Leonardo da Vinci – veelsydige genie

  • 2

 

“Eenvoud is die volmaakte sofistikasie.” – Leonardo da Vinci

Op 2 Mei was dit 500 jaar sedert Leonardo da Vinci – veelsydige en geniale kunstenaar, ingenieur, wetenskaplike, argitek, anatoom – oorlede is. Historici beskou hom as die prototipe van die universele genie en die "Renaissance-mens", ’n individu van onblusbare nuuskierigheid met ’n vindingryke verbeelding, een van die mees veelsydige en talentvolle mense wat ooit geleef het, ’n vernuftige ingenieur en uitvinder – wat die Nederlanders noem ’n “vernufteling”. Hy verpersoonlik, meer as enigiemand anders, die humanistiese ideaal van die Renaissance.

Hy is gebore op 14 April 1452 in die dorp Vinci, Republiek van Florence in die hedendaagse Italië, as die buite-egtelike kind van die welvarende notaris Messer Piero Fruosino di Antonio da Vinci en ’n jong, eenvoudige boeremeisie, Catherina di Meo Lippi. Sy volle name was Leonardo da Sero Piero da Vinci (“da Vinci” na aanleiding van sy geboortedorp).

Leonardo da Vinci het betekenis gegee aan die woord polimaat: ’n veelsydige, universele genie wie se kennisveld en kundigheid ’n wye spektrum van onverwante velde omsluit, en wat die gevolg is van ’n onversadigbare dors na kennis en perfeksionisme wat sy hele denke en gedrag oorheers het. Soos baie van die humaniste van die Renaissance het hy geen onderskeid tussen die wetenskap en kuns gemaak nie; vir hom was die twee ineengevleg en komplementêr, en kon jy ’n goeie kunstenaar wees slegs as jy die wetenskappe deeglik verstaan.

Jeugjare en opvoeding

Van sy jeugjare en opvoeding is min bekend. Die eerste vyf jaar van sy lewe bring hy deur by sy moeder, wat later met ’n vakman getrou het. Daarna is hy grootgemaak in die huis van sy vader, grootouers, en oom Francesco. Sy vader is vier keer getroud en Leonardo het 12 halfsibbes gehad, almal veel jonger as hy, met wie hy na sy vader se dood in geskille gewikkel was oor die boedelverdeling. Hulle het hom ’n aandeel ontsȇ vanweë sy buite-egtelike status.

Leonardo se ikoniese skets van die Vitruviaanse man. Foto: Wikipedia

Aanvanklik ontvang hy informele opleiding in lees, skryf, wiskunde, Latyn en meetkunde. Sy kunssinnigheid is vroeg deur sy vader raakgesien en hy word op 14-jarige ouderdom ingeskryf as garzone (ateljee-assistent), oftewel vakleerling, in die ateljee van die Florentynse skilder Andrea del Verrocchio, ’n familievriend. Vir die volgende sewe jaar ondergaan hy teoretiese opleiding en doen praktiese ervaring op op die terreine van die meganika, alchemie, metallurgie, metaalwerk, gipswerk, leerwerk en timmerwerk, asook die artistieke vaardighede van teken, verf, beeldhouwerk en modellering. Volgens oorlewering was hy ’n bekwame musikus wat die lier uitmuntend bespeel het.

Leonardo was ’n regte Adonis, ’n aantreklike jong man wat deur tydgenote beskryf is as van "uitstaande fisieke skoonheid", "oneindige grasie" en "groot krag en vrygewigheid". Hy was volgens oorlewering self die model vir twee kunswerke van Verrocchio: as Dawid in die bronsstandbeeld van Dawid en Goliat, en die aartsengel Raphael in die skildery Tobias en die Engel. Hy was verantwoordelik vir die agtergrondskilderwerk in vele van Verrochio se skilderye, soos wat destyds algemeen die gebruik was in skilders se ateljees. Die oudste bekende werk met sy handtekening daaronder is ’n pen-en-ink-tekening van die Arnovallei wat hy op 21-jarige ouderdom gemaak het.

Op 20-jarige ouderdom kwalifiseer hy as ’n meester in die Gilde van Sint Lukas, die gilde van kunstenaars en geneeshere, maar selfs nadat sy pa hom in sy eie werkswinkel gevestig het, was sy lojaliteit aan Verrocchio so heg dat hy voortgegaan het om met hom saam te werk.

