Betsie, Meneer Tier en die bloumaan
Skrywer: Sally Gardner
Vertaler: Jaco Jacobs
Illustreerder: Nick Maland
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799391121
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Die avonture van Betsie en Meneer Tier was wonderlik om oor te lees. As ’n redelik ervare leser sou ek nooit dink dit is ’n vertaalde werk nie. Die verbeeldingswêreld word deurgaans geloofwaardig onderhou en is nie beperk tot ’n enkele taalwêreld nie.
Virginia Woolf skryf in A room of one’s own oor iets belangrik wat hierdie kinderboek na ’n jonger gehoor op ’n unieke manier bring: "Lock up your libraries if you like; but there is no gate, no lock, no bolt that you can set upon the freedom of my mind" (Woolf 1945:88).
Hierdie sentiment is besonder nodig in die grendeltyd wat ons tans beleef. Betsie, Meneer Tier en die blou maan wys vir ons daar is geen perke aan die verbeelding en die plekke waarheen dit jou kan neem nie.
Skrywer en agtergrond
Die boek is vertaal deur Jaco Jacobs, wat ’n kinderboekskrywer uit eie reg is en reeds baie tekste vertaal het. Gaan loer op sy webtuiste vir ’n hoop lekker dinge oor sy boeke: https://www.jacojacobs.co.za/jacojacobs.co.za/TUIS.html.
Die Engelse skrywer Sally Gardner het na die geboorte van haar kinders begin om prenteboeke te illustreer en word beskryf as "an idiosyncratic genius" deur die London Sunday Times. Sy het reeds verskeie suksesvolle kinderboeke geskryf, waaronder die volgende titels: Maggot Moon (2012), Tinder (2013), Invisible in a bright light (2019), asook reekse soos Magical children (1999–2006) en Fairy Detective Agency: Wings & Co (2012–2016). Sy het ook die Carnegie-medalje in 2013 ontvang en die Costa Children's Book Award vir beste roman in 2012. Besoek gerus ook haar webtuiste, https://www.sallygardner.co.uk.
Betsie, Meneer Tier en die blou maan (2019) is die eerste van drie boeke van ’n reeks wat beplan word. Die daaropvolgende verhale, Mr Tiger, Betsy and the Sea dragon (2020) en Mr Tiger, Betsy and the Golden Seahorse (2020), word in 2020 verwag. Hopelik kan ons hulle ook in Afrikaans lees.
Betsie en haar pa, Mnr Alfonso Glorie, woon op ’n "eiland wat jy nêrens op die wêreldkaart sal kry nie" (bl 17). Maar alle opwindende dinge in hierdie storie gebeur op Woensdae en Meneer Tier se sirkus is een van hierdie opwindende gebeure. Dié avontuur begin alles met ’n padda wat eintlik ’n prinses is, maar waar die blou maan in die storie inkom, sal jy self moet lees.
Hierdie boek herinner sterk aan Where the wild things are (Sendak 1963), maar die storie het meer besonderhede en die hoofkarakter is ’n dogtertjie. Betsie se pa maak roomys wat smaak na wense en haar ma is ’n meermin. En dan kom Meneer Tier met sy sirkus kuier. Saam reis hierdie eiesoortige geselskap na Goebelsgopseiland waar Prinses Olga ’n skrikbewind voer onder die Goebelgopsers.
Die reis na Goebelgopseiland saam met Meneer Tier kan as ’n reis na die onbewuste beskou word.
’n Reis na die onbewuste
Die rol wat die see in die verhaal speel, betrek op ooglopende wyse die psigoanalise, spesifiek die teorieë en konsepte van Carl Jung. ’n Reis oor die see beklemtoon die belangrikheid van die see as ’n verteenwoordiger van die onbewuste. Hierdie verhaal kom metafories direk uit die onbewuste aangestap na die leser toe.
Die boek is wel op ’n leser van tussen 9 en 12 jaar gemik, maar tree beslis in gesprek met Where the wild things are (Sendak 1963), al is Maurice Sendak se verhaal ’n prenteboek vir veel jonger kinders. ’n Jungiaanse beskouing van die karakters in beide Where the wild things are (1963) en Betsie, Meneer Tier en die blou maan (2019) kan as vergestaltings of personifikasies beskou word van verskillende dele van die onbewuste of argetipes soos Jung dit definieer. Die karakters word geïdentifiseer deur hul prominentste karaktereienskappe en funksioneer as argetipes in die verhaal.
