Leon de Villiers (1960–)

  • 0

Gebore en getoë

Leon Johannes de Villiers is op 25 Julie 1960 in die Ou Moedersbond (hospitaal) in Pretoria gebore. Hy vertel aan NALN dat hy "ten spyte van woelinge onder die familie deur sy ouers met die deels vreemde, deels familienaam Leon Johannes gedoop en geregistreer is".

Hy is die tweede oudste van vier seuns en sy oudste broer is tydens sy diensplig oorlede toe Leon in sy eerste jaar op universiteit was. Sy jongste broer is Stephan en Bertie is net jonger as hy.

Nadat die gesin ’n paar keer van adres verwissel het, is hulle vanaf 1966 (sy eerste skooljaar) te Mountain View in Pretoria woonagtig. Hulle bly dus, soos hy sê, in die westelike deel van ’n stad wat "besonderse agting vir die oostelike voorstede het". Voordat hy sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Saamspan voltooi het, was hy ook vir een kwartaal ’n leerling aan die Laerskool Salvokop.

As kind op skool was Leon die praterige soort wat pal raas gekry het omdat hy so baie te sê gehad het en so lelik geskryf het. "Oor boeke skryf het ek begin droom vandat ek begin lees het," vertel hy aan LAPA Uitgewers.

Hoewel agt van Leon se nege voorvaders boere was, het hy voordat hy tien jaar oud was, al geweet dat hy onderwyser sou word. Hy was egter toe ook al seker dat hy dit nie vir die res van sy lewe wou doen nie, het hy aan Sonja Loots (Rapport, 2 Oktober 2005) vertel: "Die kinderdroom het my uit die bloute getref. Van die mense aan my ma se kant van die familie is nogal taamlike storievertellers, maar daar was nie skrywers in die familie nie; niemand wat aktief die belangstelling by my gekweek het nie. Ek was maar net van kleins af lief vir boeke."

Leon sonder veral sy ouma Bekker en oupa Rossouw aan moederskant uit as vertellers wat die "mensstories doer annerkant die konsentrasiekamp" gaan haal het - aan Alita Vorster in Taalgenoot van Julie/Augustus 2003. "Ek is glad nie ’n mondelinge oorverteller nie en kry net meer en meer respek vir diegene wat die lewe so met die geslagte kan aangee."

Leon matrikuleer in 1977 aan die Hoërskool Hercules.

Verdere studie en werk

In 1978 skryf Leon in vir ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met staatsleer, geskiedenis en internasionale politiek as hoofvakke. Ná die verkryging van sy BA-graad verwerf hy ook sy BA Honneurs in staatsleer en internasionale politiek. In 1981 verkry hy verder sy Hoër Onderwysdiploma, ook by Tukkies.

Hy gee in 1982 onderwys aan die Laerskool Alma voordat hy die volgende jaar aanmeld vir sy militêre diensplig van twee jaar – die eerste jaar in Kimberley by die Inligtingskool en die tweede jaar in Pietersburg by Kommandement Noord-Transvaal.

Ná sy tydperk van voetestamp vir volk en vaderland is Leon terug na die onderwys. Hy hou skool as geskiedenisonderwyser by die Hoërskool Rustenburg, Menlopark en Pro Arte. Aan die einde van 1993 neem hy die groot besluit om ’n pakket te aanvaar en homself ’n paar jaar as voltydse skrywer te gun.

Hy vertel aan NALN: "Skryf en debatte was wat die vak Afrikaans vir my die moeite werd gemaak het op skool. Groot was my teleurstelling toe dieselfde nie van die vak op universiteit gesê kon word nie. Soos baie skrywers het ek eers in ’n digterlike moeras vasgeval en toe ten einde laaste besef ek hoort nie daar nie. Veral toe ek as volwassene weer begin om vir ander mense stories te vertel – iets wat ek laas in die hoërskool gedoen het."

