Op 29 Augustus 2013 om 11h30 wys die vollengte-film Lenteblom by die kykNET Silwerskerm-fees.
Lenteblom is meer as ’n film; dis gebaseer op ‘n reuse maatskaplike-impak-projek in landbou.
Naomi Meyer het vir Mauritz Grundling en Retha Louw oor die film uitgevra.

Ek kyk na die voorskou van Lenteblom – kan julle my sê waaroor die film handel?
Een-sin-samevatting: "Lenteblom vertel van een man se stryd in ‘n gemeenskap teen die aanslae en euwels van ons tyd."
Is dit een man se storie of baie mense se stories?
Dis een man se storie wat in die werklikheid van vele ander mense weerklink.

Hoekom Lenteblom?
Die simboliek van hoop van die lenteblom word deurgevoer in die temas wat die film dek, en die storie het ons as filmkundiges van die begin af aangegryp om dit op die grootskerm te verwesenlik.
Hier is groot name betrokke – die akteurs trek aandag, en diegene wat die film geskryf het, trek ook aandag. Vertel my gou van die name wat vir jou uitstaan.
Sherman Pharo en Alunchea Julies, wat die hoofrolle vertolk, is albei ontwikkelende akteurs wat beoog om hul name in die Suid-Afrikaanse filmbedryf te vestig. Lenteblom is 'n groot produksie op hul kerfstok, waar hulle waardevolle ervaring opgedoen het deur te werk met ervare akteurs in die Afrikaanse rolprentbedryf.
Die unieke storie, wat deur Desmond Denton, Albert Maritz en Jonathan Myburgh ontwikkel en geskryf is, het groot aanklank gevind by bekende akteurs soos Waldemar Schultz, Dhania Schultz, Brendon Daniels, Celeste Matthews, Chris Majiedt en Mary Daniels. Hul het die uitdagende produksie en verfilmingsproses trotseer en hul rolle met oorgawe en op 'n uitmuntende wyse vertolk onder die vervaardiging van die ontwikkelende filmkundige Mauritz Grundlingh.

Dink jy die mense wat hierdie film moet sien – plaaswerkergemeenskappe, is ek reg? – gáán die fliek kan sien? Of wie is julle teikengehoor?
Die plaaswerkergemeenskappe het reeds hierdie film gesien, want Hortgro het in samewerking met AgriSA en deur befondsing wat vanaf AgriSeta ontvang is, al 35 000 kopieë in die landbou op nasionale vlak versprei. Die hele Nyanisa MIV/Vigs-projek waaruit hierdie film gebore is, loop reeds vanaf 2005 in die sagtevrugtebedryf in die landbou. Dit het ontstaan uit ‘n lewende toneelstuk (saamgestel deur Albert Maritz) wat deur Procare op plase aangebied is, en omdat die toneelstuk en die storie die plaaswerkergemeenskap vasgevang het, het die hele MIV-program al hoe meer in aanvraag gekom. Plaaswerkers kon hulle met die storie vereenselwig en ons mobiele span, wat van plaas tot plaas beweeg het (Procare), het baie goeie sukses met MIV-toetse op plase gehad, waarvoor ons baie dankbaar is. Die gedagte is toe gebore om die stuk op DVD vas te lê sodat ons nog meer mense daarmee kon bereik. Wel, die film Lenteblom het hieruit ontstaan en Albert Maritz en sy span het die toneelstuk en die film Lenteblom ontwikkel en op DVD vasgelê. Lenteblom is vir seker ‘n film wat deur die plaaswerkergemeenskap geïnspireer is en wat deur hulle gesien moet word, maar dit is ook ‘n film met ‘n pragtige storie wat vir ieder en elk daarbuite ‘n boodskap het. Ek sou dus sê dat dit nie net vir plaaswerkergemeenskappe is nie, maar ook vir die breër gehoor. Die Nyanisa-stuk, wat ook op DVD vasgelê is, is intussen in Engels vertaal en daarvan is ook al 10 000 kopieë in die landbou versprei.


Kommentaar
Kan ek maybe die movie kry?