Lekker mislei deur ons geskiedenis

  • 0

Trisa Hugo skryf op Facebook:

Ek het onlangs gesê ons is lekker mislei deur ons geskiedenis. Ek sien dit close to home ook. Hierdie ikoon van Kleinmond het hopeloos te min aandag (eintlik geen aandag) gekry in die geskiedenis wat opgeteken is van ons dorp nie. Frazer Barry, ’n familielid, het my eenmaal van hom vertel. Gelukkig is die gene oorgedra.

Ek wens ek het tyd gehad om Kleinmond se geskiedenis aan te vul. Daar is ’n ou boek geskryf, maar dit gaan meestal oor net ’n paar families. Die plakboeke gehou deur ’n ou skoolhoof, is eensydig. Plakboeke bewaar deur die Duitse tannie Klein lyk of daar van ’n ander dorp geskryf word. Kleinmond was heel kosmopolitaans op sy dag. Die skoolhoof was ook die korrespondent vir die groot koerant van die tyd. Strooistories opgeteken in A4-formaat, handel ook net oor ’n paar families.

Kleinmond was baie kliekerig, as mens as “inkommer” terugkyk. Afrikaners, Broeders, kerkmense. Daar is nêrens melding van Luigi die bakker, of die Jode wat die Joodse kamp gestig het waar Mtnkhulu tans is nie. Niks oor die Noorweër Melchior Johanesen, wat na bewering ons huis gebou het, is opgeteken nie, ook nie oor die Duitser Klein wat die restaurant besit het nie. (Sy vrou het die plakboeke gehou wat majoor Prins bygehou het.) Dit het my laat besef het daar is véél meer aan die dorp as Afrikaner-Nasionalisme. Peter Slingsby se gemeenskapswerk het stil-stil voortgegaan, sonder erkenning.

Kleinmond se vakansie-oord bo in berglane? Nee wat, die kampeerdery waar die dagkamp is, is al wat ooit vermeld word.

’n  Ander interessante deel, die mense van die hawe wat eers Visbaai genoem is wat ontheem is en verskuif is Proteadorp toe, word nêrens genoem nie. Die Smit-familie met die baie kinders is ook uit die geskiedenis geskryf, al was die Smit-huis een van die geboue wat met ’n volgende fase van die hawe-ontwikkeling herskep sou word. Die musikale mense wat die eerste orkes gehad het, word nêrens genoem nie, al moes hulle by geleenthede speel. Frazer skryf soos volg oor hom:

Erfenismaand

Ons erfenis

Ons gemeenskap is mooi. Die mense in ons gemeenskap is mooi.

Hierdie is Jacobus Barry. Hy was die stigter van die eerste langarmorkes/rock-and-roll-orkes in Kleinmond. Hy was die oudste van Mike en Raymond Barry, sy twee broers, wat ook in sy voetspore gevolg het deur ook kitaar te speel. Sy tweede oudste broer, Mike Barry was vir al jare die Anglikaanse Kerk se kitaarspeler en naweke het die drie broers musiek gemaak tot vermaak van hul familie en die res van die dorp.

RIP Jacobus Barry. Ons onthou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top