Vir Leon het sy pad na voltydse skrywer in 1993 begin toe hy die ATKV se skryfskool op Potchefstroom bygewoon het. Dit was vir hom ’n baie besonderse belewenis – nie net oor wat hy daar geleer het nie, maar ook omdat hy so tuis gevoel het tussen die ander "skrywendes". Ook het hy dit geniet en waardeer om nugtere en neutrale kritiek op sy stories te ontvang.

Hy het vir ’n paar jaar "leeggelê" by Kleinmond naby Hermanus in die Wes-Kaap waar sy eerste twee boeke die lig gesien het voordat hy terug is na Potchefstroom in Noordwes en die onderwys. Daarna, so rondom 2005, het Leon gaan boer op ’n plasie aan die Vrystaatse kant van die Vredefort-koepel, maar hy het daar met woorde geboer en nie met diere en gewasse soos sy voorvaders nie. En die beginsel, vertel hy aan Sonja Loots in Rapport, is eenders: "Die beginsel van ploeg, plant en oes, en die wag op reën."

Leon se eerste boek, Aliens en engele, word in 1996 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer en dit ontlok dadelik baie gunstige kommentaar. Madeleine Roux noem dit in Die Burger (26 Februarie 1996) ’n "juweel van ’n debuut deur ’n skrywer vir die jeug". Sy sonder veral die lekker "loslit taal wat so goed vloei" uit, asook "kieliesnaakse tonele en verbeeldingsvlugte wat getuig van ’n skrywer wat kinders en hulle denkwyses en taal goed ken".

Die elfjarige Pieter en sy geskeide ma bly in ’n woonstelkompleks van nege vloere met die naam Milky Way. Om te ontvlug van die verwarrende wêreld waarin hy hom bevind, ontvlug hy deur vir hom ’n verbeeldingswêreld te skep waarin Aliens (sien bose) en Engele (die goeies) woon. Die Engele is maar skaars - daar is Toffie wat koerante verkoop en oom Neil wat ook in hulle woonstelblok woon. In Pieter se wêreld is elkeen van die nege vloere van Milky Way ’n planeet en oom Neil woon saam met hom op Neptunis.

Toe Pieter se wêreld rondom hom in duie stort, is dit dan ook ook Neil wat daar is om hom te vang.

Op Skrywers en boeke (9 Februarie 1997) skryf die resensent dat Aliens en engele die taal van die moderne kind praat. "Dis ’n besondere fantasieverhaal, vol aweregse humor en kleurvolle karakters, oor die traumatiese effek van egskeiding op kinders, en die emosionele verwaarlosing van ’n kind wat deur niemand raakgesien word nie."

In Beeld van 4 Februarie 1997 skryf Ingrid Wagener dat Aliens en engele nie ’n oppervlakkige storie vertel nie - daar is soveel lewenswaarhede in dat ook volwassenes dit moet lees sodat hulle die probleme waarvoor kinders te staan kom, kan verstaan.

Terwyl hy besig was om te werk aan Aliens en engele het Tafelberg Uitgewers hom gevra om ’n manuskrip in te skryf vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur. En dit was hoe Die pro die lig gesien het. Nie net het hy die Sanlam-prys vir beginnerskrywers daarmee verower nie, maar ook die MER-prys en die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Dit is ook as voorgeskrewe boek vir skole regoor Suid-Afrika gebruik.

Die hoofkarakter van Die pro is Tiaan, ’n sestienjarige branderplankryer. Sy beste vriend was Dirkie – nie net ’n gewilde branderplankryer nie, maar ’n goeie sportman in die algemeen. Toe sterf Dirkie in ’n fratsongeluk en Tiaan bly agter – ’n verwarde en opstandige seun. Sy skoolwerk, veral biologie, en ook sy persoonlike verhoudings bly in die slag.

Die pro is geskryf in die vorm van ’n dagboek met elke hoofstuk wat begin met ’n "vindingryke en humoristiese biologie-opsomming wat iets verklap van die gebeure wat daarop volg", skryf Marina le Roux in Sarie (14 Januarie 1998).

