Lesersindruk: Sewentig vrae oor evolusie vir Christene deur Albert Alberts

  • 1

Sewentig vrae oor evolusie vir Christene
Albert Alberts
Naledi
ISBN: 97819284264

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die natuur as ’n rasionaal vir of teen die bestaan en/of regverdiging van ’n bepaalde geloofsisteem is ’n byenes waaruit ek my kop graag hou. Soveel soos die onderwerp van godsdiens vir my interessant is, en ek graag daaroor praat en dink, is dit die historiese ontwikkeling van godsdiens en geloofsisteme wat my interesseer. Kyk, as hulle eers van “meme” en goed beginne praat, dan staar ek maar net grootoog na die spreker en knik beamend, asof ek dié se redenasie volg. Dis nie asof ek ’n graad in genetika het nie. My belangstelling in Alberts se boek lê egter by wat ek noem die argumente oor die oermense. Die studie van die argeologie. Waaroor daar maar betreklik min in Afrikaans geskryf is, sover my kennis strek.

Dit wil voorkom asof die debat tussen godsdiens en die wetenskap ’n familiebemoeienis is vir die familie Alberts. Volgens die teks aan die agterkant van die boek het Albert Alberts (’n medikus van beroep) se vader, Louw Alberts, ’n boek geskryf getiteld Geloof versus wetenskap – ’n boek waarmee ek glad nie vertroud is nie, maar waarvan die titel my reeds in koue sweet laat uitslaan, met ingewikkelde woorde en konsepte uit die natuurwetenskap en die teologie wat voor my geestesoog verbyflits.

70 vrae oor evolusie deur Christene se een groot voordeel is dat dit ’n ou lekker kort boekie van 105 bladsye is. Dit gaan nie ’n groot deel van jou lewe in beslag neem nie. Dit was ’n deurslaggewende motivering vir my, want boeke met titels soos hierdie laat my heeltemal ambivalent. Aan die een kant wil mens graag iets nuuts leer en nuwe perspektiewe kry. Aan die ander kant is jy al so flou van die godsdiensdebatte dat jy net wil vlug – run Forrest. Ek lees nie meer sommer enigiemand se boek nie. Daar moet goeie redes wees. Die lewe is te kort om die een vrot boek na die ander te lees. En waar dit by geloof versus wetenskap kom, het ek reeds meer as genoeg van my tyd op treurige boeke gemors dankie.

Die titel van hierdie boek is juis vir my reeds problematies. Want wat presies beteken die woord “Christen”? Is dit regverdig om ’n vaste definisie aan dié woord te koppel? Na al my jare op aarde het ek tot die slotsom gekom dat ek nie regtig weet nie. In die breedste sin kan mens seker sê dat ’n Christen ’n navolger van Jesus is. Ook laasgenoemde is egter ’n problematiese en vae verklaring. Want daarop kan mens vra wie is of was Jesus? Mens moet dus liefs spesifiseer – die Bybelse Jesus, want die historiese Jesus is die onderwerp van debat. En selfs wanneer mens dan sou sê die Bybelse Jesus, dan moet jy aanvaar dat mense die Bybel verskillend lees en interpreteer. En bly dit vaag.  Daar is immers vele denominasies binne die Christendom, en hoewel baie van hulle grootliks versoenbaar is, soos die sogenaamde drie Afrikaanse susterskerke wat mekaar se lidmate aanvaar, is daar diep verdelings onder die wyer Christendom. Daar is groepe wat nie die Bybel as die primêre bron van hulle geloof beskou nie, maar persoonlike gewaarwordinge en drome en ander verskynsels wat as boodskappe van God beskou word – die sogenaamde Pentecostal-beweging byvoorbeeld, wat ook al meer groei in Suid-Afrika toon. Dan is daar verdelings tussen kredobaptiste en verbondsbaptiste, wat ernstig verskil oor die doop van babas, in so ’n mate dat kredobaptistiese predikante nie in die NG Kerk aanvaar word nie. Daar is groepe wat nie die Triniteitsleer erken nie, soos die Jehova se getuies, wat hulself ook as Christelik beskou en dieselfde Bybel inspan. En so is die Christendom verdeel in denominasies wat op die oog af onversoenbaar is en sal bly.

