Les Javan en Adriaan Brand oor Bamboesbos

  • 0

Die Music van de Caab Erfenisprojek op Solms-Delta se tweede album, Bamboesbos, is vanjaar tydens die Franschhoek Oesfees vrygestel. Die eerste album, Hiervandaan, is verlede jaar vrygestel en is vir ’n SAMA-toekenning benoem.

Die bekende musikante Les Javan en Adriaan Brand was albei nou betrokke by die projek. Hulle werp lig op die projek se binnewerke en mikpunte.

Les Javan


Foto: Maryke Howard

Dagsê Les, hoe's dinge?

Hallo Henry. Ja, dinge gaan maar aan. Ek werk dié jaar in Johannesburg en moes relocate, want ek skryf tans die klankbaan vir ’n nuwe TV-reeks genaamd Vlug na Egipte, wat in die Karoo afspeel. Baie opwindende werk met ’n baie goeie produksiespan. 

Dan is ek ook besig met die eerste van ’n paar albums vir die jaar. Die eerste een is my instrumental CD vir kitaar, getiteld Journey, en dan doen ons uiteindelik ’n album wat in 2009 klaar moes wees, maar met al die gesukkel die afgelope paar jaar kon ek nie daarby uitkom nie. Dis ’n adult contemparary- en ietwat jazz-album wat ek vir ’n vriend en medekunstenaar, Hyram Doolings, geskryf het. Seker die moeilikste album waaraan ek nog gewerk het, want die komposisies is baie sterk en ek voel half nie bevoeg om te produce nie, maar ons kyk maar. 

Dan is daar ’n rural Afrikaanse album met lekker skop in. Baie mense was nie tevrede met die Ek is lief vir jou-album nie, want dit is "te commercial", sê hulle, en baie mense verkies eintlik dat ek meer die rou rural-klank moet naspeur. 

Ek stel ook dié jaar ’n Engelse album vry, getiteld Destiny, wat meer world music is. Groot sound, maar tog ’n paar rustige oomblikke.  Behalwe die musiek werk ek aan twee boeke, en ek kry darem hulp van nog twee skrywers. Dit sal wel een van die dae op die rakke wees. 

In die een boek gesels ek oor hoe ek skryf, en ek deel my musiek en menswees met die readers. 

Die ander een is fiksie. 

Behalwe dit maak ek hierdie tyd jaar om bietjie weg te gaan op ’n klein vakansie met my geliefde. Net ’n bietjie wegkom van musiek, en iets anders doen.

Jy word genoem as skrywer van ’n paar van die snitte op die Bamboesbos-album, wat pas uitgereik is. Hoe het jy betrokke geraak by die projek en wat is jou ervaring van die projek tot dusver? 

Toe ek en Alex einde 2007 en 2008 die projek se riglyne en visie discuss het, is die idee van ’n "project archive" genoem deur dr Tracey Randall, prof Mark Solms en Richard Astor, en met Alex se ontydige dood het ek meer aggressief geraak met daai idee en dit uit die museum gehaal om te commercialise. Dit het net baie sin gemaak dat ons die projek ook sodoende kan bevorder en breër kan bemark. En dit het gewerk. My plan was om drie albums te produce vir die projek en "Hiervandaan" was die eerste. Weens ander werksverpligtinge kon ek nie aanbly vir die tweede een nie, en ek het vir Nick en Adriaan gevra om te produce. (Adriaan was glad nie impressed met my nie.) Ek het net gevoel die nuwe album kort ’n nuwe klank en producer sodat ons nie in ’n groef moet verval nie, veral met luisteraars se verwagtinge ná die eerste plaat. Ek dink dit het baie goed uitgewerk vir almal en ek hou baie van Adriaan en Nick se verwerkings van my werk, veral die laaste snit, "Golgota". Dis baie mooi, en ek sou dit nie so gedoen het nie, so ek is bly dinge het so uitgewerk. (Een van die raamwerke van die projek is dat almal, insluitende die musiek-staff en liedjieskrywers/komponiste, saam met die studente groei, en dit is ’n baie goeie voorbeeld van hoe my werk self gegroei het in die hande van my kollegas en die studente.)   