"De Villiers laat die leser ademloos wonder. Hoogs sensitiewe situasies word telkens getemper met padlangse tienerhumor. Die dialoog is pittig, self-ironiserend; karakters is gevarieerd en realisties. Nóg Dirkie nóg Tiaan is superhelde, maar ten slotte is dit Tiaan wat die pro is - ’n pro wat die dood agterlaat en die lewe vier."

In haar aanbeveling vir die Sanlam-prys skryf Andree-Jeanne Tötemeyer (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 1997): "Die pro is by uitstek ’n stemmingswerk. Daar is ’n stromende, gelykmatige beweging na resolusie – amper soos die stadige opbou hoogwater toe. Daar is genoeg opwinding om aanklank te vind by die deursnee-tiener, maar hierdie roman sal veral byval vind by die besinnende jong mens. Die eintlike boodskap is dat ons almal vir mekaar verantwoordelik is. Dit handel oor hoe om ’n pro te wees, ’n belangrike boodskap vir enige jong mens."

Barrie Hough (Rapport, 14 Desember 1997) beskryf Die pro as ’n "boek wat intensief en met aandag gelees behoort te word. Dit verg konsentrasie en werk van die leser. Die beloning is egter groot."

Die filmweergawe van Die pro is in Augustus 2015 by kykNET se Silwerskermfees vertoon voordat dit in September in teaters te sien was. kykNET-films se André Velts en Tiaan van Niekerk, ’n draaiboekskrywer, was verantwoordelik vir die film en die film is in Jeffreysbaai verfilm. Edwin van der Walt vertolk die rol van Tiaan en ander akteurs is Neels van Jaarsveld, Albert Maritz, Hélène Truter, Marcel van Heerden, Arno Greeff en Zakeeya Patel. Viljé Maritz speel die rol van Dirkie en Dirkie se tweelingsuster word gespeel deur Reine Swart.

Leon het baie trots aan Suzanne Venter van Rapport (6 September 2015) vertel dat dit hoog tyd was dat Die pro ’n "nuwerwetse baadjie" aantrek. "Ek het die boek nog altyd as my kind gesien. Noudat dit ’n fliek is, is ek seker bevorder tot oupa!"  

Die storie en taalgebruik moes egter saam met die tye groei. Die nuwe druk van die boek moes dus aangepas word. Biologie is nie meer ’n vak op skool nie, maar is verander na lewenswetenskappe, standerds is na grade verander en selfone is ook ingeskryf, maar, sê Leon, "daar is nie te veel aan die taal getorring nie".

Met Leon se derde boek, Groete van die hiëna, betree hy die wêreld van fantasie. Dit vertel die verhaal van Roek Rykema wie se ouers volgelinge is van die Humanos-kultus. Roek is redelik skepties oor die leier van die kultus, Artius, en op die dag van die inlywing raak Roek paniekerig en beland hy in Chaotika of die Paleis van Chaos.

Leon het eers ’n ander titel vir die storie gehad naamlik Chaos se gat, maar die uitgewers het gemeen dat dit ’n bietjie "kru" is. Hy was egter baie tevrede met Groete van die hiëna omdat dit vir hom die "hart" van die boek baie mooi opsom.

Thomas van der Walt en Magdel Vorster (Beeld, 23 Oktober 2000) skryf: "Wat volg, is ’n reis deur vreemde maar parallelle wêrelde, fantasieë en verhale wat iewers in die onderbewussyn verskuil is, by die Tuin van Orde verby en anderkant uit. Binne orde is daar chaos, maar Roek moet dit self uitvind. Hy moet homself eers aanvaar voordat hy aanvaarding kan kry by die mense rondom hom.

"Daar is heerlike aweregse humor in die verhaal, maar nie almal gaan dit geniet nie en nie alle volwassenes gaan dit verstaan nie. (...) Gelukkig is daar genoeg jong mense wat oopkop genoeg is om die boek te waardeer. ’n Mens hoop net die boek bereik hulle."

