Lesersindruk: Ligsloper deur Berdéhan Brand

  • 7

Ligsloper
Berdéhan Brand

Uitgewer: Cordis Trust
ISBN: 9780639959856

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek het Berdéhan Brand se digbundel, Ligsloper, pas vir die tweede maal gelees. En, net soos met die vorige lees, moes ek telkens die boek neersit en reflekteer oor wat ek as treffende woordkuns ervaar het. Ek is verstom dat hierdie vaardige woordsmid so onder die spreekwoordelike radar vlieg, want sy werk kan met gemak skouers skuur met dié van ons groot digters.

Brand het ’n instinktiewe aanvoeling vir hoe om die taal in poëtiese vorm in te span. Sy poësie het siel en balans. Dit is nie bloot ’n rangskikking van woorde waardeur die leser moet wroeg ten einde dit te probeer verstaan nie. Dit is ook nie spookasem wat vir ’n opwelling van vlietende emosie sorg nie. Dit is pitkos. Vaste spys. En vir my, ’n liefhebber (hoewel geensins ’n kenner nie) van poësie, is elke gedig soos ’n blokkie goeie donker sjokolade wat ek tydsaam proe en geniet. Elke gedig is universeel van toepassing op die mens en die lewenspad wat vir hom of haar gebaken is. Dit is duidelik dat die skrywer nie net diep en ongebreidel in sy eie psige delf nie. Hy sien ook met méér as sy oë wanneer hy na buite (en na ander) kyk.

Ligsloper, ’n Cordis Trust-publikasie, is in sewe temas verdeel, nl “Sneller”, “In transito”, “Siklus”, “Die blou vlam”, “Vuur”, “Verbranding” en “As”. Die sewe is dan ook numeries verteenwoordigend in die bundel, in die sin dat dit die begin, einde en voltrekking simboliseer. Die voorblad is ’n strak swart agtergrond waarop ’n sirkel (wat moontlik op voltooiing of bloot herhaling dui) in vlamkleure brand, soos ’n krabbeling wat ingedagte gebeur. Die lyne is nie perfek nie, wat dalk wys dat die hand agter die pen emosioneel ontwrig was. Lig word gesloop en gereduseer tot stikdonkerte. Of pols lig onuitdoofbaar, hardnekkig en ten spyte van die duisternis, wel oorwinnend en helder? Dit is juis hierdie moontlikhede tot interpretasie wat van Brand se gedigte iets besonders maak.

Volgens Brand skryf hy nie vir die breë lesersmark nie. Hy skryf wat hy ervaar en soos wat hy wil, ook buite die reëls en norme van wat glo mag en nié mag nie. Sy werk is hoofsaaklik geskoei op die narratief en vrye versvorm. Hy laat sy kreatiwiteit nie inperk deur die verwagtinge en vooropgestelde idees van ander nie. Hy verduidelik graag: “Die mens self fassineer my. Ek glo dat ek ’n fyn waarnemer is, nie net van ander nie, maar ook van myself – en dít verwoord ek graag.” Hy vervolg: “Ek het probeer om so eerlik as moontlik te wees om dit wat ek ervaar en waarneem, so getrou as moontlik weer te gee.” Hy gaan van die veronderstelling uit dat “woorde wat nie geleef is nie, kan nie geskryf word nie” (p. 2) en “net party leef hul poësie – die res sterf anoniem” (p. 5).

In “Sneller” staan besinning oor die doel van die lewe sentraal. Brand verwoord deur agt gedigte die universele digter (en dus ook sy eie) se ervaring oor wat dan die sin van en moontlik rede agter alles is. Hy mymer daaroor of ’n mens werklik ’n merk (hopelik uniek) kan nalaat, en of alles nie maar net ’n gejaag na wind is nie. Is die lewe dan net die gehoorsame naloop van dit wat was en wat van jou verwag word? En wanneer jy wel dúrf rebelleer, maak jou geskop teen die prikkels enigsins saak? Of is jou momentele gespartel iewers in die eenrigtingstroom so onnoemenswaardig soos ’n forel se blink rugvin wat die oppervlak slegs vlietend breek voordat dit weer afduik na die veilige, eentonige dieptes? In “Konvensies” skryf hy: “Ek haat die grense van eksakte konstruksie / (en geyktheid in dié konteks) / en vind dit onmoontlik om so vormloos (soos beweer) / oud te word en in dié konvensies dood te gaan – / nietemin; / waar lê dié nood?” en dan vra hy in retrospek, “(Het ek wérklik afgewyk?). Die laaste strofe van In Absentia lui só: “ons word grou / verbete reisigers / in absentia”.  

