Worteltoon gaan jou vang
Laantie le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518228
Wat so twintig jaar gelede ’n aktiewe kinderboekery in ons huis was, is nou honderde boeke en herinneringe, sorgvuldig verpak in kartondose vir die kleinkinders. Sorgvuldig, want ’n kinderboek is meer as net ’n storie. Dit vertel die verhaal van ouers wat boeke met entoesiasme voorgelees het, die karakter probeer vertolk het en kinders wat grootoog, élke woord opgeslurp het, nes honger sponse.
Dit vertel ook ’n verhaal van geduld en deursettingsvermoë ̶ ouers wat later jare saam met die kinders gesit en swoeg het om klinkers en medeklinkers vas te lê, eers om woorde en toe sinne te leer lees, en dan uiteindelik die motief van die kinderverhaal sélf vertolk het om tot gevolgtrekkings te kom.
In baie gevalle was die kinderboeke ’n straf om te lees en voor te lees, omdat verbeeldinglose, voorspelbare en geforseerde karakters geskep is om aan leeruitkomste te voldoen. Illustrasies het min aan die verbeelding oorgelaat. Oorspronklikheid is prysgegee en die fantasiewêreld van die kind, wat so ’n belangrike deel van menslike ontwikkeling is, is onderdruk deur wat voorgehou is as “opvoedkundig” en “voldoende”.
Dan was daar weer die kinderboeke en -verhale wat op versoek oor en oor gelees móés word, karakters wat in die verwysingsraamwerk van die kind ’n werklikheid geword het, waaroor hulle gedroom het en ook waarmee hulle kon indentifiseer. In baie gevalle was die stories en karakters vir die kinders ’n ontvlugting en ’n veilige ruimte, ’n nis om te kon ontsnap van ’n volwasse wêreld waarvan die druk en eise soms net te veeleisend was.
Van die kinderverhale het ook ’n sterk moraliteitsfaktor gehad wat aanspraak gemaak het op die leser se onderskeidingsvermoë. Die inhoud was nie noodwendig altyd sprokiesagtig nie. Die verloop van die verhaal het dikwels kinkels gehad wat die leser of luisteraar tot stilstand en herbesinning gedwing het. Elke optrede het ’n oorsaak en ’n gevolg en dikwels was die gevolge minder aangenaam, maar belangrike lewenslesse is daaruit geleer.
Is dít nie dalk die leesstof waaraan ons as ouers en opvoeders, kinders moet blootstel nie? Is dit nie ons verantwoordelikheid om ons kinders toe te laat om self op ’n reis te gaan en die saadjies wat hulle op die pad ontdek het, terug te bring en die assosiasie met die werklikheid op ’n weegskaal te plaas nie? En om dit wat goed is, verder te gaan kweek, uit te plant en so ’n onherbergsame woud met die allermooiste en beste blomme en vrugte te gaan versier nie?
Illustrasies speel ’n groot rol in die vertolking van ’n kinderboek. As kinders boeke lees, is hulle geneig om soms eers die illustrasies te bestudeer en dan na die inhoud te beweeg. Kinders bestudeer illustrasies in die fynste besonderhede. Hulle vermoë tot analise en kritiese denke mag nooit onderskat word nie. Die gesproke woord, of die enkodering van die inhoud word ’n eenheid ̶ beeld en assosiasie gaan hand aan hand en dit bepaal ook hoe die leser/luisteraar, in die geval die kind, die verhaal gaan interpreteer.
Waarom al dié inligting? Hoe is dit van toepassing op Worteltoon gaan jou vang? As opvoedkundiges en ouers was ons baie kieskeurig met die aankoop van storieboeke vir kinders. Soms té, maar ons het geglo dat boeke uit meer moes bestaan as bloot net ’n vertelling. Die inhoud moes substansie hê en die skrywer moes die fantasiewêreld van die kind kón betree. ’n Waardesisteem moes vasgelê word en die inhoud, inklusief.
Die mark vir kinderboeke is uiters mededingend en die wat deur ’n keuringsproses gaan en uiteindelik gepubliseer word, is uitsoekleesstof.
Le Roux het haarself hier onderskei.
Sy is nie net die skrywer van die verhaal nie, maar het al die illustrasies ook self gedoen. Hierdie volblad en volkleur illustrasies is ’n uitvloeisel van die mooi en aangrypende verhaal van twee kinders met twee agtergronde. In die verhaal word vrede en harmonie gestel teenoor eensaamheid, konflik en asosiale gedrag. Weelde word ook teenoor armoede gestel. In die konteks word subtiel beklemtoon dat armoede nie noodwenig gebrek impliseer nie en dat rykdom nie die voorvereiste vir harmonie en vreugde in gesinsverband is nie. Die hoofkarakter, Wian, weerspieël duidelik dat geld wat stom is nie reg maak wat krom is nie. Dié gebrek aan selfvervulling wat hy tuis ervaar, lei egter tot ongehoorsame, onaanvaarbare gedrag.
