
Prent: Adina Voicu op Pixabay
........
’n Gespierde taal poseer in statiese posisies, ’n lenige, soepel taal dans steeds spelend, maar skeppend én dialogies, nie kollektief ritmies-nabootsend met ’n enkele verbeelde Germaanse oerstam wat nooit bestaan het nie.
........
Die voorkeur vir die Germaanse vorm in Afrikaans kan gerus weer onder die loep geneem word. Dit gaan hier, soos ek sal aantoon, oor ’n beginsel wat ahistories toegepas word sonder die nodige nuanse. Om ’n paar voorbeelde te noem: LitNet Akademies wil “graag die Germaanse karakter van Afrikaans probeer bevorder en bewaar”. Op LitNet word ’n “gespierde Afrikaans” bevorder (hoewel LitNet aandui dat hulle nie noodwendig al hierdie voorstelle ondersteun nie), met ’n lys van woorde wat bedoel is om ander te vervang, eerder as om bloot as sinonieme te dien. Die beeld van gespierdheid herinner ook aan die “Afrikaans is groot”-veldtog. Maar wat presies met “Germaans” bedoel word, is nie heeltemal duidelik nie. “Groot”, “gespierd” en “Germaans” roep voorts beelde van ’n Leni Riefenstahl-propagandafilm van die 1930’s op. Mens sou egter kon vra: Waar kom hierdie tendens vandaan?
In die 19de eeu, in reaksie op die “gallisisme” (die voorkeur vir Franse woorde en uitdrukkings), was daar ’n tendens in kringe in Nederland om Duits as voorbeeld na te streef, asof dit meer oorspronklik Germaans verteenwoordig of outomaties gelyk sou staan aan Nederlands, wat nie sonder meer die geval is nie. In hierdie tendens skuil die essensialistiese aanname dat Duits meer oorspronklik Germaans as enige ander taal in die groepering sou wees. Uiteraard het die florering van Franse letterkunde en wetenskap in die 18de eeu, en ’n soortgelyke omwenteling in Duits rondom die draai van die 19de eeu, ’n invloed op hierdie strewe van Nederlands gehad. Tog het hierdie germanisering aanleiding gegee tot germanismes, ’n verskynsel wat as volg gedefinieer word in die Woordenboek van de Nederlandse Taal van 1817: “Germanisme is een uit het Duits overgenomen woord of uitdrukking, die in strijd is met het eigen taalgebruik.” ’n Germanisme is dus óók ’n taalgogga.
Enkele voorbeelde van germanismes in Nederlands is die volgende:
- beduidend (Duits bedeutend) vir aanmerkelijk
- begeestering (Begeisterung) vir enthousiasme (uit Grieks en nie Engels nie afgelei)
- meerdere (mehrere) vir verscheidene
- eenduidig (eindeutig) vir ondubbelzinnig
- die oorname van woorde met ’n -isch-agtervoegsel, soos komisch wat ander woorde, soos grappig vervang.
Die filosoof Johan Huizinga skryf op die vooraand van die 1930’s in sy Cultuurhistorische Verkenningen hoe Nederlands, die taal van die “handel, van de techniek, van de geneeskunde, heden ten dage doorspekt is met Duitse vormen”. Sy gevolgtrekking is dat hierdie toedrag van sake ’n misleidende beeld skep:
Juist omdat het Duits zo nauw verwant is, klinken de Germanismen als een valse noot. Zij zijn geen verrijking van de taal, doch een verarming. Zij stellen goed-Nederlandse woorden buiten koers, en worden slechts uit gemakzucht opgenomen uit de vakliteratuur, uit de krant, uit de roman, omdat men te lui is, het gelezene of gehoorde in de eigen taal over te brengen.
Dit is makliker om anglisismes en gallisismes aan te spreek, aangesien dit verder verwyderd is, maar germanisme is dikwels ’n valse vriend, soos die Duitsers inderdaad valse vriende was in die tyd toe die Germanofilie in die taalkunde posgevat het (die tyd van die Brandwag) en die gepaardgaande suiwering van woorde wat nie van Germaanse oorsprong is nie, veral Engels.
