Wees subversief

  • 0

Etienne van Heerden het na aanleiding van sy "Op my duimnael" vir 'n paar skrywers wat hy gemeen het van hom sal verskil, gevra om te reageer. Hier is Izak de Vries se reaksie:

Ek verwys graag na Etienne van Heerden se eerste gesprek met sy duimnael, oor die onderduimse aard van die letterkunde.

 

Ek twyfel of die subversiewe aard van tekste ooit na waarde geskat kan word.

Wie ken die wonderlike kinderboeke van Leon de Villiers? In een, Wat doen jy, Daniël?, leer ’n seuntjie op sy rug lê om die wêreld vanuit ’n heel ander hoek te bekyk. Sy oupa, ’n vry gees, doen lustig mee.

’n Ander hoek? ’n Nuwe perspektief? Genade. Afrikaners is te gedienstig om kinders toe te laat om dinge ánders te interpreteer. En dis juis waarom hierdie teks so wonderlik subversief is.

Jip, ek breek opsetlik ’n bietjie weg van die apartheidstema. De la Rey is so verlede jaar (sic) en PW is so verlede eeu.

Kom ons kyk liewer na die uitdagings wat in 2008 voorlê.

Terug, dus, na Leon de Villiers. Wat van Parmant, ook uit sy pen? Parmant is ’n vreeslike oulike krokodilletjie. Al wat ’n gedierte in die bos is, wil hom streel, druk en soen. Een wil hom selfs help bad. Maar Parmant het nie sy naam verniet gekry nie. Vir al wat ’n ongedierte is, sê hy: “Dit is my lyfie en ek sê: nee, nee, nee!”

In ’n tyd waar Showerhead Zuma sy masjiengeweer uitpluk en lustig op mooi vroue mik, moet ’n mens tog besef dat dit uiters subversief is in Afrikaanssprekende, en in tradisionele Afrikakringe, vir ’n klein parmant om aangemoedig te word om “Nee” te sê vir grootmense. Tog is dit bitter noodsaaklik.

Dit is egter met sy tienerboek, Toko, waar Leon de Villiers se subversiewe brein die beste ten toon gestel word. Toko, die hoofkarakter, woon in ’n premoderne, fiktiewe, patriargale bestel. Jip, ons praat van pre-industriële wit mense. Ontgroening en rituele is deel van hierdie mense se bestaan.

In hierdie tipe bestel is dit die mees bombastiese leiers wat genoeg patete om hulle vergader sodat hulle verkies kan word. En as hulle eers verkies is, moet die vroue maar pasop. Verder is daar ook nie plek vir kunstenaars in hierdie bestel nie. Die manne dra spiese. Die manne jag, hulle maak dood. In Suid-Afrika het ons nie eens vir Freud nodig om te weet waarvoor ’n umkhonto nóg gebruik kan word nie.

In Toko se wêreld word daar jaarliks ’n ritueel gehou. Dit is ’n inisiasieritueel, ’n bos-toe-gaan-ritueel. Die jong manne word poedelkaal gestroop en uit die dorp uitgejaag, bergop.

Daar, op die berg, moet hulle ’n sekere tyd lank bly en manne word. Op die berg is daar egter geen reëls en geen wette nie. Die ergste goed kan gebeur en daar sal geen haan na kraai nie.

Dis hoekom die jong manne die vorige jaar ’n seun gegryp en hom verkrag het op die berg. Ons is nie gay nie, ons is manne ... (Of, ek dôner moffies gelyk met die grond, sê onse Leidsman.)

Dié keer is Toko die seun wat gestuur word as die offerlam. Hy moet die wilde klomp wetteloses gaan trotseer. En almal weet dat die leier van Toko se stat, wat sy spies so lustig op die vroue gebruik, graag hierdie modderkind van hom wil dood hê ...

Toko is die kunstenaar, sien. Toko kerf beelde uit hout. En dit is die kunstenaars wat les opsê in hierdie samelewing waar vroue moet onderdanig wees aan die manne se spiese.

Lees self wat gebeur. Toko, uit die pen van die kinderboekskrywer Leon de Villiers, is een van die mees subversiewe tekste wat nog ooit in Afrikaans geskryf is. Dit is werklik wonderlik. Die beste ding van Toko is egter dat dit metafories geskryf is. Só subversief is die boek dat dit deesdae op groot skaal in ons skole gebruik word. As De Villiers egter openlik teen die Maties en die Tukkies se dooppraktyke geskryf het, sou te veel mense die boek met nyd verban het – sonder om dit te lees.

