Lesersindruk: Zwarte Socrates. Gesprekken over recht, tijd en verzoening deur Bert van Roermund

  • 0

Titel: Zwarte Socrates. Gesprekken over recht, tijd en verzoening
Skrywer: Bert van Roermund
Uitgewer: Gompel & Svacina
ISBN: 97894 6371 085 5

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Versoening staan sentraal in Zwarte Socrates – die onlangs gepubliseerde boek van die Nederlandse regsfilosoof Bert van Roermund. Van Roermund is emeritus professor aan die Universiteit van Tilburg. Die inhoud van die boek is geput uit gesprekke wat die outeur oor die jare met medewetenskappers gevoer het en uit sy eie internasionale ondersoek na versoening in konflikgebiede. Die boek is egter toeganklik vir ’n breë geïnteresseerde leserspubliek geskryf sonder om in te boet aan diepgang.

Dié fyn balans tussen toeganklikheid en kwaliteit bereik die outeur deur filosofiese vraagstukke rondom versoening aan te sny deur middel van sewe fiktiewe dialoë en daarna twee toesprake. Nege, eweneens fiktiewe, mans en vroue voer die gesprekke met mekaar. Wat die deelnemers met mekaar gemeen het is dat hulle veral uit konflikgebiede kom en wil stilstaan by hulle eie ervarings en wat hulle samelewings deurgemaak het. Die deelnemers word saamgeroep deur Bernard Shabalwa, ’n Suid-Afrikaner na wie die ander as Sokrates verwys. Die ander deelnemers sluit iemand elk uit Israel en Palestina in, onderskeidelik ’n Rwandese Hutu en Tutsi en uit Colombië maak die leser kennis met ’n vredesaktivis en ’n oudrebel van die FARC. Daar is ook ’n tweede Suid-Afrikaner, Anche van Staden, en Oxana Ginszburg uit Rusland. Bernard voer die gesprekke op uiteenlopende plekke in die wêreld, van ’n klaslokaal in Rwanda (13) en ’n gemeenskapsentrum in Israel (67) tot die Walter Sisulu Universiteit in Mthatha (91). Vanweë die dialoogvorm waarin die boek geskryf is, mag Griekeland natuurlik nie ontbreek nie, en daar ontmoet die deelnemers mekaar op ’n Ateense universiteitskampus (111).

Die ryk gesprekke stel die vraag hoe “daders” en “slachtoffers” van politieke en gewelddadige konflik met mekaar kan saamleef. Daar word besin oor die aard van versoening as norm en die voorwaardes wat daarop van toepassing is. Die gesprekke belig sterk die rol van regsordes en geregtigheid in hierdie verband en betrek daarby begrippe soos ubuntu (120), transitional justice (13) en restorative justice (41). Ubuntu as rigsnoer word byvoorbeeld uitgewerk en vorm gegee as ’n soort sielsverbondenheid, maar is gewortel in die harde werklikheid van ons bestaan in teenstelling tot die een of ander paradys wat aan ons voorgehou word. Die bekende Waarheid-en-versoeningskommissie van Suid-Afrika word ook ’n aantal keer betrek deur byvoorbeeld te reflekteer op (regs)herstel (42). Uit die gesprekke word dit duidelik dat alhoewel daar dikwels in postkonflik-scenario’s op juridiese oplossings en institusies gesteun word om verstoorde verhoudings en menswaardigheid te herstel, die soeke na ’n afgewerkte regsorde eintlik nooit voltooi is nie. Tyd as ’n onderliggende faktor kom so na vore met vrae oor die fases en volgorde van versoeningsprosesse (22). Treffend ook in hierdie verband is die uitgebreide besinning oor die strewe dat menseregtevergrype “nooit weer” mag plaasvind nie (26, 162). Hoe kan dit wees dat dié leuse keer op keer weer gehoor moet word? Waarom word “nooit meer” soms “tog weer”?

Soos dit die Sokratiese metode betaam, sal die leser eerder vrae as antwoorde in hierdie werk aantref. Op dié manier word die leser uitgedaag om deel te neem aan die dialoog deur sigself te reflekteer op die opgewerpte vrae. Die leser word as ’t ware die tiende deelnemer. Van groot belang is tegelykertyd die perspektief van die elfde deelnemer aan die dialoë, naamlik Van Roermund. Die outeur geld as ’n outsider; iemand wat nie direk deur die beskrewe situasies geraak is nie. Tog, of juis daarom, laat hierdie afstand hom toe om deurdringende vrae te stel. Vanweë hierdie perspektief is Zwarte Socrates ’n aanwins vir die Suid-Afrikaanse leserspubliek, wat wel deur swaar konflik gevorm is, om fundamenteel na te dink oor reg, tyd en versoening.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top