
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Uit genade, bo verdienste
Gert Opperman
ISBN 9781037045981
Business Print
Pretoria
2025
My kennismaking met generaal-majoor Gert Opperman was indirek. As besoekende dosent het ek by geleentheid die voorreg gehad om saam met die studente van die Verdedigingskollege, meestal swart, beide die Voortrekkermonument en die Vredespark te besoek. Die kontras kon nie duideliker gewees het nie – die een tipies van die staatsektor in die na-1994 Suid-Afrika; die ander ’n toonbeeld van die beste waartoe Suid-Afrika dikwels in staat is. Vir die meeste van die swart studente by die kollege, almal kolonels, was dit ’n eerste besoek aan die Voortrekkermonument.
Met die indraai na die monument was die ongemak in die bus aanvoelbaar. As Kapenaar was dit vir my ook ’n eerste besoek aan die monument in ’n baie lang tyd. Eerste indrukke is egter meestal blywend. Die skoon terrein en netjiese tuine was opvallend; so ook die groepe buitelandse besoekers, goed toegeruste geskenkwinkel, kitskoskiosk en, bo alles, skoon ablusiegeriewe. Die Engelssprekende gids wat ons deur die monument gelei het, se aanbieding van die geskiedenis aan die gehoor, wat waarskynlik elke woord van hom gemeet het, was fyn genuanseerd. Daar is ’n blywende indruk op die groep gelaat, met opmerkings dat alle Suid-Afrikaners hulle dit ten doel moet stel om die monument te besoek. Agter die hand is die naam genoem van Gert Opperman; en daar was ’n ooglopende militêre presiesheid sigbaar in die netheid en afgerondheid wat besoekers aan die Voortrekkermonument ervaar het.
En militêre presisie en kwaliteit is tot ’n groot mate die indruk waarmee die leser gekonfronteer word met die lees van Opperman se outobiografie. Die outobiografie is in twee dele verdeel, met die eerste deel wat handel oor sy militêre loopbaan en vervroegde aftrede uit die weermag in 1996. Die tweede deel plaas die fokus op sy betrokkenheid by die Voortrekkermonument en uiteindelik ook die Erfenisstigting en Navorsingstrust. Opperman het hom reeds op skool in die militêre lewe begeef met sy betrokkenheid as leier in die kadetkorps van die Hoërskool Linden, waar hy in 1962 gematrikuleer het. Daarna volg die jaar van militêre en offisiersopleiding aan die Leërgimnasium, waar hy die Willie Hurter-trofee vir kwekeling van die jaar ontvang. Sy drie jaar as student by die Militêre Akademie in Saldanha kulmineer met sy aanwysing as studentekaptein vir 1966 en as ontvanger van die Generaal Christiaan Beyers-trofee vir leërstudent van die jaar. ’n Beter begin van ’n militêre loopbaan kan mens jou kwalik voorstel, veral in ’n tydvak soos die 1960’s, wat nie net ’n era van eksponensiële uitbreiding van die verdedigingsfunksie in Suid-Afrika was nie, maar ook die begin van ’n tydperk van ongekende operasionele ontplooiing en aanwending van die weermag.
Die geweldige groei en uitbreiding van die weermag vanaf die 1960’s het die geleentheid gebied vir jong offisiere om hulself in meer as een opsig te bewys. Twee voorbeelde dien vermeld te word met betrekking tot Opperman se loopbaan. Die eerste was sy aanstelling in 1968 as adjudant by die Militêre Akademie in Saldanha, waar brigadier Magnus Malan die bevelvoerder was. Dit het Opperman in noue kontak gebring met ’n persoon wat diep spore in die Suid-Afrikaanse weermag van die 1970’s en 1980’s sou trap. Binne die konteks van die geweldige groei en ontwikkeling van die weermag in dié era, het dit aan Opperman as jong offisier die geleentheid gebied om betrokke te raak by ’n ondersoek na die toekoms van offisiersopleiding in die weermag. Die sogenaamde Malan-verslag, en die hervormings wat dit tot gevolg gehad het, het ’n beduidende impak gehad op die voorbereiding en professionalisering van die offisierskorps vir wat sou volg in ’n era wat gelaai was met strategiese uitdagings van die hoogste graad vir beide die land en die weermag.