Op Solms-Delta se webwerf word onder meer die volgende oor die album gesê: "Songs written by their ancestors are re-appreciated, with new life breathed into them." In watter opsigte dink jy is dit belangrik om projekte soos dié van stapel te stuur en vol te hou daarmee? 

Die kern van die Solms-Delta-musiekprogram is die aspek van erfenis en die bewaring daarvan met betrekking tot die mense wat die projek aanraak. Dis breedvoerig en insluitend, behalwe dat die hoofklem op die werkers val, en op die geskiedenis van die inheemse  Khoe-volk wat in die omgewing gebly het teen die Dwarsrivier en Bergrivier, verby die Klapmutskraal, so ver as Piketberg. Olifantshoek het toe mettertyd Franschhoek geword, en die krokodille en seekoeie en ander wilde diere is nie meer daar nie, maar die mites en legendes is nog. Soos oom Frank Papier se storie van die waterbas by die blou gat langs, wat vandag Solms-Delta is. Ek het daai storie gemeng met my storie van Piketberg, en "Die waterbas se nooi" geskryf. 

Die kinders moet weet van hulle verlede en erfenis, en dis belangrik dat sulke projekte die lig sien. Prof Mark Solms sê altyd hy wil sien dat die hele land vol sulke projekte is en dat almal se geskiedenis vertel en onthou word. Ek stem saam. 

Wat hoop jy sal die album by mense tuisbring in terme van die waardering van tradisionele musiek sowel as die kennismaking met ’n styl wat nie in die hoofstroom vloei nie? 

"Bamboesbos" is anders as "Hiervandaan", maar tog is die boodskap dieselfde. Die luisteraar word gevra om ’n paar goed te doen:

1. om te luister 
2. om te onthou 
3. om deel te wees van ’n kultuur van waardering en
4. om lekker te kry.  

Adriaan Brand


Foto: Verskaf

Adriaan, jy is al geruime tyd betrokke by die Music van de Caab Heritage Project op die Solms-Delta-wynlandgoed. Kortliks, wat was die motivering vir die totstandkoming van die projek en hoe voel jy oor die vordering wat al gemaak is?

Die basiese beginsel van Music van de Caab is om  ’n gemeenskapsbemagtigingsprojek te wees. Dit beteken dat ons musiekontwikkelingsprojek begin is in antwoord op ’n versoek wat in 2007 direk deur die gemeenskap van Solms-Delta gerig is. Hulle wou graag ook, soos mense van ander streke, ’n Klopse-orkes hê. Van daar af het die projek organies gegroei soos die musikale blootstelling verdere belangstelling by deelnemers (en potensiële deelnemers) gewek het. Die projek is in die eerste jaar en ’n half bestuur deur die legendariese jazz-trompetspeler (en diep menseliefhebber) Alex van Heerden, wat ook die navorsingsdeel saam met museoloog Tracey Randle op die been  gebring het. Toe Alex in Januarie 2009 tragies oorlede is, was die hele plaas in rou. Die mense wou egter hê dat Alex se belegging verder ontwikkel word. Ek is ingeroep om die rouende gemeenskap in en rondom musiek vas te hou, en die mense van die Delta ’n geleentheid te bied om hul musikale wense te verwesenlik. Vandag het ons ’n voet-jeuk-koor van meer as 30 lede, ’n uitstekende stage band van 25 ontwikkelende blasers, ’n massa-Klopse-orkes van meer as 70 lede, ’n trompoppieparade van 30, ’n crèche-klaskoor, ’n kitaarklasgroep, ’n groeiende musikaleteatergroepie, ’n volwasse rieldansgroep, ’n liedjieskryfklas vir ’n band van talentvolle jongelinge, en ’n uitstekende hand vol professionele personeellede wat in velerlei hoedanighede optree. Musikale navorsingswerk kom binnekort tot vrug in ’n musiekmuseum op die plaas, en toeriste word gereeld vermaak met musiek-historiese wynproe-en-Kaapse-danservarings. Ag, ons maak sommer histories-inheemse musiekinstrumente ook. So my beste antwoord hier is: “Kom kyk self – julle word hartlik uitgenooi!” Ek voel dat ons as musiekgemeenskap werklik groot sukses behaal het in ’n reeks ander opsigte ook. Die volksmusiek van die Kaapse landelike gebiede bied Suid-Afrikaners van alle etniese en taalgroepe ’n ware ervaring van eenheid as ’n Suid-Afrikaanse nasie. En hierin lê van die grootste suksesverhale van die werk wat Music van de Caab se personeellede en projekdeelnemers voortdurend saam aanpak: genesing van die wonde van die verlede, verspreiding van die boodskap van liefde en vergifnis, en die viering en rekonstruksie van ’n voorheen vertrapte kulturele erfenis en identiteit. En dit alles terwyl daar heerlik gedans en geniet word! Diegene wat nog steeds nie ons konserte op Solms-Delta kom bywoon het nie, mis op soveel vlakke uit op iets wat Suid-Afrikaners van alle agtergronde soveel hoop gee.