Op 24-jarige ouderdom word hy en vier jong mans in Florence deur ’n anonieme klaer aangekla van sodomie, wat ’n ernstige oortreding van die streng wette teen homoseksualiteit in die destydse Italië was, en wat met verbanning of die doodstraf strafbaar was. Nadat hy twee maande in die tronk was, word die aanklag teruggetrek vanweë ’n gebrek aan getuienis. Da Vinci het nooit in die huwelik getree nie, en sommige van sy biograwe beweer dat hy na sy tronkervaring selibaat gelewe het. Hy het geen briewe, gedigte of ’n dagboek nagelaat wat daarop dui dat hy enige romantiese belangstelling gehad het nie, maar het hegte vriendskappe met enkele van sy lojale studente gevorm.

Hy was vrygewig, barmhartig, ’n geesdriftige geselser; het die lewe hoog geag; en was ’n vegetariër. Dit word vertel dat hy dikwels voëltjies by voëlhandelaars gekoop en dan vrygelaat het. Hy was linkshandig, en baie historici glo dat dit die rede is waarom hy in spieëlskrif (van regs na links) geskryf het, sodat sy skrif net in ’n spieël gelees kan word. Ander het hom valslik daarvan beskuldig dat hy dit gedoen het om sy notas vertroulik te hou.

Professionele lewe

Hy tree in die diens van hertog Ludovico il Moro in Milaan, waar hy 17 jaar lank in dié se huishouding woon totdat Ludovico in 1499 ontsetel is. Sy naam verskyn in die register van die huishouding as pictor et ingeniarius ducalis (“skilder en ingenieur van die hertog”). Sy dienste is hoog geag en hy was wyd in aanvraag as skilder, beeldhouer en beplanner van groot feeste. Hy tree ook dikwels op as tegniese konsultant op die gebiede van die argitektuur, verdedigingswerke en militêre aangeleenthede, en werk as hidrouliese en meganiese ingenieur.

Sy werk het hom oral oor sentraal-Europa geneem en hy aanvaar opdragte in Rome, Bologna, Venesië en Hongarye. Sy laaste jare het hy in Frankryk in die chateau Clos Lucé van koning Franciskus I van Frankryk deurgebring, wat vir hom van ’n pensioen voorsien en as lid van die adel behandel het. Hier is hy op 2 Mei 1519 ná herhaalde beroertes in die ouderdom van 67 jaar oorlede.

Kort voor sy dood het hy ’n priester laat kom om sy sondes te bely omdat hy “teen God gesondig het omdat hy nie sy kuns beoefen het soos hy dit moes gedoen het nie”. In ooreenstemming met sy testamentêre wens het 60 bedelaars as slippedraers opgetree. Sy graf en oorskot het later verlore geraak, maar ’n skedel en beendere wat na bewering syne was, is later opgespoor en in die kapel van Saint-Hubert in die Loire-vallei begrawe. DNS-toetse word vir vanjaar beplan om die outentiekheid daarvan te bevestig.

Kunstenaar

As perfeksionis het dit Leonardo tien jaar geneem om die lippe van die Mona Lisa te skilder. Foto: Wikipedia

Leonardo da Vinci is waarskynlik die beste bekend as kunstenaar, en veral skilder, waarvan die klein portret Mona Lisa (1503), vermoedelik van Lisa del Giocondo, die muurskildery Die Laaste Avondmaal (1498), en die Dame met die hermelyn (1489–90), van die bekendste is. Minder as 20 van sy skilderye het behoue gebly, sommige onvoltooid.

Die Laaste Avondmaal was ’n opdragwerk wat in 1498 geskilder is teen die muur van die eetsaal van die klooster Santa Maria della Grazie in Milaan. Dit word vertel dat hy soms, sonder onderbreking vir etes of om te rus, vir ’n hele dag lank geskilder het, en dan daarna vir drie of vier dae gerus het. By voltooiing na drie jaar is die skildery beskryf as ’n meesterstuk van ontwerp en karakterisering. Ongelukkig het Leonardo gebruik gemaak van eiertemperaverf op ’n gedroogde pleistergrondlaag, wat vinnig verweer en afgeskilfer het, met die gevolg dat dit na ’n eeu byna onherkenbaar was en herhaaldelik gerestoureer moes word.

