Leentjie wil weet

  • 2

Leentije is bekommerd.

“Ouma, ek wil vir Ouma iets vra.”

“Ja, my liefie, wat is dit?”

“Hoekom gaan Ouma en Oupa dan nie meer kerk toe nie? Julle gaan mos altyd!”

“Dis oor COVID-19, my kind.”

“Kou wát, Ouma? Is dit iets lekkers om te eet? Ek hoor mense praat al die tyd daarvan, maar ek sien nooit daai ‘wit’ ding waarvan hulle praat nie. En as daar 19 daarvan is, is daar mos genoeg vir almal om te kou! En Oupa suig dan altyd pepermente in die kerk. Is  so! Ek het al enetjie by hom gebedel! Dis mos ook wit. Hoekom kan ek nie ook een van die nuwe wit goed kou nie?”

Ouma lag lekker. Net toe kom Oupa ook by die vertrek in. “Hoor hier, my man, Leentjie wil weet of sy ook van die 19 wit goed kan kou!”

“Hoe nou? Watse wit goed? Wat bedoel jy, Oupa se blommetjie?”

“Nee, Oupa, ek het vir Ouma gevra hoekom Oupa-hulle dan nie meer kerk toe gaan nie, en toe sê sy dis oor die 19 wit goed wat julle kou!”

Oupa begin ook lag. “Nee, my liefie, dis nie 19 wit goed wat iemand kou nie, dis ’n nare kiem wat hulle COVID-19 noem. Baie mense het al daarvan doodgegaan en ouer mense kan daarvan baie siek word!”

“Hoe siek, Oupa? En wat het dit met kerk toe gaan te doen? Ek en Kleinboetie gaan nou weer elke Sondag na die lekker kinderkerk in die saal langs die kerk en dan kom haal Pappa en Mamma ons as hulle uit die kerk kom. Ons het vir ’n ruk nie gegaan nie, maar ek het gedink dis oor die reën. Dit was lekker toe Mamma koortjies saam met ons by die huis gesing het! Maar kleuterkerk is lekkerder!”

“Baie mense word baie siek van COVID-19, my kind, en die groot probleem is dat ouer mense sommer baie, baie siek kan word. Hulle moet hospitaal toe gaan en soms kan hulle nie asem kry nie en daar moet ’n pyp in hulle longe afgestoot word om vir hulle asem te gee. En soms sterf hulle daarvan.”

“Maar wat het dit met kerk toe gaan te doen, Oupa?”

“Hierdie kieme – hulle noem dit eintlik ’n virusis so klein, hulle vlieg in hulle miljoene uit mense se monde as hulle in ’n toe ruimte asemhaal, maar veral as hulle sing.”

“O, is dit hoekom almal lappe oor hulle monde dra?”

“Ja, mens noem dit maskers en dit help keer, maar dit hou nie al die virusse uit nie.”

“Maar Oupa, as ek en Mamma gaan stap, sien ek baie mense wat nie daai maskers dra nie. Of hulle dra dit maar hier onder om hulle kenne, of sommer om hulle nekke. Kan hulle nekke dan ook die virusse op ander mense loslaat?”

“Nee, natuurlik nie, Leen. Daai mense is stout – ons oom President het dan so mooi gevra almal moet hulle maskers dra. Hy het gesê ons moet almal ons monde en neuse toehou.”

“Ja, Oupa, ek onthou! Hy praat so mooi stadig Engels dat ek hom mooi kon verstaan. Hy het mos eendag ook gewys hoe mens dit opsit en toe sit hy dit selfs oor sy oë. Kan mense se oë dit ook uitskiet?”

“Nee wat, kindjie,” lag Oupa. “Dit was net ’n foutjie daai!”

“Maar hoekom luister mense dan nie na hom nie, Oupa? Hulle dra die maskers dan nog meer verkeerd as dit!”