Wat die Bamboesbos-album betref – hoe het die konseptualisering en opname van die album verloop?

Die idee agter Bamboesbos was primêr om projekdeelnemers ’n waardevolle ontwikkelingstimulus te gee. Ook wou ons tegelykertyd die momentum wat aan die gang gesit is met Leslie Javan se hoogs suksesvolle SAMA-genomineerde Deltatrust-album Hiervandaan voortsit, en ook die Music van de Caab-boodskap uitstuur die wêreld in; mense ’n geleentheid gee om saam met ons te sing en te dans, selfs al kan hulle nie tot by die Delta kom nie. Die US Recording Studio (by die Stellenbosch-konserwatorium) sowel as Theo Crous se Bellville Studios het ons die wonderlikste toegang gegee tot wêreldklas-opnamefasiliteite. Konsepgewys wou ons natuurlik graag die meer onlangse album ook laat inpas by die etos van ’n Kaapse landelike werkers-erfenisviering. Die tradisionele liedjie oor die bamboesbos, en die bamboesbos op Solms-Delta self, direk uit die hart van die eertydse Batavia, bied ons toe die wonderlikste tematiese container. Ons volg toe die rigting van ’n moderne reis deur Kaapse landelike musiek, wat moderne verwerkings van tradisionele materiaal asook nuutskeppings (deur Leslie Javan, Nick Turner en ook ’n reeks ontwikkelende projekdeelnemers) kon insluit. Dit is vir my so aanloklik om al hierdie vrae met “Kom kyk!” of “Kom luister!” te beantwoord … Die mense van die Delta en omliggende vallei is so trots op die vrugte van hulle arbeid.

Wat dink jy is die waardevolste element van hierdie erfenismusiek se nalatenskap en hoe beplan julle om dit in die toekoms verder uit te bou?

Vir my as projekbestuurder van ’n gemeenskapsgesentreerde inisiatief is dit moeilik om in my persoonlike hoedanigheid iets aan te wys as die “waardevolste” in hierdie verband. Dit sou op ’n beginselbasis indruis teen die grondslag van gemeenskapsbemagtiging. Nietemin, dit is ook ’n privaat befondsde projek, en ek verrig ’n werksfunksie. Wat ek dus kan doen, is om oop en eerlik te wees oor die hooffokus van my werk soos ek dit verstaan: om werkers van die Wynland geleenthede te bied om hulle erfenis te vier, en bewustelik beheer te neem oor hul identiteit (dít wat in die verlede so dikwels namens hulle bepaal is). In hierdie opsig is die treffendste aspek van my werk – vir my – om te sien hoe mense blom en ontwikkel wanneer hulle hul eie kultuur- en identiteitsouteurskap op die verhoog uitvoer, en dawerende applous daarvoor ontvang. Dan is daar ook die helende aspek van Kaapse musiek-ervarings soos geniet deur Suid-Afrikaners van alle kulturele groepe wanneer hulle saam sing en dans: treffend, huilpragtig, diep hoopgewende eenheid binne-in onse eie musiek. Oor die toekoms: die Deltatrust en Music van de Caab-projek is vasberade om nie soos so baie gemeenskapsinisiatiewe in die verlede te kom-en-gaan nie. Ons teenwoordigheid skep hoop en verwagtings, nie net in ons eie vallei nie, maar ook vir die res van Suid-Afrika. En dit is ons plan om die werk voort te sit, kom wat wil. Suid-Afrika, “alles sal regkom”, Delta-styl! Ons moenie en gaan nie opgee nie. Vat ons hand en bly saam met ons hoop!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top