In die daaropvolgende tema, “In transito”, oordink Brand in agtien gedigte die mens se geneigdheid om eerder die kaalte van ander te eien as om binnetoe te kyk vir die eie – die tipiese ontoereikende verdoeseling van die self, met vyeblare wat weldra ook maar verskrompel. Hierdie oomblikke van bewuswording is altyd vlugtig, soms skugter, maar meestal die ongemaklike wegkyk van die beeld in die spieël. Tog, eerder as verdoeming en dalk verwagte vingerwys, verras Brand (moontlik onbewustelik) die leser met ’n vertedering byna, ’n gelate begrip dat in weerloosheid jy berge moet op én af op ’n pad wat nie altyd gekose of regverdig is nie. En tussen die lyne skuil ’n titsel nostalgie, selfs verlange. Ook die onuitgespreekte wens na wat kon of kan ás ... Wat is lewensreisigers immers sonder saamlopers, gewens al dan nie? Dit is tog wat ons buitelyne in die hier en nou trek. Maar, wat as die onthou parasities wurg, die berg onklimbaar raak, die skaduwees jou pootjie? In “Falsetto” dig Brand: “My ouma se traak-my-nie-agtige hande / is ’n gemmerkelk geborrie / op die jig van haar boggelrak / as die middagson oor haar rankie buig / en bid oor die son, / of ten minste / die kroon / van haar enkele immergroen parasiet.”

Die tema “Siklus” bevat een-en-twintig gedigte. Hierin takel Brand kaalvuis die vernietigende verloop van die lewe wat ’n mens telkemale in smart dompel. Ons reis nie net bedags nie en loop dus nie net in die lig nie. Mardene Marais, dogter van Fanie Marais (die stigter van Cordis Trust wat Ligsloper uitgee), is in 1989 op 21-jarige ouderdom dood in haar koshuiskamer aangetref. Sy het, volgens ’n artikel in Beeld van 5 Maart 2015, aan ’n oordosis antidepressante beswyk. Mardene se verhaal het ’n groot invloed op die tema van hierdie hoofstuk in Brand se bundel gehad. Hy eksploreer die karwatse waarmee geseling plaasvind (deur die self en ander toegedien) en ook die dieptes waarheen gevlug of gedaal word. Ook die verstikkende swart vakuum van donker slik wat terughou en aftrek. Tussendeur dit alles speel die mens die lewe met die nodige rekwisiete as verweer om agter te skuil. Hy dig in “Metzgerhund”: “Die swart hermafrodiet is ’n aweregse parasiet / wat die lig uit die son se strot uit hap / en met donker beelde / woorde in gebede reïnkarneer.”

“Die blou vlam” se negentien gedigte dui op loutering en herbesinning deur (of as gevolg van) die uiteindelike bevraagtekening van teenstrydighede. Dit is ook ’n gesprek met God, die uitreik na Iets of Iemand buiten die self. Dis hier waar die mens sy eie naaktheid begin vermoed en erken. Saam met hierdie gewaarwording kom die wete dat alles verganklik is. Wroeging, hoe noemenswaardig en onafwendbaar ook al, is niks meer of minder as ’n kortstondige stamp op ’n hobbelpad nie. Daar is geen afdraaie nie. Jou pad is jou pad. Jy kruip dit as dit moet. (Moet net nie vergeet om rond te kyk nie. Dit gaan oor meer as die eindpunt. Dit gaan oor die reis tot daar.) Dinge gebeur ook nie nie net met jóú nie, jý gebeur ook met ander. Daarmee saam kom die skuldbelyding, die boetedoening. Ek bespeur ook ontnugtering verweef in die versigtig gekose woorde van dié gedigte. Ook die herhaaldelike terugkeer na die begin (lees pa en ma / kinderjare) om dáár antwoorde te probeer vind. In “Koord” dig Brand: “Die dag toe ek Hom gevra het / om my skoon te was / het Hy my aan my voete opgetel / en die halfmens in een bondel / onderstebo op die grond / soos ’n vullissak uitgeskud.”