Natuurlik is daar die katalisator ook – in die geval die boom wat gepersonifiseer word. Dít is een van dié uitstaande kenmerke in die boek, omdat die karakter geensins in die verhaal as ’n waarskynlike verrassingselement voorgehou word nie ̶ eerder ’n afskrikmiddel; ’n boom wat die eienskappe van ’n monsteragtige woudverskynsel aanneem en ongehoorsame kinders vang.
Die ruimte waarbinne die verhaal afspeel, die dorpie Groenkol, word pragtig en kleurryk geïllustreer (1). Die lowergroen woud skep die illusie van harmonie en vrede. In die voorgrond van ’n lowerryke tuin staan ’n jong seun, Wian, met sy rugkant tussen die loof. Hy word omring deur die mistiek van ’n groen woud, insekte, soogdiertjies en ’n sprokiesagtige huis in die agtergrond.
Die weetgierige en ook nuuskierige leser sal hier stilstaan om al die elemente in te neem wat uitgebeeld word. As die boek aangebied word (hetsy individueel of in groepsverband), sal dit die geleentheid aan die luisteraar bied om die elemente in die illustrasies wat waargeneem word, self te identifiseer en verbaal weer te gee. Dié illustrasies is voldoende om hoë-orde vrae te formuleer deur die volwassene wat die boek voorlees en dit aan die jonger kind voor te lê vir intrepretasie. Terselfdertyd sal die meer selfstandige leser die elemente kan identifiseer en waarskynlik vrae vra wat kennis kan verbreed ten opsigte van die diereryk, plante en ook die omgewing.
Die illustrasie van die hoofkarakter, Wian, beeld ’n seun uit, verdiep in sy selfoon (3). Moderne tegnologie word uitgebeeld, wat uiters relevant is vir ’n moderne lesersmark. Wian se belangstelling verteenwoordig ’n samelewing ver verwyderd van draadkar ry en kleiosse maak ̶ ’n belangstellingsveld wat 2020 verteenwoordig.
Die leser sal die aanvanklike paradysagtige gevoel wat geskep is hier bevraagteken. Wian is passief, alleen en lyk nie gelukkig nie. Dit lyk byna of hy hom met opset onttrek en gekiés het om sy tyd te verwyl met tegnologie en virtuele geselskap.
Hoewel hy in ’n weelderige huis bly “’n huis so groot soos ’n paleis” (3), is hy die gedwonge en passiewe aanhoorder van aanhoudende struwelinge en rusies tussen sy ouers ̶ oor geld. Beide ouers werk en hy sien hulle selde. As hy hulle sien, word hy gekonfronteer met alewige onenigheid, spanning en rusies.
Die persepsie van ’n introvert en “eenkantkind” tree sterk na die voorgrond. Dit laat mens aanvanklik wonder hóé kinders tussen die ouderdomsgroep van 5 en 11 jaar blootgestel moet word aan die situasie. Tog is spanning en struweling tussen ouers ’n realiteit waarmee baie kinders gekonfronteer word. Die nare atmosfeer wat geskep word, sal bekend wees aan kinders wat in die opsig getraumatiseer is. Die onmiddellike waarskynlikheid van assosiasie word hier ingesluit. Dit bied tegelykertyd aan die kind wat in ’n normale huishouding funksioneer, die geleentheid om meer insig in die hartverskeurende situasie te verwerf en deernis te ontwikkel.
’n Skrille kontras, spanning en harmonie word geskep met die voorstelling van Ma Betsie en Lana (4) wat ’n eenvoudige lewe lei, tuinmaak, in ’n houthuisie bly en ’n bestaan maak uit groenteverkope aan die inwoners van die dorpie Groenkol. Dié gesin is die toonbeeld van geluk en straal vrede uit, al is Lana se pa oorlede.
Wian en Lana is beide in graad 2. Tipies van kinders wat tuis in disharmonie leef, is Wian asosiaal en rebels. Hy weier om opdragte in die klas uit te voer (7) en ervaar verwerping van die opvoeder, juffrou Hartlief, wat volgens hom gedurig verwys na haar witbroodjie, Lana.
Die opvoeder waarsku dat onaanvaarbare gedrag nie geduld sal word nie. Uit dié perspektief word “Worteltoon”, ’n nare, monsteragtige dierasie wat in die woud woon, aan die kinders voorgehou. Dié fiktiewe karakter sou ongehoorsame kinders glo vang en straf. (8)
Die verhaal neem ’n skielike wending met die aanbreek van die naweek. Kinders moet deur die digte woud en grillerige “diep skadu’s” van die bome stap om tuis te kom. (10) Wian het vir Lana in die woud ingewag en skrikgemaak. Hoewel die gebeurtenis ’n skreeusnaakse situasie skep, is Lana nie ingenome met Wian se idee van ’n grap nie. (17)
Wian en Lana moes ’n skooltaak saam uitvoer. Lana was nie geneë met juffrou Hartlief se opdrag om tyd met Wian deur te bring nie, want “hy maak haar altyd seer.” (17) Sy het wel besluit om hom na haar huis te nooi met die hoop dat Ma Betsie dalk ’n oplosssing vir Wian se slegte gedrag sal hê.