In die publikasie Onze taal in 1932 in Nederland word die toedrag van sake meer dringend gestel: Daar vind selfs ’n verskraling plaas waar die nie-Germaanse vorme nie meer as sinonieme erken word nie, maar selfs weggewerk word: “De uitbanning van alles wat in onze uiting ’overbodig’ is, leidt tot doodelijke verarming van onze uitingsvormen.” Hierdie tendens van vervanging en suiwering in die plek van kwalitatiewe verruiming deur die kultivering van veeltaligheid kan ons met ’n erg verarmde taal laat.
’n Taal is meer as net abstrakte grammatika, en ontwikkel as literêre taal nie in ’n vakuum nie, maar resoneer met ’n eie ontstaanswêreld. Dit staan verder ook in verhouding tot ’n breër geskiedenis van die mensdom wat dit toe-eien en in eie idioom vertolk. Die uitbreiding van ’n taal in letterkunde vereis aanraking met ander tale, soos Engels uit Latyn woorde oorgeneem het en sodoende ’n ryk akademiese woordeskat kon ontwikkel. Die Duitse filosoof Hegel het opgemerk dat grammatika meer as net taalreëls bevat; dit bevat ’n manier van dink, en bevat selfs wat hy “die gang van die gees” genoem het.
Om te leen of te leun?
Die strewe na nabootsing is nie verkeerd nie. Dit moet eerstens nabootsing van raak beskrywings, en nie soos met die nabootsing van Engels dikwels die geval is, bloot populêre uitdrukkings wees nie. ’n Minderwaardigheidskompleks skuil agter dié oënskynlike luiheid om anglisismes sowel as germanismes aan te neem. ’n Voorbeeld hiervan is predikers wat op kansels en veral verhoë Engelse byvoeglike naamwoorde gebruik om God te beskryf, soos “die Here is amazing”– asof Afrikaans onwaardig van die bomaanse dimensie is en gevolglik moet ronddool op die louteringsberg van skuld en onwaardigheid (Afrikaans word in sommige akademiese kringe selfs tot die onderste vlak van die inferno verlaag). Daarteenoor is die ligua franca van Engels, of eerder die geraadbraakte “Globish” soos die Nederlandse filosoof Ad Verbrugge dit beskryf, outomaties onthef van skuld. Die status van Engels word ontleen aan ’n ongegronde mite dat florering en ekonomiese emansipering gelyk staan aan eentaligheid, ’n mite wat weerlê word deur die geskiedenis van die Verligtingstyd, waartydens bevolkings ekonomies floreer het, nie ten spyte van nie, maar gedeeltelik deur die ontwikkeling van taal en kultuur. Wanneer ’n land egter niks meer as rou produkte aan die wêreld bied nie, kan die land sekerlik nie verwag om geestelik en kultureel te floreer nie.
Wat die werklike rede agter die voorkeur vir die Germaanse begrip is, das weiss ich nicht, en mens wonder of die apologete daarvoor self weet. Die Duitsers het natuurlik self kort flirtasies met hierdie ongesonde voorkeur vir die Germaanse gehad, wat gelukkig dikwels, maar soms nie betyds nie, in die kiem gesmoor is. Een voorbeeld was die Sturm und Drang-beweging van die 1770’s wat reaktief teen die Frans-aristokratiese neoklassisisme van die vroeë 18de eeu was, en ’n herwaardering vir die gotiese argitektuur en die pastorale lewe tot gevolg gehad het. Gou het prominente vooraanstaande figure van die Sturm und Drang-beweging, soos Goethe en Herder (wat volksverhale begin opteken het), hulle van ’n nuwe tendens tot oorvereenvoudiging en essensialisering van taal en kultuur begin distansieer en ’n breër beweging, die sogenaamde Weimar-klassisisme van die 1790’s begin (hoewel Herder hom weer eens daarvan sou distansieer ten gunste van ’n minder nabootsende maar steeds dialogiese begrip van kultuur). Mens sou dan tereg uit die taalgebruik van die grootste Duitse skrywers kon vra of selfs hulle sou voldoen aan die Germaanse kriteria wat dikwels aan Afrikaans gestel word.