Die tweede voorbeeld is die geleentheid wat Opperman gekry het om ’n ondersoek te doen na die aanwending van die honde-en-perde-afdeling van die weermag. Sy verslag het uiteindelik aanbeveel dat die honde- en perde-afdelings geskei moet word, en dat beide tot volwaardige militêre eenhede ontwikkel moet word vir operasionele aanwending in ’n teeninsurgensie-omgewing. Die gevolg was dat Opperman deur die hoof van die weermag aangestel is om die weermag se berede sentrum as militêre eenheid naby Potchefstroom te ontwikkel, tesame met die skep van ’n perdeteelplaas in De Aar. Opperman sou daarna altyd geassosieer word met die suksesvolle operasionele aanwending van perde; en gesien word as beskermheer van die berede funksie van die weermag.
In ’n beskouing van Opperman se militêre loopbaan, wat waarskynlik tiperend was van wat aan die orde van die dag was in die era tussen 1960 en 1990, word die leser getref deur die eise wat aan die individu en sy gesin gestel is. Die mobiliteit van ’n soldaat, met verplasings, dikwels op baie kort kennisgewing, wat geweldige eise aan beide die individue en sy gesin stel, is deurgaans onder die soeklig. Dit het beteken dat gesinne dikwels nie na behore wortels kon inslaan in ’n bepaalde gemeenskap voordat hulle weer verplaas is na ’n volgende standplaas nie. Gedurende dié tyd was dit ongewoon om vir drie jaar aaneenlopend in een posisie aan te bly, soos die geval was met Opperman se aanstelling as bevelvoerder in die Oos-Caprivi. Die soort eise wat dit aan die wederhelftes, kinders en huwelike van soldate in die algemeen gestel het, is ongekend in die breë samelewing.
Die voordeel van hierdie hoë mobiliteit, of miskien die gevolg daarvan, is dat dit dikwels tot ’n bepaalde wanderlust onder militêre personeel lei. In die algemeen is daar min organisasies en instellings wat soveel doen om hul personeel op te voed en op te lei soos weermagte; dit is ’n integrale deel van soldate se loopbane. Dikwels kry hulle die geleentheid om stafkursusse aan buitelandse militêre instellings te doen. In gevalle waar dit in ’n ander taal aangebied word, leer militêre personeel ook ’n vreemde taal aan. Opperman se loopbaan was ’n tipiese voorbeeld in hierdie verband met sy bywoning van die Spaanse stafkursus. Nie net het hy die geleentheid gehad om Spaans aan te leer nie, maar hy en sy gesin het ook die geleentheid gehad om vir twee jaar in Spanje te woon en tydens sy dienstydperk in Europa te kon reis. Die gevolg is dat militêre personeel oor ’n geweldige algemene opvoeding en verstaan van die wêreld beskik, wat uiters noodsaaklik is vir goeie strategiese besluitneming en heel dikwels nie aanwesig is in die breë samelewing nie. Soos die Duitse weldoener en filantroop Alexander von Humboldt dit verwoord het, jy kan slegs die wêreldsiening van iemand wat die wêreld gesien het, vertrou. Opperman staan ’n hoofstuk in sy boek af aan die reise wat hy onderneem het in sowel ’n amptelike as private hoedanigheid. En hy het inderdaad die wêreld gesien.