“Ja,” voeg Ouma by. “Ek moes nou die dag gou iets in die dorp gaan kry en toe kom ek agter daar’s vreeslik baie mense wat hulle nie aan al daardie gesondheidsreëls steur nie. Hulle dra glad nie maskers nie, of hulle dra dit verkeerd.”

“Ja,” sê Oupa. “Almal moet dit pal oor hulle neuse en monde hou as hulle tussen ander mense is, want dit vlieg uit ander mense se monde en neuse en by hulle s’n in. As ons dit inasem, gaan sit dit ook in ons longe. En al weet ons ons het nie die virus nie, moet ons ook ’n voorbeeld vir ander mense stel deur ander mense en onsself so te beskerm. Want as ons ou mense dit by ander mense kry ...”

“Is dit hoekom Oupa-hulle nie meer kerk toe gaan nie?” onderbreek Leentjie. “Maar wat sal Liewe Jesus sê? Hy wil mos hê ons moet Sondae kerk toe gaan! Wat dink Ouma? Wil Hy dan nie hê julle moet na Hom toe kom nie?”

“Nee, Leentjie, Liewe Jesus gee nie om nie. Hy het gesê: ‘Waar twee of drie in my Naam bymekaar is, daar is Ek by hulle.’ Hy is tuis net soveel  by ons as in die kerk.”

Oupa knik instemmend. “Net so!”

“Ja, dis wat Mamma ook mos gesê het toe hulle in die winter ook nie kerk toe gegaan het nie. Kyk Ouma-hulle nog na die kerk op die rekenaars? Dit was vir my so mooi toe die omie- en tannie-dominees in hulle tuine gepreek het – die gras en bome en blomme was net so mooi soos die kerk se vensters.”

“Einste, Leentjie!”

“Maar mis Ouma nie die sing in die kerk nie? Ouma sing dan altyd so lekker!”

“Ja, seker so ’n bietjie. Maar daar is ’n oom wat elke Sondag op die galery langs die orrelis staan en sing, en hulle wys selfs die gesangboek se note op die skerm. En dan sing ek lekker saam – ek sing sommer vir Oupa wakker as hy begin dut.”

Leentjie giggel. “Oupa slaap maklik, nè!”

“Watwou slaap! Ek luister toe-oog om beter te kan hoor!”

“Maar mis Oupa dit dan nie om in die kerk te sit en toe-oog luister nie?”

“As ’n mens ouer word, is daar dinge waarvan jy moet afsien, my blom. Ons is so dankbaar ons is nog gesond – daar is baie mense wat siek is. En ons is bly ons het julle so naby – baie mense se kinders is oorsee. En ons twee is nog saam en ons kan veilig by die huis aan die diens deelneem!  Die Here verwag van ons om nie onverskillig te wees nie. Jy weet mos Ouma moet pille vir haar bloeddruk neem en ek het al ’n hartoperasie gehad. Ons mag nie kanse vat nie. Dis ons plig om mekaar op te pas.”

“Ek verstaan, Oupa. Liewe Jesus wil hê Oupa en Ouma moet liewer by die huis bid?”

“Ja – en sing!” lag Ouma.

Leentjie stap tevrede weg.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Hennie+van+Deventer

    Hierdie oupa en ouma is in dieselfde Kou-wit-bootjie. Sal graag weer wil kerk toe gaan, my kind. Maar ons wag maar, ons wag maar. Ons dag sal ook kom om met weer-kerk-toe-gaan-medisyne ingespuit te word. So hoop ons.

  • Jo-Marie+Claassen
    Jo-Marie+Claassen

    Dankie, boet Hennie! Leentjie bly nou ook by die huis in die skoolvakansie en kyk kerk op die rekenaar en dan sing sy en Ouma saam. Nou kan hulle saam vir Oupa lekker wakker sing.

    Wou dat Leentjie nie maar net my eie verbeeldings-skepping was nie! Ons kleinkinders bly ver weg!

    Groetnis
    Ouma

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top