Meneer Tier is nie die hoofkarakter nie, maar speel ’n belangrike rol – sy naam is nie verniet in die titel nie. Hy is moontlik ’n vergestalting van wensvervulling en funksioneer as ’n katalisator. Sy sirkus verskyn oornag in die hawe en sonder sy besoek aan Alfonso, Betsie se pa se kafee, was daar nie ’n storie nie. Meneer Tier daag juis op wanneer sy hulp benodig word. Hy kan allerhande wonderlike dinge doen en weet dinge: "Katte het hul geheime, hulle snorbaarde en hulle sterte en hulle stories" (50). Meneer Tier het toweroplossings vir ongewone probleme – hier word die grense tussen die werklikheid en verbeelding verbloem. Meneer Tier herinner ook aan Mr Willy Wonka in Charlie and the chocolate factory (Dahl 1964). Jy weet nie wat om te glo nie, wat is waar en wat is versinsel nie. Hierdie karakter kan net alles regmaak en het ’n oplossing vir alles.
Betsie se ma, ’n meermin, en pa wat ’n man van vele praktiese talente is, verteenwoordig moontlik die verskille en ideale kwaliteite van ouers. ’n Pa wie se roomys alles kan beter maak, want dit "smaak soos wense" (10). ’n Ma wat die wonder in alles raaksien en jou verbeelding koester. Hierdie verhaal is beslis ’n wonderlike leesreis na die verbeeldingswêreld. Wanneer die drumpel na die onwerklike en verbeelde oorgesteek word, is dit amper onsigbaar en die leser kom dit nie eers agter nie.
Karakters
Van die ander karakters wat na vore tree as argetipes, is Prinses Olga en Iwan die Versigtige, of is dit die Dappere?
Prinses Olga is ’n interessante antagonis. Sy is ’n reus, vertrap en bedreig die Goebelgopsers se bestaan, want sy is so groot soos Meneer Tier met sy pluiskeil en nog een Goebelpgopser. Die Goebelgopsers was so bang en moedeloos dat hulle eerder in Meneer Tier se sirkus gaan werk het om van haar weg te kom. Sy kom ook voor as ’n bederfde kind, al is sy ’n volwassene. Sy gee nie om vir enigiemand anders nie en vertrap die arme Goebelgopsers se huise. Prinses Olga se karakter lewer moontlik kommentaar op die irrasionele, en negatiewe emosies wat in die onbewuste kan skuil.
Ons ontmoet dan vir Iwan die Versigtige wanneer die reisgeselskap aankom op die Goebelgopseiland waar die Goebelgopsers vandaan kom. Hy woon bo-op die berg van Nimmereindigende Mis. Hy is ’n reus en woon juis daar bo op die berg omdat hy bang is hy maak die Goebelgopsers seer. Hy is net mooi die teenoorgestelde van Prinses Olga. Hy verteenwoordig moontlik die vrees en morele aspekte van die onbewuste. Hy skuil tot ’n mate van sy vrese en hy is verslons. Sy naam verander tog later na Iwan die Dappere, maar julle sal die storie self moet lees om uit te vind hoekom sy naam verander.
Dit is uiteindelik Iwan die Dappere wat vir Prinses Olga ’n les leer en die oorwinning beteken dat die Goebelgopsers kan terugkeer na hul tuiste. Prinses Aldi is dan ook nie meer ’n padda nie.
Die oorwinning van die antagonis (Prinses Olga) kan beskou word as ’n oorwinning van die bose of vrees, maar ook as ’n oorwinning oor negatiewe komponente van die onbewuste. Veral omdat Betsie, Meneer Tier, Alfonso, Mila en die Goebelgopser-akrobate oor die see reis na ’n eiland wat nie werklik bestaan nie – die boek verklaar dit self so – ’n "eiland wat jy nêrens op die wêreldkaart sal kry nie" (17).
In hierdie tyd van inperking is ’n reis na die binnewêreld, die onbewuste en droomland dalk nie te versmaai nie. Ons word ingeperk en mag slegs die winkel, die dokter, die apteek en ander essensiële plekke besoek. Hierdie boek kan dalk net ons kinders verder aanmoedig om hul eie verbeeldingswêrelde te skep waarheen hulle kan reis. Niemand kan die mens se verbeelding of siel in ’n kou aanhou nie.
Bibliografie
Dahl, R. 1964. Charlie and the chocolate factory. Puffin, Engeland.
Sendak, M. 1963. Where the wild things are. Harper Collins, VSA.
Woolf, V. 1945. A room of one’s own. Penguin Books, Engeland.