Lesersindruk: Na verre hawens deur Hennie van Deventer

  • 6

Titel: Na verre hawens
Skrywer: Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978192851818

Beskrywings van reise na verre lande en hawens het my van my kinderdae af bekoor. Ek was nog in die laerskool toe ek Daar ver oor die see deur “Tannie” op my moeder se boekrak ontdek en byna verslind het danksy ’n verbete nuuskierigheid en ’n honger wanderlust. “Tannie” was die skuilnaam van H van Heerden. Sy vertel van ’n reis per skip, byna ’n eeu gelede, van Kaapstad na Europa. Dié kosbare boek met foto’s is in 1929 deur Nasionale Pers uitgegee en word as Africana gereken.

My wanderlust is verder aangewakker deur vertellings van my oom wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog per skip van Durban af deur die Suezkanaal na Egipte en later Italië gevaar het … en na die oorlog veilig teruggekom het.

Sulke reisbeskrywings, veral per skip, is gewilde leesstof by hierdie leunstoelreisiger, en laat by my die ou kinderliedjie opduik: “Eine Seefahrt die ist lustig, eine Seefahrt, die ist schön, denn da kann man fremde Länder und noch manches andere sehn. Hol-la-hi, hol-la-ho…”

Hennie van Deventer se hoogs leesbare blogs oor verskeie reise wat oor sowat vyf dekades per skip onderneem is, het nou ’n boek geword; ’n boek wat geroep het om “te water gelaat” te word. Na verre hawens – sy jongste (en negentiende) boek – het pas by Naledi verskyn.

Toe seereise op luukse skepe langs die Suider-Afrikaanse kus alledaags begin word het, het ek ook vir my en my vrou op so ’n vaart van Durban na Maputo en verder met die Sinfonia bespreek, maar ons skip het nie gekom nie weens onvoorsiene siekte. My belangstelling in hierdie reise het nie afgeneem nie en ek het ontdek dat ’n mens op die internet kan gaan kyk waar die skepe hulle bevind. Probeer dit gerus. Tik byvoorbeeld “Where is the Sinfonia now?” op Google in en jy kry ’n blik op die wye oseaan en byvoorbeeld die skip se swembad uit ’n kamera hoog op die skip, of sien self hoe lyk die omgewing van so ’n skip waar dit in ’n hawe vasgemeer is.

Met die tik hiervan was die Sinfonia by Santorini in Griekeland en op die punt om na Split in Kroasië te vertrek.

Met nostalgie, en ook met humor, vertel Van Deventer van byna elke reis – met vaartuie oor die spektrum: van die klassieke en weelderige Queen Mary 2, van gesellige vakansieskepe, plesierbote, veerbote, rivierbote, jagte, skeertuie, motorbote; ook van doodgewone skuitjies. Maar kom ek deel ’n paar lusmakertjies met voornemende lesers:

  • Die Pendennis Castle, die kroonjuweel van die Union-Castle-vloot: Hierdie reis van Kaapstad na Durban in 1970 was die Van Deventers se nooiensvaart. Hy vertel met nostalgie en ook met humor van hierdie vaart. Maar tien jaar later is “ons skip” in ’n Taiwannese hawe afgetakel. Seker die lot van byna elke skip wat nie onder die golwe verdwyn nie. Gereduseer tot ’n hoop afvalmetaal. Stof tot stof, swierigheid tot skroot.
  • Die Sinfonia klink na die Van Deventers se gewildste skip waarmee ’n hele paar reise onderneem is – voordat die weelde-vaartuig middeldeur gesny is om ’n stuk skip so groot soos ’n woonstelgebou in te las! En weer die oseane aan te durf … Met hierdie skip het hulle ’n byna sentimentele verhouding opgebou.
  • Die Sinfonia-vaart met hul tweeling-kleinseuns, wat toe 5 jaar oud was, staan uit, en gee soveel plesier. Van Deventer skryf: “Die sorgvrye ure saam met die kinders op die dek sal dié oupa vir niks verruil nie”. En verder: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ’n wenkombinasie. Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ’n salige plek is om op te vertoe.”
  • Die reis van 22 dae op die Queen Mary 2 – van Kaapstad oor Durban, Mauritius, Fremantle en Melbourne na Sydney – was onvergeetlik en ’n groot deel van die boek handel oor wat op so ’n droomvaart op jou wag. ’n Pluspunt van hierdie boek is dat die skrywer nie net van al die voortreflike dinge op die skip vertel nie, maar waar moontlik ook uitbrei oor die besienswaardighede van die “verre hawens” waar die skip aandoen. ’n Reis op die ontsagwekkende Queen Mary 2 word ’n voyage en nie ’n cruise nie genoem. Mindere skepe, selfs groter as die Queen Mary 2, is vakansieskepe, nie ocean liners nie.
  • Twee ander lang reise waarvan Van Deventer vertel is dié met die Opera langs die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar en die Middellandse See na Malta (’n besondere ervaring wat gelees moet word) en toe verby Griekeland na hawens langs die mooie Adriatiese See tot by Venesië. Later volg die vaart wat hy hul laaste seereis noem met die Musica van Durban na Venesië oor Reunion, Mauritius, die Seychelle, Aqaba (deur waters met die risiko van seerowery), Katakolo in Griekeland, Montenegro en Split in Kroasië. Die vaart deur die Suezkanaal met woestyn aan weerskante was dalk die aanloklikste hoogtepunt. Die hoofstuk oor die vaart deur die Suezkanaal is self ’n uiters insiggewende deel van die boek.
  • Waardevolle raad en wenke aan toekomstige seevaarders word in hierdie boek gegee. Onthou, dit is ’n gesoute seereisiger wat aan die woord is. Na al die seereise en ervarings kan Van Deventer met gesag praat oor die vereistes wat aan liggaam en gees gestel word, fiksheid, gesondheid, gerief, vasbyt in versoekings van oorvloedige kos en lekkernye, privaatheid, versterking van gesinsbande, begroting vir ’n reis, ens.

