
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Ék is sý
Outeur: Natalie le Roux
Uitgewer: Naledi Publishing
ISBN: 9781997476603
’n Mens lees hierdie boek met handskoene aan, en met ’n versigtige hart. Wanneer jy die bladsye van Ék is sý omblaai, stap jy nie net bloot in ’n storie nie. Hierdie verhaal is broos, iemand se lewe.
Tydens 'n onderhoud in die potgooi Abiding over coffee vertel Natalie: "Ek was tot op vyfjarige ouderdom ’n kaalvoet warrelwindkind. ’n Klein dogtertjie wat gedurig gesing het met ’n spuitbotteltjie as mikrofoon."
Die tuin was haar veilige hawe.
Agter dié onskuldige kinderjare skuil ’n werklikheid wat geen kind ooit behoort te beleef nie. Molestering deur mense wat haar moes beskerm het, het haar wêreld onherroeplik verander. So groot was die trauma dat sy selfs ’n denkbeeldige maatjie, Zelda, geskep het om die ondraaglike deel van haar kinderlewe te help dra.
Die soeke na liefde en aanvaarding neem haar later op ’n pad van seksuele uitbuiting, los verhoudings, rook, drank, aborsies en selfs ’n lewe in ’n plakkerskamp. Sy het op soveel maniere die leemte probeer vul wat deur ’n gebrek aan liefde en veiligheid gelaat is.
Uiteindelik reik Natalie uit na God. Sy vertel van besondere, mooi oomblikke saam met Hom, maar maak dit duidelik dat Christenskap nie ’n walk in the park is nie. Met eerlike introspeksie spaar sy haarself nie en erken sy ook hoe moeilik dit soms is om haar eie waarde in God se oë te aanvaar.
Een aspek wat my besonderlik getref het, is haar verwysing na wanopvattings rondom geestesgesondheid. Sy het geglo dat die gebruik van antidepressante sonde is, maar het mettertyd besef dat God ook medikasie kan gebruik om mense te help. God het mense immers die kennis en vermoë gegee om ander deur mediese behandeling en hulpmiddels by te staan. Dit is nie ’n gebrek aan geloof om hulp te aanvaar nie: “Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Maar moenie tent opslaan in die vallei nie. Trek deur die vallei.”
Vandag is Natalie ’n gelukkig getroude ma wat ander motiveer en versorg. Haar pad het haar gebring na mense wat self seer het en hulp nodig het.
Ék is sý is ’n getuienis van genade. Dit het my herinner om versigtig met ander se verhale om te gaan. Om nie te vra waarom iemand nie anders gekies het nie, want ons was nie in haar skoene nie.
Natalie beweeg moeiteloos tussen verskillende tydgleuwe om die leser deel te maak van haar lewensreis. Dit is my wens dat hierdie boek gelees sal word, om soveel redes. Dalk net om dankie te sê as jy in 'n liefdevolle huis grootgemaak is. Maar ook vir ouers – dat jou kind jou liefde in oormaat sal ervaar, dat jy en jou kind 'n oop-gesprek-verhouding sal hê. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense.
Ék is sý maak jou stil, laat jou nadink, en herinner jou opnuut dat genade selfs in die diepste vallei teenwoordig is.