In Die Burger van 21 Junie 2000 is Marina le Roux van mening dat Leon de Villiers dit weer reggekry het om ’n "veelvlakkige, tergende, soms selfs ontstellende verhaal" neer te pen. "Dit is egter nie net nog ’n inisiasie-storie vol wroeging nie – daar is bisar-humoristiese situasies en besonder slim woordspel. Soos in ’n Escher-skildery is daar variasie, ritme en orde in oënskynlike chaos."

Groete van die hiëna het ontstaan uit ’n "paar wilde idees wat eers behoorlik makgemaak en gesnoei moes word," vertel Leon aan Francois Retief op Storiewerf. "Basies het die kremetartboom in die verhaal die hiëna voorafgegaan. Van dieselfde boom af, het die idee vir die gebruik van die chaosteorie gekom. (Ek is terloops mal oor bome)"

Waar Leon tot 2000 oorwegend vir tieners geskryf het, betree hy in 2001 ’n nuwe genre met die skryf van Elsie soek ’n strooihoed wat meer gemik is op die jonger leser van so ses tot sewe jaar oud. Hy is dan dadelik suksesvol deurdat die ATKV-kinderboektoekenning vir die ouderdomsgroep 6-7 jaar aan Elsie toegeken is. Dit is ook in Suid-Sotho, Zoeloe en Xhosa vertaal. Die uitgewers, LAPA, het gehoop om met hierdie vertalings ’n bydrae te lewer tot die bevordering van meertaligheid en onderrig in die moedertaal.

Vir Leon is boeke vir kinders en tieners baie belangrik omdat dit "die leesworteltjies plant wat maak dat ’n volwassene eendag tyd, geld en aandag aan ’n dik, lywige roman sal bestee. Ek hoop dat Elsie soek ’n strooihoed ’n happie van die pret wat ek gehad het met die skryf daarvan, sal oordra aan jong lesertjies." (Taalgenoot, April 2000)

Met Wat doen jy, Daniël? (2001) is Leon weer aan die praat met die jonger kind. Daniël besluit op ’n dag om sy bekende wêreld uit ’n ander hoek te bekyk (op sy rug) en gebruik hy vele hulpmiddele om hom te help, soos ’n bril, ’n verkyker, ’n viewfiner en ’n vergrootglas.

Daniël se storie word met min woorde vertel, maar, skryf Lisbé Smuts in Die Burger (18 Maart 2002), "die woord-ekonomie is effektief. Die herhaling van sinne dwarsdeur die boek veroorsaak ’n inkantiewe ritme. Die geskrewe storie word ook uitgebrei deur die illustrasies; die woorde en illustrasies van elke bladsy vertel saam-saam die storie en vorm so ’n interessante verwewing. Daniël se storie gaan bowenal oor kyk (en nie oor praat nie)."

Toe Daniël in die sitkamer kom, wil Oupa weet wat hy doen en Daniël verduidelik dat hy kyk hoe lyk alles van onder af. Oupa wil saamspeel en die hele kykery begin weer van voor af met ander variasies.

Smuts meen dat beide die skrywer en die illustreerder (Annelie van der Vyver) nie die jong leser se vermoëns te laag aanslaan nie. "Lesers wat met verbeeldingsvermoë lees en met gekonsentreerde aandag kan kyk, sal die vraag van die titel met hul eie antwoorde en vertellings op verskillende maniere kan voltooi. Dit is ’n boek wat nie bloot ’n (voltooide) storie wil vertel nie, maar kinders as mede-skeppers betrek, ’n boek wat kinders en volwassenes (met ’n sin vir spel) op hul rug gaan dwing."

Erik en die Kido-dinges (2003) loop weer weg met die ATKV-kinderboektoekenning vir graad 4-5 vir 2004, ’n prestasie wat hy herhaal wat met Parmant (2003 - ATKV-kinderboektoekenning vir drie- tot sesjariges in 2005) en My sussie se tande ((2004 - toekenning vir drie- tot sesjariges in 2006).