Hy het ma Betsie met soveel beleefdheid beïndruk dat Lana nie begrip gehad het vir Wian se skielike persoonlikheidsverandering nie.
Toe Wian die vrede en harmonie van ’n gelukkige gesin ervaar, het dit net verdere aggressie in hom laat opwel. Die geselligheid en vrolike atmosfeer van die klein houthuisie teenoor ’n rykmanshuis “waar niemand lag nie” (18) is die twee kontrasterende elemente waarmee die leser gekonfronteer word.
As deel van die werksopdrag, het Ma Betsie vir Wian ’n boek gegee om te lees oor die Trosvyeboom, (Ficus sycomorus). Daarna moes hulle woud toe gaan om die spesifieke boom te identifiseer. (22)
Lana het die boom se blare geteken terwyl Wian die boom se takke gebreek het en ook die vrugte stukkend getrap het. (25) Die psigologiese implikasie van die invloed wat ’n disfunksionele gesinslewe op ’n kind het, figureer in Wian se aggressiwiteit en vernielsugtigheid. Die spanningslyn word versterk deur ’n dreigende storm. Wian dreig ook om seer te maak (27), maar in ’n wending raak hy verstrengel in die trosvyeboom se takke. En dié trosvyeboom was toe niemand anders nie as Worteloon! (28)
In plaas van om Wian seer te maak, word die grootste verrassinsgelment in die verhaal geskep deur Worteltoon.
Die persepsie van die monsterboom wat net wil straf, word ’n nekslag toegedien. Sy karakter neem die vorm van ’n liefdevolle oupafiguur aan wat Wian troos en die belangrikheid van waardes met deernis oordra. Hy spreek nie net Wian se gedrag aan nie, maar verduidelik ook subtiel die wonder wat onvoorwaardelike bevryding en vergifnis teweeg bring.
Die slot van die verhaal suggereer dan ook ’n pragtige morele les en versoening. “Ek sal nooit weer iemand seermaak nie”. (35)
Die verhaal kan uit ’n volwasse perspektief multifunksioneel wees omdat die verhaal verskeie interpretasie moontlikhede bied. Uit dié oogpunt moet die boek met omsigtigheid aan kinders voorgelees word. Konfliksituasies kan dien as teenvoeter om toekomstige konflik te vermy, of vaardighede kan hier aangeleer word om die situasies beter te hanteer en dalk selfs ’n oplossing met nuutverworwe kennis te vind.
Jonger kinders kan die boek vir genot lees en hulself inleef in ’n baie mooi storie waaruit hulle ook die waarde van wedersydse respek sal leer.
Die enigste kritiek wat ek het teen die boek het is dat Wian se ouers nie aangespreek word nie. Dit is juis deur hulle onvolwasse optrede dat Wian asosiale gedrag openbaar. Dié kritiek sal egter subjektief wees, want ’n alternatiewe tussenganger, Worteltoon, beredder die situasie. Dit sal die leser dan ook tot die besef bring dat die situasie nie hopeloos of verlore is nie, maar dat hulp en uitkoms wel vanuit ’n ander oord kan kom as wat die verwagting is.
As ouer beveel ek die boek aan vir voorlees met ondersteuning vir die ouderdomsgroepe 5 tot 7 jaar. Uit ’n opvoedkundige oogpunt is die boek uiters geskik vir selflees in die ouderdomsgroep 7 – 12 jaar en selfs ouer. Die waardes wat uit die lees van die boek verwerf kan word, is onskatbaar.
Die boek sal vir seker ’n aanwins wees vir skole. Dit bied ruimte vir interpretasie, selfondersoek, groeplees, gedeelde lees, voorspellings, menings wat beredeneer kan word, ’n visuele skatkis vir interpretasiedoeleindes, identifikasie, die verwantskap tussen oorsaak en gevolg, begripsontwikkeling en dan die belangrikste aspek ̶ om ’n liefde vir lees te ontwikkel.
Wian en Worteltoon is twee karakters wat ’n kind lewenslank om die regte redes sal onthou.
Meer oor die skrywer
Laantie le Roux is ’n grafiese kunstenaar en ook ’n ywerige aspirant-digter. Sy is ’n tuisteskepper en ook ’n gemeenskapswerker wat die belange van bejaardes op die die hart dra. Sy en haar man is woonagtig in Benoni, Gauteng, maar vehuis aan die einde van Augustus na Bredasdorp waar sy haar voltyds wil toespits aan skryfwerk en visule kuns.
Sy debuteer in die hoofstroom met Worteltoon gaan jou vang.
Die boek kan direk bestel word by www.naledi.online
Tertia Swart kan ook gekontak word by 0786488616 vir bestellings.
Kommentaar
Puik resensie en baie geluk aan Laantie!
Persoonlik dink ek dit is 'n broodnodige boek en werd om wyd gelees te word. 'n Boek met 'n boodskap/storie wat kan buffer teen die gevolge van 'n disfunksionele gesin.
Welgedaan!
Baie geluk Laantjie. Voorwaar n groot mylpaal. Geniet dit.