Etienne se duimnaelgesprek het verwys na Die swerfjare van Poppie Nongena. In die dae toe ek nog klas gegee het, moes ek aan die postapartheid-tuislandstudente verduidelik hoekom dié boek subversief was. Dink net, het ek aan hulle gesê, hierdie boek met sy onskuldige, sonnige omslag beland in die netjiese sitkamer van die "madam" – daar waar ’n swart vrou nooit toegelaat sou word om haar tuis te maak en te vertél nie. Nou lê hierdie einste boek in die sitkamer en die madam beleef Poppie se storie ... Daarna het ek hulle verwys na die kortverhaal “Agterplaas” deur dieselfde skrywer.

Gelukkig is vandag se studente, wit en swart, uiters verveeld met apartheid. Dankie tog.

Waaroor nou skryf? Ek het vroeër reeds my vaandel gehys oor dit wat ék beskou as die uitdagings wat hedendaagse skrywers in die gesig staar. (Kyk my bydrae tot “Young Voices” op OuLitNet - hier is die skakel. Om dié rede gaan ek nie weer my menings herhaal nie.

Ek wil eerder by die subversiewe aard van die kuns vassteek en die vraag stel of ons, soos ek nou, as persone moet meedoen aan politieke gesprekke. Of moet ons as skrywers net skryf en klaarkry?

Dis gevaarlik om jou nek uit te steek. Verlede jaar het ek my mond uitgespoel oor ’n opmerking tydens die jaarlikse Versindaba. Hier is die skakel.

Slim vang toe egter sy baas, want Marlise Joubert het my baie mooi die kop gewas oor mý interpretasie wat ek daaraan geheg het. Hier is die skakel.

Ek noem dié voorval, want, soos die skakels op LitNet, is papier geduldig. Jou woorde kan jare lank lê en jou aan die hakskeen byt wanneer jy dit die minste verwag. As Sakkie hom uitgee as ’n toffie, dan gaan hy gekou word. Ek was kennelik te gou op my feministiese perdjie.

Moet ek dus stilbly? Eish, ek dink nie so nie. Ek dink dis die reg en, bowenal plig, van enige Suid-Afrikaner om ons vryhede jaloers te beskerm. Ons demokrasie is jonk en broos. Die Afrikanerhuis word nog met hoofletters geskryf en die pa, as hy teenwoordig is, sukkel dikwels nog om afstand te doen van sy troontjie. Ditto in die tradisionele Afrikahuis in enige een van die kulture in ons mooi land. (Afrikaners is ook Afrikane, al wil sommige nie so glo nie, dis hoekom ek die Boere by die naam noem.) In dié verband wil ek juis weer verwys na die wonderlike gedigte wat Marlise Joubert teen die patriargie geskryf het in Passies en passasies.

Groot bekke soos ek moet dalk mooier luister, maar ek is nie seker dat stilbly ’n antwoord is nie.

Om egter net lawaai te maak, klink ook maar hol. Min mense sal ET van die AWB onthou vir sy gedigte. En dis jammer, want daar was enkele mooi goed wat hy geskryf het. En hoeveel ingeskrewe lede van Praag het al die subversiewe werke Sonneskyn en Chevrolet en Kommas uit 'n boomzol geniet?

Dus? Lees Leon de Villiers en vang ’n paar tips. As ons kan vermaak, en per ongeluk mense laat dink, gaan ons dalk meer vir die land beteken as om gedurig protesvergaderings te hou.

Tog ... Izak, bly nou stil!

 

  • Lesers kan Izak de Vries se subversiewe humorstorie “Antie Dickie en die vleisies” lees in Alles goed en wel, lagstories na willekeur, saamgestel deur Abraham H de Vries, wat einde 2007 by Lapa verskyn het.

 

Bronne

De Villiers, Leon. 2001. Wat doen jy, Daniël?. Pretoria: Lapa

De Villiers, Leon. 2003. Parmant. Pretoria: Lapa

De Villiers, Leon. 2007. Toko. Pretoria: Lapa

Joubert, Elsa. 1980. Die swerfjare van Poppie Nongena. Kaapstad: Tafelberg

Joubert, Elsa. 1980. "Agterplaas" in Melk. Kaapstad. Tafelberg

Joubert, Marlise. 2007. Passies en passasies, Protea: Pretoria

Roodt, Dan. 1980. Sonneskyn en Chevrolet. Johannesburg: Taurus

Roodt, Dan. 1980. Kommas uit 'n boomzol. Johannesburg: Uitgewery Pannevis

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top