Wat is die ooreenkoms tussen legkaartbou en brei? Dit is sekerlik nie ’n diep filosofiese vraag nie, veral nie tydens ’n wêreldpandemie nie, maar die vraag het tog die afgelope tyd in my kop vasgesteek, miskien juis omdat ek nou doelbewus probeer wegvlug van moeilike eksistensiële vrae.
Ons het op Jongensfontein gekuier toe die President die grendeltyd afkondig en toe besluit om sommer hier te bly. Wat ’n heerlike voorreg om die see te kan sien, hoor en ruik. Die Donderdag voor die afsondering begin het, is ons Stilbaai toe om proviand te koop, en omdat drie weke eindeloos lank geklink het, het ek ’n mooi legkaart gekoop asook wol vir die Engelse kleinseuns se truie. Gepantser met breiwerk, ’n legkaart en baie gemmer en suurlemoene het ek effens meer paraat gevoel vir die onbekende tyd wat voorlê.
Wanneer die daaglikse nuus oor die vernietigende effek van die koronavirus oor die hele wêreld te veel word, trek ek terug na die eenvoudige, gerusstellende, ritmiese herhaling van breipenne. Brei het byna soos ’n soort kalmerende meditasie of “teenwoordigwees” geword in dié deurmekaar tyd. Dit is baie na aan wat die positiewe sielkundige Mihály Csíkszentmihályi beskryf as “flow”, ’n toestand van konsentrasie en totaal opgeneem wees in die aktiwiteit waarmee jy besig is. Dit is asof ek die wêreldpandemie en my eie vrese vir rukke kan wegbrei in die kleinseuns se truie. Asof die eenvoudige, praktiese aktiwiteit van die truie wat stadigaan vorm kry onder die bewegende penne, my geanker hou aan die doodgewone en die bekende in dié totaal ongewone situasie. Volgens die Britse breiterapeut Betsan Corkhill het selfs Albert Einstein tussen projekte gebrei om kalm te word en sy denke skoon te kry.
Volgens navorsing het brei ook talle ander voordele, soos die ontwikkeling van goeie oog-hand-koördinasie, verhoogde kreatiwiteit en probleemoplossingsvermoë, verlaagde spanning en bloeddruk, die herkenning van patrone, die ontwikkeling van geduld en vasbyt, die integrering van die linker- en regterkant van die brein en ’n gevoel van bevrediging. Om iets te brei is byna soos om ’n storie aanmekaar te weef. Die waarde van brei is deur Rudolf Steiner raakgesien, en brei is vanaf die ontstaan van die Waldorfskole tot vandag deel van hulle leerplan.
Toe Karen Shoop van die Skool vir Elektroniese Ingenieurswese en Rekenaarwetenskap van die Universiteit van Londen haar eerste breiles geneem het, het sy dadelik die ooreenkoms tussen breiwerk en kodering raakgesien. Volgens die wiskundige Sarah Jensen is daar groot ooreenkomste tussen breiwerk en meetkunde, en sy gebruik breiwerk om wiskundige begrippe aan haar studente te verduidelik.
Maar ouma Nettie het niks hiervan geweet toe sy vir my en my ousus leer brei het een wintervakansie toe ons as kinders op die plaas gekuier het nie. Ouma, wat tydens die Boereoorlog die konsentrasiekamp oorleef het, was nie iemand vir popklere of skouertjieoortreksels brei nie. Toe ons kon “plain” en “purl”, moes my ma gaan wol koop sodat ons vir ons kon truie brei vir die winter. Ek onthou nog hoe ons daar in die sonstoep gesit en brei het, hoe baie steke mens moes brei om net ’n pant klaar te kry, en hoe ek dikwels gewens het dat ek liewer kon gaan speel. Maar Ouma se skerp, blou oë het niks misgekyk nie en ons het op daardie stoep kosbare lesse geleer, soos: Dit help nie jy ignoreer ’n steek wat geval het nie, want dit gaan die hele trui laat uitrafel. Hoe vinniger jy ’n fout regstel, hoe beter; trek daarom uit, tel die steek wat geval het op, en brei dan weer verder. Die trui gaan nie gouer klaarkom as jy die breiwerk rek, soos wat ek probeer doen het nie. Daar is geen kortpaaie nie – jy moet eenvoudig al die steke en rye wat nodig is, brei, en daarvoor is baie geduld en vasbyt nodig. Maar dan ook die heerlike gevoel toe ons uiteindelik klaar was en ons ons truie kon dra.
Die ander wapen waarmee ek die paniek van die COVID-19-pandemie probeer beveg het, is met die bou van ’n legkaart van ’n romantiese prent van ’n jong meisie en ’n sterk ridder. Dit is afkomstig van ’n baie gewilde skildery, Die ontmoeting op die Turret-trappe van sir Frederic Burton, wat in die Nasionale Kunsgalery in Ierland hang.
