegeweld. “Dis jy wat soos jou gat ry.”

Mense skram om die taxi en Isuzu-dubbelkajuit. Kop-aan-kop-botsing. Niemand is ernstig beseer nie. Net ego’s.

’n Senuwee spring langs Gert se regteroor. Hy is ’n boer, ’n baas – duld geen teëpraat nie. Nie van sy vrou, kinders of werkers nie. Niemand nie.

“Ek gaan jou vrekmaak!” skree hy en gryp Xolani voor die bors.

Gert slaan. ’n Linker hakhou op die dooie oog, bloed spat. Hy volg dit op met ’n regter op die ken. Sy hele 120 kg spiermassa sit agter die hou.

Xolani steier terug en val.

Gert skop: gesig, maag, ribbes.

Dit klink of ’n tak kraak. Iets breek.

Die donderweer bulder. Weerlig blits.

“Stop dit,” skree ’n vrou. Die baba oor haar skouer huil. Sy trek Gert aan sy hemp. “Gertjie, dit was ’n ongeluk.”

Xolani staan op, effens na links ingekrimp. Hy beskerm die gebreekte rib met sy elmboog. Haal swaar asem. Die vierhoeke het die reëls op sy lyf gegraveer: As jy te klein is vir ’n tweegeveg, steek mes.

Die Okapi glim in die son. Dit vlek rooi.

Gert sak inmekaar.

Sy vrou gil. Trane en reën word een.

Dit word pikdonker rondom Gert. En grafstil. 

*

Is hy dood?

Hy swem deur ’n rivier. Die water is yskoud. In die verte hoor hy hoe Afrika-dromme ritmies klop … doef-doef … Hy voel hoe dit stelselmatig warmer en warmer rondom hom word.

Doef-doef.

Die dromme word harder en hy sien ’n klein liggie wat groter en skerper word soos hy nader daaraan beweeg.

Doef-doef.

*

Die toordokter knip die huilende babatjie se naelstring af en knoop dit voordat hy hom in ’n karos toedraai. Daarna gee hy die kleinding vir sy ma wat hom teen haar bors vasdruk.

Doef-doef.

Die rustigheid van die hartklop maak hom rustig. Sy klein mondjie maak oop en toe totdat dit om sy ma se swart tepel vou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top