Leon Albert Oosthuizen vertel van die wêreldmusiekgroep Sibanye

  • 1

Sibanye maak wêreldmusiek in Afrika. Dié groep het in Kaapstad ontstaan, al opgetree by kunstefeeste soos die ABSA KKNK en by die V&A Waterfront, en maak musiek in al die amptelike taalgroepe in Suid-Afrika. Naomi Meyer het vir Leon Oosthuizen, die stigterslid, gevra om Sibanye se storie te vertel.

Hallo Leon, baie dankie vir jou tyd om te gesels. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond: Wat doen jy bedags en wat is jou agtergrond?

Ek is ‘n gebore Durbaniet, maar voor ek my oë kon uitvee, het ons gesin getrek na Pretoria en was my eerste skooljaar later in Johannesburg. Kort daarna het ons in Melkbosstrand en toe Stellenbosch gaan vestig. Te midde van verskeie belangstellings was ek van jongs af geïnteresseerd in musiek, spesifiek Afrikaanse ligte musiek en klavierspeel. Ek het later musiek as vak geem op skool en was deurgaans betrokke by kore en verskeie orkeste en produksies. Na skool het ek egter besluit om my te bekwaam as geoktrooieerde rekenmeester. Die musiekgogga het my egter nooit verlaat nie en dit was toe ek oorsee gewerk het dat spesifieke blootstelling aan trekklavier in Parys, kitaar in Genève en optredes in Londen my in ‘n bepaalde rigting ingestuur het. Ek geniet egter ook steeds rekenmeesterskap en bly in die beroep werk.

Op universiteit was jy reeds baie betrokke by musiek en sang. Het jy lus om hiervan te vertel, of begin jou liefde vir musiek eintlik al vroeër?

Ek was veral betrokke by koshuis sêr-aktiwiteite en het die leier van die Kraaie van Wilgenhof geword – die oudste sêrgroep in die land. Dit was baie pret om toe ook ‘n onwaarskynlike CD te vervaardig – Die Plek in Harmonie – na ons wete die eerste sêr-CD ooit. Wat die CD ook uniek gemaak het, was dat 120 Wilgenhoffers saamgekom het en opgeneem is met die sing van ‘n paar tydlose koshuisliedjies. Die Harmoniekoshuis se damesêrgroep is ook as gaskunstenaars verewig.

Sing jy net of speel jy enige instrumente?

As skolier het ek klavier gespeel, as student het kitaar bygekom, en oorsee het die trekklavier my pad gekruis. Die sing het spontaan gebeur as kleuter met “Jantjie” van Sonja Herholdt, en het van daar gegroei deur die jare.

Vertel my asseblief hoe die groep Sibanye ontstaan het. En veral die agtergrond van julle heel eerste liedjie.

Die Sibanye-groep het ontstaan uit ‘n gelyknamige liedjie, geskryf in samewerking met Noluthando Takane. Ons het die liedjie geskryf tydens ‘n kursus aan die Kaapstad Liedjieskryfskool van Clive Ridgway. Die naam van die lied was “Sibanye” – Xhosa vir “saam soos een” – en is in Afrikaans en Xhosa geskryf. Hierdie lied van versoening is baie goed ontvang deur die aanwesiges en het die saadjie geplant vir ‘n reënboogalbum waar Afrikaans gehoor word, volledig versoen met al die ander amptelike 10 taalgroepe van Suid-Afrika. Die liedjie se naam het ook die orkesnaam geword, aangesien die betekenis so toepaslik is op wat ons doen: swart, bruin en wit speel “saam soos een”.

Wie behoort almal aan die groep?

Ek het kort voor lank besef dat die reënboogalbum nie ‘n soloprojek kan wees nie en het begin voelers uitsteek na professionele musikante in Kaapstad en omgewing. Die township-musikante het stelselmatig aangegroei ná ‘n aanvanklike ontmoeting met ‘n tromspeler in die Mama Africa-restaurant in Langstraat, Kaapstad.

Die Sibanye-groep bestaan vandag uit musikante van die Moederstad – van die Tuine tot die townships van Gugulethu, Nyanga en Khayelitsha. Musiek is die brood en botter van die meeste van die lede en is dus hul enigste bron van inkomste.

Hoe ontstaan die musiek van Sibanye?

Ons eie liedjies het dikwels te doen met boodskappe. In ons Sibanye-CD praat ‘n boodskap dikwels direk met ‘n betrokke taalgroep en sy unieke karakter - so byvoorbeeld is die Ndebele-volk internasionaal bekend vir hul pragtige kuns en verfpatrone. Dit het gelei tot die lirieke: “Ek verf die maan, ek verf die sterre, sien jy hoe my hart lyk”, met ‘n vertaling wat volg in Ndebele. Die klank en ritme van die lirieke bepaal dan die melodie en styl van die liedjie.