Geen van sy beeldhouwerke het behoue gebly nie. In Milaan werk hy vir 12 jaar met tussenposes aan ’n grandiose monument: ’n reuse-ruiterstandbeeld in brons wat ter ere van Francesco Sforza, die grondlegger van die Sforza-dinastie, opgerig sou word. ’n Kleimodel van die vyf meter hoë perd is in 1493 ten toon gestel, en alles is gereed gemaak om dit in brons te giet. Vanweë ’n dreigende oorlog is die sewe ton brons egter heraangewend om kanonne meet te vervaardig, en is die standbeeld nooit voltooi nie. Die kleimodel daarvan is tydens die daaropvolgende oorlog vernietig.

Etlike ander reusestandbeelde wat hy ontwerp en waarvan hy kleimodelle gebou het, is ook nooit in brons gegiet nie. Onvoltooide opdragwerke was nie ’n onbekende kenmerk van sy lewe nie en hy het dikwels opdragte aanvaar sonder om dit te voltooi.

Anatoom

Oor ’n tydperk van 30 jaar het Da Vinci meer as 30 lyke van sowel mans as vroue, jonk en oud, gedissekteer en met pynlike presiesheid anatomiese sketse van die liggaamsdele gemaak. Dit word beweer dat hy selfs lyke wat pas begrawe is, opgegrawe en gesteel het ten einde disseksies daarop uit te voer.

In vitro-fetus: een van Leonardo se vele anatomiese sketse. Foto: Wikipedia

Tydens disseksies bestudeer hy die bloedsomloop en maak detailsketse van oa die gedissekteerde hart en ’n fetus in utero. Hy dissekteer ook koeie, voëls, ape en paddas, en vergelyk die anatomiese struktuur van die organe daarvan met dié van die mens. Saam met Marcantonio Raimondi, ’n graveerder, berei hy ’n boek voor oor die menslike anatomie en maak daarvoor meer as 200 tekeninge. Hierdie boek is eers 161 jaar na Leonardo se dood in 1680 gepubliseer.

Uiteindelik sou pous Leo X Leonardo verbied om verdere disseksies uit te voer, omdat sy bevindings strydig met die Rooms-Katolieke Kerk se dogma was.

Ingenieur, ontwerper, uitvinder

Leonardo was ’n meester van die meganika. Hy maak gebruik van hefbome, katrolle, hystoestelle, koppelaars, ratte, skakels, smeringstelsels en laers. In sy notaboeke verskyn ontwerpe vir ’n verskeidenheid van oorlogstuig, insluitende ’n kanon, masjiengeweer, sweeftuie, ’n tweeman- gepantserde voertuig, skroefvliegtuig (voorloper van die helikopter), hangvlieër, mensaangedrewe vliegmasjien met flappende vlerke, onderwater-duikpak, en valskerm. Hy ontwerp ’n kanaalstelsel vir besproeiingstelsels, ’n metode om tonnels deur berge te bou, ’n draairooster om vleis te braai, en ’n wateraangedrewe enjin.

Leonardo se ontwerp vir ’n helikopter. Foto: Wikipedia

Ongeveer 500 van sy joernale, notaboeke en tekeninge, waaronder sy ikoniese tekening van die Vitruviaanse man en ’n selfportret, het behoue gebly. Al sy artistieke en wetenskaplike werke, manuskripte en persoonlike versamelings is bemaak aan die hertog Francesco Melzi wat in 1506 by Leonardo ingeskryf is as student, hom later na Frankryk gevolg het, en getrou tot Leonardo se dood by hom gebly en sy boedel geadministreer het.

Leonardo was inderdaad enig: tegelyk skilder, tekenaar, uitvinder, ingenieur, wetenskaplike, argitek, beeldhouer, wiskundige, anatoom, geoloog, sterrekundige, plantkundige, musikus en kartograaf. Hy is die vader van paleontologie en argitektuur, en stellig die grootste skilder van alle tye, wat die Renaissance se humanistiese ideaal volledig vergestalt het. Daar was nog nie weer een soos hy nie.

* Christo Viljoen is ’n afgetrede professionele ingenieur en akademikus van Stellenbosch.

  • 2

Kommentaar

  • Pingback: Só het Leonardo gedink… | KragDag Gemeenskap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top