Die vyfde tema is getiteld “Vuur” en word omskryf in dertien gedigte. Hier is die leser vry om die inhoud self te interpreteer. Dit lees byna soos mymeringe wat in ’n joernaal gepen is. Die digter deel hier sy gedagtewêreld om substansiële stof tot nadenke aan die leser wat dieper kyk, te bied. Die besinning lê egter nooit gemaklik in die leser se skoot nie; dis eerder ’n klip in die skoen of ’n vuur wat hitsige vonke skiet waarvoor jy moet koes. In hierdie bakkersdosyn gedigte tree die huis en haard sterk na vore. Die skynbaar alledaagse dinge en maniere dra die illusie van normaliteit en ewewig. Maar doen dit regtig? Veral as die werklike eerder te vinde is binne-in jouself, want die “regte” wêreld met al sy kranige voorgee is die kern van jou seer. Brand dig in “Bidsprinkaan” só: “Die jare het laasnag soos ’n vuurbal rondgerol / dag, nag, dag, nag / en die oggendson se eerste tepel / het kom nesmaak in die halm van ’n blaasbalk – / die vlamme het nog vlak skootlangs gelê / en skroei / soos ’n koringland wat afgeoes is.”

Die voorlaaste tema is “Verbranding” en beslaan twaalf gedigte. Hier sluip ontnugtering en sinisme in en word daar opnuut teen die prikkels geskop. Aanvaarding wat dalk binne bereik was, glip vir eers deur kragtelose (of is dit willose?) vingers. Vrees en selfs die vakuum van gevoelloosheid wissel af met periodes van stilte en dan weer uitbranding. Dit omsluit moontlik die behoefte na selfvernietiging/selfstraf en/of die drang om ander te máák ervaar en verstaan waardeur jý leef. Altyd deur is daar die besef van hoe nietig alles is. Dis asof die digter dit hier aan die leser wil tuisbring dat die mens gedúrig feilbaar is. Selfs in jou uiteindelike opstaan kan jou knieë nog swik. Ten spyte van alles wil jy onthou word en nie net in die niet verdwyn nie. Brand skryf in “Dood” die volgende: “Dit klink sinister / maar die dag as ek doodgaan / wil ek soos die maan oopbreek, / en my laaste mensebloed oor jou uitgooi, / tót jy die bleekwit van jou gelaat / in jou eie weerkaatsing sien.”

Die laaste tema is “As”. Dit beslaan agt gedigte waarin die gevolge van alles lê. Altyd maar is daar die stryd as gevolg van die voortdurende aanklag van die gewete en die onthou. Deur alles heen kom verwydering, skeiding en smaad. Dan die aftakeling wat ervaar (en verwelkom?) word as straf. Futiliteit, die wete dat alles in der waarheid wel tot niks gekom het nie, talm in die bewusssyn van die digter wat tog ’n greep behou op verwagting. Die leser besef dat sommige verledes nie bloot geleef is nie, maar noodwendig oorleef moes word. Dat dit soos die reuk van koue as aan jou vel bly kleef, lank nadat die laaste kooltjie uitgedoof is. Brand se “Skulp”, die tweede laaste gedig in die bundel, laat my dink aan Jesus wat met sy vinger op die grond skryf toe die owerspelige vrou na Hom gebring word. “Ek het met hoogwater / ’n paar woorde in ’n skulp gefluister / en in die branders terug na jou gepos, / want jy sál eendag / die see se uitgespoelde graffiti / in die broosgebreekte alikreukel lees.” Dit kom as ’n balm ná hierdie gedig:

Roet

Ek het jou opslag liefgehad tot die dood toe –

toe ek jou hande in die rooikrans se net
vasgetoom en geknoop het
om die brandhout se vlam,
en jou as gegooi het
in die vroegreuk van my huis se antrasiet.

Selfs toe,
dáár,
diep in die gryskool van my huis se gloed

het ek gesweer –
jy sterf anoniem.

Dit het my opgeval hoe funksioneel Brand die natuur en hemelliggame inspan in sy digkuns. Sy liefde vir die see kom duidelik na vore. Ook sy verhouding met God. Hy dig in “Duinspoor in Gansbaai” só: “Dit is hier by Haaiklip / waar my gebede soos fynskulp / op die seesand lê / waar ek snags na die sterre kyk, / beloftes maak / en nog kan bid.” En in “Tyd”: “En al was die Karoo sy asem / lê dit nou nog seelangs tussen bamboes en seekastaiings / waar ons altyd saam was: / Witsand, Gansbaai, Paternoster / en die vloer van my bors / as hy soos ’n albatros teen my vlerk gebid het – / voel nou kaal, genadeloos afgeleë. ”

Die bundel is nie foutloos nie. ’n Kenner mag kritiek lewer ten opsigte van die tegniese aspekte van digkuns en teks. Vir my lê die genieting van die bundel daarin dat, elke keer as ek een van Brand se gedigte lees, ek dit op ’n ander manier ervaar. Ek tob oor sy werk en wonder of ek regtig die volle omvang daarvan begryp. Heeltyd dink ek daar is iets meer, iets ondefinieerbaar wat bly wink. En dui dít nie juis op geslaagde poësie nie?Wanneer ’n gedig soveel moontlikhede ontsluit dat jy dit telkemale lees om net wéér te proe?