Die inspirasie vir die skryf van die liedjies het dikwels ontstaan uit besoeke aan afgeleë plekke soos Venda, Lesotho en die platteland van Limpopo en Mpumalanga. 'n Vriend van Tembisa in Gauteng het ook gehelp met vertaling en korrekte uitspraak.

Sibanye sing ook deesdae musiek wat reeds volksbesit is (soos “Halala Afrika” van Johannes Kerkorrel) om hul eie liedjies aan te vul en in ‘n toepaslike konteks te plaas.

Toe jy vroeër met my oor julle musiek en die toonsetting van Afrikaanse sowel as Xhosalirieke gepraat het, het jy klem gelê op die ritme van taal – hoe om dit met musiek te versoen. Ongeag die taal. Het jy al vroeër ander “ritmiese taal” getoonset?

Ja, my vorige ervaring het beslis baie bygedra tot die sukses van die Sibanye-projek. Met die eeufeesviering in 2010 van Uys Krige se geboorte het ek ‘n album, Goue Eeue, saamgestel en opgevoer met toonsettings van sy gedigte. Dit was ‘n soloprojek en was onder meer deel van die 2011-Woordfees in Stellenbosch. Die Goue Eeue-album was ‘n uitsonderlike leerskool en openbaring, gegewe dat Krige se gedigte van nature sing terwyl dit lees. Dit het my geleer om waarlik te luister na die ritme van die woord, na die klank van die taal, en getrou betekenis te gee aan die liriek deur musiek.

Op Facebook dwarrel die foto’s omtrént van waar julle groep al opgetree het: vertel asseblief van die optrede by die V&A Waterfront op Nuwejaar in 2012.

Die Nuwejaarsdagoptrede was ‘n besliste hoogtepunt! Dit was ons eerste “groot verhoog”-optrede en ek kan onthou die amfiteater en pawiljoene was volgepak op die snikhete somersdag, maar dit was so heerlik om te sien hoe die mense dit geniet en saam dans, ongeag taal, ras of geslag. Ons musiek het juis ten doel om tot almal te spreek, aangesien ons wêreldmusiek aanbied deur die verwewing van verskeie tale met beide Afro Jazz en Europese invloede. De optrede het bewys dat Sibanye gekom het om te bly.

En dan sien ek ook dat jy ‘n CD aan Desmond Tutu gegee het. Hoe het dit gebeur?

Ek wou al geruime tyd met Desmond Tutu in aanraking kom, aangesien hy die naamgewer was van Suid-Afrika as die “reënboognasie”. Toe ek hom gewaar by die 2013-Curriebeker-eindstryd op Nuweland, neem ek toe my kans waar en oorhandig die “reënboogalbum” aan die “reënboogman”. Hy was uiteraard beïndruk en het geantwoord deur te sê: “God seën jou.” Komende van hom, sal ek dit beslis ter harte dra!

Watter liedjies van julle groep is jou gunstelinge en waarom?

Die Afrikaans-Zoeloe liedjie-“Sijabulile” (dit beteken: “ons is bly!”) is altyd ‘n trots Suid-Afrikaanse ysbreker en is op die speellyste geplaas van ‘n aantal radiostasies, oa RSG. Die Afrikaans-Engelse liedjie “Do you know” is heerlik om te speel en uit eie reg outentiek en tydloos. Vir ons as groep is die “Sibanye”-lied natuurlik die gunsteling.

Waar tree julle groep vanjaar formeel op? Tree jul ook by geleenthede op en hoe kan mense julle kontak?

Ons sien baie uit na ons optredes by die Olyffees in Prins Albert en hoop om weer by die KKNK en Gariepfees op te tree. Daar is boonop ‘n steeds groeiende versoeklys om by korporatiewe funksies en troues op te tree.

Sibanye het gegroei tot meer as net die vrolikheid van musiekmaak. Dit bied ook ‘n opleidingsgeleentheid vir township-orkeslede om vaardighede aan te leer soos rekenaargeletterdheid, tegnologiegebruik, besigheid, beplanning, begroting, kommunikasie, bemarking, spanwerk, organisering en die aanleer van ander tale! Die projek het gegroei tot ‘n droom om ‘n akademie van ware bemagtiging te vestig. Dit het ontstaan uit musiek. Dit is wat die toekoms inhou.

Die Sibanye-CD’s is verkrygbaar by Leon Albert (sien www.sibanyemusic.com vir kontakbesonderhede) en die African Music Shop in Langstraat 134 in Kaapstad (021 426 0857).

 


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

  • 1

Kommentaar

  • Petrusa Oosthuizen

    'n Prysenswaardige onderneming. Die entoesiasme waarmee Leon in sy vryetyd deur die land reis om kennis op te doen van die verskillende kulture se sang en musiekstyle is merkwaardig. Die groep se sang is so vloeiend en die CD so keurig versorg. Dit is 'n toonbeeld van  toewyding, dissipline  en respek. 'n Ware fees om na te luister.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top