Hierdie gesellige lekkerleesboek word gekenmerk deur Van Deventer se vloeiende skryfstyl, fyn waarnemings en beskrywings, soos verwag kan word van ’n joernalis met ’n leeftyd van skryf agter hom. Geniet ook die humor, soms op homself gerig. Net jammer dat die boek nie meer foto’s bevat nie.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Hennie van Deventer

    Kollega Sarel Venter kan die "vader" van hierdie boek genoem word. Sy meelewing met o.m. die vaart op die QM 2 via Fremantle en Melbourne tot in Sydney was verstommend. Soms het hy my, wat op die skip was, stof in die oe geskop met inligting (as stof in die oe skop 'n geldige beeld is vir 'n avontuur op die water.) Hy is ook die een wat my uit Bloemfontein (ja, uit Bloemfontein!) laat weet het van die "Klein Kwientjie" se tandemreis met die Sinfonia na Walvisbaai in 2017 waarvan ek in hoofstuk 19 vertel. Jinne, Sarel, hoe stel ek jou vriendelike saamgesels nie op prys nie. Wens so ek kon iewers 'n anker loswikkel dat jou skip nou ook kan kom.

  • Avatar
    Herman le Roux

    Agttien keer al het Hennie van Deventer dalk gedink dit is sy laaste boek. Maar nou is daar 'n negentiende een - en weer eens 'n treffer. En geen ander resensent kan die boek beter beskryf as Sarel Venter nie. Wat 'n voorreg om te vertel dat ek saam met hierdie twee kollegas by Die Volksblad gewerk het.

  • Avatar
    sarel ventert

    Vader van die boek? Dalk eerder die vroedvrou (of vroedman)? Ja, ons tweede kleinseun is in Cambridge deur 'n vroedman in die lewe gehelp. Die skrywer van die boek het die kraamwerk gedoen.

  • Avatar
    Pierre le Roux

    Hoe later, hoe kwater!! Ek het die boek baie geniet. Enigeen wat in reis belangstel, sal Hennie se goeie vertelling in keurige taal geniet. Ons wonder wat volgende uit sy spreekwoordelike pen gebore sal word.

  • Avatar
    Chris van Rensburg

    Dis duidelik dat Hennie omtrent 48 jaar aan hierdie boek moes geskryf het. Geen mens kan so baie detail oor reise onthou nie. Elke soort kaas, wyn en ander smulgeregte word by die naam genoem. Elke straatjie, kafeetjie en eiland in watter oseaan word presies beskryf. Die joernalis in hom identifiseer die interessante aspekte van die reis en hy bring dit in verband met ander gebeure van die tyd. Hennie se gemaklike skryfstyl maak jou lus om verder te lees.

  • Avatar
    Hennie van Deventer

    "Tokkie, wat is die naam van daardie lekker kaas nou weer wat ons in daai oulike straatkafeetjie in Montenegro - was mos Montenegro, nie waar nie, of was dit dalk Split of Dubrovnik? - saam met ons croissante vir brekfis ge-eet het?"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top