In 2003 publiseer LAPA Droomoog Diepgrawer (met herdrukke in 2008 en 2015) en met hierdie dierefantasie loop Leon weg met die CP Hoogenhout-medalje vir 2006-2007, asook die Alba Bouwer-prys (sewe tot 12 jaar) vir 2007.

Droomoog vertel die verhaal van die erde, ’n soort meerkat wat in die nag aktief is. Die fokus van die verhaal is Droomoog Diepgrawer en sy Diepgrawer-familie. Hierdie familie bestaan uit Ouma Smakkie, Pa Vasgryp, Ma Uilverskrik en die drieling Droomoog, Witstert en Snoetie.

In Beeld (19 Julie 2004) beskryf Magdel Vorster dit as ’n "alternatiewe diere-cum-fantasieverhaal". Bogenoemde erdfamilie word uit die erdkolonie geskop deur die Grysore en Langlippe en hulle moet ’n nuwe blyplek gaan soek. Saam met die erde maak die leser kennis met die Skoorkrappers wat weet hoe om te innoveer, die Pronksterte wat aan arrogansie ’n heel nuwe betekenis gee en, soos in elke avontuurverhaal, is daar ook ’n vyand genaamd Vreet.

Soos Vorster tereg sê, sal jy hierdie diere nêrens in die natuur kry nie, maar dit beteken nie dat hulle nie eg is nie. "Dis ’n verhaal vol humor, spanning en deernis ... wat op pad is na klassieke status. Kort hoofstukke waarin die verhaal gekomplementeer word deur Berco Wilsenach se oorspronklike illustrasies, maak dit by uitstek geskik vir voorlees.

"De Villiers slaag daarin om deur middel van kleurryke beskrywings en vlymskerp woordspelings deurentyd te boei en te vermaak. (...)

"Sonder om moraliserend te wees, slaag De Villiers daarin om sy lesers te waarsku teen stereotipering en stiksienigheid en aan te moedig om bereid te wees om te verander as die omstandighede dit vereis. (...)

"Afgesien van die humor wat besonder oorspronklik is, verdien De Villiers met skeppende taalgebruik nóg ’n veer in sy hoed. In ’n tyd waar kinders al hoe verder verwyder raak van figuurlike taalgebruik – ’n natuurlike uitvloeisel van onsuiwer taalgebruik – stel hierdie boek lesers op ’n prettige manier voor aan die plesier om op meer as een vlak te luister, lees en skryf.

"In die geheel beskou, dra Droomoog Diepgrawer op ’n besondere manier by tot die verryking van Afrikaans."

Agter in die boek sê Leon de Villiers dat hy van kindsbeen af mal was oor dierestories en met Droomoog Diepgrawer het hy een van sy drome bewaarheid, naamlik om met hierdie storie oor die erde vir al die diereverhale wat ’n invloed op sy lewe gehad het, dankie te sê.

Franci Greyling skryf in Literator (November 2004) dat die denkbeeldige erde só voorgestel word en ondersteun word deur Wilsenach se illustrasies, dat die leser tereg kan glo dat hulle werklik bestaan en dat net die gebeure fantasie is. "De Villiers verkry geloofwaardigheid veral deur die skep en uitbeelding van die verhaalwêreld en bedrewe vervlegting van die verhaal-elemente. (...)

"Dit is veral in die kreatiewe hantering van taal dat die besondere verhaalwêreld geskep word. (...) Die taalaanwending en rykverwysings oorheers egter nie die storie nie. Dit is Droomoog se wedervaringe en die spannende gebeure wat die verhaal vorentoe stu. (...) Die jong leser sal beslis waardering hê vir die humor wat deurgaans ’n groot rol speel. (...) Met fyn waarneming, insig en kreatiwiteit slaag Leon de Villiers daarin om die bekende vindingryk te vernuwe."

In 2007 is Toko by LAPA uitgegee en dit is in 2009 deur Elsa Silke in Engels vertaal. Die verhaal speel af in ’n denkbeeldige land – waar die land is, is nie duidelik nie. Ook nie watter taal die denkbeeldige stam praat nie en volgens Ilde Fenthum (Volksblad, 28 Mei 2007) dra dit by tot die geheimsinnige atmosfeer van die boek.