Brand se poësie behoort baie wyer gelees en waardeer te word.

Meer oor die digter:

Berdéhan Brand is ’n vryskutskrywer, digter en redigeerder van Tulbagh. Hy het grootgeword in Hertzogville en het studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en UNISA. Sy inspirasie vind hy by Blousloep op Franskraal en ook in die ongerepte natuurskoon van Gansbaai en omgewing. Sy gedigte is al in verskeie bundels opgeneem. Hy debuteer met Ghoen in 2017 en is ook medesaamsteller van Pasga van ’n kloutervoël.

Belangstellendes kan Brand kontak by abr@breedenet.com indien hulle ’n kopie van Ligsloper wil bekom. 

  • Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer van Jeffreysbaai.

  • 7

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Dankie Louise vir die nuttige bespreking van “Ligsloper” en die breër bekendstelling van die merkwaardige skrywer Berdéhan Brand.
    Ons (lesers en skrywers) kyk óp na die veel gekringde stamme van plantasies bome, waar hoog, hulle gedigte ons uitdaag om digter te groei as skrywers. Jaarringe vorm in ligkringe en ontwikkel ons moontlik selfs verby ons eie klein kring.
    Dankie Berdehan, vir jou volgehoue hulp en raad aan opkomende skrywers en alles wat jy beteken vir die Afrikaanse skryfkuns.

  • Berdéhan Brand se wroeging om en geloof in bevryding is myns insiens die grondtoon van alles wat hy is en skryf. Hy haal asem deur die vlies van skeiding tussen hunkering en vervulling – hortend, raak helend en helder vir dié wat die stemvurk instel: nie net op die vibrasie van sielsmusiek nie, maar op die herkenbare reëlmaat van die pendulum wat swaai van tyd tot tydloosheid. Dit is hierdie suiwer egtheid wat tot my as sielsgenoot spreek, verby subjektiwiteit en beperkings. Baie dankie, Louise Viljoen, vir die plaas van die balklyne en sleutels, wat hierdie aangrypende note allesomvattend laat sing tot ’n glissando van duister na lig.
    Baie geluk aan Cordis Trust Publikasies met nog ’n uitsonderlike aanbieding en aan die digter, Berdéhan Brand, met sy komposisie uit skadulig en as – tot vlam.

  • Francis Grobler

    Selfs al skryf ek vandag ’n uitgebreide hoofstuk oor iets wat my in elke hoek van my psige laat in steier, sou dit steeds té lomp wees vir praat of skryf. Dus mompel ek nou maar iets met ’n mond vol beperkings.
    Ek wens ek kon oor die Bybel skryf soos oor “Ligsloper”. Ja, “Ligsloper”. ’n Digbundel waarvan die takke só ontsettend gestroop is van pretensie en tog so swaar buig onder die vrug van ’n geweldige inhoud, asof die skryfhand van Berdéhan Brand verse pleeg vanuit ’n plek wat volledig saak maak!
    Ek lees dit (nee wag, ek téúg dit) en iets voel soos oortreding. Ek is reeds kaalvoet. As ek sandale aangehad het sou ek dit uittrek omdat die grond ánders voel hier.
    Ek lees goed soos “saans die donker om sy duim rol”; “sy glimlag uit haar bos geplukte raap en skraap”; “haar droogte weer laat grootdoop”. Dit hou nie op nie – word net voller. Die aanhalings van groot geeste is fyngekose besinnings. Gepas. Kliphard.
    Vir iemand wat net woorde ken en konstant daarin bloei, wórd “Ligsloper” meer as ’n digbundel. Dit word ink wat vasval in jou psige. In mý psige.
    My tong wil nie regtig saamspeel met praat vandag nie, want iets wat so laag voor woordkuns moet en wil buig sukkel in sy sit.
    Berdéhan Brand! Ek hys jou hoog vandag! My eerbied vir jou ink is enorm! Bliksem!
    “Ligsloper” lê op my bedkassie langs “The Prophet” van Kahlil Gibran en The Amplified Bible.
    Ek wonder “hoeveel van ons bly in mekaar agter?”

  • Louise Viljoen

    Baie dankie aan Margaret, Estelle, Myra, Frances en Celize vir julle positiewe kommentare. Groot waardering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top