Maar niks hiervan vind neerslag in Albers se boek nie. Trouens, Alberts het sy eie kategorisering waarmee hy werk, in terme van wat hy beskryf as “geloofsmodelle”, naamlik die Jong Aarde-kreasionisme, die Intelligente Ontwerp-kreasionisme (oftewel die IOK), die Materialistiese (ateïstiese) evolusie (waaronder ek vermoed ek dan nou sal ressorteer), en dit wat hy voel die korrekte model is, naamlik die Teïstiese evolusionisme.

Hoe sê die jongmense? Cringe!

Dit is presies hier waar die filosofiese kopseer van taal insluip. Die een wat sê dat hoe meer jy definieer, hoe meer gaan jy stereotipeer. Ons moet oppas om mense in abstrakte freaks te verander. In stereotipes. Dit bly die ewige uitdaging van taal – om dit so aan te wend dat dit keurig en genuanseerd omgaan met mense en met hulle identiteite. Geen maklike uitdaging nie. Hierdie bespreking van Alberts begin by vraag 28 in die boek, en ek moet ongelukkig sê dat hierdie tweede deel van die boek ook die mees oninteressante is. Waar die eerste deel van die boek baie interessante inligting bevat oor oergemeenskappe, is die tweede helfte van die boek seker meer gemik op ondersteuners van Albert se idees.

Die formaat van vraag en antwoord het voordele sowel as nadele. Dit herroep daardie pedantiese kerktraktaatjies, met die egpaar in stywe kerkklere. Die dame se hare is ge-perm en die man het ’n netjiese paar sideburns. Aan die ander kant kan mens so ’n boek vinnig neersit en iets in die tuin gaan doen of koffie gaan maak. Jy lees net tot die einde van die vraag. En hervat later weer. Dit is dus makliker verteerbaar as lang hoofstukke.

Ek wil tog stilstaan by vraag 62, waar Alberts die vraag stel of daar dan nie konflik bestaan tussen die begrippe erfsonde en evolusie nie. In die antwoord skryf hy tereg dat hierdie vraag “die grootste area van konflik” is tussen die Christelike teologie en die evolusieleer. En sy gevolgtrekking? ’n Skynbare ja, want hy skryf dat ’n vlekkelose mens in die Tuin van Eden nie versoen kan word met evolusie se “miljarde jare van stryd om oorlewing” nie.

Die boek was die moeite werd om te lees vir die eerste helfte van daarvan, maar nie die tweede helfte nie. Die erfsonde en soenofferleer, wat deur Alberts as onversoenbaar met evolusie beskryf word, is wat my betref die kern van die Christelike geloof, en staan sentraal in die kerk se belydenisgeskrifte. Ek kan nie sien hoe die kerk ooit daarvan sal afsien nie. Soos dit met hierdie tipe boeke gaan, ontwikkel Alberts uiteindelik ook iets van ’n eie geloofstaal, maar dit oortuig my nie. 70 vrae oor evolusie deur Christene is uiteindelik maar net nog ’n apologetiese boek, wat darem ook goeie kritiek lewer op kreasionisme met hulle lang lys van pseudowetenskaplike publikasies. En in die proses ook heelwat interessante inligting oor die argeologie verskaf, veral in die eerste helfte van die boek.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Pienkes du Plessis

    Stem grootliks saam met die resensent – die eerste helfte is hoogs insiggewend. Alberts is bepaald kundig ingelig. Maar eintlik is die laaste 15/20 vrae die dood in die pot. Ongelowiges t.o.v. die Abrahamitiese god aanvaar glad nie Alberts se antwoorde nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top