Dit was asof COVID-19 en die verskrikking daarom nie bestaan het terwyl ek besig was om te bou aan Hellelil se pragtige blou rok en Hildebrand se soldaatuitrusting nie. Vir die oomblik was die kleur en vorm van die volgende legkaartstukkie die hooffokus, en die belangrikste vrae: Waar is die donkerblou stukkie met die smal hangskouertjies, of die goue stukkie van sy swaard? Dit was asof ek die chaos van die pandemie wou bestry deur uit die chaos van die duisend stukkies orde te skep en ’n pragtige prent te bou. In Australië word legkaarte in die grendeltyd as ’n noodsaaklike item beskou en die verkope daarvan het daar die hoogte ingeskiet. Iemand soos Bill Gates is besonder lief daarvoor om legkaarte te bou.
Die voordele van legkaartbou stem baie ooreen met dié van brei en is oa die stimulering en integrering van die linker- en regterbrein, verbetering van visueel-ruimtelike redenering, die verligting van spanning, bevordering van geheue en konsentrasie, verhoogde aandag aan besonderhede en verbeterde gemoedstoestand agv die afskeiding van dopamien elke keer wanneer die regte legkaartstukkie sy regte plek vind.
Maar daar is nog ooreenkomste tussen legkaartbou en brei:
- By albei moet jy aandag gee aan klein besonderhede sonder om die groter prentjie uit die oog te verloor, en ek kon nie anders as om te wonder of ons regering dit gaan regkry om aandag te gee aan die talle besonderhede van ons sosiale isolasie sonder om die groter finansiële en maatskaplike perspektief uit die oog te verloor nie.
- Jy kan nie droogmaak en dink jy gaan daarmee wegkom nie. Jy kan nie steke laat glip of ’n legkaartstukkie laat wegraak of op die verkeerde plek indruk nie. Dit is ook waar vir individue en regerings, en dit is asof die epidemie die steke wat geval het, die vlak plekke in onsself en ons regering duideliker na vore bring.
- By beide aktiwiteite word jy gedurende die proses kort-kort beloon met klein oorwinnings, want elke keer wanneer jy ’n kabel omdraai, of die regte legkaartstukkie in sy plek sit, word jy gemotiveer om aan te hou en klaar te maak. Beide aktiwiteite vra baie tyd, geduld en vasbyt, maar uiteindelik gaan dit nie net om die eindproduk nie, maar om die proses. Jy kan die proses nie eenvoudig “ fast forward” /versnel nie, en daarom brei en bou die proses jou.
Miskien is brei en legkaartbou selfgesentreerde ontvlugting en selfs naïewe ontkenning in ’n tyd wanneer tragedie oral in die lug hang? Miskien is dit ’n poging om die dinge waaroor jy diep bekommerd is, maar geen beheer oor het nie, te vervang met doodgewone aktiwiteite waaraan jy wel iets kan doen? En miskien, as alles weer eendag normaal is, kan legkaartbou en brei dalk ingesluit word by laerskole se leerplanne en afgetredenes se aktiwiteite?




Kommentaar
Dankie Jeanette vir 'n baie interessante artikel. Welgedaan. Jy bespreek die ooreenkomste tussen breiwerk en legkaartbou volledig. Miskien kan bygevoeg word dat beide aktiwiteite ook 'n bydrae lewer om sinvolle doelstellings wat haalbaar is, na te streef, en redelik stresvry bereik kan word.
Ek doen presies dit in hierdie tyd. Ek hekel ook. Dis asof ek sweef tussen brei, hekel, legkaart bou en kosmaak. Alles baie terapeuties vir my. Ek dink terug aan die Roomse nonne op Kamieskroon wat vir ons arm kinders handewerk geleer het. Kouse stop en lapwerk pynlik netjies geleer. Trek uit en doen oor, deel van die leerproses. Deur my lewe was dit die holte vir my voet in uitdagende tye. Baie dankie Jeanette vir die onthou.
Die artikel bring kosbare herinneringe aan ’n ma wat my van vasbyt geleer het, al was sy nie so suksesvol met my brei-lesse nie.
Heerlike stuk skrywe om te lees – dankie aan die skrywer. Daar is baie lesse wat geëien kan word van hierdie eenvoudige aktiwiteite. ’n Mens se lewe en die vlakke waarin mens bestaan is als legkaarte, en als is ingewikkeld saam geweef...
Ek sal net byvoeg dat dit wel belangrik is om die ontstuimige emosies wat deur díé tyd na die oppervlak gedwing word deur te trap en te konsolideer en nie aan te hou verdryf deur besig-bly nie.