Lesersindruk: Die agste dag deur Ockie Strydom

  • 1

Die agste dag 
Ockie Strydom

Uitgewer: Rosslyn-Pers
ISBN 9780994700865

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Poësie is tydloos en universeel. As poësie uit ’n mediese verwysingsraamwerk geskryf word, bestaan die waarskynlikheid dat die leser vanuit die geneesheer se denkwêreld dié realiteit in ’n ander dimensie kan betree. Die werklikheid van die COVID-19-pandemie het my aandag op hierdie bundel gevestig, nie omdat die pandemie as sulks daarin aangeroer word nie, maar omdat die verlies van vryheid en ook menslike verlies blatant en sonder huiwering aangespreek word.

Op die titelblad beeld ’n skildery van Johan du Plooy ’n variasie van Rembrandt se bekende skildery Het feestmaal van Belsazar (1635) uit. Die sentrale karakter in die skildery is Strydom self.

In die programgedig, "Agste dag", verwys die digter tong in die kies na "Genesis 1 vers 2", wat die sentrale tema en die "agste dag" simboliseer en dan die bundel so as ’n eenheid aanbied.

Toe maak jy van my ’n pronkduif
skouperd par excellence
vir ’n wyle en ’n bietjie lank het jy
my aarde en son vir 15 grade
binne jou poorte laat vertoef;
dit was óns genesis, óns skepping,
ons eie paradys.

Die agste dag. (1)

Strydom se aanvanklike fokus laat die leser besin oor lewe en dood, lig en donker en dan ook die spiritualistiese middeweg wat die verse anker. ’n Sterk psigoanalitiese en filosofiese benadering kom ook na vore in verse soos  "Asásel" (32), "Ashvatta" (34), "Bermuda begraafplaas" (37), "Binnemens" (41) en "Blinde van Jerigo" (42) waar indringende vrae gevra en  ondersoek word, maar die leser gelaat word om self gevolgtrekkings te maak.

In die skreiende gedig "Blok my vry" (44) sluit Strydom weer aan by die titel en die motief, die agste dag, wat ’n paradoks van vryheid en ongebondenheid blyk te wees:

Sou die fynkak van duiwe
jou oë wou gom,
jou voete gestol in
gewapende beton
wou vlug van witverf en groen
dan breek daar branders
vreesloos aan die Skedelkus
en stamp koppe teen dolosse
sonder naam, gewete of geheue.

Koper, brons en kil beton
huil saam oor voetpaaie
van wees en word

Dit was aand en dit was môre
die agste dag.

En monumente het gehuil.

Strydom stel die lesers ook bloot aan terreur, onder andere die Tsjernobil-katastrofe in 1986 toe kragsentrales onklaar geraak het en bestraling oor groot areas gesaai het (56).  Hy dig oor inisiasiepraktyke wat skeefloop (106), Downsindroom (127) en anti-retrovirale middels in "En route 2 kwadraat" (96).

Hoewel van die gedigte tegniese en mediese terme bevat, is dit tog toeganklik vir die leser.   Voetnotas lei tot verheldering.

Ian Raper, wat die agterplatteks geskryf het, beweer met reg dat Strydom se oeuvre onbeperk is in die sin dat hy veelsydigheid is. Die digter het ’n wye algemene kennis en pas dit dan ook so in sy skryfwerk toe. 

Die agste dag weerspieël veral die denke van ‘n mediese praktisyn wat daagliks gekonfronteer word met noodgevalle, slagoffers van misdaad, repressie, depressie, selfdood en die dood.

In "Dood, jou bliksem" (79) en "Finaal" (101) word die agste dag gestroop van enige sin, en die werklikheid soos ons dit nou ervaar, word ’n realiteit:

Al onthou jy, weet jy van, of ken jy hom nie
het die virus hom kom haal,
die een wat jy weet
die CD4-telling
bepaal.

Finaal (101)

Meer oor die digter

Ockie Strydom is ’n algemene praktisyn in die Langkloof. Hy het in 2013 met Na-ure skalpel en Druppels rooi gedebuteer. Van sy ander werke is in ’n verskeidenheid versamelbundels opgeneem.

Die bundel is as e-boek by Amazon beskikbaar. ’n Kopie kan ook by [email protected] bestel word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top