Die bevel- en stafvaardighede, tesame met die ervaring, opleiding en opvoeding wat eie is aan ’n militêre loopbaan, impliseer dat militêre offisiere dikwels goed geskool word en oor geweldige algemene strategiese bestuurs- en beplanningsvaardighede beskik. Hierdie vaardighede is heel dikwels oordraagbaar na die algemene openbare en privaat sektore van die samelewing, veral in gevalle waar offisiere diens gedoen het in poste wat hul ook blootstelling gegee het aan die komplekse wêreld van strategiese besluitneming en kontekstuele samewerking en interaksie met die breë publiek. In die geval van Opperman is hy as betreklik jong offisier blootgestel aan die aard en wese van die strategiese konteks met sy aanstelling as persoonlike adjudant van die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag; dit sou later opgevolg word met ’n tydperk van diens as militêre sekretaris vir Magnus Malan as minister van verdediging. As bevelvoerder van Kommandement Noord-Transvaal en as hoofdirekteur: korporatiewe kommunikasie van die weermag het hy uitstekende ervaring opgedoen en kon hy die positiewe waarde van skakeling en interaksie met die breë publiek ontsluit.
In die laat 1980’s en vroeë 1990’s was Opperman ’n integrale deel van die ontsluiting van die weermag se algemene legitimiteit deur sy interaksie met die burgerlike samelewing. Dit staan in skrille kontras met byvoorbeeld die onlangse onbeholpe hantering van die ongevalle en lewensverlies in die Suid-Afrikaanse Weermag in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (2013) en die Demokratiese Republiek die Kongo (2024). In kort beteken dit dat weermagte, op die taktiese vlak waar situasies baie vloeibaar is en besluite vinnig geneem moet word, op militêre ervaring moet kan steun. Op die operasionele en strategiese vlakke is die sukses van weermagte egter nóú gekoppel aan die essensiële elemente van strategiese besluitneming. Dit vereis ’n algemene verstaan van universele strategiese geskiedenis en teorie, sowel as ’n dieogaande begrip van die besondere eise van die eietydse openbare, politieke en militêre konteks. In kort beteken dit dat ’n weermag te alle tye ingemessel is in die samelewing waarvan dit deel is; en dat die waarde wat ’n weermag uit hierdie omgewing kan put in terme van ondersteuning en materiële hulp, goed verstaan en bestuur moet word. As strategiese besluitneming voorts nie ondersteun word deur stafwerk wat grondig gedoen is nie, is dit gedoem tot mislukking. Dit is presies hierdie eienskappe wat uiteindelik ook Opperman se storie van sukses as uitvoerende hoofbeampte by die Voortrekkermonument en, later, by die Erfenisstigting en Navorsingstrust, onderlê het. Daarvan getuig die onderskeidings en erkennings wat deur verskeie gemeenskapsorganisasie aan hom toegeken is.
In die geheel gesien is dit ’n fyn geskrewe en weldeurdagte outobiografie van iemand wat die beste verteenwoordig wat in die weermag en samelewing in Suid-Afrika aan die orde was vanaf die vroeë 1960’s – vanaf ’n nederige en arm begin tot saakmakende besluitnemingsrolle in die Suid-Afrikaanse militêre en kultuuromgewings. In ’n sekere mate is die outobiografie ietwat “onderskryf” tot die mate dat die individu eksponensieel groter is as wat in die boek weerspieël word. Dit is waarskynlik ietwat van ’n weerspieëling van die aard van die individu; ook miskien van die diep gewortelde aard van die gereformeerde Afrikanerkultuur waar daar maar dikwels ’n versigtigheid is om dit wat gedoen word, of gedoen is, aan die groot klok te hang. Soos in die voorwoord van die boek aangedui word, word die opbrengste uit die verkoop van die boek in geheel ten behoewe van die Curamus Fonds vir Gestremde Militêre Veterane aangewend ter erkenning van hulle en hulle families se blywende opoffering in landsbelang.
*
Die boek kan direk by die skrywer bestel word, klik hier vir die e-posadres.



Kommentaar
Was 'n voorreg vir my om onder Genl Opperman te kon dien.
Eerstens te Sektor 70 in die Oos-Caprivi.
Later by die Ministrie van Verdediging.
'n Uitstekende mentor!