As deel van ’n soort van inisiasieproses moet die jong seuns van die stam alleen na die berg gaan. Daar moet hulle, die "jong leeus", ’n week lank oorleef waarna hulle volwaardige mans word. Toko se stiefpa, Jeroba, het hom gestuur om die jong leeus van die berg af te gaan haal. Daar bo is daar egter geen reëls of wette nie en hulle kan met Toko maak net wat hulle wil.

En almal weet dat die leier van Toko se stat graag vir Toko wil dood hê. Want Toko is ’n kunstenaar wat beelde uit hout maak en dit is kunstenaars wat aan die pen ry in so ’n gemeenskap waar die vrou onderdanig is.

Vir Izak de Vries (LitNet) is Toko een van die mees subversiewe tekste wat nog ooit in Afrikaans geskryf is. “Dit is werklik wonderlik. Die beste ding van Toko is egter dat dit metafories geskryf is. Só subversief is die boek dat dit deesdae op groot skaal in ons skole gebruik word."
Op Storiewerf het Ihette Jacobs vir Leon gevra om te vertel waar die idee van die boek sy oorsprong gehad het. "Die storie was vir my ’n verrassing. Nie een van my ander stories het so ontstaan nie. Dit is amper asof die storie diep in my onderbewussyn ontwikkel het terwyl ek op ’n bewustelike vlak aan heel ander storielyne gedink het. Ek het geworstel met idees vir ’n spesifieke tema en toe skielik is daar hierdie totaal en ander storie met milieu, karakters, ruimte, alles klaar daarin. Dit was die vreemdste kreatiewe ervaring wat ek nog ooit gehad het."

Die ruimte waarin die storie afspeel, laat vir Jacobs dink aan ’n Afrika-stam, met een verskil – die karakters is blank. Leon verduidelik dat hy graag ’n Afrika-atmosfeer skep en terselfdertyd ook ’n primitiewe ruimte. "Al kom blankes van Europa af, was Europeërs ook op ’n stadium primitief. Buitendien, baie mense in die moderne samelewing se denke is steeds primitief, terwyl daar mense in primitiewe gemeenskappe is wat heel 'modern' oor menswees dink en gedink het."

Jacobs wou weet of Leon meen dat die moderne leser sal kan identifiseer met die karakters in Toko. Vir Leon is die belangrikste tema in die boek eerstens menswees en die invloed wat mense op mekaar het, en veral families. "Dus dit gaan steeds oor moderne temas waarmee die moderne leser sal kan identifiseer. Ek hoop ook dat die spanningselement in die boek sterk genoeg is om die leser geïnteresseerd te hou en te laat aanhou lees."

Leon is ’n groot bewonderaar van skrywers soos Michael Ende, Roald Dahl en JRR Tolkien "omdat hulle die soort boeke skryf wat die leser op meer as een vlak aanspreek, want ek glo dat ’n boek jou intelligensie én verbeelding én meer as een emosie moet aanraak.

"Daarom probeer ek altyd sorg dat daar ’n mengsel van kop en hart in my boeke is. Die lesers sal beter weet as ek of ek daarin slaag." (Rapport, 2 Oktober 2005)

Leon het op Storiewerf aan Francois Retief bietjie meer van sy "inspirasie" vertel. Vir hom is inspirasie net die vuurtjie wat die lont aan die brand steek, want "indien jy nie die heeltyd en konstant kole aandra nie, gebeur daar niks. Soms tref ’n idee my soos weerlig, maar meestal gaan sit ek ewe ordelik op ’n spesifieke tyd voor my lessenaar en probeer dan oes wat op die kompos van my onderbewussyn groei."

Vir Leon is idees vir sy boeke nie ’n groot probleem nie, maar hy moet egter baie hard soek na die juiste woorde om die idees op skrif te sit. "Die mense wat my ken reken ek is nogal nuuskierig van geaardheid, so ek versamel seker maar die heeltyd bewus- en onbewustelik stof tot nadenke. Kompos vir nuwe stories," vertel hy aan Francois Retief.