Drif tot koddigheid en die verkleutering van beskrywings
Die alternatief vir die oorname van woorde uit ander tale is egter een wat meer as prikkelende klanke vereis. In plaas daarvan om die onderwerp raak te beskryf, sal daar dikwels gefokus word op alliterasies, assonansies en selfs rym. Hier moet mens dikwels toegee en vra of daar vir alles noodwendig ’n Afrikaanse beskrywing moet wees. Het ’n “eetplek” dieselfde aansien as ’n restaurant? Het Pitagoras (vir Pythagoras) briljante teorië bedink, of het hy toebroodjies gemaak met smaaklike vulsels daarin? Is ’n “smaakmaker” noodwendig iemand wat hom of haar met smaak bemoei, of sou die direkte vertaling beïnvloeder gewoon die saak raker beskryf?
Hoe hierdie drif tot koddigheid posgevat het, is moeilik om te verklaar. Nederlanders merk dikwels op hoe vreemd die frekwensie van verkleiningsvorme in die Afrikaanse spreektaal op die oor val in uitdrukkings soos “Sal ek vir ons ’n teetjie ingooi?” Miskien is die Nederlanders self ten dele aanspreeklik vir hierdie tendense. ’n Nederlandse teoloog, Adrianus van Selms (wat die ou Arabiese geskrifte in Afrikaans ontdek het), skryf in 1941 in sy stuk “De emancipatie van de Vlaamsche literatuur” hoe daar vanuit Nederland letterkundige karikature gevorm is oor Vlaams om die “onschuldige en boertige” elemente daarvan uit te voer. Oor hierdie tendens, afgesien daarvan dat dit nie die gesofistikeerdheid van die Belgiese stadslewe verreken nie, skryf Van Selms: “Van pure vereering van het ’natuurlijke’ verviel men in de grootste onnatuur.” Gegewe die tydstip van 1941 waarin dit geskryf is, is Van Selms se vergelyking van hierdie tendens met Afrikaans veelseggend:
Deze ontwikkelingsgang bevat een waarschuwend element voor te toekomst. Wij beginnen langzamerhand de Afrikaansche literatuur te ontdekken. Hier dreigt een herhaling van hetgeen met de Vlaamsche boekenproductie is gebeurd. Reeds begint men in uitgeverskringen te vragen naar “echt-Afrikaansche” romans, die dan natuurlijk allen op een “boereplaas” moeten spelen, terwijl in werklijkheid het leven in Afrika weinig meer van de pastorale idylle, en zeer veel van het stedelijke Amerikanisme heeft.
Welluidende aanklank is nie noodwendig beskrywend nie; dit verhinder dikwels instemming tot die saak wat beskryf word en verkleuter die taal, ofskoon die beeld van krag nog voorgehou word. ’n Gespierde taal poseer in statiese posisies, ’n lenige, soepel taal dans steeds spelend, maar skeppend én dialogies, nie kollektief ritmies-nabootsend met ’n enkele verbeelde Germaanse oerstam wat nooit bestaan het nie.
Lees ook:


Kommentaar
Hercules, dankie vir jou insigrykde en uitstekende artikel oor ons moedertaal. Dit is die taal wat ons uit moedersmond geleer en ons eie gemaak het. Ons moet hierdie taal humoristies, soekend en kreatief gebruik. Die taal vra ook dat ons dit in ons denke en nadenke sal aanwend. Die taal is veral ook 'n brug waarop ons diep- en ligsinnige woorde kan wissel.