Leon het ook van sy toekomsplanne as skrywer aan Retief uitgelap: "As skrywende mens sal ek nog baie dele van hierdie aarde, asook my en ander mense se binnewêrelde wil besoek. Een of ander tyd sal ek ook nog ’n volwasse roman, asook ’n geïllustreerde kinderboek van my langs mekaar op ’n boekrak wil sien."
In die rubriek in Beeld oor boeke wat mense se lewens verander het, was Leon baie seker dat dit JRR Tolkien se Lord of the rings is. Vir hom bied ander se boeke ’n kykie na andere se werklikheid en Lord of the rings was die boek wat hierdie konsep "finaal in sy skedel ingegraveer" het.

"Ek het hierdie boek vir die eerste keer as volwassene gelees. Dadelik was die kind én die volwassene in my beide geïnteresseerd in hierdie man se wonderlik binnewêreld. Hierdie fantasiewêreld was nie net logies en georden nie, maar dit was vir my asof ek die hele tyd lae en lae stories agter die huidige een kon aanvoel.

"Tolkien se ongelooflike aanvoeling vir die geheime krag van woorde het my voortdurend opgeval. Daarmee saam was die emosies van die meeste karakters suiwer en volrond. Ware wesens in eie reg. Selfs met die latere lees en herlees, het die storie my telkens genadeloos binnegesleep.

"Ná die lees van hierdie boek kon ek net nooit weer dieselfde na ander mense kyk nie. Die prentjie van sommige mense wat sterrestelsels en planete in hulle ronddra, het permanent in my ingesink. Van nou af sou ek voortdurend wonder oor die skatte wat daar onder die vaalste mynhope slaap, lig onder die klippe.

"Terselfdertyd het die bewuswording van die potensiaal in mense my ook nog meer bewus gemaak van die sinlose kruheid wat menslike wesens so maklik teenoor mekaar pleeg. Sterdraers wat met die gemak van miskruiers vertrap en mishandel word.

"As skrywer sien ek ook uit na die dag wat ons hier vanaf die suidpunt van Afrika, soos Tolkien, stories die wêreld sal instuur wat tegelyk die verbeelding, die intellek en die hart sal aanraak." (Beeld, 9 Oktober 2000)

Publikasies

Publikasie

Aliens en engele

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624035298 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die pro

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2015

ISBN

  • 0624036197 (sb)
  • 9780624076537 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • Scheepersprys vir Jeuglektuur, 1997
  • Sanlamprys vir Beginners, 1998
  • MER-prys,1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Groete van die hiëna

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038076 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Elsie soek ’n strooihoed

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328359 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-kinderboektoekenning 6 - 7 jaar, 2003

Vertalings

  • Zoeloe 2001
  • Sesotho 2001
  • Xhosa 2001

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wat doen jy, Daniël?

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2008

ISBN

  • 0799329150 (sb)
  • 9780799342475 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Erik en die Kido-dinges

Publikasiedatum

2003

ISBN

0799331651 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-kinderboektoekenning graad 4-5, 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Parmant

Publikasiedatum

2003

ISBN

0799330523 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

ATKV-kinderboektoekenning 3 - 6 jaar, 2005

Vertalings

Engels 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die klein seuntjie en die drake

Publikasiedatum

2003

ISBN

079933121X (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Droomoog Diepgrawer

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2008
  • 2015

ISBN

  • 0799331511 (sb)
  • 9780799341706 (hb)
  • 9780799372861 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-medalje, 2006 - 2007
  • Alba Bouwer-prys (7 - 12 jaar), 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek en my monster: ’n handleiding vir beginners / saam met Kees Twakkenberg

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333174 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

My sussie se tande

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333115 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

ATKV-kinderboektoekenning 3 - 6 jaar, 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Maroelaboomstories

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334405 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Toko

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338843 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertaling Elsa Silke 2009

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Leon de Villiers beskikbaar op die internet:

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top